PINKSTER 2013 DEEL 6
Tema: Gebed binne konteks
Skrif: 2 Korintiërs 1: 18-20
Ons weet almal hoe uitputtend gebed kan wees en hoe maklik dit net weer kan verval in die ou skema van godsdiens & werke, waar ons dink dat ás ons sóveel ure bid en hierdie en daardie inhoud daaraan gee en sóveel mense kry wat in gebed kan saamstem, dit dán baie meer gewig in die hemele dra.
Terwyl die waarheid is dat níks wat ons doen daartoe kan bydra dat God méér oorreed kan word as wat Hy alreeds oorreed is nie! Dit is die Here Jesus Christus en wat Hý verdien het, wat God se positiewe oortuiging aangaande die mensdom vorm. Dit is nie óns wat in die proses is om ‘n stuk traagheid binne-in God te oorkom en Hom oor te wen na ons kant toe nie.
Ons dink soms dat indien ons die Here so goed moontlik op hoogte van sake kan hou, ons uiteindelik genoeg druk op Hom sal kan plaas sodat Hy – as ons gelukkig is – vír ons saak raak. En as Hy vir ons is, wie kan teen ons wees? (Rom 8:31). Ons maak van die AS ‘n voorwaarde terwyl dit eintlik ‘n konklusie is. Nie: AS Hy vir ons is nie, maar AANGESIEN Hy vir ons is… Die vraag is nie óf Hy vir ons is nie. In Jesus Christus het God alreeds onherroeplik JA gesê!
Daarom is die vertrekpunt van NT-gebed die AMEN = dit is reeds volbring, dit sal so wees, dit is reeds so in Christus, die groot JA van God in Christus! Ons moet ons gebed met die AMEN begín!
Kyk na Paulus se vertrekpunt in 2 Kor 1:18> “So seker as wat God getrou is…” Ons vertrekpunt as ons bid is die sekerheid van God se trou. Daarom hoef ons nooit geloofs-druk op Hom toe te pas nie. Ons mag nooit dink dat ons ernstige GLO die Here in beweging kry nie. Ons GLO plaas nie druk op Hom nie. Ons GLO ego maar net die oortuiging wat alreeds in Sý hart leef. Sý geloof (Sy oortuiging aangaande ons) is die outeur van óns geloof. Sy oortuiging aangaande ons in Christus steek óns oortuiging aan die brand. Alles kom “uit geloof tot geloof” (Rom 1:17). Ons GLO kom deur wat ons hoor aangaande Sy geloof (Rom 10:17). Ons geloof “download” uit Syne!
Dit is waarom dit gebeur dat wanneer ‘n prediker die klaargemaakte werk van Christus en die feit van die mensdom se ingesluitwees by God se omhelsing verkondig as ‘n reeds-realiteit, dan word geloof binne-in die gemeentelede se harte geskep. Wanneer ‘n prediker die JA van God as ‘n reeds-realiteit verkondig, ontstaan geloof meteens in die gemeentelede se harte. Die prediker moet net die AMEN verkondig!
Jesus Christus is die finale woord van God se oortuiging aangaande u. In Jesus het elke belofte van God JA (amen) geword. God is nie huiwerig oor u nie. Hy is nie “double-minded” nie. U is reeds op die kruis genees. God is nie besig om jaar-in-en-jaar-uit data oor u lewe in te win sodat Hy uiteindelik kan besluit hoe Hy aangaande u oortuig sal wees nie.
Nee, die beginsel is: So seker as wat Hy getrou is! Daarom sê Paulus vir die Korintiërs: “Ons woord aan julle is nie van die JA/NEE soort nie. Dit is nét JA (2 Kor 1:19).
Daar kan geen soort sonde of demoniese aktiwiteit of okkultistiese aktiwiteit wees wat God se oortuiging oor Jesus se triomf kan verander nie. Geen hoeveelheid duisternis wat saampak het die vermoë om Hom ánders jeens u te oortuig nie. Hy kan en sal deur niks geïntimideer word nie. Niks in u ganse toekoms kan God intimideer om anders te voel oor Sy groot JA in Christus oor ons nie! Hy is absoluut oortuig en sal dit nie verander nie.
