2 THESSALONISENSE
· · Inleiding: Die uitwerking van die eerste brief was ten dele geslaag, in soverre dit die aantyginge teen Paulus aanbetref, asook met betrekking tot die vermaninge aan die “swakke broeders”. Sy uitsprake in die eerste brief oor die wederkoms van Christus het egter nie die volle gewenste uitwerking gehad nie, en die mening dat die “dag van die Here” al daar sou wees, het nog altyd veld gewin. Dan het sommige “onordelikes” ewe-eens nog hulle dagtake versuim. Die tweede brief is enkele maande ná die eerste, ook vanaf Korinthé, deur Paulus geskryf. Die doel was om wanopvattinge aangaande die “dag van die Here” uit die weg te ruim, die “onordelikes” aan te spreek en die gemeente in die geheel moed in te praat. Die brief is gerig aan die gemeente as geheel en kan as volg ingedeel word:
·
· 1. STRYDEND IN GELOOF (Hoofstuk 1)
·
· 1.1 STANDVASTIG TEN SPYTE VAN VERVOLGING:
· 1.1.1 Gunstige tekens: geloof; 1.1.2 liefde; 1.1.3 volharding.
·
· 1.2. SEKER TEN OPSIGTE VAN SY VERSKYNING
· 1.2.1 Ryke beloftes: Christus kom, en HOE Hy kom.
· 1.2.2 Redelike verwagtings : waardig (v.5,11).
·
· 2. STAANDE IN WAARHEID (Hoofstuk 2)
·
· 2.1 Vermy die dwaling.
· 2.2 Versterk die waarheid.
·
· 3. STERKTE IN CHRISTUS (Hoofstuk 3)
·
· 3.1 Vertrou jou Versterker.
· 3.2 Volhard in sy voetspoor.
·
· Die seëngroet is effens langer as in die eerste en alhoewel Paulus die skrywer is, voeg hy ook weer die name van Silas en Timótheüs by sy eie.
·
· 1. STRYDEND IN GELOOF (Hoofstuk 1)
·
· 1.1 Standvastig ten spyte van vervolging : Gunstige tekens:
·
· 1.1.1 Hulle geloof wat uitreik (1:3): Die Baanbreker met die evangelie na die Heidene, Paulus, wat geweet het dat geloof die fondament van die geestelike gebou is, en by die einde van sy aardse wedloop triomfantlik kon uitroep: “ … ek het die geloof behou!”, se één las bo alles was hierdie jong Christene se geloof. Hy wou dit te wete kom (1 Thes.3:5); het hom grootliks verbly oor hulle geloof wat hulle laat “vasstaan in die Here” (1 Thes.3:7,8); het verlang om te voltooi wat aan hulle geloof ontbreek (3:10); verlang dat hulle met die“borswapen van geloof” bewapen sal wees (5:8), en spreek die wens uit dat hulle geloof grootliks sal toeneem (2 Thes.1:3).
·
· 1.1.2 Hulle liefde wat uitwerk (1:3): Nie minder nie as vier keer, word liefde saam met geloof in hierdie twee briewe genoem (vgl.1 Thes.1:3; 3:6; 5:8 en 2 Thes.1:3). Benewens dit word die liefde herhaaldelik beklemtoon (Vgl.1 Thes.1:3; 3:11,12; 4:9,10; 5:13). Die wonder van God se liefde in mense se harte kom deur hierdie verse na vore – dat dit in kwaliteit, egtheid en in oorvloed, steeds kan en moet toeneem.
·
· – 2 –
·
· 1.1.3 Hulle volharding wat uithou (1:4): Die stryd het vir hulle nie makliker geword nie; eerder moeiliker, want Paulus praat in 1:4 nie net van ‘al’ hulle vervolging nie, maar ook van verdrukking wat hulle ‘verduur.’ Die woord wat Petrus gebruik vir daardie soort volharding wat ‘langasems’ kweek, is ‘lydsaamheid’ (2 Pet.3:6). Romeine 5:3-5 sluit hierby aan: “Ons roem ook in die verdrukkinge, omdat ons weet dat die verdrukking lydsaamheid werk, en die lydsaamheid beproefdheid en die beproefdheid hoop, en die hoop beskaam nie … “
·
· 1.2 Smagtend na sy verskyning (1:5-12)
·
· 1.2.1 Ryke beloftes: HOE Christus se koms sal wees:
·
· Sy koms sal ’n “openbaring” (‘Apokalips’) van die Here Jesus wees.
