PINKSTER 2013 DEEL 7

Tema: Bid sonder belemmering

 

Skrif: Johannes 15:16

 

‘n Mens kan nogal baie van jouself leer ken deur net na jouself te luister wanneer jy bid.

 

Soms reflekteer ‘n mens se manier van bid – ironies genoeg – jou eie gebrek aan vertroue op die Here.

 

Soms wend ons pogings aan om beter of gouer verhoor te word soos die gebruik van hoë woorde of stembuigings. Ons dink dit vereer die Here beter en sal daartoe lei dat Sy hart gouer sag word.

 

Die manier hoe ‘n mens gebed sien, is gewoonlik die manier hoe jy vir God sien – veral wat jou eie verlossing betref. As ‘n mens ‘n stryd het met versekering in gebed, het jy gewoonlik ook ‘n stryd met versekering van jou saligheid. As jy vermoed dat God ver van jou is wanneer jy op jou knieë staan, sal jy voel dat Hy ver van jou is wanneer jy nié op jou knieë is nie.

 

As jy die idee het van ‘n “dan’s ek in en dan’s ek uit” verhouding met God, sal jy heel waarskynlik ook gebed onvervuld vind. Indien jy altyd wonder of daar dalk ‘n onbelyde sonde in jou lewe is – omdat God in so ‘n geval traag sal wees om te antwoord – sal jy ‘n problematiese gebedslewe hê. Soms voel mense dat hulle nie kan bid alvorens hulle woede vir hulle lewensmaat/kollega/vriend nie bely word nie. Hulle is voortdurend sondebewus: “O Here, wys vir my of daar enige onbelyde sonde in my lewe is.”

 

Luister na u gebede en leer iets van u siening van God en van hoe u dink die evangelieboodskap werk. As iemand bid: “O Here, hoor tog my gebed” weet jy die persoon vermoed dat die Here dalk níé na iemand soos hý/sý sal luister nie.

 

U sien ons dink dat verhoorde & geseënde gebed ‘n beloning is vir goeie gedrag. Soos ‘n kind wat nie mag gaan speel voordat hy nie sy kamer aan die kant gemaak het nie. As jy nie ‘n gevoel van nabyheid aan die Here het en vroom en toegewyd voel nie – of dalk nie Bybel gelees het nie of voel dat jy nie op standaard is nie, dán kan jy niks van die Here verwag nie – so dink ons in ons agterkop.

 

Die waarheid is net andersom: As jy strewe en probeer om heilig en regverdig te wees ten einde verhoor te word, word jy juis nie verhoor nie! As jy eers aan voorwaardes moet voldoen om verhoor te word, word jy juis nie verhoor nie!

 

Hoeveel vrome boeke is daar nie al oor gebed geskryf wat eintlik waardeloos is nie. Die inhoud van die meeste van hulle kom daarop neer dat effektiewe gebed verhinder word omdat daar een of ander iets in die bidder se lewe kortkom of verkeerd is. Daarom lees ‘n mens sulke boeke en dan bid jy: “O Here, wáár is U? Moet asb nie U aangesig vir my verberg nie. Het ek iets verkeerd gedoen? Is daar ‘n onbelyde sonde iewers in my verlede? Is U besig om my te toets?”

 

‘n Mens betrap jouself soms dat jy aan die einde van jou gebed ‘n ietsie wil invoeg waardeur jy eintlik aan jouself wil bewys dat jy darem genoeg geloof het dat God jou sal verhoor! Ons dink geloof is die groot ding in ons hart wat – wanneer jy genoeg daarvan het – maak dat God oor jou glimlag en effens méér van jou hou.

 

Daarom eindig ons ons gebed met iets soos: “U sê dat as twee of meer in Ú Naam bymekaar is, is U in hul midde en SAL U (beklemtoning) gee wat hulle vra. Ek bid dit alles in JESUS SE NAAM (beklemtoning). Amen en amen.” Hierdie tipe slot wil die gevoelens binne in ons skep dat ons tog wel genoeg geloof het.

 

Of ons sal ons gebed afsluit met herhalings soos: “Here ek glo U. Here ek vertrou op U. Dankie dat U my hoor. Ek weet U hoor my.” Hiermee is daar opsigself niks verkeerd nie. Maar soms praat ons in hierdie trant om onsself te oortuig dat ons genoeg geloofsgevoelens in ons het wat die hart van die Here sal behaag. Ons wil onsself oortuig dat ons genoeg glo – want die Here beloon dit mos (??). En ons wil beloon word!

