TAFELBERG GEMEENTE HANDELINGE - REEKS NO 11
Skrif: Handelinge 9: 1-31
Tema: Arrestasie uit die hemel
Ek ken byna nie een van u se volledige lewensgeskiedenis nie. Sonder twyfel het ons almal al een of ander tyd ingrypende dinge beleef. En tog, al ken ek u nie só goed nie, kan ek vir u sê wat die mees betekenisvolle gebeurtenis in u lewe was – indien u ‘n Christen is – dit was u bekering. Die mees betekenisvolle, omdat dit alles verander het. Daarsonder sou u & my lewe totaal anders wees: ons hele lewensuitkyk, gedagtepatrone, gesindhede, optrede, totale koers van lewe asook ewige eindbestemming. Dit beteken nie dat ons bekering op dieselfde wyse moes plaasvind as díé van Paulus nie. ‘n Mens kan maklik ontmoedig word deur dit wat in Hand 9 staan: die dramatiese, hoorbare stem, flitslig ens. Nee, die Here werk ongetwyfeld verskillend met verskillende mense. Sommige mense kom plotseling tot die Here en met baie emosie. Ander weer d.m.v. ‘n geleidelike proses. Ander weer d.m.v. die opvoeding in ‘n waarlik-christelike ouerhuis – binne die verbondskring. Hóé dit plaasvind is nie só belangrik as dát dit plaasvind en veral die totale lewensverandering wat dit meebring nie. Op één manier stem alle Christene se bekering met Paulus s’n ooreen: die totale lewensverandering/transformasie wat dit tot gevolg het. Kom ons kyk van naderby daarna deur te sien wie/wat Saulus voorheen was, Wie die Man is wat hom ontmoet het en wat Saulus daarná was:
1. Die man wat hy was: Dit is nie die eerste keer dat ons vir Saulus/Paulus in Handelinge ontmoet nie. In hfst 7 het ons gesien hoe hy instemmend bysit terwyl Stefanus met klippe doodgegooi word. In hfst 8 sien ons hoe hy deel is van die vervolging teen die Christene en hoe hy die Here se gemeente verwoes. Hy het gehelp om volgelinge van Christus uit hul huise te sleep na die gevangenis. Hy was vol haat. Daar was iets wreedaardigs in sy haat vir Christene. Hy was nie net tevrede om Jerusalem skoon te maak van Christene nie, maar sy visie het wyer gestrek. Daarom vind ons hom in hfst 9 op pad na Damaskus om gelowiges dáár te vervolg – met goedkeuring van die Hoëpriester.
Die ironie is dat sy ywer aangevuur is deur sy opregte begeerte om God te dien (Filip 3:6). Ja, u het reg gehoor! Onthou hy was ‘n Fariseër en die Fariseërs was nie monsters nie! Hulle het daarna gestreef om die Wet tot die letter te onderhou sónder dat dit net gaan oor uiterlike vertoon. Buiten hulle wettisisme, het hulle passie gehad. Maar, hulle het Jesus as Messias & Verlosser verwerp, want hulle het dit as godslasterlik gesien dat ‘n blote méns as God aanbid word! Dit is tog laster! En ‘n lasteraar moet sterf! Dit is die groot rede waarom hulle Jesus gekruisig het – want Hy het gesê dat Hy (wat ‘n mens is) ook God is! (Joh 10:33). Om dieselfde rede is die Christene vervolg en doodgemaak – omdat hulle ‘n MENS as God aanbid. Dáárom was Paulus so vol haat teen die Christene – júís omdat hy so ‘n toegewyde Fariseër was en gedink het hy doen God ‘n guns. En toe – skielik – gebeur die onverwagte: hierdie Man wie hy so vervolg & haat, gee hom ‘n uitklophou uit die hemel! Hy is toe al die tyd nie slégs ‘n Mens nie! Hy is wie/wat Hy gesê het dat Hy is – die Seun van die lewende God! Jesus, die Christus!
