PINKSTER 2013 DEEL 4
Tema: Inkarnasie
Skrif: Johannes 1:1
God het besluit om as ‘n MENS te bestaan – nie vir 33 jaar nie – maar vir ewig! God het besluit om VLEES te word en dit nooit weer prys te gee nie! God het besluit om op geen ander manier God te wees as vír die mens en ás ‘n mens nie! Hierdie besluit van God – om – in die Persoon van Christus Jesus – as ‘n mens te bestaan, is die mees finale woord oor die menslike ras wat Hy ooit gespreek het.
Kan u aanvoel hoe skreiend hierdie stellings is?!
Ons het Sondagoggend hieroor gepraat. Vanaand wil ek graag weer daarby aansluit en verder daarop uitbrei. Dat God in Christus ONS MENSWEES aangeneem het, ons menswees binnegekom het en ons binne-in ons duisternis ontmoet het. Ons móét vanaand ‘n deurbraak in ons gemoed maak om diep in te sien wat die implikasies van die inkarnasie vir ons lewens is. Dit is my doelwit met vanaand se boodskap.
Die Here Jesus se geboorte, lyding, sterwe, opstanding, hemelvaart is ONS verhaal. Dis ú verhaal. Toe Hy vlees geword het, was dit ú vlees/menswees. Hy was nie ‘n soort 20 meter hoë super-engel nie. Hy was ‘n gewone mens van 1,5 meter wat verkoues kon kry en met wie die kinders op skool kon spot en wat elke dag sy tande moes borsel. Hy het ú menswees binnegekom.
Die evangelieboodskap maak aan ons bekend wat met ú in Christus gebeur het. Dis absoluut afgehandel. Ú was in Hom. Ú ware lewensverhaal is bekendgemaak in Christus se dood en opstanding. U was in Hom toe Hy gesterf het en opgestaan het.
Geloof maak nie my insluiting in Christus ‘n werklikheid nie. Geloof ontdek mosterd-na-die-maal dát dit alreeds ‘n werklikheid is. Geloof is die resultaat/gevolg van ons ontdekking van wat God met ons gedoen het. Jesus Christus is die oorspronklike gedagte en die finale konklusie aangaande u lewe. God die Vader het klaar Sy konklusie oor u lewe gemaak.
Jesus lewe in die ewige teenwoordige tyd. In Jesaja 53 lees ons byvoorbeeld woorde wat 600 jaar in die toekoms inkyk, maar in die verlede tyd geskryf is: “Hy was verbrysel… Deur Sy wonde ís ons genees…” Christus was reeds voordat Abraham was. Hy is die groot EK IS. Hy lewe in die ewige teenwoordige tyd. Tyd bestaan in Hom, Hy bestaan nie in tyd nie. Hy is die skepper van tyd.
Al die mens se pogings om God te ken is net raaiskote en gissings. Selfs deur middel van Bybelstudie opsigself sal jy Hom nie noodwendig ken nie. Jesus sê vir die Jode: Julle lees die Bybel maar julle herken nie vir MY wat tussen julle beweeg nie. Die Bybel praat van MY (Joh 5:39).
Die Skrif wys op ‘n realiteit wat baie groter as die Skrif self is. God het Homself in die menswording van Jesus Christus op die mees akkurate manier bekend gemaak – meer akkuraat as in die beste Bybelvertaling. Dís die realiteit wat ons moet raaksien as ons Bybel lees. Net soos ‘n selfoon se handleiding jou na ‘n groter realiteit as die boekie self wys, naamlik die selfoon – só wys die Skrif ons weg van die Skrif self ná Christus IN WIE ONS INGESLUIT IS! Christus-en-elke-mens-se-insluiting-in-Hom is die sleutel om elke vers in die Bybel reg te verstaan. As jy ‘n gedeelte in die Bybel lees wat lyk of dit dít weerspreek, lees jy dit verkeerd.
