HEILIGMAKING SONDER INSPANNING

Johannes 12: 12-26

 

Dit was binne die Vader se Raadsplan dat Jesus spesifiek op die Paasfees – terwyl al die Jode hul paaslammers slag – moes sterf omdat Hý die Lam van God is wat die betekenis van die Paasfees vervul. “Ons Paaslam is vir ons (plaasvervangend) geslag” (1 Kor 5:7). “Ons ís losgekoop deur die kosbare bloed van Christus – soos ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos.” (1 Pet 1:19).

 

Die Joodse leiers het besluit om vir Jesus dood te maak, maar juis níé op die Paasfees nie, sodat die skares nie opstandig raak nie (Mat 26:5). Húlle was egter nie in beheer van die situasie nie. God die Vader was. Duisende jare tevore het Hy Sy volk uit Egipte, uit die mag van Farao, gered deur middel van lammertjies se bloed wat aan deurposte geverf is (Eks 12). En só is jaarlikse Pasgafees ingestel. Tóé het Hy reeds besluit presies wánneer Sy Seun as die Paaslam sou sterf.

 

Die Joodse leiers was totaal magteloos om te besluit wanneer hulle Jesus gevange sal neem – hoewel hulle gedink het dat hulle die hef in die hand het. Intussen het die Vader alles gestuur – sodat hy vir óns met één offer vir ewig van sonde kon vrymaak en ons met één offer aan Hom kon toewy en met één offer ons verhouding met Hom perfek kon heelmaak (Hebr 10:14). Ons ís aan Hom toegewy, ons ís ontsondig, ons ís sonder skuld – deur die één offer waarby die Vader ons ingereken het. Deur daardie één offer ís ons saak met God reggemaak en ons verhouding met Hom herstel. Wanneer ons dit glo en ons vertroue daarop neersit, begin dit in ons lewens grondvat en ‘n vernuwing vind plaas wat ons nooit kon dink moontlik is nie.

 

En nou was dit die Sondag vlak voor die Vrydag wat Jesus sou sterf. In Jerusalem was daar massas mense wat gereed gemaak het vir die Paasfees. Daar was ook nie-Jode (heidene) wat die Joodse geloof aangeneem het. Onder andere Grieke. Almal het gehoop om dalk vir Jesus te sien. Die leiers wou Hom doodmaak. Die heidene wil hom sien.

 

Binne hierdie gelaaide atmosfeer, enkele dae voordat die paaslammers geslag word en Hý geslag word, is dit nou die oomblik vir die groot publieke amptelike aankondiging. Nou sal die Here Jesus openlik aankondig dat Hý inderdaad die langverwagte Messias/Christus is – die Koning, nie net van die Jode nie, maar van die wêreld/kosmos.

 

Onder die Jode was dit ‘n soort nasionale simbool om palmtakke te wuif as ‘n simbool van hoop van ‘n  messiaanse bevryder wat op die toneel verskyn. Daarom doen hulle dit ook hier – heel spontaan. En hulle uiter woorde wat uit Psalm 118 kom. Psalm 118 was altyd tydens Paasfees gebruik en Psalm 118 was juis oorspronklik in die OT bedoel as ‘n seënbede op die komende Messias-Koning.

 

Al die eeue was hierdie psalm dus ‘n vooruitwysing na die Here Jesus se koms. En nou roep die skare: HOSANNA, wat iets beteken soos “Die Here verlos ons.” (Ps 118:25). En vers 26: “Geseënd is Hy wat in die Naam van die Here kom.” Terwyl hulle die palmtakke rondswaai. Tussen hakies: dis waarom die Sondag vóór Goeie Vrydag tradisioneel bekend staan as “palmsondag.”

 

Maar kyk nou baie mooi. Hoe lyk hierdie Messias-Koning vir wie die skares toejuig? Hier sien ons weer hoe die Evangelieverhaal glad nie deur ménse uitgedink of ontwerp kon wees nie. Dit kom nie op vanuit die mens nie. As ménse dit moes ontwerp het, sou hierdie Messias-Koning soos ‘n ingehuldigde VSA president lyk.

