TAFELBERG GEMEENTE HANDELINGE - REEKS NO 20
Skrif: Handelinge 17: 16-36
Tema: Godsdiens versus afgodsdiens
‘n Interessante tendens is in talle westerse lande aan die ontwikkel: derduisende mense wat die Christelike Kerk vaarwel toegeroep het, maak daarop aanspraak dat hulle nog steeds baie “spiritueel” is. Hulle stel nie meer in die klassiek-Christelike Geloof belang nie en veral nie om kerk-van-Christus te wees nie, maar hulle is steeds uiters godsdienstig in die sin van om sogenaamd “spiritueel” te wees. Hierdie spiritualiteit kan enige denkbare vorm aanneem. Soveel mense, soveel spiritualiteite. Gewoonlik is daar verbintenisse met die afgodiese Oosterse Mistiek/ Hindoeïsme/ New Age beweging. Meesal gaan dit oor die rus & vrede & kalmte wat jy diep binne-in jou beleef wanneer jy sg. “eenword” met die natuur of met jou skilder- of beeldhouwerk of musiek. Niemand se “spiritueel-wees” is dieselfde nie. Elkeen besluit vir hom/haarself wat die beste werk. Jy glo dat daar kragte & magte is wat groter is as jyself, maar wat jou altyd goedgesind is alhoewel jy hulle nie ken nie. Jy mediteer, ontledig jouself en word “een” met die heelal. Elkeen op sy eie manier, natuurlik. Hang af wat vir jou werk. Solank “koning mens” net vierkantig op die troon bly. Koos Kombuis: “godsdiens is soos om om te gaan met ‘n reuse kosmiese rekenaar: iets van wat jy insit, kry jy weer uit.” Aktrise: Kate Winslet: Late at night when I go to bed, I light a candle and have a bit of a chat with god or something, though I am not a religious person.” Sprekende van ons tyd. Mense besef daar is iewers ‘n geestelike realm en lewenskrag, maar wie/wat dit is, weet nugter. Wat in werklikheid gebeur is dat – namate die ware Christelike Geloof verloor word – die mensdom pens & pootjies terugval in antieke heidense afgodery (genoem: spiritualiteit) waar algehele onkunde & verwardheid die deurslag gee.
En tog is dit nie ‘n nuwe 21ste eeuse verskynsel nie. Dit was presies die toestand waarin die mense van Athene was toe Paulus 2000jr gelede daar was. Vers 16 – in Athene baie honderde gode om van te kies. Mengelmoes van godsdienstige verwardheid. Totale geestelike duisternis. Opvallend: Toe Paulus in Athene kom, soek hy nie ‘n toergids om hom na al die interessante kulturele besienswaardighede – waarvoor Athene so bekend was – te neem nie. Wat Paulus sien, is ‘n stad vol afgodsdiens. En wat Paulus voel, is diepe ontsteltenis (v 16). En daardie gevoel lei tot aksie: Paulus soek ‘n geleentheid om die enigste ware God aan die arme mense bekend te stel en begin debateer met die slim filosowe. U sien: hy kyk met geestelike oë na Athene. Is dit nie dalk die rede waarom óns so passief is om met alle mag te sorg dat die Woord weerklink nie – waarom ons nie die lus/energie/moed het om te doen wat Paulus gedoen het nie. Want ons voel nie soos hy gevoel het nie (ontsteltenis). Ons voel nie só nie, want ons sien nie wat hy gesien het nie. Ons sien nie hoe Kaapstad wérklik lyk – vanuit hemelse perspektief nie. Die besef dring nie deur dat ál die 1000e spirituele mense in hierdie stad absoluut verward & verlore is sónder ‘n persoonlike verhouding met die enigste ware God in Sy Seun Jesus Christus nie. Indien ons oë daarvoor kan oopgaan, sal ons voel soos Paulus gevoel het en begin doen wat hy gedoen het!
