TAFELBERG GEMEENTE HANDELINGE - REEKS NO 26
Skrif: Handelinge 22:30 – 23:35
Tema: 'n Christen onder druk

Verlede Sondag het ons gesien hoe die Romeinse kommandant tot Paulus se hulp kom toe die Joodse skare hom wou doodmaak. Die kommandant wou egter uitvind waarom die skare so aggressief teenoor Paulus is. Dalk is hy ‘n booswig. Die normale sou wees om hom te laat gésel om inligting te bekom. Maar Paulus was ‘n Romeinse burger en dit was onwettig om ‘n Romeinse burger te laat gésel sónder ‘n wettige verhoor. Tot sover verlede week se gedeelte.

Tóg wil die kommandant graag weet wat die Jode teen Paulus het. Daarom beveel hy dat die hele Joodse Raad & die priesterhoofde bymekaar moet kom sodat hy Paulus voor hulle kan bring en hy kan hoor wat hulle te sê het. So gesê so gemaak. Toe Paulus voor die Raad verskyn, kyk hy hulle in die oë en verklaar dat sy gewete skoon is. Die hoëpriester Ananias laat hom op sy mond klap. Paulus vererg hom en noem die hoëpriester skynheilig. Hy het egter nie geweet dis die hoëpriester nie, waarskynlik omdat hy jare lank uit Jerusalem weg was en die hoëpriester nie sy priesterklere aangehad het nie, omdat dit sommer ‘n informele samekoms was. Toe Paulus hoor dit is die hoëpriester, vra hy dadelik verskoning. Hy besef egter dat hy nie ondersteuning van die hoëpriester sal kry nie. Toe maak hy ‘n ander plan. Hy besef die vergadering is verdeel tussen Sadduseërs (liberaal: glo nie aan liggaamlike opstanding) en Fariseërs (behoudend: glo aan opstanding). Daarom verklaar hy dat hyself ‘n Fariseër is wat aan die opstanding glo – sodat daar ‘n rusie onder die twee faksies ontstaan en die Fariseërs Paulus se kant kies. Die rusie raak só erg dat die kommandant weer moet ingryp en vir Paulus na die kaserne neem. Daardie nag staan die Here self by hom en bemoedig hom. Die Jode was egter nie klaar met Paulus nie. Die volgende dag smee hulle ‘n komplot om hom te vermoor. Paulus se suster se seun kom egter daarvan te hore en vertel dit vir die kommandant. Hy besluit toe om vir Paulus in die geheim onder bewaking van 470 man weg te stuur na die goewerneur Feliks.

Wanneer ‘n mens dit alles lees besef jy net onder watter geweldige druk Paulus verkeer het. En dit is baie interessant & leersaam om vir Paulus dop te hou en te sien hoe hy onder druk funksioneer. ‘n Christen-gelowige wat onder geweldige druk verkeer – dit is die fokus van vanoggend se prediking.

1. ‘n Christen onder kwaai druk behou ‘n skoon gewete > Is dit nie aangrypend dat Paulus – ná alles wat alreeds met hom gebeur het – steeds sy vyande in die oë kyk en verklaar: “ek het heeltemal ‘n skoon gewete oor hoe ek tot vandag toe my lewe in diens van God gelei het.” Ja, hy behóú ‘n skoon gewete. Dit is wat die hoëpriester so kwaad gemaak het: dat Paulus nou – as Christen – voorgee om nog altyd ‘n goeie Jood te wees en God te dien met ‘n skoon gewete. Hoe kon hy ‘n skoon gewete hê as Christen – ‘n volgeling van daai Jesus? Tog was Paulus baie ernstig. Sy gewete was skoon. Hy het konsekwent voor alle mense geleef met sy Godgegewe oortuigings. Hy het nie gedoen wat mense verwag wanneer dit in stryd was met die Woord nie. Dit is ook waarom hy so gou sy fout kon erken toe hy besef hy het verkeerd opgetree teenoor die hoëpriester: sy gewete was skoon en daarom sensitief vir enige skuld. Nie toegeskroei nie. Hebreërs 10:22, 13:18

2. ‘n Christen onder kwaai druk kan foute maak > Hoe ‘n mens ookal redeneer om vir Paulus in ‘n beter lig te plaas, die feit bly: hy het hom bloedig vererg vir hierdie man wat beveel dat hy geklap moet word. Hulle wil hom verhoor volgens die Here se Wet, maar tree op in stryd met dieselfde Wet deur hom te slaan. “Die Here sal jóú slaan, jou skynheilige (letterlik: witgewaste muur)”. Ja, hy het hom vererg. Wanneer ‘n kind van God onder kwaai druk kom, kán dit gebeur dat hy/sy dinge sê wat kon gebly het. Opvallend dat die Gees vir Lukas lei om dit neer te skryf en nie te verswyg sodat Paulus beter kan voorkom as wat hy is nie. (Só is die Bybel: blank eerlik en absoluut realisties). ‘n Christen onder druk kán sondig. Maar, vanweë die Heilige Gees se inwoning en die sensitiewe skoon gewete – kom daar gou weer sonde-oortuiging, erkentenis en belydenis. En só kom die Geesvervulde integriteit weer na vore – ten spyte van foute.

