2.3 PRAKTIESE VOORBEELDE Hfst 2:12-30
Verdere persoonlike, tere aandag word in hierdie gedeelte aan die gelowiges in Filippi gegee, om toe te sien dat die voorafgaande heerlike waarhede vir hulle tot ‘n aansporing sal dien om die Christusgesindheid ook prakties toe te pas en uit te lewe! Paulus hou ook in hierdie gedeelte vir hulle DRIE voorbeelde voor, benewens die van Christus, om te bewys dat dit prakties uitvoerbaar is – die van Timotheus, van Epafrodítus en van homself! Enige Christen – ook dié in Filippi en ons vandag – kan dit ook doen, nie deur vir Christus “na te boots” nie, maar slegs as God die gesindheid van Christus INwerk om te bekwaam. Alleen dan kan dit daagliks ook prakties deur ons UITwerk! “DAAROM ….”
2.3.1 WERK UIT (v.12): Soos gewoonlik gebruik Paulus die werkwoord hier in
die gebiedende wys (imperative mood) nádat hy eers die feite waarop dit in v.13 gegrond is, in die aantonende wys (indicative mood) duidelik gestel het. Dit is dus ’n BEVEL wat volg op grond van die feite van v.13, en toon hoe die gelowige self ten volle gebruik moet maak van dit wat God vir hom gedoen en tot sy beskikking stel – om UIT te werk wat God INwerk! Die mens kan homself nie red nie – dit doen God alleen – maar dit wat God uit genade IN- en VIR- ons werk en doen, moet ons dankbaar, nederig en noukeurig laat UITwerk! “Met vrees en bewing” beteken met eerbied en ontsag. “Sonder murmurering en teëspraak (sonder kla of teëpraat)” beteken gewillig en oorwinnend. Die regte GESINDHEID waardeur dit gedoen word. Die KRAG en resultaat van só ‘n gesindheid is duidelik in v.15. Dit staan “BO alle verdenking en bly opreg – onberispelike kinders van God te midde van ontaarde en korrupte mense!” TE MIDDE VAN hierdie “krom en verdraaide geslag” moet ons lig reguit en helder skyn en die weg na God aanwys!
2.3.2 WERK IN (v.13): GOD gee die wil (en begeerte), sowel as die krag
(bekwaamheid, instaatstelling. (vgl 4:13) na Sy welbehae! Die roeping waarmee God ELKE kind na die een of ander spesifieke rigting, dienswerk of arbeidsveld geroep het, bestaan eerstens uit ‘n besef van PLIG, dan ‘n sterk motiverende DRANG, en ook ‘n toerusting met KRAG deur die vervulling en beheer van die Heilige Gees! Dit wat God in ons werk is Goddelike genade. Dit wat ons deur Sy krag laat uitwerk na ander in ‘n gesindheid van, “soos vir die Here en nie vir mense nie” (Kol.3:23) is ons Christelike verantwoordelikheid wat prakties uitwerk in nederige gehoorsaamheid aan Sy opdrag.
2.3.3 PRAKTIESE UITWERKING (v.16-30): Soos die DRIE persone dit bewys het:
(a) Paulus: Sy getuienis in v.17 dat hy in die diens van God letterlik as ‘n “drankoffer” uitgegiet word ter wille van die Filippense en ander mense, is ‘n bewys dat Paulus homself volkome en heelhartig in die stryd ge-werp het, al het ook vir hom die DOOD gekos! Tog is daar géén teken van spyt daaroor nie – net BLYDSKAP!
(b) Timotheus: Hierdie lieflike jong man se opregte, onselfsugtige en beproefde gesindheid as dienaar van die Evangelie en as dienskneg van ander word in v.19-23 beskrywe. Paulus het hom as sy kind in die geloof beskou en as een van sy medewerkers gekies terwyl hy op sy tweede sendingreis was (Hand.16:1-4). Hy het homself bewys in sy eie gemeente. In hierdie krisisuur was hy nog by Paulus, gereed en gewillig om gestuur te word (1:1; 2:23).
