TAFELBERG GEMEENTE PSALMS-REEKS NO 25: PSALM 25

Mens kry baie soorte “A-Z” handleidings. “Die A-Z van dit en van dat.” Met ander woorde: Alles wat jy van dit en van dat moet weet – is in hierdie en hierdie gids vervat.

 

Ons kan Psalm 25 die A-Z van “leiding” noem. Die manier hoe God Sy mense lei. “Guidance”.

 

Ons kan dit die A-Z noem omdat die Hebreeuse alfabet 22 letters het en in die Hebreeuse teks van Psalm 25 begin die verse met ‘n letter van die Hebreeuse alfabet. Die verse loop m.a.w in alfabetiese volgorde.

 

Een rede hiervoor was waarskynlik dat dit dit makliker gemaak het om die psalm te onthou. Die psalm was dus in besonder bedoel om onthou te word en selfs gememoriseer te word. Daar is natuurlik ook ander Psalms wat op dieselfde manier ingedeel is. Byvoorbeeld Psalm 119 waar daar hele paragrawe is wat só genommer is.

 

Psalm 25 is dus ‘n psalm wat oorspronklik bedoel was om spesiaal onthou en gememoriseer te word. Die Here wil hê dat ons spesiaal van die 25ste psalm moet kennis neem. ‘n Gelowige in Christus is iemand wat op ‘n besondere manier daarop ingestel is om die leiding van die Here te wil ken en volg. Die ongelowige mens volg net sy/haar eie self. Die ongelowige mens is sy eie god. Maar nie die Christusgelowige nie. So iemand het die Kurios ontdek – die HERE – die Groot Direkteur.

 

Met die “leiding” van die Here word nie net bedoel goed soos “met wie moet ek trou” of “moet ek dit of dat gaan studeer” nie.

 

Die hele lewe van elke dag bestaan uit honderde besluite – klein of groot. Die meeste van hulle kan redelike gevolge hê. ‘n Mens hoor beslis nie elke 10 sekondes ‘n fluisterstem wat jou lei en rigting gee nie! Die vraag is hoe ‘n mens dan iets soos die Here se leiding in jou lewe moet verstaan. Hoe lei die Here jou terwyl jy tog ook ‘n gesonde verstand het en omstandighede waarneem?

 

Wel ons weet dat Hy ons lei deur Sy Woord, deur ons gesonde verstand, deur omstandighede, deur indrukke en die duidelike besef van dinge. Soms lei Hy ons sonder dat ons eens daarvan bewus is – ons sien dit net wanneer ons terugkyk.

 

Een ding is seker en dit is dat ‘n Christusgelowige nooit daarop kan aanspraak maak dat hy/sy die Here se leiding onfeilbaar foutloos kan waarneem nie! So byvoorbeeld het die profeet Natan gedink die Here wil hê dat Dawid die tempel moet bou terwyl dit eintlik Salomo moes wees (2 Sam 7). En Paulus-hulle het gedink die Gees lei hulle na Bitinië terwyl Hy hulle eintlik in Masedonië wou hê (Hand 16).

 

Maar al misgis ‘n mens jou soms en neem jy verkeerde besluite en probeer jy toe deure oopforseer, oorheers die Here in Sy onvoorwaardelike liefde jou foute en lei Hy jou steeds soos ‘n Herder sy skaap.

 

Die psalm bied ons 5 praktiese waarhede:

 

1 VERS 1 > TOT U O HERE RIG EK MY > Alles begin by gebed. En nie noodwendig woorde nie, maar die beweging van die hart! Is dit nie fasinerend nie! “Tot U rig ek my hart.” Gebed ís natuurlik praat/woorde. En tog hóéf dit nie te wees nie! Ten diepste is gebed die beweging van die innerlike mens, die siel. Dit is die gemeenskap/fellowship van geeste.

 

Hier word daar oor gebed op verskillende maniere gepraat. Kyk na vers 15> “My oë is altyd op die Here gerig.” Die beeld wat gebruik word is dié van die koning op die troon met al sy paleisbeamptes rondom hom versamel. Hulle oë is gerig op die geringste handbeweging of gesigsuitdrukking van die koning. Hulle hou hom heeltyd dop. Slegs ‘n handbeweging spreek boekdele. Woorde hoef nie eens uitgespreek te word nie.

