TAFELBERG GEMEENTE HANDELINGE - REEKS NO 27
Skrif: Handelinge 24
Tema: Paulus se indringende boodskap

En nou staan Paulus voor die Romeinse goewerneur Feliks, wat oor die Judea-landstreek regeer het. Onthou u: die kommandant het vir Paulus na Feliks gestuur omdat die Jode hom in Jerusalem wou doodmaak vanweë sy uitgesproke Christenskap en hulle die hele konsep van Christen-wees verkeerd verstaan het. Feliks moet nou uitsluitsel kry oor wát presies die Jode se klagtes teen Paulus behels. Hulle moes 5 dae wag voordat die Joodse klaers daar aankom. By hulle was ‘n advokaat, Tertullus. Al hulle aanklagte was vals, maar hulle stel dit só dat dit baie ernstig klink in die lig van die streng Romeinse wette van daardie tyd. Om byvoorbeeld rebellie & opstand aan te blaas, was ‘n ernstige misdaad en met die dood strafbaar. Om die leier te wees van ‘n godsdienstige sektegroep wat die eenheid van die Romeinse Ryk kon bedreig, was ‘n misdaad. En dit is presies wat Tertullus doen. Hy beskuldig vir Paulus van hierdie dinge. Daarby was Feliks self ook nie juis ‘n man van besondere integriteit nie. Die geskiedenis vertel vir ons dat hy vanaf 52 tot 59nC goewerneur van Judea was, deurdat sy broer hom in die posisie gekry het. Hy het egter min uitgerig en was nie geliefd onder die Jode nie. Keiser Nero het hom 2 jaar ná Paulus se verhoor, die trekpas gegee. Daarby was hy nie getroud met Drussila (‘n Joodse meisie van omtrent 20) nie. Hy was voorheen 2 X getroud en hy & Drussila het net saamgewoon nadat hy haar afgerokkel het van haar eie man. Dit is waarskynlik waarom Paulus se sielsdeursoekende prediking hom so ontstel & verontrus het.

Dit was nie vir Paulus baie moeilik om Tertullus se beskuldigings te weerlê nie, want daar was só baie getuies wat kon bewys dat hy níé rebellie aangewakker het nie. En toe sê Paulus vir Feliks: “Edelagbare, ás daar dan ‘n misdaad is wat ek gepleeg het, dan is dit dat ek die hele Bybel woord-vir-woord glo en dat ek glo aan die opstanding van die dooies. Dis waarop ek éíntlik tereg staan: die opstanding van die vlees! Noem dit ‘n misdaad as u wil!” U sien: Paulus skep weer eens met opset vir homself ‘n geleentheid om die Goeie Nuus van Christus te verkondig.

Wel, indien Feliks konsekwent getrou moes wees aan die Romeinse reg, moes hy vir Paulus daar en dan vrylaat. Hy besef egter dat dit die Jode in opstand sou laat kom en dat dit tot verdere moelikheid kon lei. Hy wou liewer die Jode ‘n guns bewys as om reg & geregtigheid te laat geskied. Daarom hou hy vir Paulus gevange vir nog twee jaar totdat hy opgevolg is deur Porcius Festus. ‘n Verdere twee volle jare sit Paulus steeds toegesluit sonder dat hy aan enige misdaad skuldig bevind is. Dink net aan die tydsperiode: 2 jaar – vir níks. Was dit verkwisde tyd? ‘n Verkwisde lewe? Het Paulus ‘n sinvolle lewe gehad? Was hy nie besig om sy kosbare lewensure te vermors nie? Is dit moontlik dat ‘n mens só oortuig kan wees van die boodskap van ‘n Boek, van ‘n toekomshoop wat iewers in die verre toekoms wag, van ‘n Man wat gekruisig is en wat weer leef? Is dit nie ‘n soort gekke godsdienstige fundamentalisme soos wanneer mense met vliegtuie in ‘n gebou vasvlieg t.w.v. hul malle oortuigings nie? Is dít wat die Christelike Geloof aan Paulus gedoen het? Antwoord is NEE. Paulus was geen gekke fundamentalis nie. Paulus was net van 2 goed doodseker: 1) Dat Jesus leef 2) Dat hy, wat Paulus is, sal leef! Geen aardse lyding of stryd kon hom daarvan beroof nie.

Vanoggend fokus ons op Paulus se deurdringende boodskap. En ons vra onsself af tot watter mate óns ook so aangevuur word deur dieselfde boodskap as wat vir Paulus aangevuur het. Uit Paulus se verdediging voor Feliks sien ons die kern van sy boodskap.

