PINKSTER 2013 DEEL 5

Tema: Fenominale herstel

 

Skrif: Kolossense 1: 15-20

 

Gisteraand het ek by Sondagoggend se tema aangesluit en daarop uitgebrei. Vanaand wil ek by gisteraand se tema aansluit en dáárop uitbrei.

 

Sondagoggend het ons gesien dat God gekies het om God te wees vír die mens en ás ‘n mens. Gisteraand het ons gesien wat dit beteken dat God in Christus mens/vlees geword het. Vanaand sal ons sien hoe Jesus die menslike ras met Sy eie verhouding met Sy Vader, die Heilige Gees en die kosmos gekoppel het. En – soos gisteraand – sal ek probeer om vir u te wys wat die implikasies daarvan vir ons lewens is.

 

Die Here Jesus staan van alle ewigheid af in ‘n unieke verhouding tot Sy Vader en tot die Heilige Gees en ook – sedert die skepping – tot die kosmos en dus die totale menslike ras.

 

As ewige Seun van God is Hy in ‘n aangesig-tot-aangesig verhouding tot Sy Vader en besit Hy ‘n oneindige matelose salwing van die Heilige Gees. Daarby het die Vader deur Hom alles geskep en is Hy sederdien die onderhouer van alles (Kolos 1:16; Hebr 1:1-3). Dit is nie so dat Hy geskep het en dat die skepping en die mensdom daarná op eie batterykrag voortgaan – lós van Hom – nie. “Deur Hom bly alles in stand” (Kolos 1:16) en “Hy hou alle dinge deur Sy magswoord in stand” (Hebr 1:3).

 

Probeer in u geestesoog sien wie/wat Jesus Christus as Persoon is: 1) Intieme verhouding met Sy Vader, 2) Ewiglik sonder perke gesalf met die Heilige Gees, 3) Skepper en onderhouer van die kosmos en die menslike ras. Dit is wie Hy is sónder Sy menswording en dood en opstanding. Dit is net WIE HY IS.

 

Probeer nou om raak te sien hoe Hy die mensdom alreeds deel van Sy wêreld gemaak het. NET IN WIE HY IS, ís die menslike ras reeds deel van Sy wêreld! Want Hy onderhou die kosmos. Hy het nie die mensdom geskep en nou is Hy en die mensdom apart van mekaar soos ‘n outydse wekker wat jy opwen en dan loop hy self sonder jou nie! In so ‘n geval sou Christus teoreties gesproke kon sterf en dan sou die menslike ras nog rustig voortgaan. Nee, ná die skepping, is daar ‘n voortgaande tree-vir-tree verhouding gevestig. Calvyn = indien Jesus Sy hand sou wegtrek, sou die kosmos meteens verdamp. Joh 1:4 > In HOM is die lewe.

 

Sien nou weer die prentjie in u geestesoog: As Skepper en onderhouer van alles, het Christus alreeds die mensdom deel van Sy wêreld gemaak. Maar onthou die verhoudings waarin Hý staan: met Sy Vader en Heilige Gees. Daardie verhoudings laat Hy nie eenkant staan in Sy koppeling met die kosmos nie! Hy sluit die kosmos by Sy wêreld in en daarmee saam is die kosmos (en dus die mensdom) ook gekoppel aan Sý eie verhouding met die Vader en Sy salwing met die Heilige Gees!

 

U kan sien: Slegs in Jesus se identiteit – slegs in Wie Hy is – is die Vader, Heilige Gees en ganse kosmos gekoppel – in mekaar se leefwêreld. Jesus is die Een in wie die Vader, die Heilige Gees, die kosmos en die menslike ras in ‘n verhouding gekoppel is.

 

En onthou nou: Hierdie verhouding was alreeds in plek vóórdat Christus in ons menswees ingekom het in Betlehem. Hierdie verhouding was in plek van die skepping af.

