TAFELBERG GEMEENTE PSALMS-REEKS NO 22

Psalm 22

Tema: Van lyding tot heerlikheid

 

Ek wens ek kon weet wat in u gedagtes opgekom het toe ons Psalm 22 gelees het. Daar sou sekerlik ‘n paar van u gewees het wat gedink het: Maar dit gaan mos oor die Here Jesus Christus.

 

Ja, jy lees Psalm 22 en jy weet: alhoewel dit 1000jr vóór Jesus se geboorte in Betlehem geskryf is, handel dit eintlik oor Hóm.

 

Natuurlik gaan dit eerstens oor Dawid se eie ervaring van hooploosheid en gevoel van verwerping. Dit is eerstens Dáwid se eie storie van oorbeweeg vanaf gevoelens van Godsverlatenheid tot Godsgevondenheid! Kyk maar na die gemoedswaai vanaf verse 1-23 na verse 24-32. Dawid se gemoed swaai van somberheid tot lofprysing en blydskap.

Tog is daar in die NT vyftien verwysings of aanhalings na/van hierdie psalm. In die vroeëre kerk is na Psalm 22 as die “vyfde evangelie” (naas Mat, Mrk, Luk en Joh) verwys! Ten diepste toe handel Psalm 22 profeties oor die Groter Dawid – ons Here Jesus.

 

Hoe is so iets moontlik? Hoe is dit moontlik dat ‘n man goed oor sy eie ervaring kan skryf en dat dit 1000jr later in iemand anders se lewe vervul word? Dit is moontlik as gevolg van die bediening van God die Heilige Gees. Hý het deur die profete gepraat. Die Heilige Gees het deur die profete die lyding van Christus bekendgemaak. En ook die heerlikheid wat daarop sou volg (1 Petr 1:11).

 

Dawid was deur die Heilige Gees meegevoer en het dinge geskryf wat hy self nie heeltemal verstaan het nie. Dinge wat sy eie ondervinding te bowe gegaan het. Ja, sy bedoeling was om oor sy eie belewenisse te skryf en hy het dit ook gedoen, maar in die proses het die Heilige Gees hom beweeg en het hy dinge geskryf wat eenvoudig op niemand anders toegepas kan word as op die Here Jesus Christus nie.

 

Ons het hier met ‘n goddelike fenomeen te doen: dat Christus se lyding en verheerliking ‘n duisend jaar voordat dit plaasgevind het, beskryf kon word.

 

Psalm 22 handel oor die lyding en verheerliking van Christus. Dit sê selfs vir ons wat deur Sy gedagtes gegaan het toe Hy aan die kruis gehang het. Vanaf verse 22-32, handel dit ook oor die heerlikheid ná die kruis. Dit beskryf vir ons die toekomsvisie wat die Here Jesus in Sy hart gehad het toe Hy daar gehang het. Hoe Hy vooruit gesien het dat hy verheerlik sal word ná Sy dood en hoe Sy lyding en dood vrug sal dra tot in die verste, verste toekoms. Hoe die vrug van Sy lyding uiteindelik tot alle mense se heil sal dien, hoe dit die mensdom insluit in die verlossing! Hy is die versoening vir die sondes van die hele wêreld (1 Joh 2:2). In Hom is die sondes van die wêreld weggeneem (Joh 1:29). Dit is reeds weg.

 

Kom ons kyk nou daarna: Die vernedering en lyding van ons Here Jesus Christus: Verse 1-22.

 

Ons sien hier ‘n paar groot waarhede:

 

Verse 1-6 > Die komende Messias versaak deur God. Kyk na daardie verskriklike woorde: “My God my God waarom het U my verlaat en bly U so ver staan?” Dit lei ‘n mens na Matteus 27: “Van die sesde tot die negende uur was daar duisternis oor die hele land. Teen die negende uur het Jesus met ‘n harde stem uitgeroep: Eloi eloi lama sabagtani? Dit is: My God my God waarom het U my verlaat?”

 

Jesus het dus Psalm 22 se woorde nágesê. Omdat dit die waarheid was van wat Hy op die kruis beleef het. Dit was die ware diepte van Sy lyding. Die ergste was nie die penne deur Sy hande en voete nie. Ja, kruisiging wás ‘n vreeslike manier van ly en sterf. Die ergste denkbaar. Maar die ergste vir Christus was die lyding van Sy siel. Dit is en bly een van die mees diepsinnigste gebeurtenisse ooit. Wanneer ons daaroor praat vanoggend is dit of ons op heilige grond loop.

 

Koning Dawid se persoonlike wroeging was dat – alhoewel God in die midde van Israel gewoon het – dáár by die tempel waar die offers gebring is en die volk Sy lof besing het – en alhoewel Hy betroubaar is en gebed antwoord – die Here nou vir hom wat Dawid is, verlaat het en ver van hom af is. Of altans: so vóél dit.

