TAFELBERG GEMEENTE HANDELINGE - REEKS NO 25
Skrif: Handelinge 21:27 – 22:29
Tema: Was Paulus 'n Christen?
Was Paulus werklik ‘n Christen? Was hy waarlik wedergebore? Klink na ‘n onsinnige vraag. Tog is die Bybel vol voorbeelde van predikers wat vals profete was. Ek hoor onlangs van ‘n dame wat professor in NT aan ‘n bekende VSA universiteit was. By ‘n gewone Bybelstudiegeleentheid ontdek sy dat sy self nog nie werklik die Here ken nie en sy kom tot geloof & bekering. Daarna het sy sendeling in Asië geword en haar getuienis te boek gestel. Hoe weet ons dat Paulus eg weergebore was en dat sy toewyding nie weer sou oorwaai nie? Hoe weet ons dat sy bekering – waarvan hy in hfst 22 getuig – nie vals was nie? In ons gelese gedeelte skuil daar sekere waarmerke van egtheid, waaruit ons met sekerheid kan weet dat Paulus ‘n ware Christen was. Voordat ons daarna kyk, laat ons eers sien wat die konteks van 21:27 – 22:29 is.
Ons het verlede Sondag gesien hoe Paulus, ná sy 3de sendingreis, in Jerusalem aankom en hoe Jakobus hom vra om die nasireërgelofte af te lê sodat die onbekeerde Jode kan sien dat hy nie teen die Wet van Moses gekant is nie, want hulle wou hom doodmaak omdat hulle gedink het hy leer die bekeerlinge uit die heidene om teen die Wet te draai. Paulus willig toe in om die Nasireërgelofte af te lê. Die ironie is dat juis toe hy in die tempel ingaan vir die offers, ‘n paar Jode hom sien, maar pleks daarvan om positief oor Paulus te oordeel omdat hy in die tempel besig is met offers, begin hulle skreeu en die hele stad se Jode opsweep téén Paulus. “Dis die man wat orals in die wêreld mense téén ons Wet opmaak! En hy het ook Grieke in die tempel gebring en die plek ontheilig.” (Vroeër het hulle vir Trofimus by Paulus gesien en sommer 2 by 2 getel en aangeneem dat Paulus hom in die tempelarea geneem het). Soos jy kan sê “mes” was die stad in beroering, gryp hulle vir Paulus en wou hom net daar voor die tempel se deur doodmaak, maar die bevelvoerder van die Romeinse troepe kom tot sy redding en bevry hom van die skare, maar arresteer hom tog en bind hom met boeie. Paulus staan op die trappies voor die tempel en begin met die skare praat in Aramees – met soveel sensitiwiteit & respek. “Broers & vaders, luister na my verdediging..” Toe hulle hoor dat hy Aramees praat, word hulle grafstil en luister aandagtig. En dan gee Paulus vir hulle ‘n uiteensetting van hoe die Here hom uit die hemel gearresteer het – waarvan ons reeds (in Lukas se woorde) in Hand 9 gelees het en wéér sal hoor in Hand 26 wanneer Paulus homself verdedig voor koning Agrippa. In hierdie uiteensetting lê hy die klem op die feit dat hy ook ‘n egte Jood is wat onder Gamaliël, ‘n hoogs gerespekteerde Joodse leermeester, studeer het. Hy het net so ‘n ywer vir die Wet gehad soos sy toehoorders. En die man wie die Here na hom gestuur het ná sy Damaskuspadondervinding, was Ananias, net so ‘n toegewyde onderhouer van die Wet en ‘n man vir wie die Jode in Damaskus gerespekteer het. U sien, Paulus wil vir sy onbekeerde Joodse toehoorders sê: “Julle dink verkeerd oor my. Net soos julle vandag is, was ek, maar die Here Jesus het my lewe kom omdop. Verstáán dit tog.” Wel dit is wat alles gebeur het. Nou die vraag: Hoe weet ons of Paulus werklik ‘n egte Christen was?
