TAFELBERG GEMEENTE Reekstema: Die dinamietkrag van Sy koms
No. 3: Die dinamietkrag van oorwinning oor satan
Skrif: 1 Johannes 3: 7-10 (8), Johannes 8: 31-47, Hebreërs 2: 14-18
Telkens, wanneer ons die woord “duiwel” hoor, kom daar ‘n strokieskarakterprentjie in ons gedagtes na vore – nie waar nie? Ons westerse kultuur het die geneigdheid om die hele idee van “’n duiwel” af te maak as primitiewe mitologie/bygeloof. Ons kultuur maak hom af as ‘n strokieskarakter – ‘n komieklike mannetjie met horings & vurk. En, wíé glo tog nou aan strokiesprentkarakters? Daarom moet u maar gedurende hierdie preek ‘n doelbewuste kopskuif maak: elke keer wanneer u die woord “duiwel” of “satan” hoor, moet u die strokieskarakterprentjie uit u gedagtes laat verdwyn. Want daardie beeld, het die potensiaal om ons tot in die afgrond te mislei.
Wat in ons westerse kultuur gebeur het, is dat ons menslike rede tot ‘n god verhef is en dít triomfeer oor die duiwel en sy werke. Ons dink ons opvoeding & kennis & vaardighede het ons vrygemaak en die duiwel verban. Ons kennis is nou ‘n 1000 maal meer uitgebrei as ‘n 100 jaar gelede en dit het die idee van ‘n duiwel verban – so dink ons. In Bybelse tye het mense nie hierdie kennis gehad nie en het hulle nog aan primitiewe strokiesprentkarakters geglo. Maar, ons onkunde is nou gelukkig opgeklaar. Nóú weet ons hoe om mense se lewens te verander en mense vry te maak: ons gee hulle kennis. Ons voed hulle op. Opvoeding kom in die plek van oudmodiese godsdiens. Ons sal mense opvoed om beter mense te wees. Ons dink dat, indien mense net ingelig kan wees, alles beter sal gaan. Al wat mense nodig het, is ‘n inligtingsbrosjure, want as jy van beter weet, sal jy beter leef. Sien u hoedat al die geloof in “koning mens” gesentreer is? “Koning mens” het die kapasiteit om alles te bowe te kom en klaar te speel met primitiewe bybelkarakters.
Maar, wat wys die praktyk van die lewe vir ons? Hoe lyk die wêreld van ingeligde, kennisvervulde, opgevoede mense? Ons moet net rondom ons kyk om die antwoord te kry. Wat sien ons dan? Die opgevoede mens beskik glad nie oor die kapasiteit om die soort mens te word wat hy droom om te wees nie. Eintlik is die wêreld in chaos. Al die nuwe blaadjies wat omgeslaan word, beland in die snippermandjie. Opgevoede, kennisvervulde mense verloor steeds hul humeur – tot op die punt van moord, misluk 100 maal per dag, leef vanuit leuens, praat verkeerd, is ontrou, ongeduldig, word oorval deur wellus, is ondankbaar, bly blind vir die waarheid, blind vir ander se nood ensovoorts. Nee, geen inligtingsbrosjure kan die mens se hárt genees nie. Jeremia 13:23 blý waar: “kan ‘n luiperd sy kolle verander? Nie? Wel, net so min kan júlle jul optrede verbeter.” En Jeremia 2:22: “al sou jy jouself was met soda of ‘n oorvloed seep, nogtans bly die vlekke van jou sondeskuld daar.” U sien: met ál sy kennis & opvoeding, blý die mens ‘n absolute slaaf van sonde. Ten spyte van sy vindingrykheid, hou die mens onverpoosd aan om die wil van sy/haar vader te doen (Joh 8:44) – dit is die duiwel – wie hy/sy dink is ‘n strokieskarakter. Pleks van om vol krag te wees, is die mens ten diepste só pateties kragteloos. Nie vry nie, maar verslaaf. Nie slagoffers van die duiwel nie, maar sy gewillige energieke dienaars! Dit blyk dat hierdie strokiesprentkarakter veel minder van ‘n grap is as wat baie mense dink!