(c) Epafrodítus v.25: was Paulus se “broeder”, “medewerker” en “medestryder”. Sy naam beteken bekoring (charming). Hy was ‘n goed gebalanseerde Christen, belas met ander mense en deur God geseën en geëer. Sy gesindheid teenoor Paulus word weerspieël deurdat hy so ver gereis het om hom te besoek en met die offergawe van die Filippense te dien. Sy heen-en-weer reis was waarskynlik ‘n afstand van ten minste 1,600 km! Sy gesindheid teenoor ander mense was ook duidelik deurdat hy besorg was omdat ander oor hóm besorg was, toe hulle gehoor het hy is siek (v.26).
– 9 –
3. DERDE PORTRET – CHISTUS MY WINS (3:8)
Filippense 3:3 is ‘n waarskuwing teen die Judaïste, wat geglo het dat ‘n mens nie net deur genade alleen gered kon word sonder om ook die Joodse wet te onderhou nie! Hierdie saak het so ontwikkel: Die Evangelie is éérs net aan Jode en mense wat Joodse proseliete geword het verkondig (Hand.2:10; 3:26; Rom.1:16). In Handelinge 8:5-25, toe ook die Samaritane, wat deels Joods was betrek word, was dit nog aanvaarbaar, maar toe Petrus na die heidene gegaan het (Handelinge 10), was daar moeilikheid en moes hy sy optrede aan die apostels en die gemeente in Jerusalem verduidelik. Dit het toe gelyk asof almal sy verduideliking aanvaar het, maar toe Paulus egter daarná deur die Heilige Gees afgesonder en uitgestuur is met ‘n spesiale opdrag na die heidene, het sommige wettiese Joodse gelowiges hom agtervolg en vervolg (Hand.13:1-3; 22:21). Hulle het in Antiochië gaan verkondig dat geen heiden gered kon word tensy hulle Joodse proseliete word, soos Jode besny word en die Joodse verordeninge en wette onderhou nie (Hand.15:1). Die Kerk het weer eens in Jerusalem vergader om die saak te ondersoek en uitspraak in Paulus se guns gegee: dat die Evangelie vir ALMAL – Jode en Heidene – was. Dit was dus nie nodig vir Heidene om besny te word en die wet te onderhou nie! (Handelinge 15).
Die Judaïste het egter nie opgehou om Paulus oral te agtervolg nie. Hulle het sy bekeerlinge probeer afhok na hulle “kraal” deur Paulus se apostelskap te bevraagteken, sy gesag te ondermyn en sy leer te weerspreek. In Paulus se briewe aan die Romeine, Korinthiërs en Galasiërs, weerlê hy hierdie dwaling en stel hy hulle laakbare optrede aan die kaak! Hy beskryf hulle in 3:2 as, “honde, slegte arbeiders en die versnyding (verminking)”. Die Jode het die heidene “honde” genoem, maar húlle was eintlik die honde wat al op Paulus se hakke blaf en byt; werkers van ongeregtigheid wat mense op ‘n dwaalweg bring! Die Joodse besnydenis is betekenloos en die Judaïste het geen begrip van die werklike betekenis van die geestelike “besnydenis van die hart” deur Christus nie! (Kol.2:11). Hy waarsku in Galasiërs 5:4: “geregverdig deur die wet, losgemaak van Christus … van die genade verval!”
3.1 PAULUS SE SEWE VERLIESE
3.1.1 BESNYDENIS: Elke gebore Israeliet was trots op hierdie teken of seël
van die verbond wat hom aanspraak gegee het op al die voordele van die verbondsbeloftes wat God aan Israel gegee het. Die Judaïste het fanaties geglo dat die besnydenis as sulks, enigiemand van Abraham se nageslag na die vlees of Joodse proseliete, onvoorwaardelik as ‘n deel van die uitverkore volk van God kwalifiseer!
3.1.2 UIT DIE GESLAG VAN ISRAEL v.5: Paulus was ‘n egte Jood en sy afkoms
was suiwer en eg Israelities. Sý geslagregister het selfs deur die eeue van ballingskap en verstrooiing suiwer gebly (Rom.9:4,5).
3.1.3 UIT DIE STAM VAN BENJAMIN: Dié trotse stam het die eerste koning vir
Israel opgelewer. Dié stam was getrou aan Dawid se troon toe die 10 stamme weggebreek het. Dié stam wat gehelp het om die Tempel te herbou!
3.1.4 ‘N HEBRIEëR UIT DIE HEBREëRS: Hierdie groep het die Hebreeuse taal,
kultuur, gebruike en wette baie streng onderhou en bestudeer onder die beroemde professor Gamaliël.
