TAFELBERG GEMEENTE PSALMS-REEKS NO 21
Psalm 21
Tema: Lied van oorwinning
Psalm 21 is ‘n buitengewone psalm. Want dit is eintlik 3 psalms in een! Drie onderskeie psalms met presies identiese bewoording. As jy Psalm 21 lees en dit weer lees en dit weer ‘n keer lees, het jy drie psalms gelees – sonder dat die woorde verander het. Hoe wonderlik is die Bybel as Woord van God nie?!
Psalm 21 gaan oor koning Dawid. En dit is ten nouste verbind met Psalm 20. Psalm 20 is ‘n gebed vóór die veldslag begin – soos ons verlede week gesien het. Die troepe is gereed. Die baniere wapper. Die offers is geslag. Die troepe bid vir die koning. Die koning sing sy solo. Die weermag bid weer. Een ding wat hulle bid is 20:4: “Mag die Here aan u gee wat u hart begeer.”
Kyk nou na Psalm 21:2: “Here U hét aan hom gegee wat sy hart begeer het.”
Psalm 21 is die gebed ná die veldslag. Dis ‘n oorwinningslied. Die antwoord op Psalm 20.
Ps 20:7 > Vóór die veldslag bid hulle: “Ons sal nie vertrou op strydwaens en perde nie, maar op die Here se Naam.”
Nou in 21:8 kyk hulle vorentoe na toekomstige veldslae en toekomstige oorwinnings.
Dit is Dawid se psalm.
In verse 1-8 verhef die hele weermag hul stem tot God – oor koning Dawid. Hulle bid oor Dawid: “Die koning sal vreugde hê in Ú krag o Here!” Die koning het soveel blydskap gehad toe die Here so Sy mag vertoon het op die slagveld. Die feit dat Dawid gered en bewaar is. Hoe sal hy nie met vreugde vervul wees nie. Die Here het hom sy hartsbegeerte gegee. Die Here het die versoek van sy mond nie van hom weerhou nie. Hulle het gebid vir oorwinning en oorwinning het hulle gesmaak. Hulle het lewe gevra en lewe ontvang. Hulle het die Here se teenwoordigheid op die slagveld beleef. Eer en majesteit rus op die koning.
En dan stop die psalm en verander van toon – vanaf vers 9. Nou praat die weermag met koning Dawid self. Mens kan dit nie so duidelik in die 1983-vertaling sien nie, want die vertalers het dit só vertaal dat dit lyk of dit nog steeds die weermag se gebed óór Dawid is. Maar daar is aanduidings dat dit in die oorspronklike taal nie so is nie. Die van u wat die 1953-vertaling het, sal sien dat Totius dit korrek vertaal het. By vers 9 vind daar ‘n ratverwisseling plaas. Die weermag praat vanaf vers 9 mét Dawid.
“U vertrou op die Here en deur Sý trou het u nie gestruikel nie. Selfs in die toekoms sal u u vyande vernietig. U sal hulle verteer en die mensdom verlos van hierdie mense se nageslag. Bose planne wat hulle teen u beraam, sal niks uitrig nie. U mik net na hulle kant toe, dan vlug hulle.”
Sien u hoe staan die weermag rondom Dawid en kyk die toekoms in en sê: “Hierdie oorwinning wat ons nou beleef het, waarborg toekomstige oorwinnings. Deur Gods krag gebeur dit. Alle pogings om Dawid onder te kry, sal faal. Dis net ‘n kwessie van tyd, dan sal hy ál sy vyande onder hom stel. Dis oorwinning op oorwinning op oorwinning.
En dan in vers 13 hef almal weer hulle oë op tot die Here en bid ‘n slot gebed: “Laat U mag seëvier Here. Dan sal ons oor u krag roem.”
Psalm 21 is ‘n psalm oor en vir Dawid. En op dáárdie vlak, leer dit vir ons iets oor beantwoorde gebed. Die gebed in psalm 20 gebid, is heerlik beantwoord. Dis ‘n psalm wat ons beweeg om aan gebed te glo.
Laat ons nou Psalm 21 ‘n tweede keer lees. Presies dieselfde psalm. En dan sien ons dat dit nie meer dieselfde psalm is nie. Lees ons dit ‘n tweede keer, is dit nie meer ‘n psalm oor Dawid nie. Dis ‘n psalm oor óns – oor mý en jóú. Dieselfde woorde, maar ‘n ander psalm!
Ons het verlede week gesien dat óns ook ons veldslae beleef. ‘n Gelowige is ook daagliks in konflikte met sekere tipes vyande betrokke. Geen Christen kan opstaan en sê: “Die afgelope week het ek geen stryd gehad met sekere gedagtepatrone of die druk van die Godvyandige wêreldsisteem of die goed wat by my mond uitgekom het of versoekings nie. Ons hét ons stryde en selfs oorloë. En só gesien, lees ons Psalm 21 op ‘n heel ander vlak.