Wanneer ons in die lig van die Skrif na die hele saak kyk, word alles meteens duidelik. Skitterend hoe lewens-eg die Bybel is – in besonder ons gelese gedeeltes. Dit is so in lyn met die werklikheid wat ons beleef. Kyk ons na ons Here Jesus se woorde, sien ons dat die duiwel voortdurend met drie dinge/werke besig is: leuens, moord en dood. D.m.v. leuens vermoor hy mense. Wanneer hy lieg, praat hy sy moedertaal (Joh 8:44). Hy is die vader van die leuen. Hy dryf handel met onwaarheid. Hy deel dit uit soos stokkielekkers. Hy is ‘n meester wanneer dit kom by misleiding. Hy slaag volkome daarin om mense te mislei oor wie/wat die ware lewende God is. Hy verblind mense om nie die waarheid oor God te kan eien nie. Hy vul die wêreld met valse gode sodat mense met gemak die waarheid vir die leuen verruil en die skepsel dien i.p.v. die Skepper.
Kyk maar hoe het dit tydens die val gewerk in Gen 3: die slang beswadder God se karakter by die eerste mensepaar. Hy insinueer dat God se bedoelings met Adam glad nie so goed is as wat Hy voorgee nie. Hy sê: “Man, God weerhou jou eintlik van ‘n klompie goed wat jou toekom. Hy het ‘n verskuilde agenda met jou. Sonder Hóm, kan jyself koning wees. Dink net daaraan! Jy sal nie sterf soos God gesê het nie. Dit wat Hy sê, is nie 100% betroubaar nie. Jy moet Sy Woord met ‘n knippie sout vat.” Net so aantreklik soos hierdie suggesties tóé was, is dit vandag nog vir die mensdom. En die leuens bly presies dieselfde. Die leuens-taktiek werk steeds soos ‘n bom.
Tweedens: moord. Joh 8:44. Hy vermoor mense “van die begin af” sê Jesus. Natuurlik het dit te make met werklike fisiese moord & doodslag – dink maar aan Kain. Kyk hoe lyk ons wêreld steeds. Dink aan die derduisende blatante moorde elke dag d.m.v. aborsies. Dit getuig nie eintlik van ‘n beskaafde, ingeligde, opgevoede mensdom nie. Maar, wat ons nie moet miskyk nie: die duiwel vermoor ook mense op ‘n veel groter skaal d.m.v. leuens en suggesties. Adam & Eva het nie op die plek fisies gesterf nie, maar hulle het die leuen in die plek van die waarheid begin glo en hul vryheid verloor. Só het hulle gesterf. Só is hulle vermoor. Is dit nie die manier waarop die duiwel steeds derduisende mense gevange hou nie? Hoeveel vermoorde mense is daar nie in Kaapstad nie? En in kerkbanke elke Sondag? Mense wat die duiwel se leuens glo – leuens m.b.t. hulself? Waar dink u kom al die komplekse waarmee ons loop vandaan? Minderwaardigheid? Selfbeeldprobleme? Vrese? Angste? Depressies? Bitterheid? Konflikte? Onvrede en verharding? Wel, dit kom alles vanuit een wortel. Die wortel is ‘n leuen wat ek vas glo. ‘n Leuen wat die bose van kinderjare af in my oor kom fluister het – dalk deur iets wat met my gebeur het. Dalk ‘n diep innerlike seer veroorsaak deur ‘n breuk in verhoudings. ‘n Leuen wat my laat glo dat ek ‘n mislukking is, ‘n bietjie verworpe is en dat ek gevolglik moet presteer om aanvaar te word. En hoe meer ek dit glo, hoe meer rég gee ek aan die bose om my te verwoes. Is dit nie die kernwortel onderliggend aan 99% van die dinge waarmee mense na beraders en sielkundiges stroom nie? Die aktuele Bybel maak dit vir ons oop: die duiwel vermoor mense d.m.v. leuens en suggesties.
Derdens: die dood. Hebreërs 2:14 – die dood oefen mag uit d.m.v. die vrees vir die dood wat van mense slawe maak. Die dood voer letterlik heerskappy (Rom 5:14). Vernietig mense se hoop.
Daar het u die drie werke waarmee die satan steeds werk: leuens, moord en dood.
Bo-oor al hierdie werke van die bose staan 1 Joh 3:8 soos ‘n banier: Die rede vir Kersfees word hier in een sinnetjie saamgevat: “vir hierdie rede het Jesus gekom: om die werke van die duiwel te vernietig.” Let op: Hy het nie die moontlikheid geskep om dit te vernietig nie – mits die mens eers sy kant bring nie! Nee, Hy het dit vernietig. Dit is reeds in Gen 3:15 beloof toe die Here God aan die slang gesê het: ‘n manlike persoon gaan uit die vrou gebore word, wat jou kop sal vernietig. Die vervulling daarvan is opgeteken in Hebreërs 2:14-15: “aangesien ons mense van vlees & bloed is, het Jesus net soos ons mens geword. Dit het Hy gedoen om deur Sy dood díé een wat mag het oor die dood – dit is die duiwel – te vernietig én om hulle wat uit vrees vir die dood hulle hele lewe lank in slawerny was, te bevry.” : Hoe het ons Here Jesus die drie werke van die duiwel prakties vernietig? Wel, Hy het met elkeen van die duiwel se 3 werke gehandel. Hy het met leuens gehandel. Ook met moord en die dood. Hoe?
