Skriflesing: Psalm 4
PSALMS – REEKS NO 4 Tema: ‘n Dag in die lewe van ‘n man van God Skrif:
Psalm 4 Anders as by Ps 3, weet ons glad nie onder watter omstandighede Dawid Ps 4 geskryf het nie. Uit v 1 weet ons wel dat die lied gereeld in die tempel gesing was. Alle ware gelowiges kon hul dus daarmee identifiseer om te sê: “dis ook mý ervaring”. Dis opvallend dat die Psalm in drie dele uiteenval: 1. Dawid is alleen en praat met die Here. 2. Dawid is tussen ander mense en praat met húlle. 3. Dawid is weer alleen en praat met die Here en gaan slaap. Dis byna asof Ps 4 ‘n dag (oggend, dag, aand) in Dawid se lewe beskryf. 1. Hoe hy in die môre met die Here praat. 2. Hoe hy gedurende die dag teenoor ongeredde mense getuig en by hule pleit. 3. Hoe hy teen slapenstyd weer met die Here praat. Daarom die titel van hierdie boodskap: ‘n Dag in die lewe van ‘n man van God. Wanneer Dawid se dag begin – voordat hy met mense praat – is hy alleen met die Here. Hy waag nie om sy dag op ‘n ander manier te begin nie. Dit is duidelik uit vv 1-2 dat hy met persoonlike kwellinge worstel. Wat dit was, weet ons nie. Ons weet wel dat ‘n kind vd Here se lewe nie sorgvry is nie. Dawid se fokus is egter op God self. Hy word in die oggend wakker met ‘n sekere begrip/ duidelike fokus van wie God is. Ek wys u op die volgende 3 aspekte: 1. Hy besef dat hy geen reg het om in die Here se teenwoordigheid te kom nie tensy God self aan hom Sý 100% reg-wees (geregtigheid) skenk! Indien Dawid, as sondaar, deur God in Sy teenwoordigheid aanvaar sou word, moes God aan Dawid Sý volmaakte reg-wees skenk. Op geen manier is Dawid uit homself waardig om God se kind te wees nie. God moet hom waardig maak/verklaar. Dit is wat v 2 beteken: “O, God van geregtigheid.” In NT-taal sou ons sê dat God Sy Seun, Jesus, se volmaakte perfekte lewe en gehoorsaamheid aan Sy kind toereken sodat die gelowige IN Christus se reg-wees toegedraai is en só in God se teenwoordigheid mag verskyn. Dáárom mag daar ‘n persoonlike verhouding met God wees. Met hierdie visie op wie God is, dat Hy die God van geregtigheid is, begin Dawid sy dag. 2. Dawid het die vaste wete dat gebed sake verander. Nie omdat gebéd as sulks ‘n towerstaf is nie, maar omdat die HERE ‘n hoorder van gebed is. Dawid verwag werklik ‘n antwoord. Hy verwag dat die Here ‘n verskil in sy omstandighede sal maak. Gebed is nie maar net ‘n sielkundige terapie om van jou laste ontslae te raak nie. Jy praat nie maar net ‘n klomp goed in ‘n lugleegte in en hoop iemand hoor jou nie! Vir Dawid is die Here die gebed-antwoordende-God. Al waarop Dawid hom beroep is op God se genade. Niks in homself maak hom waardig om verhoor te word nie. Hy sê as’t ware: “Here antwoord my op grond van hoe/wat/wie Ú is. Ék verdien nie gebedsverhoring nie, maar Ú is genadig.” Sy vertroue is gebou op wat hy weet wie/wat/hoe die Here is. ‘n Mens kan so maklik jou verwagting en vertroue in gebed verloor omdat jy té bewus is van wie/wat/hoe jý is. Wat die Here van ons verwag is net eerlikheid en ootmoed om op Hom te hoop. Hoe wonderlik: Die ding wat in Dawid se gedagtes is wanneer hy wakker word is: Die Here antwoord gebed o.g.v wie HY is. Hy hoor my. Ek wil die dag binnegaan in gemeenskap met Hom. 3. Dawid weet wat die Here in die verlede vir hom gedoen het. Vers 2: “Voorheen het U my bevry..” Hy onthou hoe die Here hom voorheen verlos het. Hy het ‘n heldere getuienis van die Here se werk in sy lewe. ‘n Christen móét en sál ‘n getuienis hê. Elke Christen kán terugkyk op só ‘n tyd in sy/haar lewe: Tóé/ maar nóú; was blind/ nou sien ek; was dood/ nou lewe ek; was ver/ nou naby gekom; oppad hel toe/ nou op pad na die ewige heerlikheid. ‘n “Voorheen” en ‘n “maar nou”. Wanneer Dawid in die môre alleen met die Here verkeer, is hierdie dinge voorop in sy gedagtes. Hoe begin ú en my dag in die oggende? Ek kan my voorstel dat