PINKSTERFEES 2014

SIEN DIE ONSIENLIKE

 

2 Korintiërs 4:18; 1 Kor 2: 10-12

 

Die manier hoe die kerk na God kyk, is gedurende die afgelope byna 2000jr veral gevorm deur twee baie invloedryke kerkvaders:

 

Die kerk in die Weste vind sy wortels tot ‘n groot mate in die denke Augustinus (gebore 354nC) en die kerk in die Ooste vind sy wortels grootliks in die denke van Athanasius (gebore 292nC).

 

Augustinus (weste) se benadering was in ‘n sekere sin van “onderaf boontoe”. Hy begin by die sondige mens – wat ‘n oorgang moet maak na God toe. Hy neem sy vertrekpunt by die probleem: die mens is ‘n gevalle sondaar, verwyder van God. Die mens is gebore met ‘n Adamnatuur en moet gered word.

 

In kort: Augustinus > Mens tot God – van onder na Bo – van die probleem na die oplossing.

 

Athanasius (ooste) se benadering is net mooi andersom: “van bo-af ondertoe”. Sy vertrekpunt is die oplossing – God se oplossing. Athanasius begin daar. Hy begin by Christus se verlossingswerk en pas dit toe op die mensdom se probleem. Volgens Athanasius moet die mens se oë oopgaan vir die verlossingsrealiteit waarin God hom alreeds geplaas het. Athanasius begin dus by God en die oplossing.

 

U sien dus twee verskillende benaderings – wat breedweg gesproke die kerk van die weste en die ooste oor ‘n tydperk van byna 2000jr verdeel het en nog steeds verdeel.

 

Ons almal – wat deel is van die westerse kerk is baie meer vertroud met die Augustiniaanse benadering: “God het jou lief, maar jy is ‘n sondaar, jy het opgemors, jy is ver van God – maar Jesus het gekom om jou weer terug te kry by God. En dit-en-dit is wat jy nou moet doen om verlos te word.”

 

Augustinus begin by dit wat gesien kan word, dit wat waarneembaar is: die mens se sonde, rebellie, verlorenheid. Hy begin by die sondeval.

 

Ons – wat in die Westerse kerk grootgeword het – is egter nie so bekend met Athanasius se benadering nie. Athanasius begin met dit wat nie gesien kan word nie – die nie-waarneembare: Wat God met die mens gedoen het voor die skepping reeds. Dit is Athanasius se vertrekpunt. Hy kyk na die einde vanuit die begin! Hy praat van die oplossing nog voordat daar ‘n probleem is! Ons is in Christus gevind nog voordat ons in Adam geval het!

 

Weer eens: Omdat ons van kleins af met die westerse benadering deurdrenk is, val die oosterse benadering vreemd op die oor. As ‘n mens dieselfde ding jaar-in en jaar-uit oor en oor en oor hoor, glo jy later dat dit die enigste opsie is!

 

Augustinus: Begin by die sigbare en werk na die onsigbare. Hy begin by die waarneembare toestand van die mens en werk na God en God se onsigbare oplossing.

 

Athanasius: Begin by die onsigbare en werk na die sigbare. Hy begin by God se oplossing en pas dit toe op die mens se probleem.

 

2 Korintiërs 4:18 > Ons kyk NIE na die sigbare nie…. fokus op wat NIE gesien word nie. Dit wat sigbaar is, is tydelik. Dit verander heel tyd. Lei tot verwarring. (Ook 2 Kor 5:7)

 

Augustinus: Fokus op die waarneembare feite: Mens se val, sonde, rebellie ens. Paulus sê: Moenie daarna kyk nie. Dis feite, maar dis nie die werklike realiteit nie. Die realiteit is die onsigbare – wat ewig is: In Christus het God met die sonde klaargespeel, eens en vir altyd! Die SIGBARE = Ek is sondig. Die ONSIGBARE = Ek is ontsondig.

 

Sien u dat dit oor twee verskillende wêrelde gaan. Almal van ons spandeer ‘n groot % van ons KYK (gefokusde aandag) op een van hierdie twee wêrelde. Die wêreld waarop jy fokus, het ‘n invloed op die wêreld wat jy sien!

