TAFELBERG GEMEENTE HANDELINGE - REEKS NO 28 Skrif: Handelinge 25: 1-12 Tema: Krag van 'n Geesvervulde lewe
Die eerste 12 verse van Handelinge 25 is baie interessant, want ‘n mens wonder wát die boodskap daarvan kan wees. Daar word geen melding gemaak van God, Christus of die Woord nie. Daar gebeur niks opwindend nie. Dit is bloot ‘n klompie verse wat iets beskryf van die apostel Paulus se wedervaringe. Oënskynlik sê dit nie veel nie. En tog sê dit ‘n mondvol. ‘n Mens moet net onder die oppervlak kyk. Soos ‘n wortel – die heilsaamheid is onder die skil. Indien ‘n mens hierdie 12 verse oplig en onder dit inkyk, staan jy gewoon verbaas oor die waarhede wat dit uitspel. Ek wil dit aan u bedien onder die oorhoofse tema: Die krag van ‘n Geesvervulde lewe.
Maar, kom ons kyk eers na wat presies hier gebeur: Verlede Sondag het ons in hoofstuk 24 gesien hoe Paulus voor goewerneur Feliks verskyn n.a.v. die valse aanklagte van die Jode teen hom. Feliks het besef Paulus is onskuldig, maar hy wou hom nie vrylaat nie uit vrees dat die Jode opstandig sal word. Twee jaar later word Feliks deur Keiser Nero afgedank en hy word opgevolg deur Porcius Festus en in Hand 25 hanteer Festus verder Paulus se saak. Hy was nog nie behoorlik 3 dae in sy kantoor in Jerusalem nie, toe is die Joodse leiers by hom met hulle klagtes. Paulus was egter by die see, in Seserea, gevange gehou. Die Joodse leiers versoek Festus om vir Paulus Jerusalem toe te bring want hulle het beplan om die konvooi in ‘n hinderlaag te lei en vir Paulus dood te maak. Festus antwoord hulle: “Nee wat, laat Paulus in Seserea bly. Ek sal soontoe gaan en hom daar verhoor en julle kan sorg dat julle ook soontoe gaan. Dan handel ons die saak dáár af.” So gesê, so gedaan. In Seserea reël Festus ‘n behoorlike hofsitting, maar die Jode kan nie hul aanklagte teen Paulus staaf nie. Paulus sê toe: “U edelagbare, ek het absoluut niks verkeerd gedoen nie. Nie teen die Here se Wet nie, nie teen die tempel nie en nie teen die Keiser nie.” Festus wil egter – soos sy voorganger Feliks – die Jode ‘n guns bewys. Hy vra toe vir Paulus: “Is jy gewillig dat ons Jerusalem toe gaan sodat ek jou dáár verder verhoor?” Die Jode grynslag van lekkerkry: dalk sal hulle nou die hinderlaag kan uitvoer.. Paulus antwoord egter: “Nee, u edelagbare. Hier is ons nou in ‘n volwaardige Romeinse hof. Ek kan nêrens béter verhoor word as híér nie. Ek is onskuldig. Maar, indien ek skuldig is aan énigiets wat die dood verdien, is ek bereid om te sterf. Maar indien hierdie mense se klagtes vals is, het niemand die reg om my aan hulle oor te lewer nie. As ‘n Romeinse burger, oefen ek dan nou my burgerreg uit deur my op die Keiser self te beroep. Ek beroep my op Keiser Nero om my saak te besleg.” Toe is Festus in ‘n hoek. Al wat hy tóé kon beslis is: “Omdat jy jou op die Keiser beroep het, moet jy nou na die Keiser gaan! Ek stuur jou na Rome.”
