TAFELBERG GEMEENTE Reekstema: Die dinamietkrag van Sy koms
No. 2: Die dinamietkrag van oorwinning oor die dood
Skrif: Johannes 5: 16-30
Die grootste beslissing waarvoor ‘n mens die een of ander tyd te staan kom is die beslissing oor wie Jesus van Nasaret werklik is. Opvallend dat sommige filosowe en mense wat krities-afwysend teenoor die Christelike Geloof staan, daarvan terugdeins & wegskram om tot ‘n beslissing te kom oor die ongelooflike aansprake wat Jesus t.o.v. Homself gemaak het. Hulle brom en mompel oor ‘n God-van-liefde wat menslike lyding toelaat, hulle brom oor skepping & evolusie en oor Christene wat droogmaak, maar by die essensie gaan hulle gerieflik verby. En die essensie is: Is die Man van Nasaret dít wat Hy gesê het Hy is, of was Hy ‘n kranksinnige bedrieër? Niks tussen-in is immers moontlik nie. Indien hulle sou sê Jesus is ‘n bedrieër, móét hulle ‘n hele NT se ooggetuieverslae van die tafel afvee, maar dit kan nie, want dan moet hulle baie goeie wetenskaplike en regsgeldige gronde hê om dit te kan doen. Indien hulle Jesus se aansprake aanvaar, móét hulle hul lewens onherroeplik aan Hom toewy en juis dit wil hulle nie – juis daarom is hulle sogenaamd krities teenoor die Evangelieboodskap. Onthou: álle kritiek teen die Evangelie het ten diepste te make met “Koning Mens” wat op die troon wil bly en nie aan die wáre Koning wil onderwerp nie!
Indien jy gaan kyk na wat Jesus t.o.v. Homself gesê het, besef jy dat daar geen neutrale grond moontlik is nie. Óf Jesus was kranksinnig óf Hy het die waarheid gepraat. Niks tussen-in is moontlik nie. Waarom nie? Omdat Jesus se aansprake so verregaande radikaal is! Onthou Jesus het in die stofpaaie van Palestina gewandel as ‘n gewone mens. Stel jouself voor ‘n gewone man moet vandag tussen ons wees en van homself dinge sê soos Jesus van Homself gesê het. Ons sal só ‘n persoon uit die weg wil ruim! Stel jouself voor só ‘n persoon maak t.o.v. homself aansprake soos: “Ek is die sin van die lewe. Ek is God. Ek is die Seun van God. Ek is die gewer van ware Lewe. Die uiteindelike regspraak oor alle mense is aan My gegee.” Hóór u dit? So ‘n persoon is óf kranksinnig óf hy ís dit wat hy oor homself sê. Ons het egter grootgeword met Jesus se aansprake en dit al honderde male gehoor & gelees en daarom hoor ons nie meer hoe radikaal dit is nie. Ons dink dit was maar normaal om só te praat. Ons het nodig om weer te hóór wat Jesus sê.
Daarom is Joh 5: 16-30 een van die mees diepsinnigste Skrifgedeeltes. Dit is nét die waaragtige Seun van God wat só iets kon sê. Verlede Sondag het ons in verse 1-15 gesien hoe ontstoke die Jode was met die man wat op die Sabbat sy matras dra – nadat Jesus hom by die Betesdabad genees het en dít nadat hy 38 jaar lank bedlêend was. “Hoe durf hierdie Rabbi iemand op die Sabbat genees én hom boonop sy bed laat dra!” Maar toe kom die grootste skok! Jesus antwoord hulle op hulle ontstokenheid deur te verklaar dat Hy en God die Vader GELYK is! Hy is die Seun van God. Hy is God sélf! Wat ‘n aanspraak om te maak – deur ‘n mens van vlees en bloed! Geen wonder dat hulle (van toe af) maniere gesoek het om Hom dood te maak nie. Soos óns ook sou gedoen het. Hy is tog van sy kop af! Hy laster! Hy sê Hy is God! Nie ‘n ánder God náás JAHWE – God die Vader nie – maar EEN met die Vader en tog ook van Hom onderskeie. Ja, daar is net één God, maar Hy bestaan uit meer as een Persoon. Daarom is Jesus onderskeie van die Vader en tog een met Hom in een Godheid. Verstommend, is dit nie? Verstommende aanspraak om t.o.v. jouself te maak. Verstaan u waarom ons Here Jesus nie op een lyn staan met ander godsdienstige leierfigure nie. (Hy is tewens glad nie ‘n godsdienstige leier nie!)Hyself laat net eenvoudig nie só ‘n gelykstelling toe nie. Hy is algeheel uniek. Hy is nie nét ‘n vleesgeworde wonderlike Man nie, Hy is God. Tewens, Hy is óf die Seun van God óf Hy is absoluut niks! Hy is óf…óf!
