TAFELBERG GEMEENTE HANDELINGE - REEKS NO 24
Skrif: Handelinge 21: 1-26
Tema: Kenmerke van Christus se gemeente

Kom ons probeer net weer ‘n prentjie kry van wat in Hand 21: 1-26 gebeur. Die Apostel Paulus het sy 3de sendingreis voltooi en is vanaf Griekeland op pad terug na Jerusalem. Verlede keer het ons gesien hoedat hy in Turkye vasmeer by die stad Milete, net suid van Efese, en hoe hy daar afskeid neem van die ouderlinge van Efese. Nou vaar hy verder, in ‘n suid-oostelike rigting en kom by verskillende eilandjies en plekke. Dan vaar hulle suid van die eiland Siprus verby tot by die stad Tirus in Sirië, net noord van die land Palestina. Hulle vertoef 7 dae by die gelowiges in Tirus en vaar dan die kort afstand suid tot by Sesarea, wat die hawestad was wat Jerusalem bedien het. In Sesarea kuier hulle by die evangelis Filippus en ontmoet ‘n profeet met die naam Agabus. Vanaf Sesarea gaan hulle na Jerusalem, ongeveer 80km vanaf Sesarea, en ontmoet die apostel Jakobus en al die ouderlinge. Die apostels se bediening is deur ouderlinge oorgeneem.

Hierdie 26 verse vestig ons aandag op díé dinge wat kenmerkend is van ‘n gemeente van die Here. Kenmerkend van ware gelowiges. Indien die Heilige Gees werklik in u en my woon (in die gemeente Tafelberg) sál sekere kenmerke teenwoordig wees. Tekens van egtheid & waarheid. Ons bekyk dit van naderby:

1) Verknogtheid aan mekaar: Hier is iets wat ons nie mag miskyk nie. Paulus-hulle moes hulle letterlik losskeur (Grieks) van die ouderlinge van Efese toe hulle vertrek (v1). En by wátter plekkies hulle ookal aangedoen het, het hulle onmiddelik die kinders van die Here opgesoek. Byvoorbeeld in Tirus (v4) en weer in Ptolemaïs (v7) en in Sesarea (v8) en in Jerusalem (v17ev). Verder moet ons raaksien hoe hele gesinne/families betrokke was. Byvoorbeeld in Tirus kniel vrouens en kinders te same met die mans saam met Paulus-hulle op die strand om saam te bid (v5). Ons sien ook die wedersydse liefde tussen Paulus en Jakobus & ouderlinge in Jerusalem.

U sien die Here se gemeente is ‘n baie spesiale liggaam van mense, aanmekaar verbonde met ‘n ongewone onderlinge toegeneëntheid: die eenheid in Christus. Mense wat in dieselfde wedergeboorte deel, ís familie van mekaar, terwyl hulle dit nie van nature sou wees nie. Baie van die mense saam met jou in die gemeente sou nie andersins jou keuse van assosiasie wees indien die Here nie ‘n geestelike wonder gedoen het nie. Almal wat die gemeenskaplike geloof in Christus het, met dieselfde verlossing gered is, vervul is deur die een Gees, voeddende op die een Woord – ervaar ‘n besondere liefde vir mekaar. ‘n Liefde wat die wêreld glad nie kan verstaan nie. Mense wat ontuis is in die Here se gemeente, wys daarmee dat hulle verhouding met die Here skipbreuk ly. Waarom? Want die merkteken van die ware wedergeboorte is die liefde wat in jou hart uitgestort is (Rom 5:5). Voorheen het jy net jouself en eie belange liefgehad. Jy het wêreldse mense en wêreldse dinge liefgehad. Nou het alles 180 grade omgekeer! Ander aan-die-brand Christene trek jou soos ‘n magneet. Selfs diegene wat jy nie eens so goed ken nie. Indien jy ‘n keuse het om op ‘n Vrydagaand na een van twee kuierplekke te gaan: óf na iemand wat jy weet gloeiend vir Christus is en waar daar beslis uit die Woord gepraat sal word en saam gebid sal word óf mense wat louwarm is en nog-vis-nog-vlees is, kies jy die eerste. Sonder twyfel. Jou keuse van ‘n gemeente om aan te behoort is dáár waar die suiwer Woord bedien word en die gelowiges met oorgawe leef. Indien jy moet verhuis na ‘n ander plek, doen jy vooraf ‘n studie óf die Here se dissipels daar is. Indien jy by jou vakansiebestemming kom, vind jy uit waar Sondag se erediens is nog voordat jy jou tas uitpak. Waar is die dissipels? Waar kan ek hulle vind? Martyn Lloyd-Jones het gesê: “Voordat jy as Christen iewers heen verhuis, maak vooraf seker dat daar ‘n liggaam van ware gelowiges is wat suiwer in die waarheid van die evangelie staan. Maak seker dat jy daar onder ‘n bediening sal wees wat 100% suiwer in die Waarheid is, wat opbouend is, wat sielereddend is, wat heiligend is. Indien jy enigsins twyfel, moenie trek nie.” ‘n Teken van ‘n gesonde gemeente is dat die Here se mense graag bymekaar wil wees voor, tydens en ná eredienste. Dit is ‘n ware teken dat ‘n mens werklik ‘n Christen geword het: jou liefde/aangetrokkenheid vir ander gelowiges. Indien jy in jou hart vind dat jy gloeiende Christene wil systap en hulle tot ‘n mate vir jou ‘n pyn is, mag jy met reg twyfel of jy enigsins die Here ken. 1 Joh 5:1: “Élkeen wat die Vader liefhet, het ook díé lief wat kinders van die Vader is.” Dit word so pragtig geïllustreer in Hand 21.