Satan wil hierdie skitter-waarheid versluier om ons te laat dink dat óns posisie baie uniek is. Hy wil ons laat voel asof ons die nommer 1 sondaar in die wêreld is wat ‘n bietjie méér as die kruis nodig het om óns soort verander te kry. Óns toestand is van só ‘n aard dat ons baie hewige gebed nodig het. Of dat ons ‘n belofte onder eed moet aflê om nie weer daardie of daardie sonde te doen nie. Daar moet iets bý die kruiswerk van Jesus kom. “Jong, dinge gaan nou só rof, ons sal nou ernstig moet begin bid en soveel moontlik bidders moet kry om saam te bid.”
Nee, ons vertrekpunt wanneer ons bid, is die AMEN, dit is die troonkamer. Ons vertrekpunt is nié ons probleem en hoe ons ons probleem sien en hoe ons God moet probeer oortuig om dit ook só te sien soos ons dit sien nie. Ons hoef Hom nie te beweeg nie. Hy het alreeds beweeg. Niks wat ek kan sê of bid kan enigiets byvoeg by hoe Hy alreeds in Christus oor my oortuig is nie. Daar bestaan nie so iets soos 3 stappe wat ek moet neem om Sy guns te wen nie. Ons ís in Sy guns deur Christus Jesus se plaasvervangende kruisoorwinning. Één daad van gehoorsaamheid het ons in vryspraak en lewe geplaas (Rom 5:18). Daarom gaan ons nie in desperate wanhopige neerslagtigmakende pleitende smeekbedes wanneer ons bid nie. Ons hoef nie God se aandag op ons gevestig te kry nie. Dis klaar op ons gevestig.
Ek is bevrees baie van vandag se gebedsmobilisering fokus juis in hierdie rigting. “Ons moet genoeg mense kry om te bid.” Massagebed doen niks aan God nie. Ja, dit beteken baie vir óns en ons kan dit gerus ook doen. Dit is geseënd en opbouend en aanmoedigend en bemoedigend. Maar ons mag nooit dink dat God méér oortuig gaan word omdat 1000 mense in plaas van 2 mense bid nie. As ‘n individuele bidder, is jy man/vrou-alleen in die meerderheid en in die wenspan as jy maar net God se AMEN kan verstaan.
Daarom is ek spookbang vir gebedsmobilisering wat daarop gemik is om mense d.m.v. skuldgevoelens te motiveer en aan die bid te kry. Ons dink dat, as ons net meer mense sover kan kry om hulle biddeloosheid voor die Here te bely, sal God ophou om kwaad te wees en sal Hy vriendelik raak en ons seën.
God hou Hom nie op met towery nie! God is nie soos ‘n gestorwe ou voorvader-gees vir wie ons goedgesind moet maak deur bokke en koeie te slag nie.
Ons moet gebed ontdek soos wat gebed vanuit Gód se oogpunt lyk. Dit is nie ‘n gesprek wat by mý nood en mý verstaan van sake en my wettiese godsdienstige begrip begin nie. Dis ‘n gesprek wat by die AMEN begin. Christus is alreeds God se JA nog voordat ek bid. Ons AMEN ego maar net Sy JA. Ons vertrekpunt is Sy JA jeens die menslike ras. God het klaar Sy konklusie oor ons gemaak. Die konklusie is Jesus Christus – ten spyte van ons stryde, moeites, foute en swakhede. Ons taak is om nié God se JA te bevraagteken nie – ook nie in ons gebed nie.