 

‘n Mens hoef nie fisies ure en ure op jou knieë te staan in jou binnekamer om die Here se leiding te beleef nie. Jou hart kan wel na Hom opsien – selfs al sit jy in besige verkeer. Dis ‘n kwessie van gees-tot-Gees-gemeenskap. Terwyl jy die mees bedrywige dag beleef, kan daar steeds ‘n beweging van jou hart/innerlike mens wees wat met die Here kommunikeer en na Hom opsien. Dit is hoe wonderlik die insluiting in Christus en die inwoning van die Heilige Gees is. Dat Hy nader aan jou is as wat jou eie lewe aan jou is.

 

Kyk ook na vers 3: “Niemand wat sy verwagting in U stel sal beskaam word nie.” Ook vers 5: “In U stel ek daagliks my verwagting.” VERWAGTING STEL IN. Dis nog ‘n manier hoe gebed beskryf word in psalm 25. Letterlik in Hebreeus: “Wag op…” Kyk ook na vers 21: “Op U vertrou ek..” Vers 20: “Ek skuil by U..”

 

Sien u hoe belig hy gebed vanuit verskillende hoeke. En alles kom neer op die beweging van die hart. Met verwagting – van Hom. Dis ‘n verwagting op Iemand wat teenwoordig is. Dis nie die frustrerende wag soos vir iemand om ‘n afspraak na te kom nie. Nee, die Heilige Gees verseker jou uit die Skrif in jou hart dat jy aan Hom behoort. Dat jy duur gekoop is.

 

2 VERSE 1-7 IN GEHEEL > DAAR IS ALTYD DRIE PAAIE OM VAN TE KIES : Daar is HULLE PAD (vv 1-3), SY PAD (vv 4-5) of MY PAD (vv 6-7).

 

Dawid is bedruk a.g.v. die druk van sy vyande. Óns vyand is die duiwel en die bose en die wêreldsisteem wat dikwels subtiel deur ons emosies en denke wil werk. Somtyds blatant deur pure bose druk. Soms werk hy deur die mense rondom ons – die druk om te konformeer.

 

Dis ons keuse: HULLE pad. Die pad van die vyand. Die pad van die wêreldsisteem. Die pad van die méns.

 

Daarom vra Dawid: Wys vir my Ú pad. Dis die tweede opsie. “Leer my Ú paaie en Ú waarheid – ek wil daarin onderrig word.” U is my Redder. Ek is nie meer deel van die “hulle” nie. Ek is gered. Ek is eenkant geplaas. Ú pad vir my, dankie.

 

Die tweede opsie is altyd SY PAD.

 

En tog is daar ook die moontlikheid van MÝ PAD. Kyk na vv 6-7. Ons hoef nie baie lank te leef net om té deeglik te besef watter simpel en dwase keuses ons dikwels gemaak het. Van kleintyd af is dit reeds so. Sonde is gek-heid (Pred 9:3).

 

Dawid het egter sekerheid van iets baie beter: Die Here is goed en Hy is getrou aan Sy eie beloftes. En dit is sterker as die sonde en die verlede en die dwase keuses wat hy gemaak het. Iemand anders is groter as MY PAD. Lank voordat MY PAD begin het, was Hý reeds daar in Sy verbondsgenade. Lank voordat MY PAD begin het, het die Here Jesus reeds in my plek gesterf op die kruis.

 

Laat ons nou let op verse 8-15 waar ons ‘n verdere beginsel leer. Die Here lei mense wat ‘n sekere soort karakter openbaar. Ouers sal dit baie goed verstaan. As jou kind opstandig, rebels, onbeskof en sommer net dwars en lelik is en dan jou advies kom vra, is dit maar moeilik om hom/haar tegemoet te kom. Veral omdat die besef van eenheid en “fellowship” bederf is. Jy is ook glad nie oortuig dat hy/sy jou advies enigsins ter harte sal neem nie.