3.1.5 WAT DIE WET BETREF ‘N FARISEëR: Die gebore Israeliet, opgevoed as ‘n
Hebreër en deur vrywillige keuse ‘n Fariseër – dié groep wat fanaties die streng toepassing van die HELE WET aangehang en gehuldig het!
– 10 –
3.1.6 WAT YWER BETREF – ‘N VERVOLGER VD GEMEENTE: As ‘n jong fanatikus het
Paulus prominente leiding geneem in die vervolging van die gemeente van Jesus Christus wat volgens sy siening, ketters was! Sy groot ywer in hierdie saak het hom besondere guns en groot aansien by die owerhede verleen!
3.1.7 GEREGTIGHEID IN DIE WET – ONBERISPELIK!: Wat Paulus ookal gedoen het,
het hy goed gedoen! Na die letter het hy voldoen aan AL die streng eise van die wet, en Al die oorleweringe en gebruike het hy onberispelik onderhou! As die regte afkoms, opvoeding en ’n onberispelike onderhouding van wette ooit ‘n mens kon red, moes Paulus seker ‘n sterk aanspraakmaker gewees het! Hy het gelukkig tot die besef gekom dat AL hierdie kwalifikasies en prestasies geen verdienste tot redding is nie! Hierdie besef het gekom by die ONTDEKKING wié Jesus Christus is en wat Hy as Verlosser en Redder kom doen het. Die uitwerking van hierdie ontdekking was só radikaal dat hy AL hierdie dinge in die lig daarvan nie net as “skade” (verlies) gesien het nie, maar dat dit wegwerplike vullis (drek) is! Meer nog – hy het besef dat hy nooit vir Christus as WINS kon verkry terwyl hy nog vasgehou het aan, of staat gemaak het op dit wat vir hom soveel status, aansien, sekerheid deur verdienste en selfs ‘n groot ywer gegee het nie. Hy sou volkome daarvan AFSTAND moes doen en ALLE aanspraak op enige verdienste op grond daarvan, moes hy verloën!
3.2 PAULUS SE SEWE WINSTE
3.2.1 KENNIS VAN JESUS CHRISTUS (v.8,10): Dít was die kenmerk van sy ontmoe-
ting met Jesus Christus – die Persoon na wie sy hart vir altyd gedors het! Namate hy die waarde, betekenis en krag van die “uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus” ontdek het, het hy ALLES skade geag en prysgegee, om Christus as WINS te verkry! Nie ‘n oppervlakkige “hoorsê-kennis” nie, maar ‘n intieme, eerstehandse en persoonlike kennis – dat Christus IN hom lewe!
3.2.2 IN HOM GEVIND TE WORD (v.9): Die “Christus IN Paulus”, is ook die
“Paulus IN Christus” (“IN HOM gevind te word”). Let op hoeveel keer Paulus die term, “IN Christus” gebruik. Jesus Christus was nie net vir hom ‘n Redder aan die Kruis of ‘n Verlosser in sy eie hart nie, maar ook ‘n WONING in Wie hy saam verhef is tot die troonposisie aan die regterhand van die Vader. Sy lewe was “saam met Christus verborge in God!” As jy hom kon of wou SOEK, het jy hom dáár gevind (Joh.15:5)!
3.2.3 GEREGTIGHEID DEUR GELOOF (v.9): Die geregtigheid van God erken die
eise van die gebroke wet wat die oortreder tot die dood veroordeel, maar die genade van God voorsien ook die volmaakte Plaasvervanger en voltrek die vonnis wat geregtigheid vereis, aan Hóm! Die óómblik wanneer GELOOF in Hom as Verlosser gestel word, word die sondaar se ongeregtigheid Hóm toegereken en Sy geregtigheid vir die sondaar. ALLE ander soorte geregtigheid, wets, eie- en godsdiensgeregtigheid skiet te kort! Vgl. Romeine 10:1-11.
