GENADE VERSUS RADIKALE GENADE

1 Korintiers 1:30

 

‘n Mens kry mos sulke prentjies waar die hele bladsy net uit ‘n klomp kolletjies bestaan. Jy kyk daarna en sien niks. Maar hoe langer jy kyk, hoe meer sien jy ‘n prentjie. En jy dink: Hoe kon ek dit nie van die begin af gesien het nie? Dis so vanselfsprekend!

 

Dit is hoe ek voel oor die Blye Boodskap van radikale genade. Voorheen kon ek dit nie sien nie, maar noudat ek dit sien, sien ek dit op elke bladsy van die Bybel. En ek dink: Hoe kon ek dit nooit voorheen sien nie? Dit is so duidelik oral in die Bybel!

 

Vanaand het ek nie ‘n Skrifboodskap nie, maar meer van ‘n persoonlike getuienis: Hoe ek genade verstaan het voordat ek radikale genade begin verstaan het? Hoe ek dit voorheen gesien het en hoe ek dit vandag sien. Ek het gisteraand met ‘n bolangse persoonlike getuienissie afgesluit en ek het gedink om vanaand net effe daarop uit te brei.

 

Eers definisies:

 

“Radikale genade” = God het die mens reeds volledig geseën, nie op grond van die mens se werksverrigting nie, maar suiwer op grond van die werksverrigting van Christus – by wie God (die Vader) alle mense ingesluit het.

 

Radikale genade verlos ons totaal van ons eie werksverrigting – en al die stress wat daarmee gepaard gaan.

 

“Eie werksverrigting” beteken: Ek doen dit-en-dat waardeur ek voel dat ek myself op ‘n plek kry waar Hy my kan seën. Jy voel (o.g.v jou waarneming van jou sondes en foute) jy is nog nie 100% nie, dus moet jy dit-en-dat doen om 100% te word. Dit doen jy met behulp van Sy “genade” (wat as “instaatstelling” verstaan word) natuurlik!

 

“Radikale genade” beteken: Jy is geliefd, begunstig en aanvaar net soos jy is, nog voordat jy enigiets kan doen – slegs o.g.v Christus se meriete waarby God jou ingereken het. Selfs God se dissipline beteken nooit dat hy Hom onttrek of enige van Sy aanvaarding en teenwoordigheid van jou onttrek nie. Ons sien dit so mooi by die oorspronklike sondeval. God het Hom nie van Adam onttrek nie – dit was Adam wat padgegee het.

 

Radikale genade: Verlossing = ‘n vrye geskenk. ‘n Geskenk is altyd totaal ongevraagd! Wanneer jy ‘n geskenk ontvang, het jy hoegenaamd nie daarvoor gevra nie. Dit word oor jou uitgestort en jy kan slegs in die werklikheid daarvan begin leef. Dit word ook nooit weer teruggevat nie.

 

Maar kom ek praat dan nou oor myself. Die 6 maniere hoe ek genade gesien het voordat ek radikale genade verstaan het.

 

1 In aansluiting by waar ek gisteraand afgesluit het: Voordat ek radikale genade verstaan het, het ek gedink Christus se dood & opstanding het slegs die mens se verlossing moontlik gemaak – dit is nie die werklike verlossing nie! Die mens moet dit self aktiveer deur vir Jesus binne-in hom/haar in te kry. Die mens moet aan Hom ‘n uitnodiging rig waarop Hy dan antwoord en red. Die kruis is nie die werklike redding nie, die kruis het dit net moontlik gemaak dat Jesus binne-in jou kan kom op grond van jou uitnodiging aan Hom.

 

Toe ek radikale genade begin verstaan, het ek begin sien dat Christus se dood & opstanding reeds die volle verlossing is en dat dit reeds ‘n realiteit is – waarby God die mens ingesluit het sonder dat die mens enige uitnodiging aan God hoef te rig. Dit is wat ware genade beteken. Genade is nie ‘n bonatuurlike instaatstelling sodat die mens sy deel gedoen kan kry nie.

