TAFELBERG GEMEENTE HANDELINGE - REEKS NO 19
Skrif: Handelinge 17: 1-15
Tema: Die Christus van die Skrifte

Ons is steeds besig om vir Paulus & Silas te volg op hulle tweede sendingreis. Ons het verlede week gesien hoe dit gebeur het dat hulle in Europa gekom het – in besonder Griekeland in die stad Filippi. Ons het gesien wie die heel eerste Christene op Europese bodem was. Ons gelese Skrifgedeelte fokus op die twee plekke wat Paulus & Silas vervolgens besoek het, naamlik Tessalonika & Berea. Tessalonika was so 150km van Filippi en die hoofstad van Masedonië met ongeveer 200 000 mense. Daar was ook ‘n Joodse sinagoge. Dit is waarom Paulus-hulle op Tessalonika fokus, want hulle het – oudergewoonte – by die Sinagoge begin met hul prediking. Hy gebruik 3 agtereenvolgende Sabbatsdae om die evangelieboodskap van Christus Jesus te verkondig. Sommige Jode kom tot bekering. Maar die bose reageer/retireer en nie-bekeerde Jode begin met ‘n veldtog téén Paulus-hulle. Eintlik ‘n baie ernstige saak, want Paulus word van hoogverraad teen die Keiser beskuldig. Hy verkondig mos ‘n ánder Koning en koninkryk (v 7)! In daardie tyd sou jy tereggestel word indien daar net die geringste klankie is van iemand wat téén die Keiser saamsweer. Daarom moes Paulus-hulle uit Tessalonika vlug. Hulle vlug egter net so 70 km tot by Berea waar hulle weer na die Sinagoge gaan en Jode aantref wat baie meer ontvanklik is vir die Woord.

Wanneer ‘n mens ‘n Skrifgedeelte soos hierdie voor jou oop het – hetsy in persoonlike Bybelstudie óf met die oog op prediking, moet jy vir jouself afvra: Waarom staan dit hier? Waarom het die Gees vir Lukas hierdie 17 verse laat opteken? Wat wil Hy vir my daardeur sê? Wat is die Godswoord wat ek hier moet raakhoor? Dit is die vrae wat ek myself afgevra het by die voorbereiding van die prediking. Op die oog af lyk dit net soos ‘n kort verslaggie wat Lukas skryf om te rapporteer hoe Paulus & Silas in Tessalonika & Berea die Woord verkondig het. Tóg is dit nie nét ‘n historiese oorsiggie nie. Dit is die Woord van die Here ook vir óns in 2008. Nou is die vraag: Wat moet ons daarin hoor as die Here se woorde vir ons? Wat kommunikeer die Heilige Gees deur hierdie 17 verse met óns wat in hierdie kerkgebou vergader is?

‘n Mens kan seker heelwat dinge noem, maar daar is drie dinge wat uitstaan: 1) die ononderhandelbare plek van die Bybel as Woord van God om lewe in die kerk te skep én te onderhou 2) die kerninhoud van die boodskap van die Bybel 3) die verdeeldheid wat die Bybel teweeg bring. Hou net Paulus se metode dop en u sal hierdie 3 dinge sien…

Wat was dit wat ewe skielik die vreedsame Joodse gemeenskappe van Tessalonika & Berea in twee geskeur het? Wat het soos ‘n lem gesny? Soveel so dat die breëweg en smalweg skielik sigbaar raak! Wat het sommige Jode in Tessalonika gedryf om opstand en valse klagtes teen Paulus & Silas aan te hits? Wat het veroorsaak dat sommige hul toekeer tot Christus neem en ander onverskillig bly? Tewens, niemand het neutraal gebly nie, want dit is nie moontlik om neutraal te bly nie. Sommige se lewens is verander & gevul met vreugde. Ander omgekrap en vyandig. Wat het dit alles veroorsaak? Wat veroorsaak die geestelike verdeeldheid (vandag nog)? Antwoord: ‘n Boek is oopgemaak en die inhoud is verkondig. Net dit. Die Ou Testament is oopgemaak en Jesus Christus – wat die ware inhoud van die OT is – is in die krag van die Gees verkondig. Dit het die mense in twee verdeel en reaksies ontlok. Sommige het die Here leer ken en ander het onbekeerd gebly. U sien: Evangelieverkondiging draai die gewone sondige natuurlike orde van dinge kop onderstebo! “Oproermakers” (17:5). Die Evangelie veroorsaak dinge! Verontrus die wêreld van duisternis. Matteus 10:34. Selfs Jesus se eie bloedfamilie was verdeeld rondom Sy doen & late. Al Sy broers het Hom verwerp. Johannes 7: 5. Nét Sy moeder het aan die voet van die kruis gestaan. Hy was verplig om sy ma aan Johannes se sorg oor te gee.

