TAFELBERG GEMEENTE HANDELINGE - REEKS NO 18
Skrif: Handelinge 16: 6-40
Tema: Viervoudige bevryding
Verlede Sondag het ons gesien hoedat Paulus vir Silas met hom saamneem om met ‘n tweede sendingreis te begin – om die Woord verder en verder te gaan verkondig aan mensegroepe wat dit nog nie gehoor het nie. Hy & Barnabas het nou reeds die eerste reis voltooi waartydens hulle die evangelie in die noorde van Sirië, die eiland Ciprus asook dele van Turkye verkondig het. In Hand 16 kom ‘n nuwe deurbraak: die evangelie gaan vir die eerste keer na Europa (Griekeland) en ons sien wie die heel eerste Christen in Europa was. Eintlik wou Paulus weer terug Turkye toe, maar telkens het die Heilige Gees hulle verhinder. Hóé, weet ons nie. Totdat Paulus ‘n visioen kry van ‘n man uit Griekeland (Masedonië) wat sê: “Kom oor na ons toe en help ons.” Ongetwyfeld ‘n visioen wat die Here hom gegee het. Toe weet hulle: ons moet Griekeland toe. Dit is hoe hulle toe in die stad Filippi beland. Hier is ‘n belangrike les vir alle Christene wat na die wil van die Here in bepaalde situasies soek. Dit is mos die kenmerk van ‘n wedergebore mens: begeer God se wil & leiding. Vraag is hóé, want die Bybel sê nie vir jou bedank jou werk en gaan doen sendingwerk in China nie! Ja, die Bybel bevat God se geopenbaarde wil, maar die Bybel is nie ‘n towerboek wat geheime boodskappe gee van wat die Here se wil vir ons in alledaagse sake is nie. Hoe moet ‘n mens dan maak? Wel, indien jy weet dat jou lewe nêrens in stryd is met God se geopenbaarde wil in Sy Woord nie (daarvan moet jy eers sekermaak), doen/maak dan soos jou beste insig jou lei en die Here sal weldra deure oopmaak en deure toemaak. Kyk na Paulus & Silas. Hulle sit nie en wag vir ‘n teken van die Here t.o.v. waarheen hulle moet gaan nie. Hulle gáán net, waarheen dit vir hulle reg lyk – terug Turkye toe. En terwyl hulle gaan, kom hulle agter hoe die Here hulle stuur volgens Sý wil! En in hierdie geval: om na Griekeland te gaan en pertinent na Filippi. En dáár begin die vonke spat. Die Here se kerk kom in Europa tot stand. In die 3 insidente wat die Gees vir Lukas laat opteken sien ons wat die Here se bevryding behels: Lydia se bekering, die slavin wat bevry word van ‘n bose gees en die tronkbewaarder se redding. Indien ons mooi daarna kyk, sien ons die 4 vlakke waarop die Here ons verlos & bevry. Joh 8:36: Eers as die Seun jou vrygemaak het, sal jy waarlik vry wees. Bevry van 4 goed – kom ons kyk daarna:
1) BEVRY VAN VORMGODSDIENS > Lydia word bevry van haar godsdiens voordat sy die eerste Christen in Europa kon word! Lydia was ‘n heidense vrou wat op die een of ander manier die Joodse geloof aanvaar het. Sy het ‘n baie godsdientige mens geword. Sy het die OT as Godswoord aanvaar. Sy was juis besig om ‘n Joodse damesbiduur by te woon toe Paulus op hulle afkom en die evangelie van Jesus met hulle begin deel. Daar was nie ‘n Joodse sinagoge in Filippi nie, waarskynlik omdat daar nie genoeg Joodse mans was nie, want ‘n Sinagoge kon slegs op ‘n plek tot stand kom indien daar minstens 10 mans was wat gesinshoofde was. Indien daar nie ‘n sinagoge kon wees nie, het die Jode in die nabyheid van water ‘n bidplek geskep. Dis by só ‘n bidplek waar Lydia teenwoordig was. ‘n Ernstige godsdientige mens. Maar steeds verlore omdat sy Jésus nie geken het nie. ‘n Biduurganger wat verlore is! Dit is eers toe Paulus die boodskap van Christus verkondig en die Heilige Gees haar hart oopmaak om ag te slaan op Paulus se woorde, wat haar oë oopgaan en sy tot geloofsoorgawe aan die Here kom. Ál die dames hoor Paulus se woorde, maar die Here maak nét Lydia se hart oop. Dáárom kon sy – ten spyte van haar godsdienstigheid – besef dat sy ‘n totaal verlore sondaar is en dat sy die verlossing wat Jesus op die kruis bewerk het, nodig het. En toe is sy bevry! Maar let op: sy was nie gered net omdat sy godsdienstig was nie. Sy moes letterlik eers van haar vormgodsdienstigheid (probeer goed leef, probeer reg doen, doen al die goed wat ‘n godsdienstige mens behoort te doen) bevry word om tot persoonlike geloof in die Here Jesus te kom!