Wanneer jy Psalm 21 op hierdie tweede vlak lees, beskryf dit in verse 1-8 – nie Dawid s’n nie – maar die Christengelowige se oorwinnings, want die gelowige belééf inderdaad daadwerklike oorwinnings. Dát daar stryd is, beteken nie dat daar nie oorwinning is nie! Dát daar stryd is beteken nie dat ‘n gelowige pateties is nie. Daar ís oorwinnings. Daar kom oorwinning oor slegte gewoontes. Daar kom oorwinning oor karaktertrekke wat jy vroeër gedink het jy vir ewig mee sal moet saamleef. Oor die mees subtiele versoekings kom daar uitkoms en oorwinning.
Verse 1-8 praat van ú – ná oorwinnings in u lewe. Want u is ‘n koning – nie ééndag nie, maar nou reeds. U heers. U is nie ‘n swakke pateet nie. Openbaring 1:6 > Ons is konings en priesters. 1 Petrus 2:9 > Koninklike priesterdom. Efes 2:6 > Ingesluit by Christus se posisie aan Vader se regterhand (wat ‘n heersersposisie is).
Soos Dawid kan u sê: “Ek wéét EK was nie sterk genoeg om te kon staande bly nie. Ek wéét EK was nie sterk genoeg om te kon NEE sê nie. Ek wéét EK het nie die wysheid en krag nie.
Dit wat in die gelowige se lewe die deurslag gee, is die openbaring van die Here se mag (v 1). Dit is die Hére se oorwinnings. En dit veroorsaak by ‘n mens blydskap wanneer jy dit só ontdek. Om te dink die Here van hemel en aarde vervul die wens van mý hart – ek, wat net ‘n stofkorreltjie is. Dinge soos geluk en voorspoed kom van Hom af. Sy nabyheid veroorsaak blydskap. Om in Sy teenwoordigheid te mag lewe veroorsaak blydskap. ‘n Blydskap wat iets totaal anders is as die tipe vreugde wat die wêreldse mens probeer vind.
Dus: Verse 1-8 > Besing die oorwinning wat ‘n gelowige beleef.
Verse 9-13 > Praat mét die gelowige wat oorwinnings ervaar het en sê: In die toekoms sal dit weer gebeur. Toekomstige oorwinnings sal ook jou deel wees. Uiteindelik sal jy oor AL jou vyande triomfeer. Wag net en jy sal sien wat gebeur wanneer die Here Jesus verskyn: ALLE vyande sal onder jou voete gestel word (vgl Ps 110:1; Rom 16:20). Vyande sal in vriende verander word – sien Psalm 66:3-4: Die Here se mag is só ontsaglik dat Sy vyande verander in mense wat Sy lof besing! Hy kan dit doen (Filip 3:21). Dis mos hoe God Sy vyande oorwin: hy verdelg hulle nie noodwendig in tydlose vergetelheid nie, Hy verdelg hulle sodat hulle verander word en vriende word (vgl Joh 5:22-23 – oordeel is aan Christus gegee SODAT almal Hom kan eer). Wanneer Gods toornige oordeel mense in ‘n oond verteer, loop dit op transformasie, herstel en vernuwing uit!! Halleluja op die Liefde wat nooit faal nie (1 Kor 13:8)!!
Vers 14 > Konkluderende gebed : “Laat U mag seëvier Here, dan sal ons oor U krag roem.”
Wanneer ons Psalm 21 op hierdie tweede vlak lees, beteken dit dat álle oorwinning wat ‘n gelowige in sy/haar lewe ervaar, die gevolg is van die Here God se goedheid en krag. En die gelowige se reaksie wanneer hy dít ontdek, is aanbidding. Iets gebeur in die lewe van ‘n oorwinnende Christen: Jou hart raak net al hoe meer verknog aan die Here.
Laat ons nou Psalm 21 ‘n derde keer lees. Presies dieselfde psalm. En dan sien ons dat dit nie meer dieselfde twee psalms is as wat ons nou net gesien het nie. Lees ons dit ‘n derde keer, is dit nie meer ‘n psalm oor Dawid nie en ook nie ‘n psalm oor 2013 se gelowiges nie. Dis ‘n psalm oor die Here Jesus Christus. Dieselfde woorde, maar ‘n derde psalm! Dis ‘n psalm oor Christus. Dawid praat van Christus.
Onthou Dawid was ‘n profeet, sê die NT vir ons. En wat sê die NT, hóé het die profete geprofeteer? Die Gees van Christus was in hulle (vgl 1 Petr 1:11). En wat sê die NT, waaróór het hulle geprofeteer? Die lyding van Christus en Sy verheerliking daarná (1 Petr 1:11).
