TAFELBERG GEMEENTE HANDELINGE - REEKS NO 15
Skrif: Handelinge 13: 13-52
Tema: Die essensie van die Christelike Geloof

Verlede Sondag het ons vir Paulus & Barnabas op hulle eerste sendingreis begin volg na die eiland Ciprus. Nou beweeg hulle – vanaf Ciprus – noordwaarts, terug na die vasteland en kom by Pisidië-Antiochië. Dit is ook in die hedendaagse Turkye, maar ‘n ánder Antiochië as die stad vanwaar die eerste gemeente onder nie-Jode ontstaan het en vanwaar hulle reis begin het. Dit was in die destydse Galate – m.a.w. waar die Galasiërs-gemeente later sou ontstaan. Om vanaf die kus dáár te kom, moes hulle die Taurus-berge oor en dit is dalk waarom Johannes-Markus besluit het om om te draai. Later sal ons sien dat Paulus hom daaroor kwalik geneem het. Opgesom in twee sinne, vertel Lukas vir ons in 13: 13-52 hoe Paulus in Pisidië-Antiochië die Woord in die Joodse Sinagoge verkondig het met tweërlei reaksie: Die meerderheid wou méér hoor en ander Jode was jaloers en het die mense teen Paulus-hulle opgesweep en hulle later uit die stad verdryf. Veral toe byna die hele stad die volgende Sabbatdag saamgekom het om Paulus se prediking te hoor. Wat in 13: 13-52 van groot belang is, is die feit dat dit die eerste beknopte weergawe van ‘n Paulus-preek bevat. Natuurlik nie ‘n woordelikse weergawe nie, maar ‘n samevatting. Vroeër in Handelinge het Lukas samevattings van o.a. Petrus & Stefanus se toesprake gegee, maar hier is die eerste van Paulus. Die vraag is: hoe om dit in 2008 relevant en aktueel as God se Woord te verkondig?

Wel, indien ‘n mens mooi kyk, sien jy hier ‘n kernagtige samevatting van wat die Christelike Geloof (as godsdiens) is. Iemand wat belangstel om te weet wat die essensie van die Christelike Geloof is, sal dit hier hoor. Verder: iemand wat reeds ‘n Christen is kan hierdie gedeelte gebruik om aan iemand anders te verduidelik wat die Christelike Geloof behels en so ‘n persoon na die Here lei. Eintlik heel prakties dus.

In Hand 13: 13-52 staan daar dat die Christelike Geloof in ‘n Persoon sentreer: Jesus Christus. Twee gebeurtenisse tydens Sy aardse lewe deurslaggewend. Twee getuies van die twee gebeurtenisse. Twee beloftes wat in Jesus ontvang word. Twee reaksies t.o.v. Christus.

1. Jesus sentraal: Sonder meer duidelik: Paulus se hele toespraak sentreer in die Persoon van Jesus Christus. Dit is die kern van die Christelike Geloof: alles skarnier aan die Man van Nasaret: Wie Hy was, waarom Hy na die aarde gekom het en wat Hy kom doen het. Geweldige aansprake: dat Hy – as timmermanseun – die Seun van God is! Dat Hy die enigste weg, waarheid en lewe is. Ontsaglik! Verskuif Hom uit die fokus en jy sit onmiddelik met ‘n vervalsing.