 

Wat presies Dawid se omstandighede was weet ons nie, maar ons weet dat ín hierdie ervaring wat Dawid gehad het, ons die Here Jesus se wroeging op Golgota sien. Wat ons dus moet doen is om ín Dawid se ervarings die Here Jesus se ervaring profeties in te lees. Dan klink dit só:

 

Omdat die Here Jesus Gód is, het dit nie beteken dat Hy hierdie lyding ligter ervaar het as wat dit werklik was nie. Jesus is ook eg méns en in Sy mensheid het Hy dit net so intens beleef as wat enige mens sou. Sy Godheid het nie Sy mensheid te hulp gekom en versterk nie. In Sy menswees het Hy die volle impak van die lyding beleef. En daarby was Hy nie ‘n sondaar soos ander mense nie. Sy onskuld en blaamloosheid het dus die lyding verintensifiseer – want Hy het dit op geen manier verdien nie.

 

Met dit in gedagte, kyk nou net na Psalm 22 en sien hoe intens die Meester se ervaring was – veral op die kruis:

 

Ons Here Jesus het Homself as ‘n wurm beleef – nie ‘n mens nie. Verag deur die volk en bespot deur die mense vir wie Hy vir jare lank bedien het met Gods genade. Almal wat by die kruis verbyloop, spot Hom en steek vir Hom tong uit en sê: “As God dan so danig baie van Hom hou, laat Hý hom red.”

 

Die gedagtes wat deur die Here se kop gemaal het terwyl Hy daar aan die kruis hang: “Maar Vader, dit was dan Ú wat my my eerste lewenslig laat sien het. Van my geboorte af was ek onder U sorg. Vandat ek my oë op hierdie aarde oopgemaak het, is U my Vader. En nou ervaar ek U as ver weg. Al wat ek sien is wreedaardige mense wat my omsingel. Soos verskeurende leeus pyl hulle met oop bekke op my af. En U doen niks! My hart voel soos was en al my bene het uitmekaar geval. Ek is besig om te sterf. Ek is besig om dood te gaan. Dis asof my hart weggesmelt het. Ek, wat van alle ewigheid af aan U boesem was Vader, is nou so min werd soos ‘n potskerf. My tong kleef aan my verhemelte vas. U gee nie om of ek doodgaan nie. Dis hoe ek voel. Hierdie misdadigers het my soos honde omsingel en my vasgebind sonder dat U ‘n vinger verroer. Ek is só gegésel dat my ribbebene uitsteek. Mens kan hulle tel. Ek sien hoe hulle my klere verdeel en lootjies trek oor wie my aaneengeweefde mantel moet kry. Vader, U is die bron van my krag. Moet asb tog nie aanhou om so ver van my te bly nie! Red my tog uit die mag van die honde en uit die bek van die leeu”.

 

Hoor u dit? Is dit nie wonderbaarlik hoe ons déúr Psalm 22 die Here Jesus se innerlike wroeging beleef nie? Mens hóór letterlik Sy gedagtes. Is dit nie aangrypend nie? Dat ‘n psalm – wat eeue vóór Christus se kruisdood geskryf is – ‘n klankbord is van die innerlike wroeginge van Christus. Dis iets wat selfs die NT – wat ná Christus se opstanding geskryf is – nie beskryf nie!

 

En dan, vanaf vers 23, verander die toon van die psalm skielik. Van wroeging tot lofprysende uitroepe! Uitroepe van hoop en bevryding en triomf.

 

Wat op aarde gaan nou aan? Net een moontlike antwoord. Nou verwoord die Heilige Gees die Here Jesus se belewing van Sy verheerliking ná Sy lyding.

 

Luister na Sy hart: Nie meer “waarom het U my verlaat” nie, maar…

 

“Vader Ek sal U Naam in die volle vergadering prys. Álmal moet U prys en vereer. Toe ek so hulpeloos was, het U my nié verlaat nie. Ek het so gevoel ja, maar dit was in werklikheid nié so nie. U het U nie van my teruggetrek nie. Die loflied op my lippe kom van U af Vader. Die verlossing wat U deur my lyding en dood bewerk het, sal van geslag tot geslag verkondig word en daardeur gaan mense die léwe ontvang en hulle denke oor U verander en na U toe draai. Dit gaan oor die hele wêreld gebeur. Deur al die eeue heen sal daar oral op aarde mense uit alle nasies wees wat uit die vrug van my lyding sal leef. Dit gaan van alle volke waar word. Álle mense sal uiteindelik voor U kniel. Elke tong sal U Naam bely. Voor U aangesig sal hulle kniel. Dit sal die uiteinde en vrug van my lyding wees. Prys U Naam Vader nou en vir altyd en van geslag tot geslag.”

 

Hier het ons nou – deur die venster van Psalm 22 – tot binne-in die gedagtes en innerlike mens van die Here Jesus gekyk en gesien hoe Hy self Sy lyding, dood en verheerliking beleef het.

 

Nou is die vraag: waarom dit alles? Wat beteken dit? Wat beteken dit dat ons Here Jesus op die kruis beleef het dat Sy Vader Hom verlaat het (v2) en later ontdek het dat Sy Vader Hom in werklikheid nié van Hom onttrek het nie (v25)? Waarom dan daardie noodkreet en wroegende uitroep? Wat beteken dit? Wat beteken dit vir óns? Dis die vraag wat ons moet antwoord.