Dit is wat op die oppervlak gebeur. Kom ons kyk nou na die heilsaamheid onder die oppervlak: Die kragtige uitwerking van ‘n Geesvervulde lewe. Watter praktiese uitwerking vind plaas waar die Here se genade ‘n mens se lewe beheer? Ons sien die volgende:
1) Haat & venyn van godsdienstige verlore mense jeens die Christene: Is dit nie skryend nie? Siek pogings om van ‘n godvrugtige man ontslae te raak – hom dood te maak! En wie loods die pogings? Die kerkleiers! Die top godsdienstiges. Die toegewydes. Enige iemand wat hierdie hoofstukke in Handelinge lees, behoort daaroor van verbasing te frons. Hoe is so iets dan moontlik? Is godsdiens dan nie juis die antwoord nie? Hier sien ons egter die haat & antagonisme van godsdiensleiers jeens ‘n Geesvervulde Paulus! En is dit nie vandag steeds die geval nie? Dat die grootste vyandigheid teenoor ware gelowiges nie vanaf wêreldse mense kom nie, maar van kerkmense. Kerkmense wat sélf onwedergebore is, ten spyte van hul godsdienstigheid en kerklike betrokkenheid, en dáárom bots die geeste! Die rede hiervoor is die feit dat Satan self die outeur is van godsdiens en dat hy teen die Here Jesus en die Waarheid veg d.m.v. godsdiens wat buite Christus staan. Satan vermom homself immers as ‘n engel van die lig (2 Kor 11:14). Dit is presies wat met Paulus gebeur het. Paulus was van huis-uit ‘n godsdienstige mens en ‘n baie ywerige teoloog en Fariseër, maar hy was steeds absoluut verlore omdat hy nie met die Here Jesus ontmoet het nie! Tóé was hierdie einste Joodse leiers sy vriende. Maar noudat die Here sy lewe omgekeer het en hom vervul het met die Heilige Gees en dieselfde nie gebeur het met die Joodse kerkleiers nie, word hulle sy bittere vyande. Hulle sê dat hulle God liefhet, maar hulle harte is vol moord. U sien wanneer valse godsdiens in konneksie kom met ‘n Geesvervulde man/vrou, kom daar konflik! Johannes 15: 18ev. Die boodskap hieruit vir ons is baie eenvoudig: Indien jou volle vertroue slégs op die Here Jesus se dood & opstanding is en jou hart brandende vir Hom, moenie enige vriendskap verwag van godsdienstige mense wie se oë nog nie blink nie! Jy kan eerder ‘n koue skouer van hulle kant af kry. Moet dit nie vreemd vind nie. Wees liewer dankbaar, want dit is ‘n bewys dat die Gees van Heerlikheid op jou rus. Aan die ander kant: indien jy ‘n godsdienstige persoon is, maar mense wat vlammende vir die Here is, irriteer jou, wees bekommerd oor jouself. Ondersoek jouself of jy werklik die Here ken. ‘n Mens is óf in Paulus se kamp óf in die kamp van die godsdiensleiers wat sy bloed gesoek het!
2) Die krag van ‘n onberispelike lewe: Hoe kragtig was Paulus se lewe: hy was skuldig aan niks. Ja, goddelose mense probeer altyd baie hard om ‘n fout te soek by ware gelowiges & by die Bybel. Hulle probeer altyd iewers ‘n fout kry, want sodoende regverdig hulle hul eie ongeloof. Hulle wil nie oorgee aan Christus nie, maar probeer dit wegsteek agter allerlei argumente: “Die Christene is só & só en die Bybel weerspreek homself en is vol foute”. Daarteenoor staan die Apostel: met ‘n skoon gewete/onberispelik. Sy teenstaanders kon hom op niks skuldig bevind nie. Sy onberispelike lewe het húlle korrupte lewens aan die kaak gestel en veroordeel. Net soos wat Noag se gehoorsame bou van die Ark, die ligsinnige spotters rondom hom se eie sondes bestraf het. Wat ‘n geweldige blydskap & krag straal nie uit ‘n mens wat blaamloos is nie! Hoe wonderlik om in die aand aan die slaap te raak sonder om skuldig te voel oor dit of dat, maar met sekerheid te weet: “ek was vandag in diens van die Meester en ek het geleef met liefde vir Hom in my hart & my gewete is silwerskoon. Waar ek wel die Gees bedroef het, het ek alreeds daarmee gevlug na die kruis en opnuut vryspraak ontvang.” Wat ‘n krag!! Daniël 6: 5-6. Nooit mag ons daaraan twyfel dat net één mens ‘n geweldige invloed vir die koninkryk kan uitoefen nie! Ja, ons voel so nietig en klein teenoor die oormag van teenstaanders, maar kyk weer na Paulus: man-alleen het hy so baie vermag omdat die Here dit deur hom vermag het. ‘n Skoon, gereinigde lewe wat brandende is vir die Here en gefokus is op die koninkryk, kan onmeetlik veel vermag. Laat ons dit goed besef.