2) ‘n Belewenis dat die Heilige Gees lei: Die tweede kenmerk van ‘n ware gemeente van die Here is dat die Heilige Gees die saamwees in die gemeente gebruik om Sy kinders te lei, maar dikwels nie op aangename paaie nie. Opvallend hoe die Gees by verskillende geleenthede vir Paulus gewys het om wél na Jerusalem te gaan én dat daar vir hom moeilikheid wag. Dit klink soos ‘n weerspreking: dat die Here wil hê hy moet Jerusalem toe gaan, maar dat Hy hom ook afraai om te gaan omdat daar vir hom probleme wag. Nee, dit is nie die Gees wat hom afraai nie, dit is die ander gelowiges wat nie wou hê hy moet seerkry nie. Vers 4 klink soos ‘n weerspreking: “Deur die Gees het die gelowiges vir Paulus gesê om nie Jerusalem toe te gaan nie.” Wat dit beteken is dat die Gees aan hulle geopenbaar het hoe Paulus in Jerusalem sal ly en op grond daarvan raai hulle hom af om te gaan. Wat die Here sê is: “Ek wil hê jy moet gaan, maar Ek wil ook hê jy moet vooraf weet dat dit ‘n rowwe paadjie gaan wees.” En Paulus se reaksie was: “Ek kies die Here se pad, kos wat wil! Ek luister nie na die mense wat my wil afraai om te gaan nie.” Dieselfde geld vir Agabus se profetiese handeling met Paulus se lyfband. Dikwels het OT profete ook hul profesieë soos dramatjies opgevoer (1 Kon 11, Jes 20, Jer 13, Eseg 4-5). Hier demonstreer Agabus vir Paulus hoe hy geboei gaan word in Jerusalem. Indien Paulus na sy medegelowiges se pleidooie geluister het, sou Agabus se profesie nooit bewaarheid word nie. Maar dit móés bewaarheid word, want dit is die Gees wat deur Agabus praat! Punt is net: vandag nog is dít ‘n kenmerk van ‘n ware gemeente: juis terwyl jy meeleef in die gemeente, ervaar jy die Heilige Gees se leiding, wat jy nie sou ervaar het as individu buite die gemeenskap van gelowiges nie. (Vrgl Tomas: Joh 20:24). En Hy lei dikwels Sy mense op moeilike paaie met baie dorings, maar Hy gee te midde daarvan Sy blydskap.

3) Plek van ootmoed: Die derde kenmerk van ‘n ware gemeente van Christus is die spesifieke gees & atmosfeer wat daar heers: daar heers ‘n nederigheid wat wégfokus van die méns en wat die kollig op die lewende God laat val en aan Hóm die eer gee. Let fyn op vers 19. Wanneer Paulus in Jerusalem aankom en hy vir Jakobus en die ouderlinge vertel van sy sendingreise, staan daar die volgende: “Paulus het in besonderhede vertel wat God deur sy diens onder die nie-Jode gedoen het. Toe hulle dit hoor, het hulle God geprys..” Paulus neem geen krediet vir die vrug op sy arbeid nie. Hy sê: Die Here het dit alles gedoen. Hy moet verheerlik word. Indien iemand tot bekering kom, is dit God se werk. Indien jy jouself kasty en daarna streef om Hom beter te ken, is dit Sý werk in jou. Indien dit nie was vir die kragtige werk van die Heilige Gees nie, sou ons niks kon doen nie. Indien jy nie bewaar was deur die krag van God nie, sou jy vergaan het. Álle eer kom die Here toe. Geen menseverheerliking. Sien 1 Kor 3:5 asook die aangrypende Filip 2: 13 en Rom 15: 18. Paulus was gereformeerd lánk voor Calvyn!

