TAFELBERG GEMEENTE HANDELINGE - REEKS NO 16
Skrif: Handelinge 14
Tema: Kenmerke van 'n Geesvervulde lewe
Die afgelope 2 Sondae het ons vir Paulus & Barnabas gevolg tydens hul eerste sendingreis vanaf Antiochië, net noord van die land Palestina, tot by die eiland Ciprus en daarná noordwaarts tot in Pisidië in die huidige Turkye, destyds die Galate-provinsie van die ou Romeinse Ryk. In hfst 14 beskryf Lukas vir ons hoe die eerste sendingreis voltooi word en hulle terugkeer na die Antiochië-gemeente vanwaar hulle oorspronklik as sendelinge uitgestuur was. Samevattend lyk hfst 14 soos volg: In Pisidië word P& B verdryf deur onbekeerde Jode. Hulle gaan dan na Ikonium en preek in die Sinagoge waar ‘n groot getal Jode en nie-Jode tot bekering kom. Ikonium was 100km suid-oos van Pisidië, steeds in Galate-provinsie. Die onbekeerde Jode saai egter gif en veroorsaak verdeeldheid sodat Paulus-hulle moet vlug – en wel na Lystra en Derbe. Lystra was omtrent 25km van Ikonium, met baie min Jode. In Lystra genees die Here egter ‘n verlamde man. Die skare dink dat P& B gode is en wil vir hulle offers bring. Jode vanaf Antiochië kom beïnvloed hulle egter teen Paulus-hulle – sóveel so dat hulle vir Paulus byna met klippe doodgooi. Hulle vlug na Derbe en preek daar. Derbe was 50km suidoos van Lystra. Daarna begin hulle terugtog en gaan hulle weer deur Lystra, Ikonium en Pisidië (waar hulle net tevore byna vermoor is) en bemoedig die nuwe gelowiges en stel ouderlinge aan. Dan keer hulle terug na hulle tuisgemeente, Antiochië.
Die vraag is: wat spreek tot óns – wat in 2008 lewe – uit hierdie reisverhaal? Verlede Sondag het ons Paulus se Pisidië-preek voor oë gehad en gesien hoe die hartklop van die Christelike Geloof daaruit na vore kom. Maar wat moet ons sê van hierdie reisverhaal in hfst 14? Die antwoord is: ons sien hier die kenmerke van ‘n Geesvervulde lewe. In P& B se optrede, sien ons wát kenmerkend is van ‘n mens wat voluit oorgegee & gehoorsaam aan die Here lewe. Hierdie kenmerke sal ook u & my lewe kenmerk indien ons Sy gehoorsame kinders is. En let op: dit is bonatuurlike kenmerke – onmoontlik om na te boots. Dit is vrugte van die Gees se inwoning. Hier kom hulle:
1. PASSIE VIR VERLORE MENSE – Kern van P&B se bestaan: gevul met ‘n passie dat mense gered word. Onstuitbare energie. Net een doel voor oë: om die evangelie te preek. Tydig & ontydig. Absoluut van die Gees. Sien hoe die gawes van die Gees manifesteer: prediking (vv 1, 21, 25), onderrig gee (vv 21,22), aanmoediging (v 22), administrasie (v23). Asook die gawes wat net by die apostels voorgekom het soos wonderwerke (vv 3,10). Ons weet uit 2 Kor 12:12 & Hebr 2: 3-4 dat die Gees slegs aan die apostels die gawe van wondertekens gegee het om hulle prediking te bekragtig. Nadat die volledige Bybel daar was, was dít genoeg om die prediking aan te toets. Al die gawes is toegespits op net een ding: passie vir verlore mense. Ons kan na mense kyk op verskillende maniere, maar deur die Gees wil ons uitvind of iemand gered of verlore is.