Eintlik is daar DRIE weergawes van Paulus se bekering in Handelinge. Behalwe vir hfst 9, ook waar hyself daarvan getuig voor die skare in Jerusalem (22) en weer voor koning Agrippa (26). Wanneer hy met Agrippa praat, sê hy dat die Here vir hom iets méér gesê het toe hy die stem uit die hemel gehoor het: “Saul, Saul, waarom vervolg jy My? Dit is hard om teen die prikkels te skop.” (Hand 26:14). “Prikkels” beteken letterlik: “sambok/karwats waarmee ‘n dier aangepor word.” M.a.w. lánk voor die Damaskuspadondervinding, het die Here al met hom gewerk & prikkels uitgestuur om sy ongeloof & hardheid uit te daag! Ons weet nie wat daardie prikkels was nie. Heel moontlik was dit die manier waarop Stefanus onder die klippe-reën gesterf het. Paulus was mos by. Terwyl die klippe op hom reën, het Stefanus se vertroue op Jesus nie verkrummel nie. Sy gesig het geblink. Veral toe hy sê: “Here Jesus, ontvang my gees”. En hoe hy sy moordernaars vergewe. Paulus moes die Christene se moed raaksien – veral terwyl hulle vervolg en mishandel word. En hoe hulle getalle net toeneem namate hulle ly. Die prikkels was sterk op sy gemoed: “Kan dit wees dat hierdie mense reg is en ek verkeerd? Kan dit wees dat hierdie timmermanseun werklik die Seun van God is? Kan dit wees dat Hy dalk régtig uit die dood opgestaan het?” Sien u? Paulus se Damaskuspadondervinding het ‘n lang aanloop gehad. Hoewel hy niks met die Here te doen wou hê nie, wou die Here alles met hom te doen hê (Galas 1:15. Tewens die Here het hom voluit gekies lank voordat hý kon/wou kies! Maar let op vir wíé kies die Here: die mees onwaarskynlikste kandidaat. Die moordenaar, geweldenaar, Christushater. Die man wie se denke totaal toegeskroei was. Geen lig kon oënskynlik in sý hart inskyn nie.
Dit is die eerste belangrike waarheid wat ons moet raaksien: bekering ís moontlik. Indien dit vir Saulus moontlik was, dan vir enigeen. Dieselfde Here wat Saulus se hart kon verower en omkeer, kan dit ook met jóú doen. Moenie vir uself sê: “Ek is te ver heen” nie. Niemand kon vérder wees as Saulus nie. Moenie vir uself sê: “Ek is tevrede met myself, want ek is toegewyd & godsdienstig” nie. Saulus was ook baie godsdienstig as Fariseër. En tog moes hy nog gered word. Skep moed uit Hand 9: bekering is moontlik. Ook vir u wat dalk oor iemand bekommerd is of wat vir iemand bid. Moenie ontmoedig word deur die persoon se hardheid & onverskilligheid nie. Bekering is moontlik, want dit kom van Hom wat kies & onweerstaanbaar werk.
2. Die Man wat hom ontmoet het: Streng gesproke TWEE mans, TWEE ontmoetings. Kom ons kyk aandagtig daarna. Toe die lig op Saulus skyn, val hy plat op die grond en hoor ‘n duidelike stem wat sê: “Saul, Saul, waarom vervolg jy My?” En onmiddelik weet hy met Wie hy te doen het. “Wie is U, Here?” Die woord “Here” beteken: “Hoogste in bevel”. “Ek is Jesus, Wie jy vervolg” kom die antwoord. “Vat aan My kinders en jy vat aan My. Ek en My gemeente is een.” En met daardie woorde, word Saulus se lewe permanent verander. Vir die eerste keer ontdek hy die waarheid oor alles: oor wie God is, wie Jesus is, wie die Christene is, wie hyself is. Tot ‘n minuut gelede het hy gedink hy is God se kampioen en dat hy wonderlik God se wil doen deur ontslae te raak van die ketterse Christene wat ‘n mens aanbid. Meteens besef hy dat hy al die tyd téén God veg en dat hy totaal verlore is. Maar hy ontdek ook wie die Verlosser is. Dat Hy die opgestane verheerlikte Here is. Geen wonder hy val plat op die grond nie! Die een oomblik was hy so sterk, magtiglik op pad Damaskus toe! Niks kon hom stop nie! Die volgende oomblik lê hy gebroke op die grond voor die lewende God en hy hoor die genadige woorde: “staan op, gaan na die stad, want daar sal vir jou gesê word wat om te doen.” Hy wat die doodstraf verdien, se lewe word gespaar. Hy ontvang ‘n tweede lewe en ‘n nuwe roeping.
Dit is die tweede groot waarheid: bekering is gerig op ‘n Persoon: Jesus self, omdat Hy met jou ontmoet. En onthou: Hy leef vandag nog presies soos in Paulus se tyd. Dit gaan oor ‘n ontmoeting met Jesus sélf. Vraag is natuurlik hoe ‘n mens kan weet dat jy Hom ontmoet het. Vir Paulus was dit maklik: hy het ‘n lig gesien & ‘n stem gehoor. Wel, die toets is nie die dramatiese of emosionele nie. Die toets is of ons weet dat die Here ons persoonlik aangespreek het en dat ons gelowig daarop reageer het. Het ons Sy Woord só gehoor dat ons weet dit ís Sy Woord aan ons persoonlik gerig – nie mensewoorde of woorde op papier nie – waardeur Hy ons oortuig van Homself en ons oproep om op Sy verlossingwerk te vertrou? En het ons gereageer deur na Hom om te draai?