 

Ek wil probeer om dit só te verduidelik:

 

Hoe ongelooflik dit ookal mag klink:

Die Here Jesus het doelbewus óns (die menslike ras) se sonde gebruik en Homself onder ons sonde/haat/verwerping/spuug en hoon gestel om ‘n verhouding met ons te bewerkstellig – om ons binne-in Sy lewe in te sluit, om ons in te sluit by Sý eie verhouding met Sy Vader en die Heilige Gees. Hy het hierdie insluiting bewerkstellig deur ons op ons laagste en donkerste punt te ontmoet. Hy ontmoet ons daar deur Hom onder ons oordeel en verwerping te plaas. Die vrug en nagevolge van ons sonde het letterlik Sýne geword.

 

Die toorn wat die Here Jesus beleef het, was óns s’n – die mensdom s’n. Hy het óns vyandskap beleef (Hebr 12:3). Volgens Matteus 20:18 was dit die ménse wat Hom veroordeel en verag en verwerp het. Die vernedering en pyniging wat Hom toegedien is, was uit óns hand. Maar volgens Hand 2:23 het dit volgens God se bedoeling só plaasgevind. Want – hoe ondenkbaar dit ookal mag wees – het Hy Hom aan die dieptepunt van ons duisternis onderwerp om ons binne-in ons duisternis te omhels. Hy omhels ons op ons heel slegste. Ons onderwerp Hom aan ons veroordeling, verwerping en moord en toe neem Hy juis dít en bewerkstellig ons aanvaarding en aanneming by God. Hy buig in onder ons woede en toorn en dra ons binne-in ons duisternis tot in die Vader se arms.

 

Die tweede aspek van die Here Jesus se lyding is die feit dat Hy God die Vader se ewige NEE teen sonde ervaar. Hy het ervaar en beleef wat dit beteken dat die Vader vanaf die Tuin van Eden reeds NEE sê vir alles wat Sy bedoeling met die mens kan bedreig. Hy sê NEE vir die diepe geestelike siekte en smet wat die menslike ras vanaf die tyd van Adam se ongeloof binnegekom het.

 

Hy sê NEE vir die gebrokenheid, duisternis, vervreemding wat so diep in die mens se bestaan wortel geskiet het.

 

En in daardie NEE ego Sy ewige JA vír ons.

 

God is vír ons – daarom is Hy absoluut radikaal ewiglik passievol gekant téén enigiets wat ons kan vernietig of skade berokken. Sy vurige gedetermineerde teenkanting/verset/opposisie teen die sondeval is Sy ewige NEE juis omdat Hy vir ons JA sê!

 

Dit is terloops ook hoe ons iets soos die toorn van God moet verstaan. Sy toorn is nie die teenpool van Sy liefde nie. Dit is ‘n kwaliteit van Sy liefde. Sy toorn is Sy liefde in teenkanting teen alles wat Sy droomplan vir ons bedreig en wil vernietig!

 

Dis juis omdat God ‘n ewige JA oor die menslike ras uitgespreek het, dat Hy die sonde tegemoetgaan met ‘n onverbiddelike NEE!! “NEE, ek het julle nie geskape om in duisternis te sterf nie!!”

 

En dit is daardie NEE wat die Here Jesus (as Plaasvervanger van die menslike ras) op die kruis beleef en wat in Psalm 22 verwoord word. Die Godverlatenheid wat Hy beleef is in werklikheid óns godsverlatenheid wat Hy námens ons uitroep – as ons Plaasvervanger.

 

En só buig Hy die gevalle Adamiese ras óm, terug na God se oorspronklike droom toe. Gebroke vervreemde perverte menslike bestaan word herskep en teruggebuig na die Vader toe.

 

Waarom beleef die Here Jesus dat Sy Vader Hom verlaat het?

 

Omdat die Vader weier om ons te verstoot. Omdat Hy voor die Skepping ‘n droom/visie vir die menslike ras gehad het wat Hy nie sal loslaat nie.

 

Jesus gaan na die kruis om die Sondeval ongedaan te maak en om die Adamiese ras na Sy Vader toe terug te draai. Hy sterf om vervreemding en afstand te vernietig ten einde Sy Vader se droom van ons aanneming as kind van God te verwesenlik.

 

Op die kruis het Hy kontak gemaak met die Tuin van Eden en kontak gemaak met Adam & Eva waar hulle beangs vir God wegkruip. Hy het kontak gemaak met die oorspronklike sonde en leuen en duisternis. Toe Jesus aan die kruis hang het die Vader/Seun/Gees letterlik kom tent opslaan binne-in ons diepste hel. Hy het die vestings van duisternis binnegedring en oorwin.

 

Die Vader se onverbiddelike NEE op die sonde kom op die Here Jesus neer en ons hoor hoe roep Hy JA – dit is volbring! 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00