Dawid is DAWID – ‘n voorafskaduwing van die komende Christus. Soms word die komende Messias selfs “Dawid” genoem. In die NT word Hy dikwels “Seun van Dawid” genoem.
In Psalm 21 sien ‘n mens vir Dawid, maar nie volkome nie, want alles wat gesê word pas nie 100% op Dawid nie. Ons sien ook onsself, maar nie volkome nie, want alles wat gesê word pas nie 100% op ons nie. Ons sien egter vir Christus volkome – alles wat in Psalm 21 gesê word, pas Hom perfek. Daar is sekere uitdrukkings wat in Psalm 21 gebruik word, wat net gedeeltelik van Dawid en ons waar is. Maar alles pas Christus soos ‘n handskoen. Dis ‘n prentjie van die Here Jesus ná Sy kruisoorwinning terwyl Hy Sy verheerliking en finale triomf tegemoetgaan. Sy laaste finale oorwinning word ook besing. Ook Sy oorwinning oor die lááste vyand (1 Kor 15:26), die tweede dood, die verderf en hel (Open 20:6).
Lees maar Psalm 21 ‘n derde keer en u sal hierdie nuwe dimensie daar sien. Dit berei ons voor vir Psalm 22 (Sy kruis), Psalm 23 (Ons Herder) en psalm 24 (Sy eerste en tweede koms).
Lees Psalm 21 ‘n derde keer en u sal sien hoe dit Sý oorwinning is wat vir óns tel. Ons oorwinnings is in werklikheid Sýne. Daar sal absoluut géén oorwinning oor satan moontlik wees as Hý dit nie behaal het nie. Ons sou nie sonde kon afsterf indien ons nie sáám met Hom gesterf het (ingesluit by) nie. Ons is ingesluit by Hom en daarom gaan Psalm 21 oor Hom en oor ons.
Lees nou weer verse 1-8 en u sal die nuwe perspektief sien. Dit praat met God die Vader óór die Here Jesus Christus.
Hoe is dit dat Christus die verlossingswerk kon doen en dit suksesvol kon afhandel? Hoe is dit moontlik dat die onsterflike Seun van God kon sterf? Hoe is dit dat – toe Hy Sy lewensbloed stort – Hy die menslike ras met God versoen? Hoe is dit dat hy in hierdie groot werk kon slaag en daarin gesterk kon word?
Antwoord in Psalm 21: Dit was in God die Vader se krag en deur Sy goedheid.
En ná Sy opstanding, is Hy gekroon en besit Hy nimmereindigende lewe. Hy is met roem en eer oorlaai en is hoog in aansien.
Verse 9-13 > Nou word daar mét Christus gepraat: Hy sal uiteindelik in totaliteit triomfeer. Hy sal uiteindelik as Regter verskyn en geen een van Sy vyande sal voor Hom standhou nie. Hy sal Sy haters verteer soos in ‘n oond. Die vuur sal hulle verteer.
Ons weet uit Hebreërs 12:29 dat Hyself die vuur is. Ons weet ook uit 1 Joh 4:8 dat Sy wese (Sy DNA) liefde is. Ons weet dat die Leeu tegelyk die Lam is (Open 5:5-6). Die verterende vuur is dus die Here se teenwoordigheid van verterende liefde. Hierdie teenwoordigheid en hierdie liefde sal Sy vyande verteer. Volgens Markus 9:49 werk hierdie vuur soos sout wat reinig en suiwer. Niks wat binne-in die Here se vyande teenwoordig is wat Hom vyandig is, sal uiteindelik kan bly bestaan nie. Die vuur sal alles verteer sodat die vyande in oorvloed uitgelei kan word. Soos Psalm 66:12 sê: “Ons het in die vuur gekom, maar U het ons uitgelei in die oorvloed.” Of soos die Apostel in 1 Kor 5:5 sê: “Gee daardie mense wat so in sonde lewe oor aan die satan sodat hulle vlees (alles wat teen God stry) vernietig kan word, maar hulle gees gered kan word in die dag van die Here.” Met ander woorde: Laat alles wat binne-in die mense vassit wat God vyandig is, in die vuur verteer word – sodat hulle in oorvloed kan uitstap. Hout, hooi en stoppels sal verteer word sodat die mens gered word soos deur vuur heen (1 Kor 3:12-15). Oordeel en vuur is God se middele om vuilgoed en bloedvlekke uit Sy vyande se lewens te reinig en te was (Jes 4:4).
Lóóf die Here vir Sy oordele en vuur. Die uiteindelike triomf van die Here Jesus Christus is dat God-drieënig sal seëvier. En dat almal Hóm sal roem. Uiteindelik sal Hý álles in álmal wees (1 Kor 15:28).