 

Ons sien dit in hierdie verse. Kyk daarna: die “hulpeloses”. M.a.w die wat hulle afhanklikheid besef en erken. Hy leer hulle Sy pad.

 

Verder: “diegene wat Sy verbond bewaar.” M.a.w mense wat erns maak met die feit dat die Here Homself aan hulle gaan verbind het toe hulle nie aan Hom verbind wou wees nie.

 

Verder vers 12: “iemand wat die Here dien” leer watter pad hy moet kies. Hy neem sulke mense in Sy vertroue (v 14).

 

Vers 15: Wie “se oë op Hom gerig is.” M.a.w mense wat iets het van die innerlike hart wat na Sy kant toe beur ómdat Hy eerste Sy verbond met hulle gemaak het.

 

Mense wat die Here se leiding in hulle lewens ervaar is mense wat bereid is om hulle halstarrigheid en dwarstrekkerigheid te laat vaar en te buig voor die pad wat Hy aandui. Hóé moet die Here jou lei as jy dink jý weet die beste? Kan ‘n pa ‘n kind wat só ‘n gesindheid het, advies gee? Die Here se mens wat nie “teachable” is nie, sal nie Sy leiding beleef nie. So eenvoudig soos dit.

 

Dis mense wat – soos vers 11 sê – iets van die gees en gesindheid van gebrokenheid en erkentlikheid ken.

 

Kan u sien hoe al hierdie verse sinspeel op een ding: ‘n ootmoedige gees?

 

Die groot verrassing is vers 8: “Hy wys selfs vir sóndaars die pad aan.” Die ootmoedige gees beteken dus nie een of ander vlak van volmaaktheid nie, maar juis ‘n erkentlikheid van hoe feilbaar ek is.

 

Die Bybel is darem maar net anders as wat ‘n méns dit sou uitgedink het. Ons sou dink: Ómdat ek in die verlede sulke verkeerde besluite geneem het en so dwars was en simpel keuses gemaak het en verkeerde afdraaipaaie geneem het, sal die Here my níé lei op my pad nie! Daar is geen hoop dat Hy Hom verder met my sal bemoei nie.

 

Die psalm draai dit om. Hy sê: Die feit dat jy gesondig het diskwalifiseer jou nie om die Here se leiding in jou lewe te mag ervaar nie. Dis die groot verrassing. Ja, die Here lei diegene wat ootmoedig, nederig, “teachable” is en wat iets van gebed ken en wat die verskil sien tussen HULLE pad & MY pad en SY pad.. Dis waar. Maar die feit is: Ons maak steeds foute. En luister na vers 8: “Hy wys selfs vir sondaars die pad aan.”

 

Hoe op aarde kan dit wees? Vers 11 gee die antwoord: Die Here God spesialiseer met wat die Bybel VERGIFNIS noem. Dit is juis die wonder van die Verbond: Nog lánk voordat ons ons eerste sonde kon doen, het Hy Hom aan ons kom verbind. Verbond = verbind. Vasknoop. Insluit by. Die passie in die hart van die lewende God is dat álmal wie Hy by Sy verbondskontrak ingesluit het, voorspoed sal geniet! En hulle kinders! (v 13).

 

Die passie in God se hart is nie om mensekinders uit te delg en reg te sien en voor stok te kry en te straf en in die ewige vuur te gooi nie!! Dis omdat ons in ons agterkop só dink en redeneer wat ons so angsvallig is en so min van die Here se leiding beleef! Ons is altyd so terug-op-die-brug. Want sê nou maar net…… Ons verstaan nie wát werklik in die Here se hart vir ons brand nie! Voorspoed, sê die Skrif! Leiding (guidance)!

 

“Ja maar dit kan nie, want ek is so ‘n groot sondaar en ek het so gruwelik verbrou in die verlede” huil & sanik ons. Dan sê die Here: “Dáárvoor – vir daardie brouwerk van jou – brand daar VERGIFNIS in my hart vir jou!” Dis ‘n vergifnis wat al 2000jr gelede op Golgota se kruis afgehandel en klaargemaak is. Hoe kan ons enigsins daaroor twyfel? Dit is deur Sý getrouheid en verbondsliefde wat ons aan Hom gebind is. Nie deur ons getrouheid of liefde nie.