2. DEURDRENK MET DIE BOODSKAP VAN GOD SE GENADE – Vers 3: permanent verwonderd oor een ding: vrye genade! Wanneer mond oopgaan: verkondig genade. Dit is die unieke van die Christelike Geloof teenoor ander godsdienste – dat die saligheid op geen manier verdien kan word nie, maar ‘n vrye geskenk is – deur Christus se kruisoffer verdien. Ja, dat God vanuit ‘n mensdom aan wie Hy niks verskuldig is behalwe die ewige straf nie, tóg vir Hom ‘n bruid gekies het (Efes 1:4, Open 13:8), vir wie Jesus kom red het op die kruis (Joh 10:11). Verbysterende onverdiende guns & liefde. In ons samelewing waar alles oor verdienste gaan, is dit só nodig om die boodskap van genade tydig & ontydig te verkondig. As die Gees jou vervul, bly jy permanent verwonderd oor hierdie genade.
3. VOLHARDENDE DEURSETTINGSVERMOË – Wat die meeste opval in hfst 14, is hoe P & B net eenvoudig aanhou & voortgaan met die prediking. Al is die teenstand hóé fel, hulle swig nie ‘n oomblik nie. Hulle ploeg net eenvoudig deur die opposisie. Indien dit nodig is om te vlug, vlug hulle tot by die volgende stad en preek voort. Dit is die bonatuurlike Gees-gawe van “boldness” – dapper moedigheid & deursettingsvermoë. Net die feit dat hulle deur die Gees Chrístus verkondig, veroorsaak reeds pandemonium en polariseer die stad in twee groepe – gered & ongered. Soos Jesus gesê het dat Hy nie vrede bring nie, maar die swaard (Mat 10:34) en wie nie vír Hom is nie, is teen Hom (Mat 12:30). Pragtig is die woordjies “t.s.v.” in v. 3: T.s.v. die ongelowiges se teenstand het P&B in die stad gebly. Die teenstand is rede om nog langer te bly. Dit kon nie vir Paulus maklik gewees het om verwerp te word en weggejaag te word uit die stad en met klippe gegooi te word nie. Paulus was tog ‘n gerespekteerde leier en geleerd daarby. Hy was nie daaraan gewoond om soos ‘n misdadiger behandel te word nie! Hoe vernederend! Dink hoe voel óns wanneer iemand ons net skeef aankyk. Ons wil sommer in ‘n hoek sit en huil. Maar wat maak P& B? Hulle gaan na die volgende stad en begin onmiddelik verkondig! En hulle preek met die salwing van die Gees. Mense kom tot bekering en daar is reaksie in die hel. En toe Paulus met klippe gegooi word? Toe gaan hy na Lystra en begin met prediking. En ‘n lam man word plotseling genees. Die wonderlikste van alles is vers 24: Toe P&B oppad was met hulle terugtog – moeg en vol kneusplekke – preek hulle nog eers gou in Perge. Waar enige regdenkende mense sou uitsien na ‘n ruskans, hou hulle aan met hulle roeping en taak. Onverbiddelik toegewyd aan die Woord. Deursettingsvermoë!!
4. KLEIN VOOR DIE HERE EN MENSE – Dit was in Lystra waar die Here die kreupel man genees het. Hy kon nog nooit in sy lewe loop nie, maar hy spring eenvoudig op en begin rondloop. Dit is toe wat die mense dink P & B is die gode Zeus & Hermes in menslike gedaante en dat hulle vir hulle offers wil bring. Daar was destyds die legende dat Z & H voorheen in menslike gestalte die stad Lystra besoek het en oral aan deure geklop het, maar niemand wou vir hulle huisvesting gee nie behalwe een bejaarde egpaar. Toe tref die gode die stad met ‘n vloed. Nou wou hulle nie weer dieselfde fout maak nie, want hier is Z & H weer in hul midde! Wat ‘n versoeking moes dit vir P&B wees om ‘n bietjie vereer te word! Jy weet: indien die mense dink hulle is gode, kon hulle prediking dalk makliker inslag vind, die mense sou na hulle luister! Ons menslike natuur wíl mos so graag ‘n godjie wees! Maar wat werk die Gees in P&B? Hulle retireer met afsku: “Wat vang julle aan? Ons is mense nes julle! Ons is net boodskappers wat die goeie nuus bring dat julle julle moet bekeer van hierdie sinnelose gode af na die lewende God wat julle lewensonderhoud in Sy hande hou!” U sien? Die Here se boodskapdraers is net dienaars wat die saad saai. Die Here gee die oes. Moenie te hoog dink van die dienaars nie. Alle gelowiges is dienaars. En wat is nederigheid? Nie ‘n ruggraatlose gevoel van: “ek is ‘n niks” nie. Wat dan? Om met die besef te leef van: álles goed/opbouend uit my lewe, is van God! Hý is God, nie ek nie. 1 Petr 5:6 – “verneder jou voor die kragtige hand van God en Hy sal jou op die regte tyd verhoog.” Klein voor God en die mense.