 

Romeine 5:10 > Ons IS met God versoen deur Jesus se dood – en dit het gebeur toe ons nog Sy vyande was

 

Kolossense 2:14 > Toe God die klagstaat met sy aanklagte teen julle aan die kruis gespyker het, het Hy dit vir goed vernietig.

 

2 Voordat ek radikale genade verstaan het, het ek nie verstaan wat geloof en bekering is nie. Ek het gedink die verlossing is iets voorwaardeliks – verlossing vind plaas op voorwaarde dat die mens sy sokkies optrek – dat die mens tot bekering kom om vir God te wys dat hy/sy nou besigheid met God bedoel. Verlossing kan nie plaasvind voordat die mens nie ernstig raak nie! Ek het gedink geloof is iets soos ‘n sekere tipe gebed wat ‘n mens agter iemand anders moet aanbid. Jy moet na die beste van jou vermoë jou hart oopgemaak kry. Maar eers moet jy baie berou toon en baie opreg wees.

 

Toe ek radikale genade begin verstaan, het ek besef dat verlossing 100% onvoorwaardelik is. En dat geloof dit slegs ontdek en daarin tot rus kom. Geloof is nie ‘n stukkie menslike aandeel aan die verlossing nie. Geloof ontdek dat God die 100% aandeel het en geloof glo God daarvoor. Dit vertrou Hom as Hy beloof dat Hy jou kant en klaar op die kruis gered het.

 

3 Voordat ek radikale genade verstaan het, het ek genade en Wet vermeng. Ek moes Sy guns op ‘n manier waardig wees… en aanhou waardig wees! Ek moes my inspan om by Hom te bly. Ek het gedink: Genade is onverdiende guns.. en dit beteken: As ek goed is, skenk Hy onverdiende guns aan my! Hoewel ek weet dit is onverdiend voel ek tog ek moet dit op ‘n manier verdien! Alles gebaseer op: hoe goed ek aangaan. Genade = enjinolie wat my aan die gang hou sodat ek goed kan doen.

 

Wat ek nie besef het nie, is watter druk daar voortdurend op my was om “dinge te laat gebeur”. Dus: Het saligheid ontvang deur genade maar ek bly daarin deur my werke.

 

Vandag: Die genade wat my gered het is die genade wat my ook behou – niks is op my gebaseer nie. Baie groot bevryding.

 

4 Voordat ek radikale genade verstaan het, het ek gedink genade stel my onder die verpligting om diensbaar te wees. “Christus het alles vir jou gedoen. Wat gaan jy nou vir Hom doen?” Hierdie manier van dinge sien verskuif ‘n mens se innerlike fokus weg van Hom na jouself toe. En dit beïnvloed die manier hoe jy ander mense sien en hoe jy na hulle oorkom.. naamlik… veroordelend! Wek skuldgevoelens by ander. “As jy regtig die Here liefhet, dan sal jy dit en dat doen”

 

Ek het nie verstaan hoe vry vrye genade in werklikheid is nie. Dit is baie moeilik om regtig ‘n mens se begrip/kop rondom dit te kry. Dis moeilik om te verstaan dat dit aan jou geskenk is en dat dit in jou lewe werksaam is of jy dit nou erken of nie en of jy dit glo of nie. Glo dit of glo dit nie – niks kan die feit wegneem dat die lewende God genade in jou lewe gedeponeer het nie. Punt. Dis vry. Volkome vry. Toe ek en jy nog absoluut NIKS kon doen nie, het Hy reeds geglimlag.

 

Weer eens Romeine 5:8. Jy het absoluut niks bygedra om dit ‘n werklikheid te maak in jou lewe nie. Dit IS net ‘n werklikheid in jou lewe. God het dit laat gebeur en laat werk. Jesus het nie gekom om jou bang te maak nie. Om jou te dreig nie. Om jou te oordeel nie. Om jou te intimideer nie. Hy het slegs gekom om Sy Vader se liefde vir jou aan jou bekend te maak. Hy het nie gekom om vir jou ‘n harde tyd te gee nie. Hy het gekom om vir jou te wys wie Sy Vader regtig is.