Ons is altyd geneig om God se JA te verander in ‘n JA-MAAR skema. Ja, maar wat van my eie ondervindings, wat van my eie situasie, wat van dit wat met daardie persoon gebeur het, wat van hierdie en hierdie Skrifgedeelte wat iets ánders sê..? Ons is altyd geneig om eie ondervindings bó God se JA te plaas. Ons wil altyd die weersprekinge/kontradiksies in ons lewens gebruik om God se JA te bevraagteken. Terwyl ons in werklikheid níks téén die waarheid kan doen nie (2 Kor 13:8). Ons belewenisse kan nie die waarheid bevestig óf bevraagteken nie. Niks kan God se oortuiging aangaande ons beïnvloed nie. Hy is VIR ons. Ons kan/mag nooit ons gebed iets minder as dít maak nie.
Voorbeeld: Jakobus 5:16 (OAV) > “Die vurige gebed van die regverdige het ‘n kragtige uitwerking”.
Onmiddelik dink ons: Dis my vurigheid & my reg-wees voor God wat die ding doen om God se arm te draai. So nou probeer ons vurig wees en probeer ons rég wees voor God. Want ons vurigheid en ons reg-wees moet die Here beïnvloed.
Dikwels lei ons nood of ons situasie of ons vrese of krisisse tot ‘n stuk vurigheid. Hoe erger my situasie is, hoe meer volume kry my gebede. Hoe moeiliker my situasie is, hoe meer dringend word my gebed. Dan dink ek: nóú sal Hy seker hoor, want kyk hoe vurig bid ek.
Die waarheid is dat my reg-wees voor God die gevolg is van wat Chrístus gedoen het. Dit kom nie deur my gebede nie. En die vurigheid vloei dááruit! My gebed word geïnspireer deurdat ek besef en verstaan dat ek reg is voor God deur Jesus Christus en nie deur my situasie of probeerslae nie. En dit lei tot vurigheid. Wanneer jy verstaan wat met jou gebeur het toe Jesus gesterf en opgestaan het en hoe reg jy daardeur voor God gestel is en hoe skuldeloos en blaamloos jy in Sy oë is – dán wil jy bid en sommer ook vurig bid.
Wanneer ek ‘n weerspreking in my lewe ontdek, dan praat ek met outoriteit, nie met lam-knieë wat sê: “O gids die duiwel het my nou beet” nie. Nee ek weet dat, al is daar ‘n weerspreking in my lewe, ek saam met Christus in die hemel sit, hoog bo alle gesag en magte. God se JA is oor my uitgeroep. En ek proklameer daardie JA. Hoe meer ek dít verstaan en sien, hoe meer gesagvol is my gebed.
Die gesag en oorwinning lê nie in my baie woorde en hoeveel Skriftekste ek kan kwoteer nie. Die Fariseërs het gedink hulle moet ‘n stortvloed woorde gebruik. Die Fariseër in ons dink ook so. Hoe meer woorde ons babbel en hoe meer Skrifte ons aanhaal, hoe groter is die indruk wat ons op die hemele maak. En dan hoop ons daar is iemand wat nie só besig is dat Hy ons nie sal antwoord nie. Ons dink God se telefoon is 99% van die tyd beset, ons moet iets groot vermag om deur te kom. Dalk antwoord een van die engele en het tyd om 5 sekondes na ons relaas te luister – nadat ons 3 maande gevas en gebid en gesoebat en gesmeek en geklop het. Net omdat ons nie die eenvoud van die Evangelie verstaan nie, word ons vasgedraai in leuens en misleiding.
Iemand het eenmaal vir Kenneth Copeland gevra: “Hoe kan ek déúr gebid kry?” Copeland antwoord: “Wag net ‘n oomblik”. Toe roep hy: JESUS! En hy sê vir die man: “Okay jy is deur, praat maar.”
Ons staan geregverdig voor God en word omhels en is blaamloos as gevolg van níks in onsself nie, maar as gevolg van Sy opinie oor ons in die aangesig van die Man van Nasaret! Alhoewel daar baie vorme van gebed is, is hierdie realiteit die ruggraat van alle gebed.
Ook deel van die ruggraat is 2 Tim 2:1: God wil dat alle mense gered word deur tot kennis van waarheid van hulle verlossing te kom. Dit is die belangrike bestanddeel van alle gebed. Maak nie saak watter vorm van gebed ons mee besig is nie.