· Sy koms sal wees saam met “die engele van sy mag” (letterlike vert.).
· Sy koms sal in “vuur en vlam” wees om wraak te neem (oordeel).
· Die oordeel sal wees oor almal wat God nie ‘ken’ nie.
· En die wat aan evangelie ‘ongehoorsaam’ (Jode?) is.
·
· Sy koms is egter ook vir gelowiges: verligting en verlossing van hulle verdrukking. Ook sal Hy verheerlik word in sy heiliges en bewonder word in almal wat glo!
·
· 1.2.2 Redelike verwagtings :
·
· Die twee dinge wat Paulus begeer en voor bid, is dat hulle die “Koninkryk waardig” sal wees (v.5), en dat hulle die “roeping waardig” sal wees (v.11).
·
· 2. STAANDE IN WAARHEID (Hoofstuk 2)
·
· 2.1 Vermy dwaling:
·
· Hierdie mense was beslis verward en verskrik deur sekere mense wat wederkoms waarhede verkondig het, as sou die “dag van die Here” al daar wees! Paulus waarsku hulle teen hierdie ‘misleiding’ (v.3). Hy volg dit op deur te sê daar moet éérs sekere tekens, en veral één sekere teken vóór die “wederkoms (‘parousia’) van onse Here Jesus Christus en ons vereniging met Hom” kan plaasvind: ’n “afval” wat streng gesproke, nie kan dui op ’n toename in goddeloosheid onder die goddelose nie, maar ’n wegdraai van gelowiges na ’n dwaalleer of dwaling.
·
· Verder sal dit só subtiel wees, dat “die mens van sonde”, wat die leidende figuur hierin sal wees, homself binne-in die “tempel” van God sal stel, voorgee dat hý ‘God’ is en aanbidding sal eis en aanvaar. Hierdie teëstander, of “wettelose een”, sal homself verhef bo al wat God genoem word (alle godsdienste wat God erken), of voorwerp van aanbidding is (alle ander gelowe). Paulus het hulle tydens sy verblyf daar seker mondelings ingelig presies wat of wie hierdie ‘wettelose een’ (die teëstander of Antichris) se openbaring of verskyning vertraag of teëhou. Dit is vreemd dat hy dit nie nou weer noem nie. Dit mag ’n aanduiding wees dat dit die gelowiges in gevaar sou stel by die een of ander heersende of opkomende mag of regering van daardie tyd. Daar is verskillende verklarings oor wie, of wat hierdie ‘teëstander’ kan wees. Ook wie of wat die ‘een wat hom teëhou’ is en in watter soort ‘tempel’ hy sal sit, en voorgee dat hý ‘God’ is. Twee sienings word sterk beklemtoon:
·
· Die ‘Futuristiese’ skool wat gedurende die laaste paar eeue baie veld gewen het en vandag seker die mees algemene siening verteenwoordig, verklaar die simboliek van die Bybel in verband met wederkomsgebeure baie letterlik. Hulle beweer dat hierdie “mens van sonde” gedurende die 7 jaar verdrukking wat ná die geheime wegraping van die Bruidskerk van Christus sal volg, in ’n
· – 3 –
·
· letterlik herboude Joodse Tempel sal ‘sit’ en voorgee dat hý God is. Hulle glo dat die “een wat nou teëhou” die Heilige Gees is wat saam met die Bruidskerk weggeneem sal word. Hulle glo ook dat hierdie “teëstander” of “mens van sonde” ’n verbond van 7 jaar met die Jode sal sluit, maar ná die eerste drie jaar en ses maande die verbond sal verbreek en dan aanbidding van die Jode en alle mense sal eis. Diegene wat gedurende daardie tyd wéér ’n kans kry, sal gewillig moet wees om Christus te kies. Hulle sal dan deur hierdie mens van sonde tot die dood toe vervolg word en hulle geloof met hulle bloed moet verseël. Aan die einde van die 7 jaar sal Christus dan sigbaar weer kom.