 

Hoor u die hartklop van Psalm 25??

 

Maar dan is dit asof die psalm skielik sy wysie verander. En dit bring ons by die vierde waarheid. Kyk na verse 16-21: “Die Here se leiding in ons lewe gaan soms gepaard met sielewroeging”.

 

Ons is dikwels geneig om na die wonder van die Blye Boodskap te kyk, die wonder van volmaakte verlossing, perfekte geregtigheid wat ons in Christus ontvang het. Dan dink ons dat die lewe met Hom net een groot lág is.

 

Dit is wat ons logika sê ja, maar dit is nie die realiteit wat die Bybel vir ons teken nie. Volgens die Skrif ken ‘n gelowige ook soms ‘n graad van “agony” – pyn. Somtyds PLEIT ‘n Christen voor die Here. Somtyds gaan ‘n Christusgelowige in stryd en klá.

 

Kyk na vers 16: “Síén my in genade aan, want ek voel eensaam en verstote.”

 

U sal sê ja maar ‘n Christusgelowige is mos nie verstote nie. Nee, maar jy kan wel so voel!

 

‘n Christusgelowige kan in die allergrootste nood verkeer. En voel om in ellende vasgeval te wees. Dit kan soms regtig slég gaan met ‘n mens wat in Christus ingesluit is. Jy kan soms swaar kry. Jy kan vyandigheid van mense beleef en selfs hatigheid. Kyk maar na verse 17-19 en u sal dit daar sien.

 

Soms het ‘n Christusgelowige beskerming en koestering nodig. Soms het ‘n Christusgelowige redding uit nood nodig. Soms wil ‘n Christusgelowige uitroep: Here laat Ú onskuld en Ú opregtheid oor my die wag hou, want in myself het ek dit nie!”

 

Hierdie ervarings staan nie téénoor ‘n Geesvervulde lewe nie!

 

Sommige kerkgroepe sê ‘n Geesbeheersde Christusgelowige kan nie en mag nie swaarkry en nood beleef nie. ‘n Heilige Gees beheerste mens mág nie sielewroeging hê nie. Dis kwansuis ‘n teken van ongeloof. Niks is verder van die waarheid verwyder nie.

 

Kyk byvoorbeeld die kontras wat iemand soos Paulus in Romeine 8:23 ingebou het: “Ons wat die Heilige Gees ontvang het, sug ook.” Die hê-van-die-Heilige-Gees en ‘n gesug is nie ‘n weerspreking nie! Dit staan nie teenoor mekaar nie. Dis ‘n werklikheid!

 

Die waarheid is: In sielewroeging ervaar ons dikwels so duidelik die leiding van die Heilige Gees. Waarom? Omdat die Here se hart iets soos swakheid onweerstaanbaar vind. Die hele verlossingswerk van God het in en deur swakheid plaasgevind. Die grootste krag ooit is in die grootste swakheid volbring. Deur swakheid word God se krag geopenbaar: 2 Korint 12:10.

 

Die Here ontmoet vir Jakob in die Jabbokrivier en verander sy naam na Israel – wanneer? Toe hy mank loop.

 

Moet nooit terugdeins van swakheid nie. As ons swak is, is ons sterk. God lei die wat weet hoe swak hulle is. En wat ‘n oog vir ánder het.

 

Kyk vers 22: “O Here, red tog vir Isael uit sý nood.” Skielik nie meer “ek/my” nie, maar “hulle”. ‘n Christusgelowige begeer nie iets van die Here wat hom/haar bó ander kan plaas nie. ‘n Ervaring/gawe/belewenis/insig wat kan maak dat jy iets het wat ander nie het nie. Luister maar na die Onse Vader gebed: ONS (nie MY) Vader…..ONS oortredinge ens. Die individu se oog is altyd op die ánder gerig.

 

Mag ons die Here se leiding in ons lewens ondervind. En mag ons gemeente dit ondervind – in toenemende mate. 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00