TAFELBERG GEMEENTE Reekstema: Die dinamietkrag van Sy koms
No. 1: Die dinamietkrag van genesing
Skrif: Johannes 5: 1-15

Kom ons gestel u dink terug aan iemand vir wie u baie hoë agting en liefde gehad het. Dalk ‘n oupa/ouma/pa/ma. Hoe sou ‘n mens kon beskryf wie/hoe só ‘n persoon was. Jy sou dit met ‘n enkele woord/woorde kon beskryf byvoorbeeld: sag & jammerhartig. Nóg beter sou wees indien jy ‘n verhaaltjie kan vertel van iets wat gebeur het waar hierdie persoon in aksie was. Dit sê meer. Dit gee meer kleur.

Kom ons pas dieselfde beginsel toe op die God van die Bybel. Indien ons sou moes sê wat/wie/hoe God is, sou ons ook ‘n woord/sin kon gebruik bv. “God is liefde” (1 Joh 4:8). Nog beter: Ons sou ‘n verhaal kon vertel van waar Hy in aksie was met Sy mense. Dit sê soveel meer. In die NT sien ons hoe God in aksie is deur Jesus van Nasaret. Christus se koms na die wêreld, was met dinamietkrag. Die gelese gedeelte is só ‘n verhaal van Christus-in-aksie met mense. Dit sê iets van Homself. Dit toon met watter krag Hy na die wêreld gekom het. Ons sien in Joh 5 drie tonele wat amper soos fotos (snapshots) is van wie/hoe God-in-Christus is. 1) God se reaksie op menslike lyding/swaarkry, 2) God se reaksie op menslike godsdiens en 3) God se reaksie op menslike sonde.

A. God se reaksie op menslike swaarkry. Rondom die Bad van Betesda was daar baie mense in groot beproewing. Daar was ‘n soort bygeloof in omloop aangaande hierdie Betesda-bad, naamlik dat ‘n engel nou en dan die water kom roer en dat die mankolieke mens wat ná die roering éérste in die water kom, gesond sal word. Dalk het die water geroer vanweë ondergrondse water. Niemand weet nie. Trouens, vroeër jare het mense gesê Johannes het hierdie verhaal uit sy duim gesuig omdat daar nie so ‘n Betesda-bad in Jerusalem was nie. Tot in 1920, toe argeoloë oorblyfsels van die bad ontdek het. Maar, wat die roering van die water sou veroorsaak het, weet ons nie. Ons weet wél hoe hopeloos/hooploos hierdie siek mense moes wees, want hóé sou enigeen van hulle eerste in die water kon kom? Dit was immers die blindes, kreupeles en lammes wat daar gelê het. Wat ‘n neerdrukkende beeld van menslike swaarkry! Kyk na hierdie invalide wat al 38 jaar lank ‘n misrabele lewe ly. In daardie tyd was sulke mense uitgestoot uit die samelewing. Hulle het geen ongeskiktheidstoelae ontvang nie! Die enigste hoop in sy lewe was die desperaatheid om dalk eerste in die bad te kom nadat die engel dit geroer het. Maar tevergeefs. En 38 jaar is ‘n lang tyd.

Hierdie hele toneel van mense rondom die Betesda-bad konfronteer ons onmiddelik met een van die grootste probleme in die lewe naamlik: menslike swaarkry. Ons kan dit nie vermy of verbykyk nie. Vir die meeste mense is hulle swaarkry ‘n diep persoonlike saak en ‘n privaataangeleentheid. Maar hoe moet ons reageer op hierdie probleem in die wêreld? Waarom laat God dit toe? Die ateïste het natuurlik ‘n maklike antwoord. Iemand soos die Brit, Richard Dawkins, sê die heelal bestaan net uit elektrone wat deur blinde magte gemanipuleer word. Sommige mense is net gelukkiger as ander. Daar is geen betekenis in enigiets wat in die wêreld gebeur nie.

Die Bybel gee ook geen netjiese antwoorde & oplossings nie. Ook maar goed, want ons sou nooit daarmee tevrede gewees het nie. Die Bybel se diepste antwoord is nie antwoorde nie, maar ‘n Persoon: Jesus van Nasaret wat doelgerig ingekom het IN die problematiek van menslike swaarkry d.m.v. Sy eie onskuldige lyding. ‘n God wat nie omgee nie of wat onverskillig staan teenoor ons nood, sou nie naby die Bad van Betesda gekom het nie. Hy sou dit vermy het. Hy sou tewens nie eens aarde toe gekom het nie. Hy sou nie vlees geword het nie. Indien wel, sou Hy die donkerkant van die lewe vermy het en eerder op die koningspaleise gekonsentreer het.