 

Maar nie wanneer dit van Bo kom nie. Dan ry die Koning op ‘n donkie! Hy heers deur te dien. Hy vervul die profetiese woord in Sagaria 9:9: “Kyk jou koning kom …. en Hy ry op ‘n donkie.” So vervul Jesus elke woord wat die OT van Sy koms voorspel het.

 

Hoe ánders werk die hemelse beginsels nie? Wie groot wil wees, moet almal se dienskneg wees. Wie ‘n leier wil wees, moet onder die mense inbuk. Wie verheerlik wil word, moet bereid wees om te sterf. Watter pragtige koringplant kan ge-oes word sonder dat daar eers ‘n saadkorrel in die grond val en sterf?

 

Omdat hierdie beginsels en werkswyse so hemels is en so téén die menslike natuur is, kan ‘n mens begryp dat die dissipels niks daarvan verstaan het voor Jesus se opstanding uit die dood en Sy hemelvaart nie (v 16). Eers ná Sy verheerliking, het hulle begin verstaan en kon hulle die Woord (wat in die OT oor Jesus geskryf is) in verband bring met Jesus se lyding, dood en opstanding.

 

Die Joodse leiers – wat reeds ‘n amptelike besluit geneem het om Jesus dood te maak – was glad nie opgewonde oor wat op “Palmsondag” gebeur het nie. Want vir hulle lyk dit of die hele wêreld nou agter Jesus aangaan. Dit voel of hulle planne niks vorder nie. Nie net Jode nie, maar nie-jode is nou baie angstig om vir Jesus te ontmoet.

 

Soos byvoorbeeld ‘n klompie Grieke wat na Filippus toe gaan met die wens/versoek om vir Jesus te ontmoet. Filippus het dit weer vir Andreas vertel en hulle twee gaan sê dit toe vir die Here.

 

En dan sien ons weer eens die vreemde – wat geen mens sou kon uitdink nie. Die Here Jesus lyk glad nie eens opgewonde oor die Grieke se passie om Hom te sien nie. Dink weer aan ‘n VSA president by sy inhuldiging. Hy is mal oor al die aandag en die aanhang van die skares. Mens sou dink dat die Here Jesus – as die ware verlosser – moeite sou doen om die Grieke te woord te staan en dat Hy bly sou wees oor hulle belangstelling.

 

Maar pleks van Homself aan hulle sigbaar te maak, praat Hy van doodgaan! Sy eie doodgaan! Soos ‘n koringkorrel. Ja, die tyd van Sy verhéérliking is inderdaad op hande, maar nie om deur die skares toegejuig te word nie! Sy verheerliking loop langs die weg van die kruis! As ‘n koringkorrel nie in die grond gesáái word en sterf nie, bly net die een enkele korrel in die sak lê. Lewer niks op nie. Maar as dit sterf, kom daar ‘n wonderlike oes.

 

U sien, die manier waarop Jesus homself aan die Grieke sigbaar maak, is deur vir hulle die Waarheid oor Homself te gee – net deur middel van woorde. Hy gaan nie fisies na hulle toe en ontmoet met hulle oog-tot-oog nie. Die manier waarop hulle Hom te siene kry, is deur die Waarheid oor Hom én oor hulleself te hoor en te glo. En dit is presies die manier waarop Hy vandag nog Homself aan óns sigbaar maak! Deur middel van woorde wat die Waarheid oor Hóm oopmaak EN die waarheid oor óns oopmaak!

 

Wat is die Waarheid oor Hom & wat is die waarheid oor óns? Dit is nog steeds presies dít wat Hy daardie dag indirek aan die Grieke gesê het.

 

Die waarheid oor Hom: Wat die Grieke van Hom moes sien as hulle Hom dan so graag wou sien, is Sy kruisdood en Sy opstanding. Sy sterwe en Sy verheerliking. Die koringkorrel wat sterf, die pragtige koringplant wat daaruit voortkom en die groot koringoes daarná. Want Sy sterwe en opstanding sal ‘n groot oes tot gevolg hê omdat Hy miljoene mense vir God loskoop. Hy versoen ‘n hemel-vol mense met God & herstel hulle verhouding met God. God kyk nou na ons DEUR Sy Seun se offerdood & opstanding. Dít is die Waarheid oor Hom.