3. ‘n Christen onder kwaai druk openbaar integriteit > Paulus het doodgewoon nie geweet dis Ananias die hoëpriester nie. Hy het nie sy spesiale klere aangehad nie. En die Here se Woord sê in Eksodus 22:28 jy mag nie jou leier beledig nie. En die Woord is in Paulus se hart gegraveer. Hy weet wat die Gees deur die Woord sê. Daarom erken hy onmiddelik sy fout toe hy hoor dit is die hoëpriester. Selfs onder kwaai druk, behou hy sy integriteit. Hy is gewillig om gekorrigeer te word. Nie bó teregwysing nie. ‘n Mens ken ‘n ware geredde mens aan hierdie karaktertrek, nie waar nie – hoe jy optree onder druk: steeds gebrokenheid en bereidheid om te buig en gebuig te word. Sien 1 Pet 2:23.

4. ‘n Christen onder kwaai druk hou aan kernwaarhede vas > Ja, dit is waar dat Paulus ‘n slim taktiek gehad het om oor die opstanding van die dooies te praat tussen mense wat juis daaroor verdeeld is. Maar, daar is ook iets meer as taktiek. Die opstanding van die dooies, is die kern van Paulus se verwagting! Dit is die kern van die blye boodskap van die evangelie. Te midde van die druk waaronder hy verkeer het, was Paulus bereid om die kern van die geloofswaarhede waarop hy vertrou het, openlik te bely. Terwyl hy weet daar is ‘n klomp liberale teoloë teenwoordig wat heeltemal van hom verskil. Sadduseërs het opstanding verwerp as iets “geesteliks”. Talle van vandag se vrysinnige teoloë is presies daar waar die Sadduseërs was. Matteus 22: 23, 29.Dit is nie moontlik om enigsins ‘n Christen te wees indien jy nie vertrou op die letterlike liggaamlike opstanding van Jesus van Nasaret nie 1 Kor 15:14, 17,18. Romeine 10:9. 1 Petrus 1: 20-21. Al was Paulus onder geweldige druk, het hy nie die kernwaarhede prysgegee of versag nie.

5. ‘n Christen onder kwaai druk ondervind die Here se nabyheid > Hoe asemrowend mooi is vers 11: “Daardie nag het die Here by Paulus gestaan en vir hom gesê: ‘Hou moed. Hier in Jerusalem het jy vir My getuig. So moet jy dit in Rome ook nog doen.’” Is dit nie presies wat gebeur wanneer die Here se kind onder geweldige druk verkeer nie? Die Here is self só ‘n mensie intens naby. En waarvan verseker die Here vir Paulus? Wat staan bó aan die prioriteitslys? Waarom lewe Paulus enigsins nog? Die Heiland sê: “Jy hét hier van MY GETUIG, jy sal dit ook in Rome doen.” VAN MY GETUIG. Dit is spilpunt waarom alles gaan. Selfs wanneer daar kwaai druk is, is daar steeds belangrike werk om te doen. En die Here verseker hom dat hy nog Rome toe moet gaan. M.a.w. jy bly lewe solank daar vir jou taak is. Paulus weet hy sal nie sterf nie, want hy moet nog eers Rome toe. In ‘n sekere sin weet hy hy is onsterflik. Dit is waarom hy later – tydens die skipbreuk – geweet het die skip sal nie vergaan nie (Hand 27:22). Want hy moes nog eers Rome toe. Is dit nie ‘n wonderlike waarheid nie – ‘n Christengelowige is onsterflik – totdat die Here jou huistoe roep. Jy is nie bang nie, want jy weet jy is onsterflik totdat die Here se werk voltooi is.

6. ‘n Christen onder kwaai druk beleef God se voorsienigheid > Dalk is dit die mees wonderlike van alles. ‘n Verloste mens wat onder druk verkeer kan weet dat die Here op die een of ander manier sal voorsien. Daarom bestaan die woord “toeval” nie in ‘n Christen se woordeskat nie. Kyk net of dít toeval was: Veertig Jode sweer ‘n eed dat hulle niks oor hulle lippe sal neem alvorens hulle nie vir Paulus doodgemaak het nie. “Toevallig” hoor Paulus se suster se seun daarvan. En die komplot val plat. Is dit nie presies wat ons verlede jaar in ons preekreeks oor Ester gesien het nie? Agter die skerms werk die onsigbare hand van God (in Sy voorsienigheid) om omstandighede rond te skuif sodat Sý plan tot uitvoering kan kom. Geen wonder dieselfde Paulus kon later Romeine 8:28 neerskryf nie. En Efesiërs 1:11. Presies in lyn met dit wat Josef vir sy broers gesê het in Genesis 50:20.

Hoe wonderlik die vrug wat die Heilige Gees produseer in die lewens van die kinders van God wat onder druk verkeer. Geensins word daar gepraat van PAULUS wat so diep toegewyd was nie. Dit is sy Here wat die eer ontvang.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00