 

Kom ons maak dit prakties: Kyk na die pamflet wat ek aan u laat uitdeel het. ‘n Bladsy met ‘n lyn in die middel sodat daar ‘n BOKANT en ONDERKANT is. Die bokant = waar Athanasius se benadering lê. Die onderkant = waar Augustinus se benadering lê.

 

Kom ons kyk net na wat ek daar geskryf het:

 

BOKANT VAN BLADSY: 1 Onsigbare. 2 Ewig & onveranderlik. 3 Klaargemaakte werk van die kruis. Afgehandel, voltooid, absoluut. Die mens is perfek versoen en geheilig. 4 Openbaringskennis. Absolute waarheid. 5 Die ware jy – soos God jou sien. Die ware jy is soos die klaargemaakte werk van Christus met jou gehandel het. Jy sit in hemelse plekke. 6 Radikale genade wat ongehinderd vloei.

 

ONDERKANT VAN BLADSY: 1 Sigbare. 2 Tydelik & veranderlik. 3 Onafgehandel – Ek is besig om te word. Groeiproses. Probeer gedrag verbeter. Pas sonde-beheer toe. 4 Gaan oor wat ek waarneem en ervaar. 5 Die valse jy – soos jy hier en nou vertoon. Jy is soos jy vertoon en daar moet iets met jou gedoen word. 6 Werksverrigting, probeer, insette lewer > genade & wet vermengd.

 

Paulus verklaar: Ons kyk nie na die sigbare nie! Ons kyk na onsself soos God ons sien. Ons kyk na die klaargemaakte werk van Christus. Ons kyk nie na hoe onafgehandeld en in watter groeiproses ons is nie. Ja, ons lewe in die groeiproses en onafgehandeldheid, maar ons fokus nie daarop nie!

 

Gelowiges is mense wat te midde van ‘n sigbare tydelike wêreld IN ‘n onsigbare ewige wêreld leef. Maar om dit te kan doen, moet ‘n mens jou fokus verander! As jy op die ONDERKANT van die bladsy leef, moet jou fokus op die BOKANT wees! Die bokant is waar God se wil permanent heers. Die Bokant is hoe dinge werklik is. Dis Waarheid. Onveranderlik. Dinge IS omdat God sê dit is!

 

Augustinus > Wil ons beweeg van die sigbare tot by die onsigbare. Athanasius > “Kom ons vat die onsigbare en deursuur die sigbare daarmee. Verander dit wat ONDERKANT is met dit wat BOKANT is”.

 

Onderkant > groei in Christus. Bokant > Kompleet in Christus. Op watter een gaan jy fokus?

 

As jy fokus op “groei in Christus” sal jy nooit groei nie! Daar sal altyd tekort wees.

 

Maar as jy op die BOKANT fokus word die onderkant verander deur die bokant.

 

By die ONDERKANT wil ons hê die Here moet beweeg. BOKANT: het Hy klaar beweeg. ONDERKANT: wil ons ‘n werking van die Heilige Gees sien. BOKANT: het Hy klaar Sy Gees op alle vlees uitgestort. ONDERKANT: wil ons herlewing sien. BOKANT: is ons die herlewing!

 

U sien beide is belangrik, maar ons verwysingspunt/vertrekpunt kan nie die onderkant wees nie. Oog nie op sigbare nie (2 Kor 4:18). BOKANT is die ware jy. Jou ware identiteit. Ons leef in beide gelyktydiglik – sien Hebr 10:14 (is reeds perfek geheilig en word geheilig – maar ons fokuspunt is BOKANT.

 

Definisie van geestelike groei: Proses van vervanging: Vervang die sigbare onderkant met die realiteite van bokant. Vervang al die onderkant-die-lyn-”mindsets” met bokant-die-lyn-realiteite.

 

Definisie van geloof: Vertrou dit wat bokant-die-lyn is om onderkant-die-lyn waar te wees.

 

Geloof weet dat God alle mense by Christus se verlossing ingesluit het (Bokant–realiteit) terwyl dit onderkant-die-lyn glad nie so lyk nie! Dus waarna gaan ons kyk? Die sigbare? As dit jou verwysingspunt is sal jy altyd soekende bly en altyd vrae hê en min antwoorde.