 

Wat met die sondeval gebeur het was dat die mens sy rug hierop gedraai het. Die sonde maak van die mens ‘n opstandige rebel wat selfgesentreerd is en vir wie daar net een god is en dit is die méns. Hierdie rebellie het dood en verwoesting gebring – sover dit die méns aangaan, maar nie sover dit Gód se verhouding met die mens aangaan nie, want dit staan mos vas in wie Jesus is. Die sondeval het die mens vervreem van hierdie verhouding alhoewel dit nie van God se kant vervreem was nie. Daarom was dit Sy passie om die mens se kant van die saak te herstel en die mens se rebellie te genees. Dit het gebeur deurdat Jesus in die mens se menswees ingekom het deur Maria se skoot.

 

Toe Christus in ons menswees ingekom het, om ons uit ons vervreemding uit te ruk, was Hy nog steeds die Een in wie die Vader, Gees, kosmos en mensdom saamgebind is! Maar Hy gebruik die mensdom se sonde & haat teen Hom om die mens se vervreemding binne te dring en Hy sterf in die arms van die mensdom se oordeel, verwerping, verdoeming, haat en hoon om die mens op die mens se laagste punt te ontmoet. Só herstel Hy die mens se vervreemding. Hy het die menslike ras (wat gerebelleer het) weer kom vasknoop aan Sý verhouding met Sy Vader en Sý salwing met die HGees en Sý verhouding met die kosmos.

 

Hoe doen Hy dit? Deur Hom gewilliglik te onderwerp aan die menslike ras se verwerping en sonde. Hy stel Homself onder die mensdom se haat, spuug en hoon en onder die dood self en só kom maak Hy Sý verhouding met Sy Vader, Sý salwing met die Gees en Sý verhouding met die kosmos aan die menslike ras vas.

 

Kan u sien hoe kom die lewe van die Drie-enige God tot binne-in die diepste gevallenheid van die mensdom en bewerk versoening?

 

Soos gisteraand, wil ek nou weer vir u wys op die implikasies wat dit alles op ons lewens het.

 

1 Die goeie nuus vd evangelie is níé dat die mens by God kan uitkom nie. Die goeie nuus is níé dat die mens vir Jesus in sy/haar lewe kan ontvang nie. Die verbysterende nuus van die evangelie is dat Jesus die mens in Sý lewe ontvang het! Toe Hy – deur Maria se skoot – in ons menswees ingekom het, het Hy Sy verhouding met Sy Vader en die Heilige Gees saamgebring. Hy het ook Sy verhouding met die kosmos saamgebring, want onthou Hy onderhou nog die kosmos elke sekonde vanaf die skepping.

 

Sien u dat die Blye Boodskap nie BEGIN met verwydering nie. Die Blye Boodskap begin met die realiteit van wat Christus klaar bewerkstellig het – nie losstaande van die mens nie, maar met die mens ingesluit!

 

2 Die vraag wat ‘n mens met reg kan vra is waarom ons so dikwels nie die bevryding – wat alreeds in Christus ‘n realiteit is – erváár nie? Waarom is ons lewens dikwels in so ‘n toestand?

 

Ek dink ‘n groot deel van die antwoord is geleë in ons versteurde visie. Ons begrip van wie God is, is verdraai en ons begrip van wat die evangelieboodskap behels is verdraai. Ons sien nie die realiteit nie. Dit maak nie vir ons enige sin nie. Ons sê vir Jesus: “U visie van die Vader, U visie van die Heilige Gees en U visie van die verhouding wat U met die mens gestabiliseer het, is verkeerd. U moet tot besinning kom en in lyn kom met mý verstaan van sake. U moet by my duisternis aanpas”.

 

Hierdie siening druk ons af op onsself, ons leefwêreld, ons man/vrou – en dit maak alles so misrabel soos die hel omdat dit nie klop met die realiteit nie.

 

Hierteenoor sê geloof vir die Here: “Ek wil meedoen aan hoe Ú dinge sien. Ek wil meedoen aan die realiteit. Ek wil meedoen aan die verhouding wat U met my kom skep het. Here, hier is my blinde oë, herstel asb my visie. Ek wil met U lewe in Ú verhouding met die Vader en die Gees en die kosmos”.