3) Die voorsienigheid van God: Die krag van ‘n Geesvervulde lewe is voorts dat jou siel nie verdrink word in bekommernisse en vrese nie, omdat jy oortuig is dat jou lewe beheers word deur jou hemelse Vader se voorsiening & sorg. Selfs wanneer jy slaap, slaap Hy nie. Nie Paulus óf Festus het enigiets geweet van die Joodse leiers se grusame plan om hom voor te lê & te vermoor op die pad van Seserea na Jerusalem nie. Maar die lewende God het daarvan geweet. En daar was nie vir Paulus tyd vir doodgaan nie. Hy moes nog in Rome en voor die Keiser gaan getuig. Daarom fnuik die Here die Jode se planne – twee maal: éérs deur Festus se weiering om Paulus na Jerusalem te vervoer en daarná deur Paulus se appél op die Keiser toe Festus hom wél Jerusalem toe wou neem! Beide kere lýk dit maar net soos vinnige keuses wat Paulus & Festus maak, maar eintlik was dit die Here self wat voorsien het. Is dit nie aangrypend nie!? Ja, o.g.v. die Woord glo ons dat ALLES onder God se kontrole is. Spurgeon het gesê: “Ek lees die koerant om te sien wat die Here besig is om in die wêreld te doen.” Maar beteken dit dan dat God die outeur is van al die slegte goed wat gebeur? Nee. Maar Hy is steeds in beheer! En Sy hartklop is verál by Sy kinders. Dink net daaraan: In Hand 25 is dit slégs Paulus wat ‘n Christen was. Niemand anders nie. Indien dit nie vir hom was nie, was daar nie ‘n Hand 25 nie! Maar skielik is die ganse hemel se aandag toegespits op wat in Festus se hofsaal aangaan – omdat Paulus daar is! Selfs al bedink die mense moord teen Paulus, is die Here steeds daar werksaam. Jesaja 45:7. Amos 3:6. Lukas 12: 6-7. Die Here was werksaam selfs in die detail van Paulus se lewe.
4) Die ware Christen se houding jeens die regering & owerhede: Die krag van ‘n Geesvervulde lewe word ook geopenbaar in ‘n Christen-gelowige se houding & gesindheid teenoor die owerheid & regering. Paulus verkies om liewer deur die goddelose Romeinse Keiser verhoor te word, as deur sy eie mede-Jode. Hy onderwerp homself aan die regering van sy dag – al was dit ‘n antichristelike regering. En dit terwyl hy alle rede gehad het om die Romeinse regering totaal te verwerp vanweë hul boosheid en heidendom. Dit is algemene kennis hoe boosaardig die Keisers was en hoe hulle vir hulself die status van ‘n godheid toegeëien het. Paulus het alle rede gehad om die regering & owerhede van sy dag te kritiseer en te weerstaan. Hulle was allesbehalwe Christelik. En tog sien ‘n mens die Apostel se oortuiging so duidelik in Romeine 13: 1-5. Owerheid & gesag kom van Bo. Die goddelose Romeinse regering was deur die Here daargestel. Hý stel gesag aan (vgl Joh 19:11). En hou in gedagte: ál die tronkstrawwe, lyfstrawwe, onbillike behandeling & ongerief waaronder Paulus deurgeloop het, het hy van die owerhede ontvang. En hoe het hy dit hanteer? Filip 1:12 gee die antwoord. Gevange vir Christus. Hy het die Here verheerlik deur daar te woon en werk. Hy het hulle ook in gebed gedra (1 Tim 2:1-2). U sien daar is slegs één lig wat die donker wêreld kan verlig en dit is die kinders van die Here (Mat 5:14). Waar die ware gelowiges nie is nie, is daar nie lig nie. Lig kan alleenlik skyn waar dit donker is. Daarom is die groot uitdaging aan alle gelowiges nie om beter kritiek te kan lewer as ander nie, maar om anders te wees. Stel jouself voor daar is ‘n klompie mense besig om te kuier en te kla, te murmureer, te kritiseer en af te kraak – en daar is net EEN persoon tussen hulle wat ánders is en ‘n lig laat skyn!! Die beste manier om jou lig te laat skyn, is om op te hou murmureer & brom (Filip 2: 14-15).