Hy is verder die Géwer van LEWE. Hy sê hierdie verbysterende ding vir die Jode: “Julle sal groter dinge sien as die genesing van hierdie man by Betesdabad. Dink julle sy genesing was groot? Groter as dit is die feit dat Ek LEWE géé – aan wie Ek wil (v 21). Julle het nog niks gesien nie! Ek sê vir julle die waarheid: Daar kom ‘n tyd – en dis nou – dat die dooies die stem van die Seun van God sal hoor. En die wat daaraan gehoor gee, sal LEWE.” (v 25). Die “dooies” na wie die Meester hier verwys is die geestelik-dooies. Alle mense is van nature geestelik dood – ú ook, ek ook. Efes 2: 1-3. Ons besit nie die ware lewe in onsself nie. Dit moet aan ons gegee word deur die Lewegewer. Slegs God alleen skep LEWE en – as Seun van God, deel Jesus daardie eienskap met die Vader. Hy het lewe in Homself en Hy beskik oor die soewereine mag om dit aan mensies te gee.
As ‘n mens mooi kyk sien jy hoe geweldig fyn die Here hier praat. In vers 25 praat hy van geestelik-dooies wat in hul doodsheid Sy stem hoor en lewend word. In vers 28 praat Hy van fisies-dooies, wie se liggame in grafte lê, wat Sy stem sal hoor en uit die dood opstaan en na een van twee finale eindbestemmings gaan: hetsy ewige LEWE of ewige VERDOEMENIS. Is dit nie ‘n geweldige aanspraak om t.o.v. jouself te maak nie? Jesus beskik oor die mág om dooies op te wek: Geestelike dooies én fisiese dooies. En Hy doen dit nét met Sy stem – met woorde. Daar is lewe in Sy Woorde. En die Heilige Gees werk deur daardie woorde.
Hoe werk dit prakties? Wel, terwyl Jesus op aarde was het Hy alreeds beide soorte dooies opgewek. Sommige fisies-dooies het Hy opgewek met ‘n woord soos byvoorbeeld Lasarus (Joh 11), die seun van Nain (Luk 7), die dogtertjie van Jaïrus (Mrk 5). Dis die eienaardigste soort begrafnisse: Jesus praat nie met die naasbestaandes nie. Hy praat met die dooies self! En gevolglik reageer hulle en word lewendig. Dink aan Lasarus: “Lasarus kom uit”. (Joh 11:43). Dink aan die dogtertjie van Jairus: “Talita Koem!” (Mark 5:41). Dit was alles prentjies van wat by die wederkoms op universele skaal gaan gebeur.
Ook geestelik-dooies word met ‘n woord lewendgemaak! Wat beteken dit om geestelik dood te wees? Dit beteken om dood te wees terwyl jy fisies lewend is. Dit beteken om los van God te wees deur die sondeval asook jou eie sonde & skuld. Byna soos ‘n takkie wat van ‘n boom afgesny is: hy lýk lewend, want hy is nog sappig en blaartjies is groen. Maar in werklikheid is hy dood, want hy is afgesny van die boom. Op die kruis het Jesus hierdie los-wees van God beleef (Mat 27:46), maar dit was in geestelik-dooie mense se plek (Jes 53:5) en sodoende het Hy hulle lewend gemaak met Sý afgesny-wees van God. En sedertdien – tot vandag – laat verkondig Hy Sy lewendmakende woorde aan geestelik-dooie mense d.m.v. Verkondigers/predikers. En die Gees praat daardeur. En diegene aan wie Hy die lewe wil gee (v 21b), HOOR Sy stem binne-in hul doodsheid en kom tot ontwaking en begin glo. Kyk na daardie asemrowende vers 24: “Wie ookal my Woord hoor én Hom glo wat my gestuur het, hét die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het kláár oorgegaan uit die dood ná die lewe.” (let op die volgorde: “dood na lewe” en nie andersom).