3.2.4 IN KRAG VAN SY OPSTANDING (v.10): Die opstanding van die Here Jesus is
die grootste openbaring van Goddelike almag in die Nuwe Testament! In Efesiërs 1:19-22 bid Paulus vir ‘n openbaring van dáárdie opstandingskrag VIR óns. In Efesiërs 3:14-21 bid hy vir ‘n openbaring van dáárdie opstandingskrag IN ons. Waar die Kruis God se LIEFDE bewys, bewys die opstanding sy KRAG om volkome te red, te vervul en te bewaar! Die Kruis bewys wat mense van Jesus dink; die opstanding wat GOD van Hom dink! Die Kruis bewys die mens se absolute onmag om homself te red of God te behaag; die opstanding verskaf lewe wat herskep en God behaag. Vir gereddes waarborg die Kruis en opstanding vreugde en verwagting vir Sy wederkoms; vir ongereddes die komende oordeel (Hand.17:31). Gereddes wat Hom ken in die KRAG van Sy opstanding, deel ook in Sy opstandingslewe en in Sy oorwinning en heerskappy oor bose magte!
– 11 –
3.2.5 IN GEMEENSKAP MET SY LYDE: Alle lyding wat ons binne God se wil bly
moedig verduur – wat vir ons LYK na ‘n verlies – omskep God vir ons in ‘n ewige WINS! Louteringsvure is nodig want dit leer ons begrip en deernis vir die smart en lyding van ander mense en suiwer die onrein en onwaardige elemente uit ons gedagtes en motiewe! Dit brand ook die beeld van Christus by ons in en temper en staal ons om in Sy Naam en krag die hoogste spanning te kan weerstaan wat nodig is om in die geloofstryd te volhard.
LYDING was iets algemeen in Paulus se lewe – soos die Here dit in die begin vir hom voorspel het (Hand.9:16). Hy het dit as sy grootste voorreg en eer beskou om vir Christus te ly en het nooit daarteen in opstand gekom nie.
In die misterie van lyding kan ‘n mens nie altyd alles onmiddellik verstaan nie, maar jy kan aaneen vir God GLO en vertrou! Die sondaar mag direk ly as gevolg van SONDE(1 Pet.4:15). Die Christen mag ter wille van Christus ly (1 Pet.4:12-14), of soos Christus, met dieselfde gesindheid (1 Pet.2:21-23).
3.2.6 AAN SY DOOD GELYKVORMIG: Die ideaal om te deel in die KRAG VAN SY
OPSTANDING dwing die gelowige TWEE stappe terug, na die GEHEIM van daardie krag. Die eerste was gemeenskap aan Sy lyde. Die tweede is gelykvormig aan Sy dood! Paulus kon vir Christus LEWE omdat hy saam met Christus GESTERF het (Gal.2:20). Daar is net één soort dood wat ons gelykvormig aan Sy dood maak en dit is, “JA, die dood van die Kruis” (2:8) en dit beteken die arrestasie, vals beskuldiging, veroordeling en geweldadige skeiding van die “self-lewe” onder beheer van die sonde, met die gepaardgaande eersug voor mense. Dit beteken ook skeiding van die populêre metode van heiligmaking deur “werke-verdienste.”
Om jou kruis op te neem en Hom te volg, beteken jy is tot die dood veroordeel en gaan in die openbaar uit na die plek van teregstelling! “Hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam en die woord van hulle getuienis en hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie!” (Openb.12:11). Alleen wanneer daar ‘n innerlike, pynlike, geweldadige dood of kruisiging van die “oue mens” op grond van vereenselwiging met Christus aan die Kruis plaasvind, kan ook die wonder van God se volkome bevryding, verlossing en reiniging plaasvind. Die volle aanvaarding en geloofsoorgawe in volle, bewustelike besluitneming en medewerking van die gelowige, is in sy praktiese ondervinding ‘n KRISIS! Dáár ontdek hy dat die “dood van die Kruis” die poort tot Sy opstandingslewe en krag is!
3.2.7 DIE OPSTANDING UIT DIE DODE (v.11,21): Dit sien op die opstanding van
die regverdiges wat met die wederkoms van Christus sal plaasvind (Vgl 1 Thes.4:16,17). Let daarop dat Paulus in hiérdie verband in v.12 sê dat hy dit nog nie verkry het, of al “volmaak” is, of al die “doel bereik” (Gr “teleioo”) het nie, wat beteken om iets tot ‘n einde, tot voltooiing of finaliteit te bring wat beteken om die einddoel te bereik; byvoorbeeld om in ‘n toets te slaag, of ‘n taak met sukses af te handel en te voltooi. In die konteks van verse 11 en 12 beteken dit kwalifisering vir en afronding vir en tot opstandingsheerlikheid. (Vgl. Heb.10:14; 11:40).