·
· Die ‘Historiese’ skool se siening is dat die suurdeeg van dwaling binne die kerk (‘tempel’) alreeds in Paulus se tyd begin gis het. Dit sou in die volgende eeue sulke afmetings aanneem dat die duiwel die ‘wêreld’ binne die kerk sou vestig en daardeur die kerk sou kaap om Rooms te word. Kerkgeskiedenis leer dat dit werklik gebeur het toe keiser Konstantyn in 313 A.D. ‘tot bekering’ gekom en die Christelike Kerk kort daarná die Staatskerk van Rome geword het. Toe die Romeinse Keisers in 457 A.D geval het, was die biskop van die Kerk in Rome gereed om by sy reeds verwerfde kerkgesag, ook alle staatsgesag oor te neem, met absolute mag oor lewe en dood oor die siele en liggame van miljoene mense. Waar die Keisers tot 313 A..D. duisende Christene gemartel en gedood het, het die Pouse vanaf 610 A.D. vir 12 eeue van volle heerskappy oor kerk en staat, nagenoeg 50 miljoen Christene op die allerwreedste moontlike maniere laat sterf! As hierdie siening korrek is, dan hét hierdie mens van sonde reeds gekom toe die Romeinse Keiserryk wat hom teëgehou het, uit die weg geruim was sodat die Pous beheer oorgeneem het sonder om ’n skoot te skiet, en sonder dat die meeste mense hom juis dáár – binne-in die staatskerk van sy dag – verwag of herken het. Baie van die eerste kerkvaders en byna al die hervormers het hierdie siening gedeel.
·
· Let asseblief op die één belangrike feit: dat die ‘tyd’ van Christus se wederkoms (‘parousia’), volgens Paulus, eers ná die ‘afval’ en die openbaring van die ‘mens van sonde’ sal wees. Lees verse 1-4 weer noukeurig. Onthou, dis NIE so noodsaaklik om te kan bewys watter siening oor die tekens en gebeure rondom die “Antichris” korrek is nie! Vermy strydpunte oor die feinere detail, respekteer ander mense se siening en beklemtoon liewer die noodsaaklikheid om GEREED te wees!
·
· 2.2 Versterk die waarheid:
·
· Vanaf vers 7 tot vers 17 skryf Paulus, eers in v.10, dat mense verlore gaan en die krag van die dwaling ontvang om die leuen te glo, omdat hulle die liefde tot die waarheid nié aangeneem het om gered te word nie. In v.12 sê hy hulle sal geoordeel word omdat hulle die waarheid nie geglo het nie. Sulke mense verwerp die waarheid. In vers 13 praat Paulus weer met gelowiges en sê dat God húlle verkies het tot saligheid, in heiligmaking van die Gees en geloof in die waarheid. Mense wat dit gelowig aanvaar, versterk die waarheid.
·
· 3. STERKTE IN CHRISTUS (Hoofstuk 3)
·
· 3.1 Vertrou jou Versterker:
·
· Lees vers 3 met aandag en let op die vaste versekering dat die getroue Here wat hulle gekies het en dien, hulle sál versterk en bewaar van die Bose!
·
· 3.2 Volhard in sy voetspoor:
·
· Vers 5 is ’n kort, maar kosbare gebed dat hulle harte gerig sal word tot die liefde van God en die lydsaamheid van Christus. So is vers 16 ook ’n kort, maar kosbare gebed dat hulle sal ondervind hoe dat die Here van die vrede vir hulle altyd, op allerlei wyse, vrede gee!
· Paulus onderteken sy brief om te voorkom dat iemand anders in sy naam aan hulle skrywe en dat hulle seker kan wees dat hy die outeur is.