Die derde aanspraak van Jesus t.o.v. Homself maak: Verse 22 & 27: Jesus sê: “Die Vader het die volle outoriteit om te oordeel aan mý gegee. Daarom wie die Seun nie eer nie, eer ook nie die Vader nie.” Magtige & geweldige woorde. Tussen hakies: hier sien ons waarom ‘n godsdiens soos die Islam volstrek NIE dieselfde God as die God van die Bybel aanbid nie – want hulle verwerp Jesus as Seun van God! Wie dit doen – vlgs vers 23 – verwerp ook die Vader – en dus die enigste ware lewende God van die Woord. Sommige mense sê: “Ek glo 100% in God, maar ek weet nie lekker waar Jésus inpas nie.” Volgens Jesus se eie woorde glo só ‘n persoon glad nie in God nie! Maar let op verse 22 & 27: die volle gesag om te oordeel is aan ons Here Jesus gegee.
Kyk, van drie dinge kan ons seker wees: van ons eie dood, van die koms van Christus en van die oordeel. Interessant hoe ons as mense is: ons beplan & begroot & beveilig soveel dinge wat ónseker is. Ons is nie seker óf ons huis sal afbrand en óf daar by ons kar ingebreek sal word nie … en tog neem ons ten duurste versekering uit. Seker die meeste mense begroot glad nie vir wat absoluut seker is nie: naamlik – die dood, die koms van Christus en die oordeel. Eintlik hou ons glad nie daarvan om van “oordeel” te praat nie. Noem dit ‘n bietjie in ‘n gesprek en kyk wat mense se reaksie is. Glad nie ‘n populêre onderwerp nie. En tog is die ganse Skrif daaroor glashelder duidelik dat absoluut ALLE mense wat ooit gelewe het daar sal wees. Jy kan nog ‘n tandartsafspraak kanselleer indien jou moed jou begewe, maar nie hierdie saak nie. Kyk na die woordjie ALMAL in vers 28. Eintlik is dit baie goeie nuus, want stel jou voor ‘n wêreld waar daar geen verantwoordbaarheid is nie. God gee nie om nie. Niks sal ooit reggestel word nie. Reg en geregtigheid geskied nie. Daarom is Jesus se woorde eintlik ‘n groot troos vir die gelowige – die mens wat lewendgemaak is – opgewek uit ‘n geestelike narkoseslaap.
Daar sal nie ‘n verskeidenheid van opsies wees nie. Byvoorbeeld: Moslems sal in Kamer 1 voor Allah verskyn en Ateïste sal in Kamer 2 voor die Britse ateïs Richard Dawkins verskyn nie! Nee, dis die grootste verrassing wat op biljoene misleide mense wag – mense wat gedink het Jesus is ‘n god en ‘n verlosser en het ‘n stukkie waarheid beetgehad – maar dat ander opsies ewe goed was en dat daar teen niemand gediskrimineer mag word nie en dat waarheid relatief is. Nee, lees Joh 5: 16-30 aandagtig en sien hoe absoluut eksklusief Jesus se aansprake is: Hy is DIE Seun van God. Hy is DIE Gewer van lewe. Hy is DIE Verlosser. Hy is DIE Regter van hemel & aarde. Óf ‘n Man wat só praat is kranksinnig óf Hy praat die waarheid. Niks tussen-in is moontlik nie. Indien Jesus slegs ‘n supermens is of ‘n groot boodskapper, sou dit godslastering wees om Hom te aanbid. Indien Jesus die Seun van God is, is dit godslastering om Hom NIE te aanbid nie! Verwerp jy die unieke aansprake van Jesus van Nasaret, verwerp jy God en verwerp jy jou eie saligheid.
Dit is waartoe Joh 5: 16-30 ons almal (onder aandrang van die Gees) dwing: Is die unieke Christus Jesus – sóós Hy Homself bekend gemaak het in die heilige Skrif – in die sentrum van ons bestaan? Indien Hy nie in die sentrum is nie, sê ons – per definisie – dat Hy ‘n kranksinnige bedrieër is. Indien ons bely dat Hy ís wat Hy sê Hy is, MOET Hy in die sentrum van ons bestaan kom! Geen neutraliteit is moontlik nie! Luister aandagtig na vers 24: “Ek sê vir julle die waarheid: Wie my woorde hoor én Hom glo wat my gestuur het, hét die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het reeds oorgegaan van die dood na die lewe.” En vers 22: “dat almal die Seun mag eer netsoos hulle die Vader eer.”
Ons het netnou gesê dat ons almal van 3 dinge seker kan wees: dood, Jesus se koms en oordeel. Maar daar is ‘n 4de: Jy kan seker wees dat jy nou reeds die LEWE besit en dat jy die ewigheid by die ware God sal deurbring!
Hoor u die aandrang van God Gees – deur Sy Woord?