 

As ‘n mens hierdie twee wêrelde verstaan, is dit verbasend hoe die Bybel vir jou oopgaan. Dit is asof jy skielik verstaan.

 

Nou die groot vraag: Hoe kry ons dit wat bokant-die-lyn is onderkant-die-lyn?

 

1 Kor 2:9-12 gee die antwoord … lees dit….

 

Die Heilige Gees maak bekend! Hy verbind dit wat ons nie sien nie en dit wat ons sien.

 

Op Pinksterdag het God die Heilige Gees op ons uitgestort sodat ons onderkant-die-lyn lewe, maar bokant-die-lyn kan fokus!

 

Efes 2:4-6 > Wat bokant-die-lyn is verander dit wat onder-die-lyn is. Wat bokant-die-lyn is, is ‘n baie kragtiger dimensie. Terwyl jy nie een sentimeter van jou voete gelig het nie, sit jy in hemelse plekke saam met Christus. Augustinus wil ons deur middel van dit-doen-en-dat-doen verskuif kry tot daar waar ons volgens Athanasius alreeds is. Athanasius sê NEE: Hy het ons alreeds daar gebring in Christus. En as jy na die sigbare vanuit daardie perspektief begin kyk, verander die wêreld! Die manier waarop jy na iets kyk, verander daardie iets! As ek byvoorbeeld na ander mense kyk volgens die vlees, dan is dit hoe hulle vir my sal wees.

 

Augustinus: Ons het in Adam begin. Athanasius: Ons het in Christus begin. Totaal verskillende “mindsets”.

 

God die Heilige Gees verskuif ons fokus van onderkant-die-lyn na bokant-die-lyn en laat ons aptyt verloor vir wat onderkant-die-lyn aangaan. Dis ‘n Godswonder: om aptyt te verloor vir sigbare en tydelike dinge.

 

Die Heilige Gees laat ons ‘n tuiste vind bokant-die-lyn terwyl ons onderkant-die-lyn leef, maar nie meer daarop fokus nie.

 

Die Gees verskuif ons van “strewe-na” tot “klaargemaak”. Die Gees laat ons kyk na die onsienlike bokant-die-lyn-realiteit as iets wat so kragtig is dat dit die lewe onder-die-lyn kan verander. Hierdie verandering en ommekeer kom uit en uit van die Gees.

 

Wanneer ons onder-die-lyn leef en fokus op onder-die-lyn, dan dink ons ons leef binne ‘n gevalle wêreld en alle mense is gevalle.

 

Maar wanneer die Gees jou die realiteit bokant-die-lyn laat sien, sien jy die wêreld as verlos en versoen met God, nie buite Christus nie maar in Christus! Jy begin in ander dimensies kyk.

 

Evangelisasie word dan om blinde oë siende te maak – om mense die realiteit te laat sien van wat hulle nog al die tyd bokant-die-lyn besit het, maar totaal blind was voor sodat hulle lewens nie die oorvloedslewe kon wees nie omdat hulle oë, verstand en gees totaal versluier was! Evangelisasie is om sluiers van oë te verwyder sodat mense kan sien in watter realiteit hulle nog altyd was, maar totaal onkundig oor was. Mense moet begin om te SIEN wat reeds IS!

 

Voorbeeld: 2 Kor 5:16 > “As een vir almal gesterf het, dan HET almal gesterf” = Bokant-die-lyn mentaliteit. “Daarom ken ons van nou af geen mens meer volgens die vlees nie.” = Onder-die-lyn mentaliteit.

 

Fix your gaze. Wat daarvan om na mense te begin kyk van bokant-die-lyn, soos God na hulle kyk vanuit die klaargemaakte werk van die kruis? Ware identiteit en nie volgens sigbare nie?

 

En so kan ons voortborduur. Die tyd het ons heeltemal ingehaal. Ek kan net vertrou dat die Here dit alles sal wil gebruik om vir ons beter perspektiewe te gee sodat ons in optimale oorwinning kan lewe.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00