Wanneer jy Hom in die Skrif ontdek, ontdek jy meteens wie jyself regtig is. Jy ontmoet jou ware self vir die eerste keer. Jy kyk in die Bybel soos in ‘n spieël en die spieël reflekteer jou eie gesig! Jy kyk in die spieël van die Bybel om Christus se gesig daarin te herken, maar terwyl jy na Hom kyk, sien jy jou eie gesig. Wat jy van Hom sien, geld van jou! Jy is ingesluit in Sy geskiedenis. Hy is die finale Adam – die egte verteenwoordiger van die menslike ras. So word jou denke oor jouself verander en so verander jou lewe gaandeweg meer en meer. 2 Kor 3:18.
Wat God in/deur Jesus se menswording gesê het, is Sy volle en finale woord. Niks kan in die toekoms gebeur wat iets daarby kan aanvul of wat ons sal verras nie. Hy het nie 80% in Betlehem gesê/gedoen en 20% sal nog in die toekoms gesê/gedoen word nie. Daarom sê die Apostel in 1 Kor 3:22 > “die toekoms behoort alreeds aan julle.” Daar is niks wat in die toekoms kan gebeur wat enigiets van julle kan wegneem óf byvoeg tot dít wat julle alreeds het nie. God het alreeds Sy finale gevolgtrekking en konklusie oor u lewe gemaak. Jesus Christus as Persoon is die enigste plek, persoon, gebeurtenis waar die mens God ontmoet.
Hierdie magtige waarhede het groot implikasies vir ons almal.
Die feit dat God mens geword het, dat Hy ú menswees/vlees geword het (en dit nog steeds is), die feit dat daar ‘n werklike Mens in die Drie-eenheid sit en vir ú in die Godheid verteenwoordig, het groot implikasies vir u lewe van elke dag. Dat een Man die bestemming van alle mense beliggaam, dat Hy in Sy menswees die menslike ras ingesluit het – het implikasies vir ons elkeen se lewe.
Ek voel baie klein en eintlik totaal onbevoeg om só ‘n diep en ondeurgrondelike realiteit te probeer toepas op ons alledaagse lewens. Maar hier is ‘n poging:
Eerstens verwyder hierdie waarhede die swaar appél op dit wat óns moet doen, op óns geloof en bekering om in God se goeie boekies te kom. Tot vervelens toe hoor ons hoe predikers op mense skree dat hulle moet kies en oorgee – anders gaan hulle in die hel brand. Eintlik verlam hierdie predikers die mense tot moedeloosheid, want as my saligheid van die kwaliteit van mý oorgawe moes afhang, sou ek nooit die paal haal nie.
Maar wanneer ons die blye boodskap van die inkarnasie verstaan besef ons dat Gód ons deur middel van Jesus se menswording in Sý lewe opgeneem het. Geloof beteken om dit te ontdek en jou hart daarop neer te sit, tot rus te kom en met Hom te begin leef. Dit is bekering in die eg bybelse sin van die woord.
Dus, die eerste implikasie is dat dit die swaar appél op wat óns moet doen, relativeer.
Die tweede implikasie is dat appél wat op ons gemaak word, soveel meer intens is!! Die blye boodskap van die inkarnasie maak die appél tot geloof & bekering soveel meer dringend!
Dit klink soos ‘n weerspreking van die eerste, maar dit is nie. Wanneer jy besef dat jy ingesluit is by Christus se menswording, Sy dood, Sy opstanding en jy oorweldig word deur die onbeskryflike onverdiende liefde van God – dan WIL jy nie meer buite staan nie! Jy WIL met alle mag deel wees van hierdie Lewe. Dan besef jy dat – as jy nie die waarheid oor jouself aanneem nie – jy téén jou eie bestaan kies en jy jou eie bestaan verwerp! Dis dodelik ernstig.
Sien u? Sien u dat die inkarnasie die appél wat op ons gemaak word – aan die een kant – relativeer en – aan die ander kant – intensifiseer.