Volmaak in 3:15: Grieks “Teleios” verwys ook na ‘n einddoel wat bereik is. Dit beteken voltooi, volkome, volmaak. Wanneer dit egter in hierdie konteks t.o.v. persone gebruik word verwys dit primêr na fisiese ontwikkeling en groei, met ‘n etiese verbintenis en verwysing na volwassenheid – byv. om normaal volwasse te wees vir jou ouderdomsgroep, soos ‘n 5 jarige kind volwasse (“teleios”) is vir sy/haar groep en ‘n persoon van 40 jaar vir sy/haar groep. Wanneer ‘n persoon van 40 jr egter nog maar die mate van volwassenheid van die kind van 5 jr besit, is hy/sy nog onvolwasse. Waar die woord in Fil.3:15 op die Christen se geestelike ondervinding toegepas word, het dit dieselfde etiese verbintenis en is dit ‘n verwysing na geestelike volwassenheid of
– 12 –
Christelike volmaaktheid. Dit is NIE absolute, Goddelike, of Adamiese volmaaktheid voor die sondeval, of engele volmaaktheid wat nooit in hierdie lewe bereik kan word, of sondelose volmaaktheid in dié sin dat so ‘n Christen nooit weer KAN sondig nie! Dit beteken wel verlossing, vrymaking en reiniging van die SONDE as ‘n vreemde element of indringer in die mens se hart.
In hierdie lewe het ons egter nog steeds ‘n neutrale, maar gevalle “liggaam” en word ons steeds in die wêreld deur sonde omring en bly ons blootgestel aan versoeking. Ons KAN dus weer sondig, net soos Adam en Eva gesondig het toe hulle die eerste keer versoek was! As ons egter waak en bid en altyd die Heilige Gees gehoorsaam, voortdurend in die lig wandel en in genade toeneem, is dit NIE NODIG dat ons voortdurend moet sondig nie. Christelike VOLWASSENHEID of VOLMAAKTHEID kan en behoort die normale ondervinding, selfs van ‘n pas wedergebore kind van God te wees! (Vgl 1 Kor.2:6; 14:20; Efes.4:13; Kol.1:28; 4:12; Heb.5:14)
Geestelike volwassenheid beteken dat daar normale, gesonde geestelike groei en ontwikkeling plaasgevind het. Verder, dat hierdie groei volgens die plan, standaard en wil van God plaasvind en dat die gelowige die standaard van geestelike kennis, ondervinding en gelykvormigheid aan Christus bereik wat verwag word na gelang van sy/haar geestelike ouderdom en die geleenthede en kanse wat hy/sy geniet en kan benut. Paulus kon met vreugde in v.17 uitroep: “Wees ook my navolgers broeders . . . ” Val agter my in! “Want ons burgerskap is in die hemele . . . ” Sy naam was daar opgeteken, hy praat die taal, gehoorsaam die wette, is lojaal aan die saak en verwag die HEMEL se HERE – die HERE JESUS CHRISTUS! Hierdie “wins” wat vir hom nog in die toekoms gelê het, het hom met groot vreugde vervul, gemotiveer en aangespoor. Met die oog van geloof het hy al hierdie dinge al hoe duideliker gesien en het die hemelse dinge vir hom al hoe meer waarde en betekenis gekry! HALLELUJA!
4. VIERDE PORTRET – CHRISTUS MY KRAG (4:13)
“Ek is tot ALLES in staat deur Christus wat my KRAG gee!” Hierdie krag is verseker ons Heer se opstandingskrag in ons aardse ondervinding (3:10). Vir Paulus en vir Christene van alle eeue is die vrug van dié KRAG dit wat in Hfst 4 geopenbaar en bewys word. “Krag gee” – Grieks – “Endunamoo” – to render strong. Power (dunamis) is translated “enabled” in 1 Tim.1:12. More lit. “in-strengthened” or “inwardly strengthened” suggesting strength in soul and purpose. (Vgl Kol.1:11; Heb.11:34; Hand.9:22)
4.1 VAS IN DIE HERE (v.1): God is die Rots en geloof is die anker. In Hóm is
ewige vastigheid en bestendigheid want Hy bly dieselfde, daarom is daar ook sekerheid! Hier spreek hy hulle weer aan met baie opregte teerheid, liefde en belangstelling. Slegs “in die HERE” kan hulle en moet hulle kan vasstaan (Rom.5:2)!
