PINKSTER 2013 DEEL 8

Tema: Oogspesialis

Skrif: 2 Timoteus 1: 8-9

 

Dit is baie moeilik om – ná alles wat deur die loop van die week gesê is – nie sekere dinge te herhaal nie, omdat alles so inmekaar verweef is. Dit is immers één evangelieboodskap.

 

Tog wil ons vanoggend spesifiek fokus op die werk van die Heilige Gees – saam met die Vader en Seun ewig God – déél van die Triniteit. Maar wat beteken dit vir óns op voetsoolvlak?

 

Alle ouers is opgewonde wanneer hulle klein kind leer loop. Geen ouer sal ‘n afkeer hê in ‘n kind wat twee treë loop en dan in die grond duik nie!

 

Die persepsie wat ons van God het, plaas ons soms onder geweldige druk omdat ons dink ons behoort dit en dat te wees terwyl ons nie só is nie! En dan dink ons die Heilige Gees is geweldig teleurgesteld en bedroef. Wat ons nie besef nie, is dat die Gees v God die liefhebber van die mens is. Hy is versot op die mens. Hy weet nie wat dit beteken om handdoek in te gooi nie. Binne die onderlinge sirkel van die Vader, Seun en Gees, bestaan daar nie so iets soos opgee nie. En daarom ook nie t.o.v die mens nie. Hy gee nie met ons op wanneer ons twee treë loop en dan val nie.

 

Baie van ons geestelike frustrasies hou daarmee verband dat ons twee gode in ons gedagte het. Dan werk dit in ons binneste soos ‘n kar se ruitveër, heen en weer tussen die twee gode. Dan hierdie kant toe, dan daardie kant toe.

 

Aan die een kant wéét ons dat die Vader/Seun/HG die waarheid is.

 

Maar dan het ons aan die ander kant ook die idee van ‘n gesiglose, naamlose, almagtige wese wat daar bo iewers is en wat ons op ‘n afstand dophou, met teleurstelling en afkeur in sy oë. Die oomblik wanneer iets negatief met ons gebeur, draai ons ruitveër na die ander kant toe en bevestig dit vir ons dat hierdie god met ons teleurgesteld is.

 

Dis waarom ons so sukkel om die ware God – Vader/Seun/HGees te ken .. en te verstaan dat die Heilige Gees ons onvoorwaardelik liefhet en dat Hy besig is om ons van die ruitveër-konsep te bevry. Sodat ons op ‘n permanente grondslag in die vryheid van Abba-vader se liefde kan leef.

 

In Sý hart is daar nie duisternis nie. Hy weet nie hoe om níé lief te hê nie. Hy het jou lief met presies dieselfde liefde waarmee Hy die Here Jesus liefhet, sê die Skrif.

 

Die innerlike besef van twee gode, maak dit egter vir ons moeilik om in die Vader/Seun/HG se vryheid te leef. Nie as ons heen en weer beweeg tussen die ware God en die kwaai teleurgestelde god wat nie vír ons is nie!

 

Voeg daarby die feit dat ons diep in ons innerlike ‘n onbewustelike woede en ‘n haat het vir hierdie god met die afkeuring in sy oë. Ons kan nie sien wat hy in ons lewe doen nie. Ons dink hy walg in ons omdat ons net nooit op standaard is nie. Intussen bestaan hierdie god glad nie. Al waar hy bestaan is in ons duistere gevalle verbeelding.

 

Daar is sommige mense wat breekpunt bereik en hierdie god finaal afsweer. “Hiermee is ek klaar. Ek is moeg en siek en sat om hom in my duisternis te soek. Hy bestaan nie.” Dit is die tipiese mens wat ‘n ateïs word. Eintlik doen hy goed, want hy breek met ‘n god wat wérklik nie bestaan nie. Maar so ‘n mens kan beswaarlik glo dat daar ‘n ánder God is. Een wat bestaan vir verhoudinge, wat vol lag is en vreugde en lewe. Wat jou omhels, al is jy ver van volmaak af. Een wat jou naam noem. Een wat sê: “My kindjie..”

 

Mense sê: “dis te eenvoudig. Ek moet tog íéts doen om dit te verdien.” Hulle kan nie glo dat TERWYL hulle woedend is vir die kwaai god-van-hulle-verbeelding wat nie bestaan nie, die ware God hulle omhels en hulle verstaan en hulle trane versamel nie! Hulle kan nie glo dat, by híérdie God, vergifnis vóór geloof kom nie. Ja, terwýl ons die afwesige teleurgestelde god haat, omhels die Heilige Gees ons reeds.

 

Luister weer na 2 Timoteus 1:9: “Hy het ons nié gered op grond van ons dade nie, maar op grond van Sy genade wat Hy van ewigheid af in Christus aan ons geskenk het”.

 

Ons is liefgehê nog voordat ons geskep was. Abba-Vader het vir ons ‘n geskenk gegee nog lank voordat Adam op die toneel was. Die Heilige Gees het dáárdie geskenk – wat ons voor die skepping ontvang het – ‘n werklikheid in ons lewe kom maak deur ons aan Jesus se kruisdood en opstanding en hemelvaart vas te knoop.