Saulus het ook ‘n tweede man ontmoet. Dit was ‘n gewone gelowige met die naam van Ananias. U sien, die trotse, selfversekerde opponent van Christus, was nou skielik blind en moes Damaskus ingelei word! Intussen praat die Here met Ananias om na Saulus te gaan, want hy is in Judas se huis besig om te bid! Sy lewe is omgekeer. Is dit nie mooi nie? ‘n Mens kan Ananias se huiwering verstaan. Genugtig, álmal het geweet hoe berug Saulus is! Maar die Here sê: “Gaan! Want Ek het hom gekies om My Naam te verkondig aan die nasies én om baie vir my te ly.” En Ananias gehoorsaam die Here, hoe onverstaanbaar ookal! En toe hy by Paulus kom, plaas hy sy hande op hom en sê: “Saul, broeder, die Here Jesus het my na jou gestuur dat jy weer kan sien en vervul word met Sy Gees.” Is dit nie wonderlik nie? “Saul, broeder..!” Saulus was net nou nog op pad om hierdie man tronk toe te sleep. En nou hoor hy geen sweempie van veroordeling nie, maar aanvaarding: “Broeder Saul”. Dieselfde mense wie hy wou vervolg, verwelkom hom nou as deel van die Here se familie! Is dit nie sielsaangrypend nie én wonderlik wat die bonatuurlike krag van die opgestane Here kan vermag.
Kan u sien dat bekering ‘n ontmoeting impliseer: Met Jesus self én met ander Christene. Jou verhouding met ware gelowiges word getransformeer. Dis onmoontlik om in verhouding met Jesus te leef sonder om tegelyk in verhouding met mede-gelowiges te leef. Die twee gaan saam. Indien jy Christene vervolg, vervolg jy Christus. Indien jy Christus liefhet, het jy Christene lief en wil saam met hulle wees net waar jy kan. Daarom het Ananias ondervind dat hy nie anders kón as om sy hand na Saulus uit te steek nie.
3. Die man wat hy geword het: Wat was die bewys dat Saulus se bekering EG was? ‘n Mens kry so baie getuienisse & bekerings en ervarings, maar vele hou nie stand nie. Hoe weet ons dat Saulus se bekering EG was. Nie die verblindende lig nie. Nie die hoorbare stem nie. Nie die geweldige ervaring nie. Maar, dit wat daarná gebeur het: sy lewe was omgekeer! Kyk net na vers 20: “Dadelik het hy in die Joodse sinagoges begin verkondig dat Jesus die Seun van God is.”
Wat ‘n asemrowende verandering! Die vervolger word die prediker. En wat is sy boodskap? Dat Jesus die Seun van God is! Dit wat hom vantevore die meeste aanstoot gegee het, naamlik dat Jesus God is, is nou die sentrale waarheid van sy prediking! Hy aanvaar Jesus se Godheid. Hy aanvaar ook Jesus se opdrag dat hy Sy Naam sal neem na die nasies. Onmiddelik begin hy preek. Hy aanvaar die opdrag. Hy aanvaar ook Jesus se lyding. Die Here het mos gesê Saulus sal vir Sy Naam ly. En nie lank nie, toe begin dit. Die Jode maak planne om hom dood te maak. Die vervolger word die vervolgde. Ook in Jerusalem (waarheen hy vir sy lewe vlug) ontvang hy doodsdreigemente. Lewenslank sou hy vir Sy Meester ly. ‘n Egte bekering, sonder twyfel. Dalk was dit die rede waarom Saulus sy naam verander het na Paulus (Hnd 13:9), wat “klein” beteken. Hy sou voortaan ‘n nederige dienaar van Christus wees- ‘n totale verandering. Dit bring ons by die derde waarheid: bekering het lewensverandering tot gevolg. Die bewys dat jy in die verlede tot bekering gekom het, is ‘n bekeerde lewe vandag – al het jy 20 jaar gelede wátse wonderlike dinge beleef. Die Christusgesentreerde lewe VANDAG is dit wat saakmaak.
Sien u die drie kosbare waarhede in Hand 9: 1-31: EERSTENS: Die man wat Saulus wás: bekering is moontlik. TWEEDENS: Die Man(ne) wie met Saulus ontmoet het: bekering is afgestem op ‘n persoon. DERDENS: Die man wat Saulus geword het: bekering lei tot permanente lewensverandering.