sommige mense se eerste instink is om na ‘n sigaret te soek of die radio aan te skakel of op die nippie uit die bed te spring en te jaag om betyds te wees vir dit/dat. Wel, nie Dawid nie. Hierdie “man na Gods hart” se hart/gedagtes/fokus is op die Here gerig. Wat ‘n geseënde manier om jou dag te begin. Dis voorwaar die wenpad. Maar dan, vanaf vers 3-6, is Dawid tussen mense. Nou is hy midde-in die dag. Dit is duidelik dat baie mede-Israeliete rondom Dawid nie werklik gelowiges/volgelinge van Christus was nie. Want in hierdie verse praat hy met mense wat nog nie die Here ken nie. Net soos die meerderheid mense binne die radius van óns daaglikse leefwêreld ook nie werklik gered is nie. Vraag is of ons met hulle praat soos Dawid hier doen. Dis waaruit sy dag bestaan: om ongelowige verbondsmense te evangeliseer. Hoor hoe praat hy met hulle: “Hoe lank wil julle nog so aangaan? Hoe lank wil julle nog my heerlikheid (letterlik) oneer aandoen?” (v3). “My heerlikheid” verwys na dít wat die naaste aan Dawid se hart lê. Dit is God self en Dawid se ken van Hom. Jou heerlikheid is dít wat jy die laaste aan sal vasklou wanneer jy alles in jou lewe sou verloor. Die laaste ding wat jy sou prysgee. Om God te ken, in Dawid se geval. Maar die ongelowiges verstaan dit nie en spot daarmee. Daarom vra Dawid: “Hoe lank wil julle nog so aangaan? Hoe lank wil julle aanhou om nietigheid & valsheid lief te hê?” Dawid is maar té bewus van die feit dat 80% van die mense wat nie die Here ken nie se lewe sentreer rondom nietighede – dinge wat van geen waarde sal wees voor God se troon nie! Dawid weet hoe maklik verloregaande mense leuens & valsheid & misleiding glo. Leuens soos byvoorbeeld: “Jy het foute, maar jy is nie só totaal verlore dat jy ‘n Verlosser nodig het nie.” Dis ‘n leuen. “Alle godsdienste is paaie na dieselfde hemel.” Dis ‘n leuen. “Die Bybel weerspreek homself en bevat foute.” Dis ‘n leuen. Ensovoorts. Dawid vra: “Hoe lank wil julle misleiding en leuens liefhê?” U sien: Hy praat sommer reguit met die mense in Jerusalem. Dan wys Dawid die mense hoe wonderlik dit is om ‘n ware gelowige te wees. V 4. “God het die gelowige vir Homself opsy gesit en Hy hoor gebed.” Is dit nie ‘n wonderlike vers nie? Waarom is die kind van God ánders as ander mense? Wat maak jou anders? Iets wat die HERE gedoen het/doen: Hy het my vir Homself opsy gesit. Hy het my gekies, lank voordat ek Hom gekies het (Joh 16:15). En Hy hóór my. Daar is ‘n persoonlike band! Natuurlik weet ‘n mens nie hierdie dinge die tyd wanneer jy vir die eerste keer tot die Here kom nie. Wat jy wel dan weet is dat die Woord nie almal se harte tref soos dit joune tref nie. Waar almal die stem vd prediker hoor, hoor jý die Here se stem. Ander bly soos hulle was, maar jy kom tot bekering. Ander glo nie, maar jy glo. Ander sien nie, maar jy sien. Nóú weet jy: Dis Hy wat jou vir Homself kom opsysit het – uit pure guns alleen. O, dis wonderlik om ‘n Christen te wees. Van alle mense op aarde het Hy sommige vir Homself opsygesit. Hoogs bevoorreg. En jý is een van hulle. Jy is deel van Sy mense. Hy het my vir HOMSELF op sy gesit sodat ek HOM mag geniet en liefhê en met HOM versoen mag wees. Dan is dit mos logies dat Hy jou ook sal hoor en verhoor. Hoe bevoorreg is ek! Ek is nooit alleen nie. Ek mag IN ALLES na die Here draai. Dawid pleit by die mense: DINK tog net ‘n slaggie goed hieroor na! Verse 5-6: Praat ons ooit met ons onbekeerde vriende op híérdie manier? “In jou ontsteltenis/woede, moenie sondig nie, maar dink oor wat ek jou gesê het.” Dawid weet dat die mense vir hom kwaad sal raak. Vertel (in alle liefde) vir ‘n onbekeerde mens dat al sy waardes waardeloos is en dat hy leegheid najaag en vertel hom dat jy is wat jy is as gevolg van die feit dat die HERE jou vir Homself op sy gesit het – en hy/sy sal beslis ontsteld wees. Dawid sê: “Wéés