 

Bekering = om dinge te begin sien soos dit werklik is! Bekering is níé om sekere goed te verander sodat dit God kan beweeg om teenoor my te verander nie! Bekering = radikale verandering in die manier hoe jy die Drie-enige God beskou, hoe jy jouself sien en hoe jy die kosmos sien. Bekering = ‘n heroriëntasie.

 

Baie mense verkies om in hulle eie wêreld van blindheid te leef – dan sien hulle ‘n god wat hom op ‘n afstand hou, wat nie regtig in verhoudings spesialiseer nie, wat ‘n afstand hou met vuil sondaars, alhoewel hy dit met ‘n kruis oorbrug het, maar hy gee voorskrifte aan die vuil sondaars wat hulle moet doen om oor die brug te kom. Hierdie god boesem vrees in en jy weet nooit presies waar jy met hom staan nie.

 

Geloof beteken om te sien wat Jesus sê: Kom ék wys jou wie die Vader is. Kom lewe saam met my in my verhouding met my Vader en kom deel in My salwing met die Heilige Gees.

 

3 ‘n Mens moet baie versigtig wees met sommige kerkgroepe se leringe oor die Heilige Gees. Ons sal Sondag weer daaroor praat, maar net om te sê dat die Heilige Gees nie losstaande van Christus funksioneer nie. Die gelowige is ingesluit by CHRISTUS se salwing met die Heilige Gees. Daar is nie ‘n titseltjie van ‘n twyfel daaroor nie. Alle leringe wat sê dat ‘n mens die Heilige Gees in ‘n sekere ervaring moet ontvang as iets losstaande van geloof in die evangelieboodskap of leringe wat sê dat ‘n mens die Heilige Gees in ‘n voller en voller mate moet/kan ontvang, is van hoogs twyfelagtige aard. As ons iets verstaan van hoe die Here Jesus SY salwing met die Gees in die mensdom ingedra het en hoe die Gees in die mees duistere harte mense begin oortuig van hulle aanneming in Christus en hoe die Gees die lewe van die Drie-eenheid op miljoene maniere in die mees ongelowige mense se lewens laat deurbreek, dan beïndruk hierdie kerkgroepe se leringe jou nie meer nie.

 

‘n Sekere teoloog vertel hoe ‘n plantkundige eenmaal langs hom op die vliegtuig beland het. Die man was passievol oor plante. Hy was egter ‘n evolusionis en uitgesproke ateïs. Toe hy hoor sy dat sy medepassasier ‘n teoloog is, sê hy: “Dan verdoem jy my seker omdat ek ‘n ateïs is.” Antwoord: “Glad nie, maar sê my wáár kom jou passie vir plante vandaan? Uit die familie? Ek dink ek weet vanwaar dit kom. Dit is die Vader, Seun, Heilige Gees se passie vir Sy skepping wat hy in jou hart lê. Dit is Jesus wat in jou is en Sy passie in jou werk. Hy skyn Sy lig in jou duisternis.” Die man is verslae en sê: “Waarom het niemand my dit nog ooit vertel nie? Waar kan ek meer hieroor uitvind?”

 

Sien u hoe die Heilige Gees die insluiting by die lewe van die Vader, Seun, Heilige Gees in die donkerste hart na vore bring? Dis te wonderlik vir woorde.

 

Net so kan ‘n boer – wat voel dat hy nie “geestelik genoeg” is nie omdat hy net maar boer, ontdek wie hy werklik is: dat hy meedoen aan die Vader/Seun/Heilige Gees se voorsiening deur Sy skepping. Waar die boer voel hy doen nie genoeg vir die koninkryk nie, kan hy meteens besef dat daar veel meer werkinge van die Gees in sy lewe aan die gang is as wat hy ooit kon dink.

 

Mense wat in rou is oor die dood van ‘n geliefde kan ontdek dat die enorme belastheid in hulle harte nie in hulleself ontstaan het nie, maar dat dit die Goeie Herder se las is. Hulle kan ontdek dat hulle maar net reageer op Sý belastheid en droefheid.