 

Die waarheid oor ons: Is die waarheid oor ons dat ons verdoemde sondaars in God se oë is, dat ons sleg is, onheilig is, nie werd is om Sy kind genoem te word nie? Ja, dit is wat ons dínk die waarheid oor ons is. Maar kyk wat sê die Skrif:

 

Absoluut wonderlik: Waar Hý is, IS ons ook! Vers 26: “Waar Ek is, SAL my dienaar ook wees.” Wat beteken dit? Ons is ingesluit by Sy kruisweg, Sy koringkorrelsterwe, Sy selfverloëning, Sy opstanding, Sy oes, die eer wat Hy van Sy Vader kry, die ewige lewe. As ons IS waar Hy is, beteken dit ons is ingesluit by Hom. Dit is die waarheid oor ons.

 

Die gevolg is: Ons volg Hom dus op Sy kruisweg, ons stel Hom bó ons eie lewe, ons dien Hom, ons het die ewige lewe, die Vader eer ons.

 

Dit gaan nie daaroor dat ons – uit vrees dat ons ons lewens (geestelik) sal verloor – deur eie inspanning & wroeging moet probeer om nie ons eie lewens bó die Here lief te hê nie. Of dat ons met eie pogings moet probeer om ons lewens vir die ewige lewe te behou nie. Of probeer om ons eie lewens te haat & verloën nie. Of te probeer om die Here te dien sodat die Vader ons kan eer nie. Om dit so te sien, is om alles verkeerdom te draai.

 

En tog preek sommige predikers só. “Jy moet aan jouself sterf. Jy moet jouself verag. Jy moet saam met Christus sterf. Jou eie-ek afsterf. Jouself verloën.” Die gedagte is dan om hierdie dinge te doen om geestelik te kan groei en in die Here se goeie boekies te bly.

 

Van Joh 12 sê hierdie predikers: “In verse 23-24 sê die Here Jesus wat Hý doen en hoe Hý sterf en verheerlik word, maar in verse 25-26 gaan dit oor wat ons moet probeer doen. As ons ons lewe wil bewaar vir die ewige lewe, dan moet ons – soos Hy – ons lewens aflê, Hom volg ens (moet Hom probeer naboots)”

 

Hierdie siening kan egter nooit reg wees nie.

 

Kyk maar net mooi na verse 25 & 26: Die kern is vers 26 – waar Jesus is, IS ons ook. Dit is die sleutel om die hele paragraaf te verstaan. Dit beteken nie dat Jesus iets doen en dan verwag Hy van ons om iets te doen nie (Hom na te boots nie). Dit beteken dat bý dit wat Hy doen, ons ingesluit is (ons is waar Hy is) – en wanneer ons dit glo, sal ons innerlike mens verander en sal ons spontaan tot aksie kom.

 

Wat beteken dit dus om aan jouself te sterf? Wat beteken dit om Hom bó jou eie lewe lief te hê? Wat beteken dit om Hom te volg? As Paulus in Gal 2:20 sê “Ek het saam met Christus gesterf en ek leef nie meer nie..” wat bedoel hy? Hoe kom ‘n mens op die punt waar jy nie meer leef nie, maar Christus in jou leef? Moet ons ook soos koringkorrels sterf en indien wel, hoe & wanneer sal jy met sekerheid weet: nóú het ek gesterf?

 

Die manier hoe ons ons eie-ek kruisig is deur God se Woord te glo dat waar Jesus is, ons ook is! Ons moet glo dat God ons ingesluit het by Jesus se koringkorrel-sterwe. Dat Sy sterwe óns sterwe is. 2 Kor 5:14 sê baie duidelik: “As Een vir almal gesterf het, dan het almal gesterf.”