ontsteld, maar moenie dat dit jou verder van die Here wegdryf nie. Neem tyd om stil te raak en dínk na oor wat ek sê (v 5). Die een ding wat die sielevyand nie wil hê nie is, is dat ons sal stil word en dink en voorraadopname maak. Om tot stilstand te kom en te dink: “Waarvoor lewe ek regtig?” Die wêreld waarin ons leef sal alles doen om te verhoed dat ons stilword. Die normale ding is om op die laaste nippie uit die bed te spring, TV te kyk terwyl jy ontbyt eet, in die motor musiek te luister, by die werk honderde mensestemme te hoor en teen die aand doodmoeg te wees. Feitlik geen stilte vir ernstige nadenke. En ons vergeet dat die HGees juis praat wanneer ons stil is. “Wees stil en weet Ek is die Heer” sê die Skrif. Sien u hoe Dawid sy dag deurbring? Hy praat met mense oor dit wat saakmaak. Hy maan hulle om stil te word en na te dink. Maar óók om tot aksie oor te gaan en daadwerklik hulle vertroue op die Here oor te plaas (v 6). “Julle moet die offers bring en op die HERE vertrou!” M.a.w: NADER tot God. Kom DAADWERKLIK na die Here toe! Onthou: In die OT moes jy in die teenwoordigheid van God kom d.m.v. ‘n diere-offer wat in die tempel deur die priester op die altaar geslag word. Die offer moes in jou plek sterf omdat jy as sondaar in Gods teenwoordigheid verteer moes word. Nou kan jy bly leef en na die Here kom. Jesus was egter ons offer. Wat Dawid in NT-taal sê is: Draai om en plaas jou vertroue op Jesus se offer om jou te red! Kom na die Een wat mag het oor die dood en outoriteit het om jou te red. O, wat ‘n wonderlike manier om jou dag deur te bring: deur vir mense se siele-heil om te gee. Is dit oordrewe om te sê dat ‘n mens wat werklik die Here ontmoet het, iewers ‘n bediening sal sóék om verlore mense met die Evangelie te bereik? Is dit verregaande om te sê dat ‘n ware Christen ‘n gebedslys sal hê met name van verlore mense vir wie in gebed gestry word? Dat ‘n Christen se tweede natuur is om ingestel te wees op die redding van verlore siele? Op die vliegtuig, trein, bus. Bid vooraf vir kontakte en hou voorraad literatuur gereed. Is dit verregaande om te sê dat iemand wat die Here ontmoet het onvergenoegd sal wees om net ‘n erediens op Sondae by te woon, maar dat so iemand iets daadwerkliks wil DOEN om verlore mense te bereik? Maar, dan raak dit aand en Dawid is weer alleen (vv 7-9). Nou praat hy weer met die Here en kyk hy terug na die mense met wie hy gedurende die dag gepraat het. Mense wat vra: “Wát kan ons gelukkig maak? Wat kan ons lewens betekenis & sin gee?” Maar hulle gaan nie na die HERE met daardie vrae nie. Hulle besef nie dat die antwoord dalk in die lewende God geleë is nie! Hulle lewe sonder vrede en dink: “As ek dit/dat kan doen en hier/daar kan gaan, sal ek meer vrede vind.” Maar sonder sukses. Soos om seewater te drink – dorstigheid word net al hoe erger! Teen die aand is Dawid alleen en dink hy aan hierdie mense. En dan sê hy (v 6): “Ek sal nie vrede & blydskap soek waar hulle dit soek nie, want U het my groter vreugde gegee as wat die boere het ná ‘n reuse oes. Hulle is baie opgewonde wanneer hulle koring en wyn in oorvloed het. Maar my blydskap is groter, want dit is innerlik en dit is van die HGees – dis nie gekoppel aan uiterlike goed nie. Ek weet die hemel is ‘n werklikheid en aardse goed gaan verby. Daarom sal ek nou onbesorgd gaan lê en dadelik aan die slaap raak. Want ek weet U is daar.” Wég is die dinge wat vir Dawid die oggend nog so geknel het. Want hy het die dag met die Here begin en erns gemaak met gebed. Hy het met Hom gewandel dwarsdeur die dag en was ingestel op ander se sieleheil. Hy het die dag met Hom afgesluit. ‘n Groot kontras met die onbekeerde mens vir wie alles onseker is en wat die dag begin, spandeer en eindig met homself & die wêreld en wat dink dat gebed net ‘n praat-in-die-wind is. Maar dáárvan is die gelowige genadiglik verlos.