Dit is vir ons moeilik om te verstaan hoe ‘n mens in die ewige verderf jou oë kan oopmaak terwyl jy tog ‘n ernstige aanhanger van jou godsdiens was. Wel, dít waarvoor Lydia se oë oopgegaan het, was dat die Here Jesus Christus die verskil maak, want slégs deur Sý kruisverlossing kan die 20,9 miljoen skuldaanklagte van oortreding van Gods heilige Wet, wat op jou rekening staan, wettiglik afgeskryf word. Wat help dit jy is baie godsdienstig, maar jou hemelhoë skuld staan steeds op jou rekening en maak ‘n muur tussen jou en God? Slegs deur jou op Christus te verlaat, word jy plotseling bevry. Kyk na Lydia: die een oomblik was sy nog verlore (hoewel godsdienstig), volgende oomblik bevry – met ‘n lig in haar oë! Bevry van vormgodsdiens deur ‘n lewende geloof in Jesus. En dadelik lei dit tot dade: sy maak haar huis vir Paulus-hulle oop – betoon gasvryheid. Ware bevryding kan nooit ‘n privaatsaak-van-die-hart bly nie. Dit lei tot aksie en word sigbaar. ALTYD!!
2) BEVRY VAN OKKULTIESE/DEMONIESE BELASTHEID > Toe Paulus-hulle by ‘n ander geleentheid weer by die Joodse bidplek kom, kom ‘n slawemeisie hulle tegemoet. Hierdie vrou was beset deur ‘n demoon – ‘n waarsêersgees. Dit is ‘n bose gees wat die toekoms voorspel. Só het sy vir haar eienaar baie geld verdien. Opvallend: die gees was IN haar en het DEUR haar gepraat. Dit is presies in lyn met OT gedeeltes soos byvoorbeeld Deut 18, wat praat van geeste wat waarsê & inligting gee. Dit is die duistere wêreld van die okkulte waardeur die duiwel lokaas uitgooi om mense vas te bind. Dit is die enigste manier waarop ‘n bose gees dit kan regkry om binne-in ‘n mens te kom of ‘n houvas op iemand te kry – a) wanneer die Heilige Gees nie in jou woon nie en b) jy speletjies speel met die okkulte en opsetlik kontak maak met demone.
Die interessante ding is dat hierdie demoon die WAARHEID gepraat het. Kyk wat skreeu die gees deur die meisie: Hierdie manne vertel vir julle hoe julle gered kan word! Dis amper asof die duiwel – wanneer hy kop aan kop met die werke van die Here gekonfronteer word – nie anders kan as om die waarheid te bely nie. Net soos toe Jesus op aarde was en die bose geeste Hom sien en skreeu: U ís die Seun van God! Maar, die feit dat die waarsêersgees die waarheid praat, maak nie van hom ‘n goeie gees nie. Paulus duld hom nie, maar bestraf hom in Jesus se gesagsnaam: “Ek beveel jou in Jesus se Naam, gaan uit haar uit!” En net daar is sy mag gebreek en verlaat hy die meisie. So maklik! Want daar is hemelse gesag in daardie Naam. En die meisie word bevry van die bose, bevry van ‘n okkultiese binding. Skielik besit sy nie meer die “gawe” van waarsêery nie.
Is dit nog van toepassing in 2008? Wel, as ‘n mens hoor van Laerskool seuntjies se okkultiese rekenaarspeletjies en hoe die kinders die geluide van demone naboots – soos ek gedurende die afgelope week verneem het, klink dit of Hand 16 uiters aktueel is. Ons sal verbaas wees om te weet hoeveel beskaafde NG Kerk mense sit met yslike geestelike probleme omdat hulle draaitjies gooi by die Gipsey of glasie-glasie speel en geeste oproep. Of die “slamse” besoek en die sogenaamde “slim-man” se goed drink of gebruik of vassit in bygelowe en nie kan lewe sonder om te weet wat die sterre voorspel nie. Ons sal verbaas wees om te weet hoeveel kerkmense vasgedraai sit in die okkultisme (ook d.m.v. Internet) – en dikwels uit onkunde of nuuskierigheid. Hoeveel mense is daar wat reken dat hulle die “gawe” besit om te weet of iemand sal doodgaan – sogenaamd “met die helm gebore”. Dit is geen gawe nie! Die Here beloof nêrens in Sy Woord sulke gawes nie! Indien ‘n mens dit in gebed na die Here Jesus bring, sal Hy die mag daarvan soos ‘n garedraadjie breek. Lees Hand 16 en oortuig uself: “In die Naam van Jesus, gaan uit haar uit.” Op daardie oomblik het die gees haar verlaat. Wat ‘n bevryding! Wat ‘n gesagsNaam!