Dieselfde 2 Tim 2:1 praat van die verskillende vorme:
Byvoorbeeld: Smekinge – Grieks (dê-omai = om jouself te verbind aan). Wanneer jy die Here smeek vir iemand se redding, sien dan daardie persoon as ingesluit in Christus. Dit gee fokus en dringendheid aan jou smeking.
Aanbidding (Grieks: proseugomai – gebed gevul met aanbidding).
Intersessie (Grieks: entúganoo= om ‘n onderhoud te voer).
Danksegging (Grieks = eugaristia= offer dankbaarheid).
In alles: EEN UITGANGSPUNT = God se oortuiging jeens my wat bid. EEN FOKUS = Sy wil dat alle mense gered word deur die waarheid oor hulle redding te ontdek.
Dit is hoe ‘n mens jou gedagtes gevange neem en dit onderwerp aan die gehoorsaamheid VAN Christus (Grieks) (2 Kor 10:5). Nie gehoorsaamheid AAN Christus nie. Sý gehoorsaamheid tel as jou gehoorsaamheid. Sý gehoorsaamheid stel jou as ‘n gehoorsame mens voor God. Aan daardie realiteit onderwerp jy alle gedagtes. Jou gedagtewêreld word gepantser deur hierdie realiteite. Christus se gehoorsaamheid maak dat jy sonder blaam voor God staan. Jou menslike gees SIEN dit. Jy VERSTAAN dit.
Kan u sien hoe die Here ons traagheid verbreek deur vir ons te wys wat ons ware identiteit is? Ons probeer nie om met ons gebede Sý traagheid te verbreek nie. Wanneer ek bid dan fokus ek net op Sý geloof aangaande my, nie myne nie.
Dit maak dat gebed ‘n aaneenlopende gesprek word, nie net wanneer ek stiltetyd hou nie. Sonder reëls en tegnieke. ‘n Gesprek wat Hý al voor die skepping begin het en waarby ons net inskakel.
Daarom hoef ons nie toe te laat dat ons hartseer, droefheid, teleurstellings, skuldgevoelens & pyn ons innerlike oorheers en dít ons gebed bepaal nie. Effektiewe gebed kan nie deur sulke goed van brandstof voorsien word nie. Die grootte, diepte en detail van ons probleme bepaal nie ons gebed nie. Die realiteit van ons reg-wees voor God in Christus bepaal alles. Ons hele verhaal met al sy spanninge is alreeds in Christus ingesluit. Die AMEN kom vooraan nie agterna nie.
Toe God vir Adam geskep het, het Hy hom geseën – soos ons Sondag gesien het. Die Hebreeuse woord beteken Hy het oor Adam gekniel het in adorasie. Toe Adam sy oë oopmaak het hy in hierdie oë van Sy skepper gekyk en gesien hoe tevrede Hy met hom is. Adam se eerste oomblikke van gebed en aanbidding is dáár gebore. Tot vandag is dit onmoontlik om binne enige ander konteks te bid.
Gebed is om God se “blik” teenoor jou te verstaan. Hy verdra jou nie maar net omdat Hy in ‘n goeie bui is nie. Jy is ingesluit by Jesus se reg-wees-in-jou-plek daarom hoef jy nie jouself op te gradeer om te kwalifiseer nie. Jy is alreeds in die troonkamer. Jy sit saam met Hom in hemelse plekke (Efes 2:6). Jy hoef nie die hemelse deur oop te druk met intense gebed nie. Jy sit reeds saam met Hom. Jy kan net jouself in jou gedagtes her-lokaliseer. Dit neem nie 5 ure se gebed nie. Jy kan dit binne ‘n sekonde doen. Jou lewe is alreeds in Christus weggesteek in God (Kolos 3:3). Jy het reeds Sy volle aandag. Hý het die gesprek lankal aan die gang gesit.
Laat ons dan aan die gesprek deelneem. Deur gebed.