 

Radikale genade bevry jou van verpligtinge. Christus se juk is sag en Sy las is lig. Jou dienslewering dreineer jou nie meer nie. Dit maak jou nie moeg nie. Dit druk jou nie plat nie. Dit gee bevrediging en blydskap. Jy hoef niks te maak werk nie! Rus en laat Hy dit laat werk. Hy het die krag om tot uitvoer te bring dit wat Hy in jou binneste geplaas het.

 

5 Voordat ek radikale genade verstaan het, het ek vir God goed gevra wat Hy alreeds voorsien het. Baie groot vra-er. Die Bybel sê tog dat ons met vrymoedigheid na die genadetroon van God mag kom! Dus het ek met argumente gekom soos ‘n advokaat in die hof en vir Hom baie mooi verduidelik wat die feite is en hoe dinge behoort te werk. Ek het my saak goed bepleit en gedink indien ek dit goed genoeg kan regkry en sterk genoeg kan oorkom en lank genoeg aanhou en genoeg na Hom kan honger en dors of dalk 30 ander mense kan kry wat kan saambid, dan sal die Here dalk beweeg word tot aksie. Baie bid, ywerige bid, ernstige bid en goeie argumente – kan sukses behaal. Ek moet net sorg dat ek altyd op diens is – soos die oudste broer (Luk 15) en dan my saak goed kan stel.

 

Radikale genade > God het alles reeds berei en voorsien. 2 Petr 1:2-3. Daar is absoluut niks wat ons behoefte aan kan hê wat buitekant lewe & godsvrug kan val nie! Hiervan het Hy reeds ALLES voorsien. Al wat vir my oorbly is om oë te hê wat al beter en beter kan sien hoe ryk hierdie seëninge is waarmee ek reeds geseën is op grond van die klaargemaakte werk van Christus. Hoe diep ek liefgehê word op grond van die klaargemaakte werk van die kruis – hoe hoogs begunstig ek is. God het gekom en my behoeftes ontmoet. Ek moenie meer geloof kry nie. Ek moet Christus se geloof beter sien!

 

As ‘n mens radikale genade nie verstaan nie, vra en smeek jy die Here vir goed wat Hy klaar gegee het. Jy wil hê God moet dit wat Hy klaar gedoen het, weer doen! Daar is so baie goed wat ons bid en sing wat eintlik oorbodig is. “Here kom! Here seën my. Here maak my heilig. Here verlos my. Here stuur U Gees. Help my ek is waardeloos. Help my ek is sondig”.

 

Radikale genade wys vir ons dat Hy gekom het, jou geseën het, jou geheilig het, jou verlos het, Sy Gees uitgestort het op alle vlees, jou hulp is, jou ontsondig het.” Jy het die volheid in Hom daarom honger jy nie meer nie en jy het van Hom gedrink daarom dors jy nie meer nie. Ons moenie met ons gebede en liedere die klaargemaakte werk van die kruis deur die gesig klap nie! Ons moet ligloop vir die oënskynlik nederige gees wat met trane huil en skree en pleit en soebat vir goed wat Hy klaar gedoen het.

 

Radikale genade wys vir ons hoe geestelike groei eintlik niks anders is as ‘n ontdekkingsreis nie! Meer en meer word dit aan jou bekend gemaak WAT God jou alles uit genade geskenk het. Jy sien al hoe beter. Jou blindheid verdwyn al hoe meer. VRA word al hoe meer vervang met DANK en NEEM namate jy ontdek wat reeds gedeponeer is.

 

Die mense daarbuite moet van hierdie boodskap kennis neem. God sit nie op ‘n veraf hemelhoë troon, kwaad en teleurgesteld met ons swak werksverrigting en weerhou om daardie rede allerhande goed van ons nie – omdat Hy eers kyk hoe goed ons ons saak kan stel nie, voordat Hy iets groots sal doen nie!