Wat het hy gedoen? Hy het in die Joodse Sinagoge met die Jode en die Grieke wat die Joodse geloof aangeneem het, geredeneer (v 17). Hy het ook op die markplein met mense gaan praat (v 17). Hy het letterlik uitgegaan na die mense toe. Hy het na die godsdienstig-verlorene Jode in die Sinagoge gegaan én na die verlore heidene op die markplein. Daar was letterlik ‘n goddelike aanraking/salwing op sy hart. En let op: hy praat nie hieroor en daaroor met die mense nie – hy praat oor die essensie: die bitter goeie nuus dat Jesus en Sy opstanding uit die dood die enigste redding van die verloregaande mens is (v 18).Kyk, dís nou wat geestelike oorlogvoering is: jy takel die bose magte wat mense se oë verblind deur die Woord aan hulle te bring en met hulle te redeneer oor die evangelie. Paulus gaan sit nie op ‘n koppie en kyk oor Athene en bestraf die bose geeste wat die mense verblind nie. Nee, hy gaan tussen hulle in en preek die Woord. DIT breek die bose se ruggraat!!
Dit is juis tóé dat Paulus na die Areopagus genooi word (v 19) – die plek waar die groot intellektuele filosowe byeengekom het om te redeneer oor allerlei nuwe idees. Hulle het gehoor Paulus praat van die opstanding van die dooies, daarom wil hulle hom hoor, want dit is vir hulle ‘n totaal vreemde gedagte (vv 19-20). Vir hulle was net een ding belangrik: KENNIS. Om intellektueel te wees (sien v 21). Van die môre tot die aand het hulle gedebateer oor nuwe idees.
En hier kry Paulus die heel eerste geleentheid om slegs met totale heidene die Evangelie te deel. Die Here maak ‘n deur oop. En wat sê hy vir die intellektuele reuse? “Eintlik weet julle absoluut niks, al is julle vreeslik godsdienstig” (v 22). Hy sê vir mense wat dink dat hulle iets weet: “julle weet niks.” Hy sê nie uit die hoogte “julle weet niks en ek weet als” nie. Hy sê: “Ek het daar anderkant ‘n beeld van een van julle gode gesien en onderstaan staan geskryf: ‘aan ‘n onbekende god.’ Sien? Julle slim filosowe erken self dat julle onkundig is. Wel, laat my toe om julle te vertel van die God van wie julle niks weet nie.” (v 23). U sien: net onder die oppervlak van ál die gepraat oor “spiritualiteit” lê ‘n totale verwardheid en absolute volslae verlorenheid. Reddeloosheid. Mense wat verlore is. Paulus sien dit raak. En ons moet dit ook raaksien. Kyk na Paulus se dringendheid en erns. Hy kom nie met sy evangelieverkondiging asof dit net nóg ‘n moontlikheid is om dinge te sien nie. Hy sê nie: “indien julle dit goedvind kan julle dalk die Christelike Geloof oorweeg” nie. Nee, hy sê: “Christus is al wat saakmaak. Hy is die enigste waarheid en julle beter Hom baie ernstig neem.” Sien u die moed en durf wat die Gees aan Paulus gee – om met hierdie groot filosowe so reguit te praat? Jy sal mos nie op die strand lê en sien hoe ‘n haaivin nader kom na jou kind wat daar swem en sê: “ag, dis dalk net ‘n haai” nie! Nee, jy sal skreeu en alles in jou vermoë doen om jou kind te red. Dit is die dringendheid in die Apostel se hart. Hy besef die mense se diepe nood. O, as ons maar die nood kan raaksien wat net onder die oppervlak van die spirituele mense rondom ons lê …. En wanneer ons dit sien, sal ons voel wat Paulus gevoel het. Dan sal ons doen wat hy gedoen het.
Nou moet ons probeer om baie mooi te luister, want in sy toespraak, raak die Apostel 3 dinge aan wat álle ongelowiges verkeerd verstaan én wat gélowiges geneig is om oor te dra op die ware Christelike Geloof. Hy korrigeer die filosowe van Athene se manier van dink én in die plek daarvan, plaas hy die Waarheid. Dit is só van toepassing op die mense met wie ons daagliks te doen kry. Luister net hierna: Mense wat nie in die lig van die evangelie leef nie, verstaan 3 basiese goed verkeerd: 1) Die god/gode is menslik uitgedink en na die beeld van die mens gemaak. Die mens leef in God se wêreld asof die mens dit gemaak het. Die god/gode is aan koning mens onderwerp. Die mens gee hom/hulle sy/hulle afdeling waar hulle tuishoort – geestelike afdeling van my lewe 2) Die god/gode is ver verwyder en daar is nie ‘n persoonlike verhouding moontlik nie. Daar is afstand. 3) Die god/gode laat jou altyd goed voel oor jouself. Geen sprake van oordeel nie. Geen sprake dat hy/hulle jou tot verantwoording sal bring en dat jou huidige lewe konsekwensies het vir die ewigheid nie. Baie min begrip vir sonde & oordeel. Soos Madonna antwoord toe iemand ‘n paar jaar gelede vir haar vra wat haar begrip van God is: “wie of wat hy is, weet ek nie. Ek weet ook nie of dit iets binne-in my of buite is nie. Maar wat ookal hy is, hy beskerm my, vertroos my, streel my en hy is glad nie veroordelend nie.” Dit is die god wat die mens self skep.