 

‘n Huisvrou wat voel dat sy nie genoeg vir die Here se werk doen nie omdat sy net wasgoed was, kosmaak, inkopies doen, skoonmaak, kinders versorg, in die aande te moeg is om ‘n vinger te verroer – kan ontdek dat haar omgee en versorging eintlik die Heilige Gees se omgee is wat Hy deur haar werk.

 

‘n Ma kan haar moederskap omhels as ‘n Godgegewe deelname in die skepping van God. Haar kinders sal nog tot in ewigheid lewe en haar altyd “mamma” noem. Christus is die geheim van moederskap. Sy verhouding met Sy Vader en Heilige Gees is die geheim van ons menswees, ons musiek, ons vriendskap, ons kos wat ons eet. ‘n Mens kan jou eie konsepsie, jou lewe, jou gawes, jou stryde en laste – alles – sien as ineengeweef in die tapeserie van wat die Vader/Seun/HGees besig is om te doen.

 

4 Die lekker dinge van die gewone lewe staan nie los van Christenwees nie. Christenwees betrek alles wat ons doen. Dis ‘n groot ramp dat die moderne Westerse Christelike tradisie ‘n onderskeid gaan maak het tussen dit wat sogenaamd gewyd is en dit wat sogenaamd sekulêr is. Asof die twee niks met mekaar te make het nie.

 

Juis die ménswording van God wis só ‘n onderskeiding en skeiding tussen gewyd en sekulêr uit. God het eg méns geword en ‘n verhouding met ons gestabilseer. Kyk maar na Christus se lewe op aarde. Hy was ‘n skrynwerker. Die grootste gedeelte van Sy tyd het Hy tafels en stoele gemaak – nie gepreek nie.

 

Die bedoeling van Christenwees is nie om jou menswees te ontvlug nie. Die bedoeling van die Vader/Seun/HGees is juis om Sý lewe binne-in ons gewone lewe te vestig. In die Skrif is daar nie ‘n spanning tussen God se lewe en ons gewone menswees nie. In die Persoon van Jesus vat die twee met die grootste gemak hande.

 

Ek het eenkeer ‘n video gekyk van ‘n man wat vertel hoe hy besig was om te skilder en toe kom sy dogter daar aan. Sy was verstom oor wat hy doen. Sy wou by hom weet hoe hy dit regkry, waar hy die idees vandaan kry ens.

 

Hy antwoord dat hy ‘n vriend het wat baie lief is vir skilder en wat presies weet hoe dit gedoen word en hy deel sy idees met hom.

 

Hy is nie net lief vir skilder nie. Hy is lief vir tuinmaak, lief vir blomme, vir musiek, vir sokker….

 

Sy kon nie “kliek” van wie hy praat nie. Sy noem ‘n klomp name. En toe dring dit tot haar deur: Dis Christus die Here. Maar dit klink te goed om waar te wees.

 

Ons menswees kom van die Vader/Seun/HGees. Dit kom nie net van Hom nie, Hy is 100% betrokke daarby. Hy geniet musiek. Tewens, musiek het by Hom begin. Harmonie en melodie kom nie van ons nie. Dit kom van Hom. Hy deel dit maar net met ons om te geniet.

 

God lewe Sy trinitariese lewe in/deur ons wanneer ons koffie drink of wanneer ons ‘n sportspan afrig.

 

As ons dít maar net kan ontdek, sal ons ons ware menswees terugkry. Dis nie nodig om jou menswees by die deur te los wanneer jy die kerk ingaan om te gaan aanbid nie. Jy hoef nie jou lag buite te los wanneer jy in die kerk inkom nie, jy hoef nie in ‘n ander wese te verander nie – so asof God in ‘n verleentheid is met ons lag nie. Hoe kan dit. Lag kóm dan uit die lewe van die Vader/Seun/HGees. Dit het dan in Hom ontstaan.

 

Die menswording van God beteken dat Hy Homself verbind het aan alle aspekte van ons menswees. Hy skaam Hom vir niks en is nie allergies vir enigiets wat met menswees te doen het nie.

 

Wat ‘n wonder-God het Hom aan ons kom verbind?!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00