 

6 Voordat ek radikale genade verstaan het was ek meer sondebewus as geregtigheidsbewus (reg-wees bewus / righteousness-conscious). Vrees & straf skema om ‘n wilskraggedrewe gedragsverandering te bewerkstellig. “As jy nie so en so verander nie gaan die Here jou kry! En as jy nie verander voordat jy doodgaan nie, gaan Hy jou kry vir ewig!” Gevolg: Jy bly sondebewus. En as jy sondebewus is, fokus jy heeltyd op die mens se kant van die muntstuk. En dit is: Stop jou sonde. Probeer harder. Doen beter. Bly weg van dit en dit. Doen so en so.

 

Radikale genade leer vir ons om reg-wees-bewus te wees .. bewus van hoe reg jy in Sy oë is deur Christus. Dan fokus jy outomaties op die ander kant van die munt… wat Hy is. Sy groot klaargemaakte dade. In plaas van bekeer-bely-probeer-doen-dit-doen-en-dat… fokus jy op klaar vergewe, geregverdig, geheilig, bevry, verlos, versoen, ontsondig, volkome gemaak.

 

Solank as wat jy fokus op die sonde-bewustheid kant van die munt, sal jy prakties so leef – vas in sondes. Jy kom net nooit los nie.

 

Maar wanneer jy fokus op reg-wees-bewustheid, sal dit binne-in jou ‘n inspanninglose verandering bring wat jou daar sal bring waar jy jou hele lewe wou uitkom deur middel van jou inspanning, maar waar jou inspanning jou nooit kon bring nie! En dis die einde van jou geestelike frustrasies.

 

En veroorsaak beter verhoudings want jy slaan nie meer ander mense met ‘n tien pond hamer wanneer hulle optree soos jy reken hulle nie behoort op te tree nie! Omdat jy jouself anders sien, sien jy ander mense anders! Jy sien die beeld en gelykenis van God in ALMAL. Jy sien die DNS van God wat op die punt staan om uit te breek in ander mense! Selfs die mees onwaarskynlikstes. Jy sien hulle nie meer volgens die vlees nie (2 Kor 5:16). Maar as jy jouself sien vanuit sondebewustheid – veroordeeld, net-net vergewe, skuldig, onwaardig – dan dra jy dit op ander mense oor. En dan wil jy hulle met ‘n hamer slaan omdat hulle nie ‘n dubbele deel wil hê van dit wat jy het nie!

 

Het u al ooit probeer om vir iemand wat droogmaak te vertel dat hulle in der waarheid geregverdig is, versoen is, vergewe is, verlos is, geheilig is, volkome voor God is? Probeer ‘n slag om oor mense uit te spreek wat hulle werklik is – uit God se oogpunt? Hulle oë oop te maak vir hulle ware identiteit? In stede van te fokus op wat jy van hulle sien/hoor volgens die vlees? Doen dit en jy sal verbaas wees oor die verandering wat by mense sal kom – inspanningloos.

 

Ek is mal oor inspanninglose verandering. Ek haat verandering wat deur probeerslae moet kom. Inspanninglose verandering kom wanneer ‘n mens reg begin fokus. Die Bybel noem dit om deur die geloof te lewe.

 

Radikale genade leer jou om die klem weg te neem van jouself en wat jy doen en te fokus op Hom en wat Hy klaar gedoen het. Dan gebeur die wonder: jou gedrag word inspanningloos verander. Wat Hy gedoen het, sal jou na inspanninglose verandering lei.

 

Wanneer jy fokus op sondebewustheid en hoe onwaardig & skuldig & waardeloos jy is en hoe groot jou ellende is, sal dit jou ontmoedig en skuldig en veroordeeld laat.

 

Maar as jy in die aand jou kop op jou kussing sit en aan Christus dink: hoe goed Hy is en wat Hy vir jou gedoen het. Watter lewe Hy AS jy leef en hoe Hy jou sien en wat Hy jou noem. En hoeveel guns jy by Hom het net omdat Hy dit ongevraagd en onverdiend op jou rekening gedeponeer het. Dan begin jy die verandering sien. Jou dae van patetiese veroordeling is vir altyd iets van die verlede.

 

Is jy aanhoudend bewus van sonde of van die realiteit van jou volkomenheid in Christus (Kolos 2:10)?

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00