1) Paulus het die hele Bybel geglo: Vv 14-15. God, die Vader van Jesus Christus, was nie ‘n ánder God as die God van die OT nie. Die God van die OT, die God van Israel, ís die Vader van Jesus Christus. Nou, ná Christus se koms, kan ‘n mens daardie God slegs ken deur Jesus. Want Jesus is die vervulling van die ganse OT. Hy is die Een na wie die OT heengewys het. En die OT is vers vir vers die gesaghebbende Woord van God. Daarom verklaar die Apostel: “Feliks, ek glo ALLES wat in die OT/Bybel staan.” U sien? Vir Paulus was die OT die Woord van God en hy het alles geglo wat daarin staan. Nog meer: Hy het sy vertroue daarop geplaas. Want op elke bladsy verskyn Christus. Johannes 5:39,46; 14:6. Die héle Skrif is deur God self uitgeasem: 2 Tim 3:16-17. Waarom sou Paulus dan nie álles glo nie? Al die letterlik 100e vooruitwysings na Christus. Die feite van die skepping in Genesis 1-2. Die feite van die sondeval in Gen 3. Die feite van die Groot Vloed in Gen 6 e.v. Die feite van Jona en die vis ens. Die eerste element van Paulus se boodskap, was sy eie verknogtheid aan die héle Bybel as onfeilbare Woord van God. Indien jy dáár begin, het jy ‘n werklik ‘n boodskap vir ander en ‘n been om op te staan.

2) Paulus het geglo dat daar aan die einde van hierdie bedeling ‘n liggaamlike opstanding van alle geredde en alle ongeredde mense sal wees: Vv 15, 21. Dit was sy groot hoop/verwagting. Hy het geglo & geweet dat God dit beloof het en dat Hy baie goed weet hoe om dit te doen en dat Hy by magte is om dit te doen. Ja, al is daar van die liggame van die meeste mense wat ooit geleef het, absoluut niks meer oor nie, sal die Here splinternuwe liggame skep. Net soos die koringkorrel wat gesaai word heeltemal vergaan, maar daar ‘n splinternuwe plant bo die grond verskyn. Dit is nie die gesaaide korrel wat verskyn nie. Dit is ‘n totaal nuwe skepping, alhoewel dit dieselfde plant is. Dít is wat God gaan doen. Nie één enkele mens wat ooit geleef het, sal oorgeslaan word nie. 1 Korintiërs 15:35-38. Die OT sowel as NT leer dit. Só oortuig was die Apostel dat hy vir Feliks kan sê: “Dít is die misdaad waaroor ek vandag voor u tereg staan: my hoop op die opstanding van die geredde en ongeredde mense aan die einde van die tye.” Is dit nie presies waaraan iemand soos Job in sy stryd vasgehou het nie (19: 25-27)? En wat van Daniël 12:2? En Jesaja 66: 22-24? En Paulus self in Filip 3: 20-21. Dink ook aan die verruklike Matteus 27: 52-54. Die oomblik toe die Here sterf en die voorhangsel in die tempel skeur, het die grafte van talle gelowiges in Jerusalem oopgeskeur en is hulle opgewek en het hulle uit die grafte gekom. Nadat Jesus self opgestaan het, het hulle ook in die stad inbeweeg. Toe die offisier & soldate dit sien sê hulle: “Waarlik, dit wás die Seun van God”. Daardie einste Seun sal eersdaags álle liggame opwek uit die stof. Hy weet hoe om dit te doen. Is dit nie die grootste troos, vooruitsig en bemoediging vir ‘n ware gelowige nie? “Mý liggaam sal onsterflik opgewek word, maak nie saak wat nóú skort nie.”