1) Paulus was vervolg > Hy was uitgesproke oor die Here Jesus Christus en daarom is hy vervolg – op allerlei wyse. Hy was nie vervolg omdat hy dit verdien het of omdat hy daarvoor gesoek het nie. Hy was vervolg vanweë Sy Meester en Heiland oor wie hy geen oomblik stilgebly het nie. Omdat ons Here Jesus gehaat word, word Sy volgelinge gehaat (Mat 10: 24-25). Geen dienaar is groter as sy Heer nie! Paulus is vervolg d.m.v. leuens & gerugte wat oor hom versprei is. Hy is vervolg d.m.v. dinge wat gesê is (vv 27-28), maar ook fisiese geweld (v 29ev). Hy is vervolg d.m.v. onreg wat hom aangedoen is. U sien, dit is nie dinge wat gereserveer is vir Christene wat in Arabiese lande woon en deur die Moslemowerhede vervolg word nie. Dit gebeur oral, want dit is die waarmerk van egte wedergeboorte. Daarom moet ‘n mens ook nie verras wees ás dit gebeur nie: “o, wêreld, hoe kan so iets mý oorkom?” Nee, dink aan Johannes 15:18-21. Dink aan Jesus se woorde in Bergrede (Matt 5:10-12). Dink aan Paulus se eie woorde aan Timoteus in 2 Tim 3:12. Dink aan hoe dit met gelowiges gegaan het van die vroegste tye: Abel, Noag, Isak & Ismael, Josef, die profete.
2) Paulus was passievol om van Jesus te praat/getuig > Stel jouself net die situasie voor: letterlik sekondes voordat die massiewe skare vir Paulus doodslaan, pluk die Romeinse soldate hom weg, slaan boeie om sy arms en terwyl die rasende skare se asems nog in sy nek blaas … wil hy jou werklikwaar hulle eers nog toespreek. Nie om hulle tereg te wys nie. Nie om te huil oor sy kneusplekke of die onreg wat hom aangedoen word nie. Maar om van sy Here en Heiland te getuig. Stel jouself so iets voor. Hy sit nie snoesig op ‘n vliegtuigsitplek en gesels met sy medepassasier langs hom oor die Evangelie nie. Hy praat met mense wat hom so pas byna vermoor het!! Maar hy WIL met hulle praat… oor Jesus. Hy is passievol om te praat oor die nuwe Persoon in sy lewe. Hy wil letterlik sy hart uitpraat. Want ware Geesgewerkte geloof is BELYDENDE geloof – sien Romeine 10: 9-11. En dit is ‘n saak wat dalk meer belangrik is as wat dit op die oog af lyk. Dink aan Matteus 10: 32-33. En let op die konteks van daardie verse: vers 34 e.v. – die passie om te praat veroorsaak spanning/verdeeldheid binne verhoudinge: man teen pa, dogter teen moeder. “’n Mens se vyande sal jou eie huismense wees.” (v 36).
3) Paulus het ‘n persoonlike ondervinding gehad > So helder soos daglig staan dit in hierdie gedeelte uit: wat Paulus hier doen, is om ‘n getuienis te gee van sy persoonlike ondervinding met die verheerlikte Christus. Hy sê letterlik vir sy teenstaanders: “ek wéét waarvan ek praat. Ek het ‘n ondervinding van die absolute vrye uitverkiesing en radikale genade van God. En dat Hý my bekeer het van godsdiens tot Christus. Voorheen was ek absoluut godsdienstig, maar tog verlore – nes julle is. Ek was nie ‘n vuilgoed wat ‘n rowwe lewe geleef het nie. Ek was toegewyd en godsdienstig. Ek was net so ywerig vir die God van ons voorvaders soos wat júlle vandag is. Ek het my teologiese opleiding by professor Gamaliël gehad. Dit was juis omdat ek so godsdienstig was, wat ek die volgelinge van Jesus vervolg het, want ek het gedink ek doen God ‘n guns deur van hulle ontslae te raak, want ek het gereken hulle is besig met godslastering deur ‘n mens te aanbid. Maar toe het Hý my uit die hemel gearresteer op die pad na Damaskus. Ek het nie na Hom gesoek nie. Ek het nie na Hom gevra nie. Ek het Hom nie gekies nie. Ek het nie myself bekeer met ‘n vrye wilskeuse nie! Inteendeel. Maar, Hy het my gekies en vir my gesê: ‘As jy My kinders vervolg, vervolg jy My.’ Ek het blind geword van die verblindende lig en is na Damaskus gelei waar Ananias my onderhande geneem het. Ananias het my verseker dat dit die God van ons voorvaders is wat my uitverkies het en wat my Sy Seun – Christus Jesus – laat sien het en Sy Woorde laat hoor het. Dit is waarom ek ‘n egte apostel is – want ek het Hom self gesien en Sy Woord direk van Hom ontvang. Daarna is ek gedoop, wat die sigbare bevestiging was dat my sondes werklik deur Jesus se bloed weggewas is. Toe ek later in Jerusalem kom, het ek by hierdie einste tempel gebid en skielik in ‘n gesig die Here Jesus gesien en gehoor hoe Hy vir my sê: ‘Jy moet vinnig maak en Jerusalem verlaat, want die mense gaan nie jou getuienis aangaande My aanvaar nie. Gaan! Ek stuur jou ver weg na die nie-Joodse nasies toe.’” Sien u hoe is Paulus vanaf sy godsdienstigheid bekeer tot die lewende Here? Sy vroeëre godsdienstigheid het nie van hom ‘n geredde mens gemaak nie. Die verskil het gekom toe Jesus van Nasaret in sy lewe instap. En dit was van A-Z God se werk. Sy uitverkiesende genade. Maar Paulus het ‘n ondervinding daarvan gehad. Hy kon/wou daarvan praat. Vergl 2 Kor 4: 13-14.