 

‘n Mens se gevoelens speel ook ‘n groot rol in hierdie hele proses. Dikwels voel jy of jou gebede nie hoër as die plafon gaan nie. Die Here “voel” ver. Dan is ons geneig om hierdie “ver God” te bevraagteken. Bevraagteken Sy liefde en bedoeling ens. U sien hoe dit ‘n simptoom is van ‘n onvermoë om onsself “in Hom” te sien. Ons gebrek aan sekerheid dat ons ingesluit is, veroorsaak ‘n krisis in gebed wat lei tot ‘n gebrek aan sekerheid in gebed.

 

Die wortel van hierdie hele stryd is niks anders nie as legalisme/wettisisme/werke-godsdiens wat so ingebed lê in die mens se hart. Enigiets wat jy dink wat enigsins jou kanse kan vermeerder om jou gebede verhoor te kry en die Here aan jou kant te kry, is legalisme.

 

‘n Mens kan jouself toets: Vind jy dit makliker om op jou knieë te kom wanneer jy – volgens jou siening – ‘n goeie dag met die Here agter die rug het? Ja of nee? En as jy ‘n slegte dag gehad het wat vol was van versoekings en sondes vind jy dit baie moeiliker om te bid? Is dit dan vir jou maklik om te bid? Ja of nee?

 

Ja-antwoord by nr 1 en Nee-antwoord by nr 2 wys op ‘n legalistiese benadering. Dit wys hoe ons in ons binneste werke-geörienteerd is. As ek ‘n slegte dag gehad het, is die Here op ‘n afstand, want my “performance” was nie op standaard nie.

 

Ons glo so moeilik dat ons in gebed tot God kom en ten volle deur Hom omhels word SLEGS op grond van die Here Jesus se meriete. Jy bid nooit op grond van énige eie meriete nie. As jy voel jy moet éérs sondes bely of éérs heilig leef of éérs ‘n sekere gevoel hê of éérs probeer soos ‘n Christen lewe – dan baseer jy suksesvolle gebed op jou eie prestasie wat jy BYVOEG by Jesus se meriete.

 

Wanneer jy méér vrymoedigheid voel om te bid omdat jy traktaatjies uitgedeel het en met iemand oor die Here gepraat het en in staat was om nee te sê vir versoekings en wonderlik teenoor jou vrou/man opgetree het – benader jy gebed legalisties/wetsonderhouding én is dit ‘n simptoom dat jy jou totale verhouding met die Here wetties benader.

 

Wánneer jy deeglik genoeg Bybelstudie gedoen het, jou boesemsondes in toom kon hou, vir die Here getuig het, aangename emosies het – het jy groot vrymoedigheid om met die Here te praat – maar dit is op eie geregtigheid gebaseer. Dit is die groot dood-doener in gebed – dat ons God benader op grond van eie meriete. As jy gebed só benader, sal jy tien teen een die sekerheid van jou verlossing ook so benader.

 

Die waarheid is dat ons ingesluit is by Christus se dood en opstanding en dat ons gebed om dáárdie rede altyd verhoor word. Wanneer jy bid is dit so goed of Christus namens jou bid. Ek sien nie myself losgemaak van Hom vir enige periode van tyd nie. Ek is 24/7 ewe naby aan Hom. Om vervreemding te ervaar of ver van Hom wees in gebed, verraai ‘n foutiewe verstaan van die Evangelieboodskap. Dit is die leuen van religie/godsdiens. In teenstelling met die Here se glasheldere versekering in Joh 15:16 : “Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies om vrugte te dra. So sal die Vader aan julle gee wat julle ook al in My Naam vra”.

 

‘n Legalistiese gees wil Joh 15:16 só verklaar dat daar eers uiterlike vrug moet wees, uiterlike goeie werke. Dán mag die Here jou dalk verhoor. Maar hulle vergeet wat vers 3 sê: Diegene wat skoongemaak is, ís diegene wat vrug dra! As jy skoongemaak is, drá jy vrug. Dit is die vrug van CHRISTUS se verdienste wat altyd konstant is tot in ewigheid. Dit is nie vrug wat jy met bloed en sweet gedra moet kry om te kan kwalifiseer nie! Dit is Christus se vrug! Dit is die vrug van Sy dood en opstanding. Die vrug van Sy perfekte gehoorsaamheid. Wat ‘n blye versekering! Dit gaan nie oor sekere stappe wat ons moet neem om by verhoorde gebed uit te kom nie!