4) Buigsame én onbuigsame gees: Verdraagsaamheid én ‘n onverdraagsaamheid. Toe Paulus vir Jakobus in Jerusalem ontmoet, vertel Jakobus vir Paulus van die valse gerugte wat die onbekeerde Jode oor hom versprei. Hulle sê Paulus leer die Jode wat onder die heidene woon om af te sien van die seremonies & gebruike wat in verband staan met die Wet van Moses terwyl die Jerusalemse Jode wat Christene geword het nog steeds die seremonies onderhou – bedoelende NIE om daardeur gered te word nie, maar t.w.v. die kulturele erfenis & gebruike. Die gerugte oor Paulus was nie waar nie. Dit was leuens waarmee die satan probeer het om Paulus se bediening te kelder. Hy het nooit die bekeerde Jode geleer om af te sien van hul gebruike nie. Hy het hulle wel geleer dat wetsonderhouding nie kan bydra tot hulle redding nie en dat die besnydenis onnodig is – natuurlik. Redding kom immers slégs deur Jesus se kruisverdienste. Maar die onbekeerde Jode het dit nie verstaan nie. Hulle het gedink Paulus is gekant teen die Wet. Daarom soek hulle sy bloed. Nou sê Jakobus vir Paulus: “Wil jy nie iets doen om te wys dat jy nie teen die Wet gekant is nie? Hier is ‘n klompie manne wat die Nasireërgelofte afgelê het, wil jy nie met hulle meedoen en ook jou hare afskeer en hulle onkostes betaal nie. Dan sal die Jode weet dat hulle verkeerd van jou gepraat het.” (Ons het reeds breedvoerig oor die Nasireërgelofte gepraat in ‘n vorige boodskap oor Hand 18. ‘n Mens kan die beskrywing daarvan lees in Numeri 6. Dit was ‘n ritueel wat die Jode uitgevoer het om hul dankbaarheid teenoor die Here te bewys.)

En wat doen Paulus toe? Met graagte doen hy mee. Hy weet dat dit geen kompromie is nie. Hy kompromiteer nie die evangelieboodskap nie. Hy plaas geen PLUS by Christus se verlossingswerk nie. Dit gaan bloot oor Joodse seremonies & rituele. En indien dít kon help om die onbekeerde Jode se vooroordele af te breek & beter verhoudings te kweek, doen hy dit graag. U sien die verdraagsaamheid wat in die Here se gemeente heers wanneer dit gaan oor sake wat nie die Waarheid van die Woord kompromiteer nie.

En tog het dieselfde Paulus ook ‘n stuk onversetlikheid & onbuigsaamheid in hom wanneer dit gaan oor die Naam van die Here Jesus Christus en Sy toewyding aan Hóm. Wanneer daar gevaar dreig en sy medegelowiges hom aanraai om nie na Jerusalem te gaan nie, sien hy rooi. “Dink julle ek is van lotjie getik om om te draai? Wil julle my hart sag maak met trane? T.w.v. die Naam van die Here Jesus is ek bereid om in Jerusalem te sterf.” (v13). Wanneer dit oor die Here gaan en Sy Woord en die Waarheid en toewyding daaraan, is Paulus onversetlik en bereid om selfs te sterf. Onmiskenbaar is hy vervul deur die Heilige Gees, nie waar nie! Dít is 4de kenmerk van ‘n ware gemeente van Christus: verdraagsaamheid onder mekaar wanneer dit oor nie-essensiële dinge gaan. Maar ook ‘n onversetlikheid wanneer dit oor die Naam van die Here Jesus gaan en oor toewyding aan Hom. Ja, as dit daaroor gaan, selfs ‘n gewilligheid om skade te ly, ongerief te verduur, opofferings te maak. Die Geesvervulde gloed in die hart kan nie geblus word deur teenstand en swaarkry nie! Selfs nie deur die dood nie. Dit is waarom vervolging en martelinge nog nooit in die geskiedenis die Here se gemeentes kon vernietig nie. Tewens, die geskiedenis bewys dat waar dit taai gaan, gemeentes groei!

Verlede Sondagaand was ek & Beulah by ‘n erediens waar die leraar vertel het van sy besoek aan Suid-Frankryk. Daar is ‘n monumentjie vir ‘n enkele persoon wat in die 17e eeu geleef het. Ene Marie Durand. Sy was ‘n Hugenoot – ‘n gereformeerde gelowige wat deur die Roomse owerhede vervolg is a.g.v. haar geloof in Christus. Marie is voor die Roomse owerhede gebring en gedwing om haar geloofsvertroue in die Bybel-alleen af te sweer. Sy het geweier. Sy was 14 jr oud. Toe is sy, te same met 30 ander vroue, in ‘n toring toegesluit waar sy AGT EN DERTIG JAAR ‘n gevangene was. Op die muur het sy ‘n woordjie uitgekerf (wat vandag nog gesien kan word): RESIST!! Geesvervuld onbuigsaam wanneer dit gaan oor die Waarheid van die Evangelieboodskap.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00