Derdens moet ons probeer verstaan hoe naby die Here Jesus aan ons gewone daaglikse menslike lewe gekom het, hoe Hy in die hel van ons bestaan ingekom het, hoe Hy die verwerping en seer wat ons beleef het saam met ons beleef het. Hy is die Alfa en Omega – die begin en die end. Hy is die einde (omega) van jou verwarring, ou lewe, skuld, skande en sondes. Die ou dinge het verby gegaan.
Hy is ook die begin/nuwe – die Alfa. “Kýk alles het nuut geword.” (2 Kor 5:17).
Dis nie nodig om een oomblik langer met herinneringe te sit wat lankal nie meer bestaan nie – wat in die Omega vernietig is. Niks wat in jou verlede gebeur het dra groter gewig as wat met jou in die Alfa se lewe/dood/opstanding gebeur het nie. Jy was teenwoordig in Sy lewe en Sy dood en opstanding. Kyk net hoe helder brand die lig alreeds. Dink maar hoe mense baie ure se berading deurgaan omdat hulle voel dat dit so donker in hulle lewe is. En dit terwyl hulle net hulle oë moet oopmaak om te sien dat die lig reeds brand!
Satan se tegniek is om ons oë te verblind vir dit wat reeds ís! (2 Kor 4:4). Want as jou oë dit nie sien nie, dink jy dit is donker en dink jy daar is verwydering tussen jou en die Here. Dan veg jy teen ‘n vyand wat alreeds oorwin is.
Kyk maar na Paulus se gebede wanneer hy vir die gemeentes bid. Hy bid net één ding oor en oor: “Here open tog hulle oë dat hulle kan sien wat alreeds van hulle waar is.” Skakel net die lig aan, dan verdwyn die duisternis vanself. Dis wanneer jy van jouself begin sien wat God van jou sien en wat Hy van jou glo. Wat Hy van jou sien, maak Hom so opgewonde oor jou lewe. Nie gemáák opgewonde nie, maar régtig opgewonde. Hy verdra jou nie maar net nie. Hy is opgewonde oor jou. Hy was dit reeds lank voordat jy in staat was om Hom te beïndruk. Hy is sélf die einde van alles in jou lewe wat verkeerd is. Hy is sélf alles wat nuut is (1 Kor 1:30). Hy sien baie meer waarde in jou lewe as wat Hy waarde in die hemel sien. Daarom het Hy die hemel verlaat en in jou menswees ingekom. Die goeie nuus is nie dat jy eendag hemel toe kan gaan nie. Die goeie nuus is dat Hy die hemel verlaat het om by jou te kan wees.
Die vierde implikasie van die inkarnasie vir ons lewens is dat ons die Here Jesus binne-in ons lewens ontdek wanneer ons op ons laagste vlak is. Wanneer ons die verste van Hom voel en die grootste sondes gepleeg het, ontdek ons Hom in Sy onvoorwaardelike liefde en teerheid. Ons ontdek dat Hy die reeds geknakte riet nie verder breek nie en die dowwe lamppit nie uitdoof nie (Mat 12:20). Ons ontdek dat die essensie van Sy lewe medelye (compassion) is. Wanneer Hy by mense in duisternis kom, draai Sy binnegoed om (Mat 9:36; 20:34: 14:13-21) (Grieks).
Dis ‘n medelye wat nie grense ken nie. Hy is die grootste minnaar in die heelal. Hy voel op geen manier geaffronteer deur ons siniese hardheid en skeptisisme nie. Hy ontmoet jou altyd op die plek waar jy is – nie waar jy behoort te wees nie. Hy het jou lief soos jy is en nie soos jy veronderstel is om te wees nie!
Jare gelede was daar in Amerika ‘n Anglikaanse priester met die naam van Kevin Martin. Op ‘n dag skryf hy sy bedankingsbrief aan die kerk en hy skryf ‘n brief vir sy vrou en kinders dat hy hulle gaan verlaat en hy vlug na die noorde van die VSA.
Op die ou end bevind hy homself in ‘n klein kamertjie met ‘n buite-temperatuur van -10 gradeC. Hy sit daar by ‘n klein verwarmertjie. Maar om een of ander rede breek die verwarmer en gaan dood en dit word vriesend koud in die vertrek.