3) BEVRY VAN OMSTANDIGHEDE > Nou word die eienaars van hierdie slawemeisie kwaad, want hulle inkomste is daarmee heen. Daarom stook hulle kwaad teen Paulus & Silas, want dis mos húlle skuld dat die slavin van die waarsêersgees bevry is. Dit is die manier waarop Paulus & Silas toe in die tronk beland en hulle baie geslaan word. Hoe absoluut onregverdig! Hulle het immers niks verkeerd gedoen nie. Tewens, hulle probeer mense help! En nou draai hulle omstandighede 180 grade teen hulle. En die Here doen niks daaraan nie. Hulle is Sy kinders en dien Hom, maar Hy laat toe dat hulle omstandighede pikdonker word. Enige regdenkende mens sal murmureer & huil en kla en op ‘n hopie gaan sit in selfbejammering – en die Here verkwalik. En tog bewerk die Heilige Gees die wonder: Paulus & Silas sing lofliedere en verheerlik die Here. Hulle was bevry van hulle omstandighede terwyl hulle nog daarin was. En die gevolg? Die aarde bewe en die tronkdeure swaai oop. Die Here het nie verhoed dat hulle omstandighede donker word nie. Maar die Here gee vir hulle bevryding binne in hulle omstandighede. En die gevolg? Hulle ontvang bevryding van die omstandighede self. Voorbeeld: Richard Wurmbrand wat 14 jaar lank in tronke en kerkers toegesluit was deur die destydse kommuniste in Romenië. Vir 3 jaar lank het hy slegs sy martelaars te siene gekry. Hy skryf: “Alleen in my koue sel, honger en in vodde, het ek soms gedans van blydskap. Ek was só vervul met Christus dat ek gevoel het ek sal oopbars indien ek nie daaraan uiting gee nie.”
4) BEVRY VAN VERLORENHEID > Die tronkbewaarder het fyn geluister na Paulus & Silas se lofprysinge, want hy het nog nooit voorheen so iets beleef nie. Hy was aangegryp! Onskuldige mense wat vodde geslaan word, in die tronksel gesmyt word en dan lofliedere sing! Wel, daar moet waarheid steek in sulke mense se godsdiens. En daarom, toe die tronk d.m.v. die aardbewing oopgaan en niemand ontsnap nie, breek die tronkbewaarder se hart voor die Here. Hy weet meteens dat hierdie Jesus, van wie hy gehoor het, die Waarheid en die Lewe moet wees. Hy weet dat hy absoluut verlore is. Hy weet dat hy hierdie Jesus se redding nodig het. Maar hy weet nie presies hoe om te maak nie. Daarom val hy voor Paulus & Silas neer en vra die belangrikste vraag wat oor ‘n mens se lippe kan kom: Wát moet ek doen om gered te word? Oombliklik hoor hy die mees verrassende antwoord: Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word. Met ander woorde: “Hý het alles gedoen, vertrou Hom daarvoor”. Wat kan meer eenvoudig wees as dit? Waag dit om Hom op Sy Woord te neem. En jy sal met sekerheid weet dat jy bevry is van verlorenheid.
‘n Mens is geneig om te wil dink dat dit te eenvoudig is. Wel, ek kom nie met u stry nie. Ek sê net: Lees Handelinge 16 en oortuig uself. Daar staan: toe hierdie tronkbewaarder sy vertroue oorplaas op Christus, toe verander die duisternis in lig en hy beweeg uit sy donker geestelike tronk na vryheid. Dit gaan nie oor wat jý nog moet doen nie. Dit gaan oor die volmaaktheid/ algenoegsaamheid van wat Hý gedoen het in jou plek. En Hy kan tog seer sekerlik daarvoor vetrou word?! Moenie dink jý is uniek en anders en buite Sy bereik nie. Jesus het gekom vir alle tipes/ alle rasse/ alle soorte/ alle ouderdomme/ alle agtergronde. Hy bevry van vormgodsdiens/ demoniese belastheid/ omstandighede/ verlorenheid.