3) Paulus was deeglik bewus van die gevaar van UITSTEL: Vv 25-26. Opvallend dat Paulus nie vir Feliks vlei nie. Hy verkondig geen afgewaterde boodskappie uit vrees dat Feliks hom dalk sal straf nie. Hy praat met hom vlymskerp reguit. Onthou, uit die geskiedenis weet ons dat Feliks in blatante sonde geleef het met Drussila. Hy was voorheen 2 X getroud. Hy het haar weggelok van haar man. Hy het vir haar gesê: “Ag, ons was nou albei tog al voorheen getroud – ons ken díé storietjie- en die huwelik is maar ‘n groot risiko, waarom nie liewer net saamwoon nie? Laat ons liewer maar ligloop vir hierdie trou-storie.” In teenstelling met die Here se Woord wat sê in 1 Thes 4: 3-8 – Dit is die wil van God dat julle heilig moet lewe. Weerhou julle van onsedelikheid. Elkeen van julle moet sy vrou heilig en eerbaar verkry. Julle moenie deur hartstog en begeerte gedrywe word soos die heidene wat God nie ken nie. God het ons nie geroep om onsedelik te leef nie, maar heilig. Wie hierdie voorskrifte verwerp, verwerp nie maar net ‘n mens nie, maar verwerp God. En toe Paulus die geleentheid kry om met Feliks te praat? Waaroor praat hy? Oor God se liefde? Oor die wonderlike verlossing wat die Here Jesus bewerk het? Nee. Paulus weet hoe noodsaaklik dit is dat Feliks éérs sy eie nood en behoefte aan verlossing moet besef. Hy moet sy eie hart & lewe soos in ‘n spieël sien. Hy moet sy sonde & verlorenheid besef. Paulus sit ‘n spieël voor Feliks neer. Daarom praat Paulus met hom oor gehoorsaamheid aan God (dit was hy en Drussila nie) en selfbeheersing (dit het hulle nie gehad nie) én die komende oordeel (waarheen hulle beslis op pad was). Want sou Feliks en Drussila voortgaan op hul sondepad, sou hulle in die gerig van God kom. Paulus huiwer nie om dit duidelik te verkondig nie. En dit is duidelik dat die koue sweet op Feliks se voorkop uitslaan – simbolies gesproke. Paulus se verkondiging maak hom bang. Hy kom onder ‘n besef van sy verlorenheid. Sy gewete word aangespreek. Vers 23: Hy het bang geword. Maar dan maak hy die heel grootste fout van sy lewe: hy kom nie tot ‘n beslissing vir Christus nie! Hy stel uit. Vers 25: “Gaan maar terug, wanneer ek tyd het, sal ek jou weer laat roep.” Nêrens in die geskiedenisboeke lees ons iets daarvan dat hy óóit ‘n verloste kind van die Here geword het nie. Al hét hy dikwels daarna weer met Paulus gepraat met die hoop dat Paulus hom omkoopgeld sal aanbied sodat hy hom kon loslaat – nie om ernstig na die Woord te luister nie! U sien: daardie dag toe die Here se Gees met hom gepraat het deur Paulus, het hy vasgeskop en verkies om liewer uit te stel. Hoe dwaas. Indien ‘n mens baie siek is, sal jy die dokter eers môre kontak? Indien jou huis aan die brand is, sal jy brandweer môre inroep? En tog, wanneer dit oor ons ewige sieleheil gaan, is ons geneig om so agterlosig te wees. Die probleem van die verloregaande mens is nie dat hy/sy Christus vir ewig weier & verwerp nie, maar dat hy dit VANDAG doen.

Die storietjie word vertel van die satan wat eenmaal met ‘n klompie van sy top offisiere – bose geeste/demone – kajuitraad gehou het. ‘n Baie belangrike saak was op die agenda. Watter effektiewe manier kan hulle bedink om mense van Christus weg te hou. Wat sal die beste strategie wees om mense vir ewig verlore te laat gaan. Hulle het koppe bymekaar gesit en een demoon het dít voorgestel en ‘n ander demoon het dát voorgestel. Daar was letterlik tientalle voorstelle. Goed soos: saai twyfel in die Bybel, kweek ateïsme, vestig die leer van evolusie in die skole & universiteite, bombardeer & kondisioneer die massas se gemoedere met sonde en gebruik die media daarvoor, indoktrineer kerkmense om te aanvaar dat hulle outomaties wedergebore is omdat hulle in Christelike ouerhuise grootgeword het, ensovoorts. Nie een van die voorstelle was vir die duiwel aanvaarbaar nie. En toe roep een van die offisiere hard uit: “Eureka, eureka, ek het gevind, ek het gevind! Kom ons bevestig die waarheid van die Evangelie sodat mense dit werklik aanvaar. Ons bevestig die verlossing wat Jesus bewerk het. Laat die mense met graagte na die eredienste stroom. Laat hulle maar die Bybel glo. Maar ons fluister vir hulle dít in die oor: ‘môre is nog ‘n dag’”. Onmiddelik het die duiwel geweet: dít is die wenresep en daar was pandemonium van opgewondenheid.

Wel, dit is maar net ‘n staaltjie, maar die taktiek het beslis gewerk in die geval van Feliks en dit werk sederdien in miljoene mense se lewens. “Wees ernstig, luister aandagtig na die prediking, maar moenie oorhaastig wees met ‘n beslissing nie. Stel gerus maar uit.”

Laat ons Paulus se boodskap ter harte neem: nie net volle vertroue op elke woord in die Bybel nie, nie net die briljante hoopvolle verwagting van die opstanding van die liggaam nie, maar die heldere insig in die gevaar van uitstel. Die enigste dag waarvan ons seker is, is vandag. Die enigste tyd waarvan ons seker is, is NOU! 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00