In ‘n woedebui vlieg Kevin op, vat die verwarmer en gooi dit deur die venster terwyl hy gil: “Christus ek haat u. Gaan weg uit my lewe uit. Ek is klaar met die Christelike snert. Dis verby!”
Toe val hy op sy knieë en begin huil. Skielik hoor hy hoe Iemand saam met hom huil en snik. Die volgende oomblik sê die iemand: “Dis okay Kevin, ek verstaan jou. En ek is hier vir jou.” Hy het tot sy stomme verbasing ontdek hoe Christus self oorweldig is met hoe hy (Kevin) voel. Hoe meer hy Christus verwerp en op Hom skel, hoe meer medelye het die Here met hom.
Die volgende dag is Kevin Martin terug huis toe. Hy is versoen met sy gesin en het later ‘n uiters suksesvolle bediening gehad in St. Luke’s anglikaanse kerk in Seattle, Washington.
Die inkarnasie van Christus leer vir ons hoeveel intimiteit, warmte en diepte van vriendskap Hy met ons het IN ons gebrokenheid. Nie nádat ons ‘n Billy Graham geword het nie. Maar waar ons is en soos ons is!
Dis die tragedie in die moderne kerk – dat ons só presies wil wees met hoe ons alles in die kerk doen en hoe suiwer ons is (dit moet só wees en dat moet só wees), hoe wetties legalisties korrek ons is en hoe moreel suiwer alles is – dat ons ‘n belewenis van die intieme vriendskap van Christus tweede viool laat speel. Ons vergeet dat geen mens die Christelike Geloof enduit kan verduur as ‘n geloofservaring van Sy vriendskap en warmte en medelye en omhelsende liefde nie heel bo aan die lys is nie.
Die fout wat die moderne kerk maak is om vir mense te preek en vir hulle te sê: “As jy net kan verander sal die Here jou liefhê.” En wat doen die lidmate as gevolg van hierdie prediking? Hulle sê vir hulleself: “O as ek net ‘n bietjie harder probeer, ‘n bietjie vinniger probeer draf, net die verkeerde gedagtes uit my kop kan kry, net ‘n gedissiplineerde gebedslewe kan kweek – dán sal ek dalk ook Sy liefde ervaar. HERE AS EK VERANDER SAL U MY LIEFHÊ, SAL U NIE?”
Ons het ‘n kerk nodig wat die implikasies van die inkarnasie verstaan en dit vir die mense verduidelik. Sodat mense kan besef dat hulle passievol en onvoorwaardelik liefgehê word sónder dat hulle verander – en hulle dán verander omdat hulle WIL verander.
‘n Twintigjarige man stap eendag by sy predikant se studeerkamer in en plak hom op die stoel neer. Hy sê: “Ek woon nou al 3 maande die dienste by en hoor hierdie ongelooflike boodskap wat u bedien. Maar dis asof alles net in my kop is, niks in my hart nie..”
Die leraar kyk hom stip aan en sê: “Glo jy dat Jesus uit die dood opgestaan het en dat Hy lewe en dat Hy nou hier by jou is?”
Die man sit ‘n paar minute en antwoord: “Ja, ek glo dit.”
Die leraar sê toe: “Vertrou jy God, dat Hy jou liefhet soos jy is en nie soos jy veronderstel is om te wees nie en dat Hy jou liefhet selfs al bekeer jy nié?”
Die man laat sak sy kop en begrawe sy kop in sy hande en sit vir ‘n lang tyd bewegingloos.
En toe kyk hy op. Met ‘n gloed op sy gesig. En sê: “Ja, já – ek weet dit en ek vertrou daarop.”
Sien u watter implikasies het die feit dat Jesus Christus ú menswees aangeneem het vir u lewe hier en nou?
Die hele NT staan in verwondering hieroor. Die hele NT hou asem op oor die feit dat God vlees geword het. Dat Hy homself met die mensdom verenig het en wat dit vir ons menswees inhou.