Die Bybel wys vir ons ‘n God wat régtig omgee. Jesus gaan met opset na die Betesda-bad. En volgens vers 6 beskik Hy oor mag. Hy spreek lewe oor die misrabele man uit: “Staan op, vat jou bed en loop.” En, onmiddelik het die man opgestaan. Hy het nie nodig gehad om eers deur ‘n mediese prosedure te gaan nie. Wat ‘n teenstelling met die onsin wat sommige siniese ongelowiges praat wat sê dat God die wêreld toegooi met lyding en dan agteroor sit en dit geniet! Nee! Hy gaan staan doelgerig reg in die sentrum van swaarkry en neem dit op Homself – terwyl Hy geen aandeel in die sonde en verwoesting gehad het nie.

Natuurlik belowe die Skrif nie dat die Here elke keer/in alle swaarkry ‘n helikopter stuur om ons op te pik nie. Soms wel. Maar wat die Bybel baie duidelik stel is dat Sy teenwoordigheid & Sy groot werke by/met ons is IN ons swaarkry. Jesus se opstanding uit die dood het alreeds die feit van toekomstige nuutgemaakte aarde bevestig. Net soos wat Hy met ‘n enkele magtige woord daardie man by Betesda-bad genees het sal dit in die voleinding gebeur. Daardie genesing was letterlik ‘n vooruitskouing van ‘n totaal nuutgemaakte aarde.

B. God se reaksie op menslike godsdiens. Die volgende foto. Dit is interessant dat ons Here Jesus se grootste vyande & teenstand uit die godsdienstige kringe gekom het en nie van die goddeloses nie. Kyk, die dag waarop die Here hierdie man genees het, was die Sabbat. En wat meer is, die geneesde man dra sy bed – op die Sabbat! Onmiddelik sien die Joodse kerkleiers dit. Hierdie ge-beddraery is teen die Sabbatswette – wat hulleself gefabriseer het. Volgens daardie wette mag jy nie eens jou valstande ingehad het op die Sabbat nie, want dit sou daarop neerkom dat jy ‘n las dra. Wat nog te sê ‘n matras ronddra! Vreeslik! Daarom peper hulle die geneesde man: “Haai, wat vang jy aan ? Jy oortree die Sabbatswet.” Al wat die man kan antwoord is: “Watse wet ek oortree weet ek nie, maar dit wat ek weet is dat ‘n sekere man my met ‘n woord genees het.” “Watse man?” wil die kerklui weet. Maar die geneesde man weet nie eens dat dit Jesus was nie. Maar skynbaar weet die kerklui van Wie hy praat! Nou gaan hulle aggressie oor op Jesus. “Hoe durf Hy?!” Sien u? Geen lofprysing nie. Geen verwondering nie. Geen dank aan God nie. Geen opgewonde uitroepe van: “Wow! ‘n Arme man is ná 38 jaar lyding genees!” Nee, al wat hulle sien is: die man dra sy bed. En dis Sabbat. Daarom haat hulle vir Jesus, pleks van Hom te aanbid en hulle lewens aan Hom te wy.

Hier is ‘n prentjie van godsdiens > buite-om Christus. Dit is vandag nog presies so. In die wêreld is daar bitter baie godsdiens. Maar, moenie dat dit u bly maak nie. 99% daarvan is verdoem tot die ewige hel. Want dis menslike godsdiens, buite-om Christus. En moenie ‘n fout maak nie: só ‘n mens kan bitter ernstig wees – en fanatiek in ywer. Maar, dit is ‘n ywer sonder om die Here te ken. Dis ‘n ywer van: “ék probeer goed doen. Ek slaag die reëls en daarom sal ek dalk reg wees met die Here.” Terselftertyd opponeer ek die Here en die Waarheid. Ek herken Hom nie. Want ek dink godsdiens bestaan uit die nakom van regulasies. Ook binne Christelike kerke is daar duisende sulke godsdienstig-verlore mense. Vra jy vir so ‘n persoon waarom hy/sy ‘n kind van die Here is, kom die antwoord: “Ek doen wel my deel. Ek leef godsdienstig so goed ek kan. Ek probeer.” Of aan die ander kant sê mense: “Nee, ek dink nie ek is ‘n kind van die Here nie, want ek doen nog nie genoeg nie. Ek is nog so ontevrede met myself.” U sien: beide hierdie tipe mense is godsdienstig-verlore. Dit is ‘n uiters gevaarlike posisie, want jou eie toewyding verblind jou vir jou ware toestand. Jy kom nie by diepe sondebesef en sonde-oortuiging en ‘n ware toekeer tot die Here nie. Indien jou fokus/vertroue gerig is op wat jý doen, kan Jesus langs jou staan en jy sal Hom nie herken nie. Jy sal selfs die ware werk van die Here teenstaan terwyl jy dink dat jy God ‘n guns doen. Jy kan in ‘n gemeente wees waar die Woord suiwer en reg verkondig word, maar jy hoor dit net met een oor. Want wat jou éíntlik pla is: die predikant dra nie die regte klere nie, die blomme staan op die verkeerde plek, die ouderling groet jou nie, die orrel speel nie reg nie, die liturgie verloop nie soos jy dit gewoond is nie. Dit is jou éíntlike bekommernis. U sien: reëls & regulasies en nie die lewende God nie. So ‘n tipe godsdientige mens besef nie dat God se wil volmaak is nie en dat NIEMAND dit 100% kan slaag met goeddoen poginkies nie. Die slaagsyfer is 100%, maar – al probeer ons hoe hard – dop ons totaal. Daarom kan ons nie gered word deur regulasies na te kom nie. Daarom is die ware verlossing slegs deur Jesus se kruisdood in jou plek en deur geloofsvertroue dáárop. Vaskleef aan HOM. Die vrye geskenk mag in ontvangs geneem word! Dit is die Here se reaksie & Sy antwoord op menslike godsdiens.