 

En moenie ‘n fout maak nie: al hierdie dinge is nie eers van jou waar nádat jy tot bekering gekom het nie. Dit ís waar, daarom glo jy dit. Sien jy Jesus aan die kruis, sien jy jouself aan die kruis. Omdat Hy gesterf het, hét jy gesterf. Dit is wanneer dit vir jou oopgaan en jy dit glo wat jy tot bekering kom! “Bekering” (metanoia) beteken “verandering in die kern van jou denke”. Die briljante goeie nuus vd evangelie verander die hartklop van jou denke. Wanneer jou denke verander, verander jou lewe.

 

Ons worstel en sweet dus nie vir dae en nagte in gebed om aan onsself te sterf nie. Ons stry en worstel nie dag & nag met ons sondige natuur, verlede, pyn, hartseer, verderf, oue mens, armoede, siekte, teneergedruktheid, vrese, bekommernisse, minderwaardigheid, komplekse, aggressie & welluste – om dit afgelê & gekruisig te kry nie. NEE!

 

Ons ontvang die openbaring (bekendmaking) van God dat Hý ons ou sondige gevalle mens saam met Christus laat sterf het en saam met Hom ‘n nuwe mens uit die dood opgewek het. Romeine 6:6. Hierdie waarheid is ‘n krag soos dinamiet, sê 1 Kor 1:8. Waar Hý is, IS ek – maak nie saak hoe ek voel of wat ek beleef nie. Ek sien net die heeltyd raak dat ek saam met Christus gesterf het en dat God my hoegenaamd nie veroordeel nie en dat ek onskuldig voor God staan – maak nie saak hóéveel ek drooggemaak het en nog steeds droogmaak nie. Dis al wat ek sien. Al wat ek voor oë hou is die feit dat: waar Christus is, ek ook is. Al kla my gewete my aan en vertel vir my hoe hopeloos/skynheilig ek is – ek luister nie eens daarna nie. Ek hou net (sonder inspanning) my oog op wat die waarheid aangaande my is. Dat waar Hy is, ek is. As Hý soos ‘n koringkorrel gesterf het, het ek ook!

 

Met die gevolg dat my duisternis begin verdwyn en lig begin deurskyn en ek al hoe meer in oorwinning begin leef – moeiteloos. En wanneer ek struikel, klou ek net vas aan die feit dat waar Hy is, ek is. My sonde & foute & dwaashede kry my nie uit daardie posisie geruk nie en kan niks aan daardie posisie verander nie. My struikelinge beroof my nie van my posisie van geen-veroordeling nie.

 

Is heiligmaking dan nie ‘n stryd nie?

 

Die stryd wat ons voer is om nie te wil uitbreek uit die insluiting-in-Christus nie – om nie buite hierdie insluiting te wil leef nie. Om nie te leef asof die insluiting nie waar is nie. Ons stryd is nie om ingesluit te wórd nie. Want as Een gesterf het, HET almal gesterf. Ons stryd is om nié te leef asof ons nié ingesluit is nie!

 

Ons stryd is om nie uit ‘n leuen te leef nie. Watter leuen? Die leuen dat ons nié die heiligheid van Christus is nie. Die leuen dat ons nié Christus se onskuld voor God is nie. Die leuen dat ons sondige natuur nié gekruisig is nie. Die leuen dat ons nié sonder veroordeling is nie. Die leuen dat ons buite God se guns en liefde is.

 

U sien: Ons blindheid wil altyd terugbeur na daardie leuen toe. Daarom het ons ‘n stryd: om NIE aan daardie leuen toe te gee nie.

 

Die stryd om heiligmaking is nie om met trane en moeite iewers heen “hoër op” te beweeg nie. Dit is nie om op ‘n hoër geestelike vlak te kom sodat God met ons meer en meer gelukkig kan wees nie.

 

Die stryd om heiligmaking is om dag na dag aan te hou om die Waarheid te glo en jou vertroue dáárop neer te sit.

 

Die waarheid dat, waar Christus is, jý is.

 

Die Here help ons almal daartoe.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00