 

En nou, vandag, kom die Heilige Gees BINNE-IN ONS DUISTERNIS om aan ons bekend te maak dat ons regtig ingesluit is by hierdie geskenk.

 

Die Heilige Gees is gedetermineerd: Hy SAL ons dit laat sien. Ons hoop is nie dat óns ‘n groot stuk geloof opgewerk moet kry wat ons uitput en laat moed opgee nie. Ons hoop is dat die Heilige Gees nie moed opgee nie! Hy het vir ons in Christus ‘n geskenk gegee vóór die skepping reeds en nou sal en wil Hy ons oë daarvoor oopmaak!

 

As ons egter soos ‘n ruitveër tussen twee gode ronddans, dan lees ons ook ons Bybel op daardie manier! Ons lees in die Bybel van hierdie koue kliniese “stainless steel” heilige god wat ons geskep het met die doel om sy wette te gehoorsaam. Maar toe ons faal, was hy woedend en teleurgesteld. Hy het sy boog gespan om sy pyle op ons af te skiet. Jesus het gekom sodat hy sy pyle kan neersit. Maar ons is steeds sondaars dus kan hy dalk weer die pyle optel…

 

Maar dan draai die ruitveër en jy lees 2 Tim 1: 8-9 – dat jy vóór die skepping ‘n geskenk ontvang het – ten spyte van wat Adam sou aanvang.

 

Aan die verkeerde kant van die ruitveër sien ons ‘n klein Jesus wat net ‘n voetnota is by Adam se val. Maar die NT sê NEE, NEE. Voordat Adam geval het, is die gawe in Christus aan ons gegee.

 

Die Heilige Gees is nie iewers daarbo en wag om iets in ons lewe te doen nádat ons Hom toestemming gegee het nie! Die Heilige Gees is binne-in ons duisternis werksaam om ons oë oop te maak vir die lewe wat ons in Jesus ontvang het! Wat ‘n enorme verskil!

 

Dit is die groot bediening en werk van die Heilige Gees: Hy maak Christus in ons lewens bekend. Hy help ons om te sien en te verstaan.

 

Die god van ons verbeelding het ná die sondeval vir Jesus gesê: “Ek moes nooit dat jy my ompraat om mense te skep nie. Nou het hulle my beledig. Jy moet nou die saak gaan beredder.”

 

Die ware God, die Vader van Jesus Christus het aan ons die gawe van lewe gegee nog voordat Adam daar was. Adam het dit namens ons totaal verknoei. Maar toe het die Vader gesê: “Dít sal my nie stop om my oorspronklike droom te verwesenlik nie. Ons het nie die mens geskep om verlore te gaan nie. Ons sal die mens binne-in sy duisternis gaan genees en uithaal.”

 

Verstaan u waarom die Heilige Gees nooit wispelturig en onvoorspelbaar in u lewe kan werk nie. Die Vader, Seun en Heilige Gees ken glad nie ‘n ánder manier om te bestaan as deur liefde wat op die ánder gefokus is nie. Só is die drie Persone van die Godheid teenoor mekaar en só is hulle jeens ons.

 

Daarom weet die Heilige Gees presies hóé om met ons in ons duisternis te werk om ons te laat ontdek dat ons verlos en aanvaar ís.

 

Die god van ons verbeelding kan glad nie so ver kom om sondaars ín hulle duisternis te aanvaar nie. Maar die ware Drie-enige God doen juis dit. Daarom kan elkeen van ons maar begin om op te let waar ons die Heilige Gees se voetstappe in ons eie (en ander se) lewens kan bespeur. Dis dáár. Kyk maar net.

 

Dit verander die manier hoe ons na onsself kyk. En hoe ons na ander mense kyk. Ons kan in onsself én in hulle die tekens sien van die Meester se werke. Hy werk nie in ons goedhede en deugde nie. Jy merk Hom op in jou stryde, jou menswees, jou pyn, jou duisternis, jou twyfel en verwarring. Dán verstaan jy meteens wat die Heilige Gees besig is om op planeet aarde te doen. Hy is die oogspesialis. Hy maak jou siende om te sien wie God regtig is. Hy maak jou los van die god van jou verbeelding. Hy werk nooit los van die Here Jesus en die Vader nie.

 

Jy ontdek in Jesus hoe/wat die Vader is. Dat Hy nie ‘n ánder obskure wispelturige God is wat ágter Jesus skuil nie. Die Heilige Gees maak Jesus Christus bekend – hoe Hy in jou lewe (veral in die donker hoekies) teenwoordig is. Dat Hý jou wedergeboorte is en dat jy ingesluit is by Sy kruisdood/opstanding/hemelvaart. Want daar is geen ander manier hoe jy van waar jy is in die koninkryk van God kan kom nie. Jesus se kruisdood/opstanding is jou wedergeboorte. En die Heilige Gees maak jou oë daarvoor oop. Dit is hoe jou vrese verdwyn. En as jou vrese weg is, is jy minder selfgesentreerd. Jy word al hoe meer bevry om net jouself te wees en regtig ánder mense raak te sien.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00