C. God se reaksie op menslike sonde. Die derde foto > Verse 14&15. Daar is iets wat erger is as om vir 38 jaar lank ‘n bedlêende invalide te wees. Ja, ‘n mens se ore kan dit skaars glo, maar dis waar. Kán daar iets erger wees? Jy kan jou dit nie voorstel nie. Wát kan erger/slegter wees? Antwoord: Geskei wees van God – nou en vir ewig en daarby die oordeel van God. Dít is erger as 38 jaar lank ‘n invalide wees. Maar dalk moet ons dit weer in alle tale aan die mensdom verkondig. Al word ons ook verguis. Want dit is mos so dat die woord “sonde” amper uit ons woordeskat verdwyn het. Ons het wetenskaplike verklarings vir die ding wat ons “skuldgevoel” noem. Ons sê dis net ‘n patologiese toestand omdat ons bietjie wanaangepas is. Dis eintlik net iets psigologies. Ons wil nie skuldig voel oor al ons mannewales nie. Maar besef ons dat dit verblinding deur die duiwel is? Want, besef & erken ons nie ons ware sondetoestand en hemelhoë skuld voor die lewende God nie, sal ons nóóit die verlossing verstaan wat Jesus bewerk het nie! Jy moet eers die slegte nuus oor jouself hóór en jou eie maak alvorens die goeie nuus enige waarde het en indring in jou binneste.

Die huidige swaarkry en lyding in die wêreld is slegs ‘n vooruitwysing na iets baie slegter wat oppad is. Daar is iets aan die kom wat 1000 000 keer slegter is as die slegste lyding in die wêreld en dit is: mense wat buite-om die Here Jesus se kruisredding geleef het en wat vir ewig en ewig verlore sal wees.

Ons moenie die genade-onbeskryflik-groot in hierdie laaste verse mislees nie. Sien hier: God se oneindige liefde vir sondaars! Hierdie man word nie genees omdat hy wonderlik godsalig was nie. Hy was nie ‘n vroom man en dáárom word hy genees nie. Selfs ná sy wondergenesing lyk dit nie of hy juis oorstelp is van dankbaarheid teenoor die Here nie. Hy is eintlik vinnig om die skuld op Jesus te pak oor waarom hy sy bed dra – omdat hy bang was vir die kerkmense. Tog bemoedig dit ons: Jesus soek nie wonderlike mense op nie. Genade beteken juis dat, ten spyte van hoe ons is, Hy Sy liefde laat reën. Hy gaan staan stil by ‘n báíe onwaarskynlike mensie. Ons sien dit so mooi op hierdie Joh 5-foto.

Maar moenie die fout maak om te dink dat die Here ongeërg teenoor sonde staan nie. Genade beteken nie dat ‘n mens losbandig kan lewe ómdat jy net op Jesus vertrou en gered is nie. Jy kan nie uit genade leef maar prakties in sonde leef soos voorheen nie. Daarom sê Jesus vir hierdie man: “STOP MET SONDE”. My ontfermende genade oor jou moet veroorsaak dat jy omkeer! Stop met sonde! Hoeveel ware gelowiges is daar nie wat moeg geraak het – wat betref sekere areas in hul lewens – en verslap het. Raak lui. Maak kompromië. Laat toe dat sonde insluip en nesskop. Hoor dan die Heiland se woorde: Stop met sonde! Omdat Ek jou reeds genees het, kán jy daarmee stop. Hoor Sy Woorde en reageer daarop! 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00