4) Paulus het hartstogtelik verlang dat mense gered moes word > Verse 17-21. Vanaf die dag van die Damaskuspadondervinding, het die gerigtheid van Paulus se lewe onherroeplik verander. Daardie woorde van die Heiland: “Gaan. Ek stuur jou ver weg na die heidene”, was die laaste strooi. Van toe af het Paulus net een passie gehad: dat mense die Goeie Nuus moet hoor. Dit is onmiskenbaar ‘n teken dat iemand ‘n ware Christen is, want van nature – al is jy hóé ‘n goeie mens – is jy selfgerig en selfgefokus. Jou hele lewe – ook al is jy godsdienstigverlore – draai om jouself en eiebelang. Ja, jy het ‘n passie vir ander mense, maar dan wanneer dit tot jou eie voordeel is of indien dit oor mense gaan wat in jou smaak val. Maar die egte passie vir mense (van alle nasies) se redding, kom slegs uit ‘n wedergebore hart na vore. Kyk maar na die Apostel se passie vir die Jode in Romeine 10:1, 9:3.
5) Paulus wou bly leef met één doel: om God se verheerlik > Verse 22-29. Die skare het aandagtig na Paulus geluister totdat hy vertel hoe die Here hom na die heidene uitgestuur het – toe is die gort gaar en pandemonium breek los, want in hulle oë was dit ‘n gruwel om onreine nie-Jode in die koninkryk te wil bring. Hulle gaan só te kere dat die Romeinse offisier vir Paulus moes wegruk na veiligheid. Hy beveel toe dat Paulus gegésel word sodat hulle kon uitvind wat hy verkeerd gedoen het dat die Jode so te kere gaan. Daardie géseling was egter baie erg. Talle mense is destyds daarvan dood. Dit is dieselfde géseling wat Jesus ondergaan het. Die kats wat gebruik is het bestaan uit vele rieme waarin stukkies metaal en glas vasgeknoop is. Elke haal, ruk letterlik stukke vleis uit. Dit was ‘n wonder dat Jesus nie reeds dáárvan beswyk het nie. Ook Hy is onskuldig gegésel. En op al die vrae wat aan Hom gestel is, het Hy niks geantwoord nie. Hy het niks gesê om die géseling te kon vryspring nie. Maar Paulus ontkom die géseling toe hy daarvan melding maak dat hy ‘n Romeinse burger is, want Romeinse burgers mag nie gegésel word sonder ‘n wettige skuldigbevinding nie. Toe die bevelvoerder hoor dat hy ‘n Romeinse burger sonder verhoor wil laat gésel, skrik hy hom yskoud. En so ontkom Paulus die géseling. Anders as Sy Meester, wat dit – sonder om ‘n woord te sê – deurstaan het. Waarom dan? Waarom het Paulus dit nie ook deurstaan nie? Waarom wou hy ontkom? Hy het dan vooraf gesê dat hy bereid is om vir die Here in Jerusalem te sterf (21:13). Ja, maar die Here het aan hom belowe dat hy na die nasies gestuur word! Daar is nie tyd vir doodgaan nie! Hy wil vir een rede lewe: dat die Here en Sy wil verheerlik mag word. ‘n Onmiskenbare kenmerk van iemand wat werklik weergebore is, nie waar nie? Om te wil lewe met één doel: dat die Here verheerlik mag word en om Sy wil te doen.
Kan daar enige twyfel wees dat Paulus werklik gered was en dat hy in hierdie oomblik steeds by die Here in heerlikheid is? Die 5 kenmerke van ‘n egte gelowige was so duidelik in sy lewe teenwoordig: Hy was vervolg, hy was ywerig om oor die Here te praat, hy het ‘n persoonlike ondervinding van Gods genade gehad, hy was passievol vir mense se redding en hy het geleef vir een doel: om die Here te verheerlik.