Kyk nou hoe briljant korrigeer die Apostel al 3 wanopvattings: 1) Ons is 100% van God afhanklik, nie Hy van ons nie! Kyk na verse 24-25: “God, wat die wêreld gemaak het, Hý is Here van hemel en aarde en Hy woon nie in tempels wat deur mense gemaak is nie. Hy het ook nie nodig dat mense Hom versorg nie. Inteendeel, dis Hý wat aan almal lewe en asem gee.” Alles begin met die feit dat Hý álles geskep het en daarom absolute outoriteit oor alles & almal het en daarom die HERE (grootbaas) van hemel & aarde is. Die enigste logiese reaksie waartoe die mens kan kom, is totale oorgawe. Ons kan/mag Hom nie inpas in ‘n hokkie wat ons aan Hom toeken nie. Ons mag Hom nie “aanhou” op ons terme nie. Hy word nie soos ‘n troeteldier deur ons gekoester nie. Hy is die Gewer, nie ontvanger. 2) Hy is naby en nie ver nie. Kyk verse 26-28: “Uit een mens het Hy al die nasies gemaak om oor die hele aarde te woon. God het hulle gemaak om Hom te soek al sou hulle ook moes rondtas om Hom te vind. Hy is nie ver van enigeen van ons af nie, want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons.” Sy hele doel met die skepping was juis om sáám met Sy mense te lewe. Hy het nie wegbeweeg nie, maar ons wél. Dis ons sondes wat Hom ver maak. Dis menslike sonde/opstand/afgodery wat afstand gaan skep het. 3) Ons is nie onskuldig voor Hom nie, maar absoluut skuldig en moet daarom veroordeel word. Tewens, Hy het alreeds ‘n dag daarvoor bepaal. Lees verse 29-31: God het die tye van onkunde oorgesien, maar roep nou al die mense oral op om hulle te bekeer, want Hy het ‘n dag bepaal waarop Hy regverdig oor die wêreld gaan oordeel deur ‘n Man wat Hy uitgekies het. As bewys daarvan vir ons almal, het Hy Hom uit die dood laat opstaan.” U sien ons is 100% verantwoordelik vir wat ons aanvang. God sien nie meer die onkunde oor die hoof nie, maar het ‘n dag van oordeel bepaal en as bewys daarvan het Hy JESUS uit die dood opgewek sodat élkeen wat tot lewensoorgawe aan Jesus se redding kom, nie veroordeel word nie, maar LEWE (Rom 8:1). Jy kan nie meer agter jou onkunde skuil nie. Indien jy die boodskap dat Jesus jou verlos het, éénmaal gehoor het, MOET jy na Hom toe omdraai en die Waarheid sal jou vrymaak.
Ja, vandag nog lag & spot sommige mense met die Waarheid van Jesus se opstanding en die komende oordeel (v 32). Dit het nog nooit verander nie. Ander mense sê gelukkig hulle wil graag nog méér hoor (v 32). En vandag nog gaan sommige se oë oop en hulle kom tot geloof & bekering (v 34 – ‘n paar). Presies net so: vandag nog – hier waar hierdie boodskap vanoggend uitgaan. Die mense wat tot ‘n besef kom: “ék is ‘n wetsoortreder. Ék staan nie ‘n kans in die Groot Oordeel nie. Vir mý het Jesus kom red met Sy opstanding. Ék mag my tot Hom wend en tot rus kom”. Wel, daardie mense is in die verre minderheid (volgens hierdie teks), maar my gebed is dat dit ú mag wees.