5. VOORWERP VAN VERVOLGING – ‘n Gehoorsame, Geesvervulde mens, maak moeilikheid en ontvang moeilikheid. Om uitverkoop te wees aan Christus, maak die vyand kwaad. Die hele boek Handelinge getuig daarvan. Op geen goedkoop manier probeer die apostels mense bymekaar hou en saamsnoer nie, want dan sal die Waarheid gekompromiteer word. Nee, hulle versamel mense in/deur die Waarheid van die evangelie alléén. Die vyande van die Waarheid staan buite. Dit is juis waarom ‘n uitverkoopte Christen moeilikheid veroorsaak, want hy/sy glo aan absolute Waarheid en dat dit nét in die Bybel staan – en dat dit in Jesus van Nasaret sentreer. Kyk na die teks: Vers 2: ongeredde Jode sweep nie-Jode op teen die pas-bekeerde gelowiges. Vers 4: inwoners van Ikonium raak verdeeld – vir & teen Christus. Vers 5: die oproerige Jode wil die gelowiges aanrand. Vers 19: Opstandige Jode kom van Antiochië na Lystra en hits die mense – wat so pas nog aan P&B offers wou bring – binne ‘n ommesientjie oor téén P&R, soveel so dat Paulus byna met klippe dood gegooi word. Só is die menslike hart – draai maklik teen die Waarheid (Gal 1:6). Verder vers 22: P&B sê vir die gelowiges: “ons sal eers deur baie verdrukkings moet gaan voordat ons in die koninkryk kom.”
6. OMGEE VIR ANDER CHRISTENE – Het u opgelet dat P & B met dieselfde roete terugkeer as waarmee hulle gegaan het? Dit beteken: hulle is doelbewus terug na ál die plekke waar hulle net te vore byna vermoor & verdryf is! Lystra (waar Paulus gestenig is), Ikonium (vanwaar hulle vir hul lewe moes vlug) en Antiochië (waar hulle weggejaag is). Is dit nie onbeskryflik nie? Waarom so? Omdat hulle eers weer die nuwe gelowiges wou gaan bemoedig en ouderlinge aanstel om hulle verder te lei. Hulle het opreg omgegee vir mede-gelowiges. Hulle moes nog onderrig word. Hulle moes geleer word om te bid. Hulle moes leiers kry (ouderlinge) en hulle het hulle self gekies en hulle aangestel deur hulle aan die Here op te dra (v.23). Dit is die Bybelse manier van hoe ‘n gemeente regeer moet word: ouderlinge, waarvan sommige leraars is. Dit is egter belangrik om hierdie stuk omgee-vir-mede-gelowiges by P&B te sien, want dit is ‘n kenmerk van ‘n uitverkoopte gelowige: die aangetrokkenheid tot/besondere liefde vir ander Christene (Ps 16:3). Die soeke na Christus se teenwoordigheid by ander mense. Die vereiste dat vriende/vriendinne oorgegewe Christene móét wees alvorens daar ‘n pad gestap kan word.
Daar het u nou die 6 kenmerke wat u so duidelik in u lewe opmerk indien u verlang om beheers te wees deur die Heilige Gees 24 uur van elke dag: passievol vir verlore mense, verwonderd & pratend oor Gods vrye genade, volhardende deursettingsvermoë, nederig & klein voor die Here & mense, voorwerp van vervolging & teenstand asook aangetrokke tot- en besorgd oor ander Christene.