 

In Joh 16:24 lees ons ‘n soortgelyke versekering: “Dit verseker ek julle: Wat julle ook al in My Naam bid sal Hy vir julle gee.”

 

Maar bots dit nie met ander Bybelgedeeltes wat oënskynlik gebedsukses afhanklik maak van die bidder se meriete nie?? Byvoorbeeld 1 Petr 3:7: “Mans julle moet verstandig met julle vrouens saamleef en eer aan hulle bewys as die swakker geslag, dán sal julle kan bid sonder dat iets julle verhinder.” Met ander woorde: as ‘n man nie met sy vrou reg leef nie, sal sy gebede nie verhoor word (dit sal verhinder word) nie.

 

Kyk net mooi: “Gebede verhinder” beteken nie dat die ANTWOORD verhinder word nie, maar dat gebed as sulks verhinder word!

 

‘n Ander teks is Jakobus 5:16 waarna ons ook gisteraand verwys het: “Die vurige gebed van die regverdige het ‘n kragtige uitwerking – soos in Elia se geval”.

 

“Regverdige” beteken nie ons perfekte gedrag nie, maar dit verwys na die perfekte geregtigheid van Christus waarin ons toegewikkel/geklee is. Elia was ‘n MENS NES ONS. Jakobus sê nie Elia was so ‘n paar trappe hoër en ons moet daarheen mik om ook soos hy verhoor te word nie!

 

As ons gebed afhanklik maak van ons eie meriete, sal ons altyd worstel om vir 5 minute te bid en só onwaardig voel. Gebed sal altyd heel onder aan jou lysie wees. Jy sal vind dis beter om na vissies in ‘n tenk te staar as om te moet bid.

 

Totdat jy uit die Skrif ontdek dat jy totaal by Christus ingesluit is. Dat Gód jou ingesluit het buite-om jou geloofsprestasies. Wanneer jy raaksien dat gebed NIKS te doen het met enige meriete in jouself nie, word dit ‘n vreugde en ‘n voorreg om te mag bid. Dis nie meer “O Here ek is só onwaardig, só onheilig, só verrot, só sondig – hoor my tog asseblief” nie. Vir ewig is dit nie meer so nie! Jou gebed is IN HOM. Dis nooit pateties nie. Jy het die absolute reg om voor God te kom omdat Jesus Christus jou verteenwoordiger en plaasvervanger is. Jy weet God kyk nie na jou en sê: “Hmmm, ek dink ek systap jou hierdie keer, want jy het mos versuim om van My te getuig vanoggend en jy wou nie daai traktaatjie uitgee nie – omdat jy te bang was vir die mense te reaksie. En kyk hoe min blydskap is daar in jou hart. Ek sien omtrent niks liefde vir my nie.”

 

NIKS van daardie dinge kan ooit weer van jou waar wees nie. Selfs al het jy gesondig, verhoor die Here met soveel vreugde, want met jou sondes ís gehandel. Kyk maar na Hebreërs 4:16 > “Laat ons met vrymoedigheid na die troon van genade gaan? Waarom? Omdat ons ‘n Hoëpriester het.

 

Wanneer ons bid is dit asof ons in die werklike teenwoordigheid van God in die hemele is en Jesus die presiese woorde wat in ons hart is, bid. Openbaring 5:8 > Gebede is soos wierrook wat voor die Here opgaan. Ons sit in die hemele in Christus (Efes 2:6).

 

Die beginsel is baie eenvoudig: a) Wanneer ek geloof binne-in my wil voel werk en ek myself goed genoeg voor God wil sien – dan loop ek my vas b) Wanneer ek myself IN CHRISTUS sien sonder énige eie meriete, dan groei geloof in my sonder dat ek dit eens besef. Al waarvan ek bewus is, is dat ek in die regte rigting fokus.

 

Geloof kan nooit groei as dit gewortel is in eie pogings, gevoelens, prestasie, godsdienstigheid of op geloof opsigself nie. Maar wanneer dit in die regte grond gewortel is, groei dit. En daardie grond is INGESLUITWEES IN CHRISTUS. In Hom, deur Hom. Ons is REEDS geseën met ALLE seëninge (Efes 1:3) in die hemele in Christus. Dit het absoluut niks te doen met hoeveel geloof ons het nie. Dit het te doen met die Persoon op wie ons fokus – en dan glo ons sonder dat ons dit besef.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00