2. Twee getuies: (vv 16-25) > Wie sal sulke ontsaglike aansprake glo, sonder betroubare getuies? Geen wonder dat Paulus klem lê op die getuies nie. Die eerste: die apostels, wat werklik saam met Jesus geleef het en Hom gesien het ná Sy opstanding. Die tweede is die OT-Skrifte – die Hebreeuse Skrif wat Paulus se Joodse luisteraars se Bybel was. Die koms van Jesus was nie God se “Plan B” nadat die OT geflop het nie! Die hele OT getuig júís van Jesus! Naas die apostels se ooggetuieverslae, is die OT die magtigste getuienis van Jesus. Daarom lê Paulus gewoon die sleutelgebeure van die OT uit – om daardeur te sê: “Kyk, ék, Paulus, het nie die Christelike Geloof ontwerp nie. Dis geen nuwe godsdiens wat ek uitgedink het nie. Dis die vervulling van die OT – julle Bybel.” En dan herinner hy hulle aan die sleutelgebeure: hoe God uit genade die inisiatief geneem het om vir Hom ‘n volk te versamel. Hoe Hy hulle uitverkies het. Hoe Hy hulle uit slawerny gered het en na die beloofde land gelei het. Hoe Hy vir 40 jr Sy mense se sondes in die woestyn verdra het en hulle uiteindelik in Kanaän gebring het. Daar was niks wonderliks aan Israel nie, maar God het ‘n belofte gemaak. En uiteindelik het Jesus voortgekom uit koning Dawid se geslag. Al die profete het dit só voorspel – ook die laaste groot profeet, Johannes die Doper. Dit is wat hulle moes raaksien: Dat die Man van Nasaret die groot nakomeling van Dawid is! Wat ‘n skok vir die Jode! Op alles wat Paulus sê, knik hulle instemmend die kop. Maar waar pas Jésus nou skielik in? Het Hy dan nie as misdadiger gesterf nie? En tog het die 2 getuies (apostels en OT) die krag om hulle te oortuig.

Hoe kan ‘n mens genoeg die belangrikheid van hierdie saak beklemtoon? Die enigste manier om kragtig geestelik te groei, is om jouself te versadig met die Bybel, wat die samevatting is van beide getuienisse. Moenie vir mý aanhang as betroubare getuienis nie! Moet geen mens aanhang nie. Niks is meer gesaghebbend & kragtig as die OT en die apostels se getuienis nie. Voed dáárop en jy sal sterk word & gevul wees met sekerheid. En wanneer jy met ‘n skeptikus te make het, neem hom/haar na die twee getuienisse.

3. Twee gebeurtenisse deurslaggewend: (vv 26-37) > Paulus gaan by alles wat Jesus gedoen & gesê het (Sy wonders en leringe) verby en haak by slegs 2 gebeurtenisse vas: Sy kruisdood & opstanding. Dit is net mooi die 2 goed wat die meeste aanstoot gee. Hy het met ‘n skeptiese gehoor te make, waarom lê hy nie eerder klem op die positiewe dinge wat Jesus aantreklik maak nie? Bv. Sy wonderwerke en fantastiese leringe? Niks bederf die Christelike Geloof méér as Jesus se afskuwelike kruisdood nie! Dis ‘n aanstoot. En Sy opstanding: ag, nee – watter regdenkende mens kan so iets aanvaar? Mens praat nie van só iets indien jy iemand anders se belangstelling wil lok/prikkel nie!

Paulus weet egter van beter: Hy weet dat Jesus se kruisdood & opstanding die krag van God is tot redding. Dat dit die kern van alles is. Daarom spaar hy nie sy hoorders nie. HY streel nie sy gehoor nie. Hy gee nie om of hy aanstoot gee of uitgelag word nie. Tewens, hy sê vir hulle: “dis óns Jode wat Jesus nie herken het nie en Hom laat doodmaak het! Dis my skuld, dis julle skuld! Maar, deur dit te doen, het ons juis die voorspellings van die OT vervul – onwetende! Maar God het Hom uit die dood opgewek. En Hy het vir baie dae lank aan mense verskyn, wat nou Sy getuies is. Dit is die Goeie Nuus (evangelie) wat ek aan julle bring: God het AL Sy beloftes in die OT vervul toe Hy vir Jesus uit die dood opgewek het.” Psalm 2, Psalm 16, Jesaja 55. Water hierdie twee gebeurtenisse af en jy sit met ‘n vervalsing.