4.2 VERENIGING IN DIE HERE (v.2): “Ek vermaan . . . om EENSGESIND te wees in
die HERE.” ONenigheid en wrywing tussen Christene verwek onrus en spanning waar LIEFDE en die gesindheid van Jesus die uitstaande kenmerk behoort te wees, dit wat krag aan hulle getuienis verleen!
Waar hierdie “wortel” van bitterheid gekoester en toegelaat word om dikwels ondergronds voort te kruip, verwek dit onrus, besoedel dit baie met aansteeklike haat en eindig dikwels in ‘n gal van bitterheid wat verwoestend inwerk op die gees, siel en liggaam van die Christen – om nie eens te praat van die skade aan die saak van God en die oneer op die naam van Christus nie! (Heb.12:15). Bo alles bedroef dit die tere Heilige Gees!
– 13 –
4.3 VERBLY IN DIE HERE (v.4): Net soos by “staan so vas in die Here” en
“wees eensgesind in die Here” is dit hier weer: “verbly julle altyd in die Here”. Die blydskap van Paulus die nag daar in Filippi, toe hy saam met Silas in die tronk mishandel was, en sy oorvloedige blydskap wat onder die moeilikste omstandighede uit die tronk in Rome straal, was vir hulle ‘n onweerlegbare bewys dat die Geesvervulde Christen ALTYD “in die Here” bly kan wees en Hom ALTYD kan loof!
4.4 VRIENDELIK (v.5): Ná die bevel om teenoor alle mense vriendelik te wees,
vervolg hy dadelik, “Die Here is NABY!” Dit is asof die Here altyd vriendelikheid met Sy teenwoordigheid en nabyheid vereer!
4.5 VREDE VAN GOD (v.7,9): Tussen hierdie twee “vredes” in verse 7 en 9 is
vers 8, wat ‘n wonderlike voorskrif is vir die vernuwing van die gemoed en dit weer oefen ‘n ontsettend belangrike invloed uit op die gedragspatroon en lewenswandel van die Christen (Vgl. Rom.12:2; Efes.4:23; Kol.3:10; Titus 3:5). As God ons harte gereinig het, beheer ons gedagtes alles wat uit ons rein harte opwel, en bewaar ons van onrein dinge waarmee die Satan van buite ‘n aanslag maak! Ook ons begeertes (v.6) word geweeg en getoets deur gebed, hemelwaarts gerig deur smeking, en die antwoord in die geloof aanvaar deur danksegging! “Bewaar” in v.7 is ‘n militêre term waardeur die “vrede van God” heers en wagstaan (soos soldate) rondom die harte en sinne van die heiliges, om dit veilig en rustig in vrede te bewaar – wat Hy ook al mag toelaat om met hulle te gebeur!
4.6 VERGENOEGD (v.11): “Ek het geleer om vergenoeg te wees met die om-
standighede waarin ek is”. Die godsaligheid saam met vergenoegdheid is ‘n groot wins! Elke mens is in sy wese selfsugtig, hebsugtig en onvergenoeg, daarom moes ook Paulus vergenoegdheid deur dure ondervinding “leer” en hierdie onderrigting vind prakties plaas tussen die twee pole van “gebrek ly” (v.11) en “oorvloed hê” (v.12). Paulus het waarlik geleer om pynlike lesse in geestelike rykdomme te omskep!
4.7 VRYGEWIG (v.14-20): Hierdie gemeente het vir God gegee, nie net tot waar
hulle “seer gekry” het nie, maar tot waar hulle “lekker gekry” het! God sê Hy het ‘n blymoedige gewer lief! Vir diesulkes is die gebed van v.19 van toepassing.
TOT al SEWE hierdie dinge was hulle in staat deur CHRISTUS wat hulle KRAG gee. Soos Paulus, het hierdie Filippense, en kan ook ELKE CHRISTEN vandag nog die KRAG ontvang en ondervind om die gesindheid van Christus oorwinnend en PRAKTIES UIT TE LEWE!