1) Leuens: Hy het die Waarheid gepraat en geleef. Onthou: Hy was ook versoek in die woestyn (Mat 4). Hy was die 2de Adam wat Adam se plek geneem het en Adam se val omgekeer het. Adam was versoek in maklike omstandighede – ‘n tuin. Die 2de Adam word versoek in ‘n woestyn ná 40 dae sonder kos. Die slang het Hom ook probeer vang met leuens oor wie God is. Maar Hy het die Waarheid gespreek uit die Woord.
2) Moord: deurdat Hy Sy vyande – wat Hom as onskuldige vermoor het – liefgehad het tot die einde en sélf gesterf het uit opofferende liefde en nie met haat & wraak nie. Plaasvervangend. So bewerkstellig Hy ‘n kortsluiting in die duiwelgeïnspireerde moorde.
3) Dood: Die angel van die dood is sonde ( 1 Kor 15: 56). Sonde gee aan die duiwel mag en gee aan die dood mag. Jesus se kruisdood het daardie angel uitgetrek: die angel van sonde & skuld ( 1 Kor 15: 55). Sy dood het skuldige mense onskuldig gemaak. Nou is daar niks meer oor waaroor die gelowige aangekla kan word nie (Rom 8:1). So is die angel van die dood uitgetrek. Wat ‘n onbeskryflike oorwinning is Jesus se kruisdood!
Ons het nou gesien: die drievoudige werke van die bose. Ook: die drievoudige oorwinning van Christus. Watter praktiese implikasies het dit vir die kind van God wat in 2007 lewe? Die gelowige is nou bevoorreg om op ‘n drievoudige wyse aktief weerstand te bied teen die bose – vanuit Jesus se reeds volbragte oorwinning. Hoe?
1) Deur ten alle koste die waarheid te praat en vanuit die waarheid te leef. Kleef & klou vas aan die Woord = Gód se onfeilbare waarheid. Natuurlik kos dit harde werk: lees, lees, lees, lees, lees die Woord en luister na behoorlike uitleg daarvan soveel as wat menslik moontlik is. Gister hoor ek van ‘n Koreaan wat in Japan sendingwerk doen, wat daagliks 20 hoofstukke van die Bybel hardop lees. Hy gaan elke twee maande deur die hele Bybel. Dalk nie haalbaar vir die meeste van ons nie, maar 40 sekondes dagstukkieboekie lees sal ons ook nêrens bring nie. Die post-moderne tydsgees wil hierdie fondament onder ons voete uitpluk deur te sê dat daar nie so iets soos absolute waarheid is nie en elke mens maar sy eie waarheid het. Dit is mos deesdae die algemene manier van dink.
2) Deur gedetermineerd lief te hê – veral hulle wat jou nie liefhet nie. Oook diegene wat jou verbitter en seergemaak het. Juis die teenoorgestelde van die gees van Kaïn. Die waarmerk, die groot eienskap wat gelowiges onderskei van die wêreld, is liefde. Gedetermineerde liefde, wat nie gebaseer is op gevoel nie, maar op ‘n wilsbesluit. Liefde wat bereid is om te vergewe en mense vry te spreek – die tronkdeur vir mense oop te sluit.
3) Deur nie toe te gee aan vrees vir die dood nie. Vry van die slawerny van doodsvrees omdat ek weet dat ek nooit deur God veroordeel sal word nie – o.g.v. Christus se kruisdood. Die dood word vir my net ‘n deurgang na ‘n lewe van bý Christus wees (Filip 1: 21-23).
Op grond van die Here se Woord, kan ek vanoggend aan elkeen ‘n waarborg gee: Dit maak nie saak met watter innerlike binding u opgeskeep sit nie, die boeie sal van u afval soos droë blare van ‘n boom indien u oë kan oopgaan vir die waarheid aangaande uself en hoe die Here daarmee gehandel het en u dan kan opstaan in ‘n nuwe lewe van waarheid, liefde en vreesloosheid. Dit is u en my erfdeel in Christus.