Stel jouself voor: Jy arriveer op ‘n vreemde plek, waar daar geen Christelike gemeente is nie. Waar begin jy indien jy die Here se kerk wil plant? Paulus begin op net een plek: Hy neem die Bybel, maak dit oop en begin dit uitlê en verkondig. Net dit. Net dit. Hy maak nie grappies en skep ‘n aangename atmosfeer en laat die mense lekker voel soos sommige van vandag se televisie-predikers nie. Daar staan: Hy redeneer met die mense (v 2). Verduidelik/lê Skrif uit (v3). Bewys (v3). Argumenteer. Hy gee nie net ‘n kort samevattinkie van die evangelieboodskap nie. Hy maak die BYBEL vir die mense oop. Hy bewys dat, wat hy sê, volgens die Skrif is. Die SKRIFTE kom aan die woord. Ons bron waaraan ons al ons vrae moet rig, is nie wat mense te sê het nie. Die bron is die Bybel self. Wenk: Gee ‘n Johannes-evangelie (nie hele Bybel) aan soekendes.

Ons word gebombardeer met soveel inligting – 1000de standpunte. Inbelprogramme. Elkeen het sy siening. En tog: Niks buiten die absolute waarheid maak waarlik vry nie. Hoe weet ons wat is Waarheid? Johannes 8: 31-32: “As julle aan My onderrig vashou, sal julle weet wat die Waarheid is en die Waarheid sal julle vrymaak.” Mense se sienings sal jou nooit vrymaak nie. Slegs die Waarheid.

Moenie toelaat dat u mislei word deur al die stemme wat sê dat daar nie so iets soos absolute waarheid is nie.

Absolute waarheid: 1 + 1 = 2. Ontken dít en jy vernietig álle wiskundige formules. Ander voorbeeld: Naald van ‘n kompas wys altyd noord. Oral op aarde. Weet jy waar noord is, kan jy die ander rigtings self uitwerk. Anders verloor jy alle sin vir rigting. Dit is die skoonheid van die absolute waarheid: hoe verward jy ookal is, jy kan weer rigting kry. Mense van Berea: aanvaar die Waarheid en meet Paulus se lering daaraan. Hulle het ‘n totaal ander ingesteldheid gehad as die mense van Tessalonika.

Jou vrese smelt weg wanneer die Waarheid jou vrymaak. Ons is net emosioneel opgewerk en bevrees sonder deeglike Skrifprediking en Skrifondersoek. Dit lei tot niks. Vryheid van vrese d.m.v. die Waarheid. (Dit is wat ons in die weeklikse 6-8 gebedsketting probeer doen: Bid die Skrif).

Ons moet besef dat slégs die Woord (die Bybel wat oopgaan)léwe in die kerk/persoonlike lewe kan skep en onderhou én daarmee erns maak om soveel moontlik lering te ontvang en persoonlik met die Bybel om te gaan. Probeer die paar minute wat u per dag Bybellees opskuif na 15 minute dan 30 minute, dan 60 minute ens. Vertrou die HERE daarvoor. Gebruik die geleenthede wat in die gemeente geskep word. Benut dit voluit!

Inhoud van Paulus se verkondiging = Hierdie Jesus wie ek aan julle verkondig, is die Christus (v 3). Hy moes ly, sterf en op die derde dag uit die dood opstaan. Dit is die sentrum van die Ou Testamentiese boodskap. Al die gelowiges in die OT-tyd is gered deur vooruit in Jesus te glo. Inhoud: Christus Jesus in Sy lyding, dood en opstanding.

Laat my dink aan die 4 jongmense wat een wintersaand besluit het om ‘n legkaart te bou, sonder om na die prent te kyk. Hulle kon absoluut geen vordering maak nie totdat hulle besluit het om tóg maar na die prent te kyk. Dit was een of ander Middeleeuse toneel. Toe sê een: “Haai, nou sien ek: die koning is in die middel.” Toe hulle dít weet, kon hulle baie makliker die res ingepas kry. Só werk dit! Jy kan die Christelike Geloof & die Bybel nie regtig kleinkry voordat jy nie verstaan dat Christus in die middel is nie.

Erken dat die Koning in die middel/sentrum is. Natuurlik is daar honderde vrae en onsekerhede aangaande die Christelike Geloof en die Bybel waarmee mense rondloop, maar die groot vraag is: Wat maak jy van Jesus Christus. Hý is die skarnier waaraan alles skarnier. Dit help nie ons praat & gesels in ons gesprekke oor allerlei geestelike en kerklike sake nie, maar ons praat nie oor Christus Jesus nie. Jy kan ure lank met iemand praat oor tientalle geestelike sake – en dalk goed voel daaroor. Die vraag is: was Christus in die sentrum? Elke denkbare vraag wat mense aan jou kan vra, kan beantwoord word deur Christus in die sentrum te plaas. Neem byvoorbeeld die afgesaagde vraag wat mense altyd vra: Hoe kan jy al die lyding & swaarkry in die wêreld verklaar? Antwoord dit só: “Wel, ek het nie al die antwoorde nie, maar ek kan jou vertel waarom ek persoonlik daardie vraag die hoof kan bied. Ek kan daarmee tred hou omdat ek oortuig is dat God Sy liefde kom openbaar het in die Persoon van Sy Seun Jesus Christus van Nasaret en ek is oortuig dat Hy my liefhet en Sy liefde deur Sy kruisdood gedemonstreer het. Ek verstaan nie alles wat in die wêreld gebeur nie, maar ek is oortuig dat die Here presies verstaan wat dit beteken om tot die dood toe te ly.”

Sien u? Die Bybel sentraal. Christus sentraal.

Dít is Paulus se boodskap in Tessalonika & Berea: Die Christus van die Bybel. 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00