4. Twee beloftes: (vv 38 &39) > Waarom is juis die kruisdood & opstanding so deurslaggewend? God het beloof dat ons in/deur Jesus se kruisdood & opstanding twee seëninge ontvang: vergifnis van sondes & regverdigmaking. Wanneer jy besef hoe bankrot jy is sónder vergifnis & regverdigmaking, en jy plaas jou vertroue op Jesus se kruisdood & opstanding, ontvang jy onmiddelik vergifnis & regverdigmaking! Waarom nou juis vergifnis & regverdigmaking? Dit is die belangrikste seëninge wat ‘n sondaar kán ontvang EN dit is die twee seëninge wat geen nie-Christelike godsdiens/filiosofie aan mense kan bied nie. Dis die 2 dinge wat ‘n mens die nodigste het en juis dít kan geen nie-Christelike godsdiens gee nie! Hoe skreiend ironies. En tog het ons dit desperaat nodig om met sekerheid te weet: “ek, sondaar, staan 100% vrygespreek voor ‘n heilige God”. Jy kan dit nie bereik deur die Wet te onderhou nie. Baie mense dink so: “ek moet net probeer leef volgens die Here se standaarde.” Probleem is net: niemand kan nie – vanweë ons sonde-deurdrenktheid. Óf ons moet voorgee dat ons beter is as wat ons is óf ons moet God se standaard verlaag. Dit kan nie. Dit mag nie.

Paulus bring die Goeie Nuus: Omdat Jesus jou plek ingeneem het voor God in Sy kruisdood & opstanding, kan jy jou vertroue oorplaas op Hom en dan hoor hoedat Sy beloftewoord uit die Bybel jou die 100% sekerheid gee dat jy volkome vrygespreek is voor Sy heilige troon. Jy is dan vergewe en skoongewas. En dit alles vul jou lewe wanneer jy op die regte manier reageer wanneer jy die evangelieboodskap hoor. Paulus se hoorders het twee teenoorstaande reaksies getoon. Daar is slegs 2 reaksies moontlik. Die evangelieboodskap sny soos ‘n lem.

5. Twee reaksies: (v 40 ev) > ‘n Mens hoor die dringendheid in Paulus se prediking, nie waar nie? Hy gee nie net onderrig nie, hy is ‘n evangelis. Dit maak vir hom absoluut saak hóé sy toehoorders reageer. Hy maak ‘n appél op die hart. Niemand mag neutraal bly en maar net instem op alles nie.

Soos dit altyd is, het ‘n klomp mense Paulus se boodskap teengestaan. Veral Jode wat jaloers was en dalk vanweë rassespanning omdat hulle nie van die samedromming van soveel nie-Jode gehou het nie. So erg was die teenkanting dat Paulus vir hulle sê: “Julle ag julself nie werd om die ewige lewe te hê nie, daarom sal ons ons nou toespits op die nie-Jode.” Punt is: dit was die een reaksie op die evangelieboodskap: afwysend – met watter verskoning ookal.

Aan die ander kant het vele tot geloof & bekering gekom. Nie omdat hulle inherent beter was as die ander nie, maar omdat hulle vir die ewige lewe bestem was / uit genade verkies (v 48). Hulle was uit genade gekies, daarom kon hulle kies. Sien Joh 15:16. Ook 2 Tim 2:10. Dit is opvallend: dis die ongelowiges se eie skuld dat hulle verlore gaan, maar dit is aan God se uitverkiesende genade te danke dat die gelowiges gered word. Dit klink soos ‘n paradoks (teenstrydigheid), nie waar nie. En tog is dit die duidelike leer van die Skrif. Dit is ‘n mens se eie skuld dat jy verlore gaan, nie omdat God jou verwerp nie. Maar, dit is omdat God jou gekies het wat jy gelowig word en gered word. Nie omdat jý so goed presteer nie. Daarom moet diegene onder ons wat sekerheid van verlossing het, diep ootmoedig-dankbaar wees en net die Here se uitverkiesende genade aanbid. Maar diegene wat in onbekeerdheid volhard moet die oproep hoor: Draai onmiddelik om na Christus toe! Jý moet omdraai. Die getuienisse van die OT en apostels staaf al die feite. Glo dit en draai om en ontvang volle vergifnis uit die Here se hand. 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00