TAFELBERG GEMEENTE PINKSTER 2014: NO 3

Tema: Alles is reg al is alles verkeerd

 

Skrif: 1 Korintiers 1: 1-3

 

Dit is die groot verrassing & die wonder van die evangelieboodskap: Dat God sê: “Alles is reg, al is alles verkeerd.”

 

Gesonde verstand sê tog: “Verkeerd en reg kan nooit saamloop nie – dis of die een of die ander”. Gesonde verstand sê tog: “Maak jý eers reg wat verkeerd is, dan sal alles reg wees. Alles wat verkeerd is moet eers verdwyn, eers dan is alles reg.” Dis net logies.

 

Maar u sien, vrye genade werk nie volgens gesonde verstand & logika nie, maar volgens ‘n onverklaarbare Goddelike verrassing. Só verrassend dat ‘n mens slegs daarop kan reageer deur met verbystering neer te val – in verwondering.

 

Die Here God lê ‘n besoek af by die destydse gemeente in Korinte in Griekeland. Die Here besoek hulle d.m.v. die Apostel Paulus se brief – en wat is Sy heel eerste woorde aan hulle – voordat hy enigiets anders sê? Hy groet hulle met ‘n toesegging: “Julle is ingesluit by My genade & vrede. Julle is geroep en opsygesit vir My.”

 

Hoor u dit?? Sy eerste woorde is: “Julle is REG, want julle is ingesluit by My genade en vrede.” Genade = julle het gekry wat julle nie verdien nie. Julle is ingesluit daarby.

 

Maar, lees ‘n mens die res van die brief, sien jy met ‘n skok in watter chaotiese toestand díé mense se lewensgedrag was: Verdeeldheid, partyskappe, jaloesie, twis, hofsake met mekaar, opgeblase oor hulle gawes, érger onsedelikheid as wat by heidene aangetref word.

 

Vir mense wat só lyk, sê die Here met die intrapslag: “Julle is 100% rég voor My, want Ek het julle ingesluit by My genade en vrede.” Dit is Sy eerste woorde aan hulle. Dit is Sy toesegging, nog voordat Hy ‘n woord verder praat.

 

Hoe op aarde moet ‘n mens dít verstaan?

 

Beteken dit dat sonde en verkeerdhede nou skielik góéd geword het en dat dit nie meer saakmaak nie? Beteken dit dat ‘n mens maar vir altyd verkeerd kan blý – jy ís mos reggemaak voor God deur Christus? ‘n Duisendmaal nee! Lees maar Korintebrief en sien hoedat die Gees – deur Paulus – Sy vinger druk op élke ongerymdheid (hy noem dit op die naam) en ‘n appèl op hulle maak om heilig te gaan lewe….

 

MAAR: hy maak die appèl op grond van die FEIT dát hulle reg IS voor God (ingereken is by Sy verlossing). Anders gesê: Wanneer hy hulle aanspreek oor hulle verkeerde gedrag, bou hy dit op die feit van hulle reg-wees!

 

Hy maak nie ‘n appèl op hulle dat hulle hulle lewensgedrag moet gaan verbeter en dat hulle dán sal kan regkom voor God (ingesluit word by Sy verlossing) nie! Hy sê inteendeel: “Aangesien julle deur ‘n Godsdaad (sonder julle eie toedoen) by Jesus se redding ingereken is en julle dáárom rég is voor God – al is julle verkeerd – DAAROM kan/moet julle praktiese lewenswandel handomkeer nuut word en DAAROM kan/moet julle jul bekeer!

 

Kyk byvoorbeeld hoe hanteer Paulus die feit dat daar sommige lidmate van die Korintegemeente was wat onsedelikheid bedryf het – só erg dat ‘n man en sy stiefma soos man en vrou saamleef. Hoofstuk 5:7.

 

Hoe spreek die Apostel hierdie geweldige probleem aan?

 

Hy sê: “Ons Paaslam ís immers geslag – dit is Christus. Dáárom (omdat Hy geslag is) IS julle nuwe, ongesuurde deeg – is julle REG & heilig. Dáárom: verwyder die ou suurdeeg uit julle midde!! Daardie ou suurdeeg pas nie by julle posisie van reg-wees-voor-God nie. Raak ontslae daarvan deur te besef WIE julle in werklikheid is – dat julle reg & heilig is. En julle IS reg & heilig OMDAT julle Paaslam – Jesus Christus – AS julle geslag is. Daarom HET julle ‘n nuwe identiteit. Maar dit lyk of julle dit nie verstaan nie, daarom leef julle nog volgens julle ou identiteit – wat ‘n leuen is omdat dit vernietig is. En dit is vernietig omdat Christus geslag is. En Hy is AS julle geslag (in jul plek).”

 

Hoe in die wye wêreld kan dit dan moontlik wees dat die mense nuut is net omdat Christus geslag is? Baie van hulle was immers nog nie eens gebore toe Christus gesterf het nie.

 

Antwoord: Omdat God hulle by Jesus se sterwe ingereken het. Daarom IS hulle nuwe, ongesuurde deeg. DIT is wat hulle in die geloof moet aanvaar. Hulle moet God daarvoor begin glo. Daarom kan hulle maklik van die ou suurdeeg van onsedelikheid ontslae raak en begin feesvier (v 8).

 

‘n Mens verstom jou oor hoe maklik Paulus die probleem van onsedelikheid oplos. Net in ‘n paar kort sinnetjie. Hy herinner hulle net wat hulle nuwe identiteit is. Dis al. “Leef volgens wie jy regtig is”

 

In sy brief aan die Kolossense sê Paulus presies dieselfde. Hy begin ook díé brief met die toesegging van ingesluit-wees by die verlossing: “Genade en vrede vir julle van God ons Vader.”

 

Maar, lees ‘n mens die brief, sien jy hierdie mense was onrein, vol wellus, gierig, vuil taal, woede, haat en nyd, ongeduldig met mekaar (hfst 3).

 

En hoe hanteer Paulus dan hulle verkeerde toestand? Praat hy dit goed? Beslis nie. Maar, op grond van die feit dat hulle REG is voor God omdat Hý hulle reggemaak het met Jesus, maak Paulus ‘n sterk appèl op hulle lewens.

 

Vers 9: “Julle hét met die ou, sondige mens en sy gewoontes gebreek en julle leef nou die lewe van die nuwe mens – daarom – moet daar nie vuil taal uit julle mond kom nie en moet julle nie vir mekaar lieg nie.”

 

Sien u dit?? Is dit nie verbysterend nie? Die Apostel sê vir lidmate wat worstel met ‘n hele klomp verkeerde praktyke: “Julle is nuwe mense. Julle hét met die ou mens en sy gewoontes gebreek. DAAROM: Staak die verkeerde gedrag en begin LEEF uit die nuwe mens wat julle reeds is.”

 

Die probleem by al hierdie mense was hulle blindheid en onkunde. Nie hulle sondes nie. Hulle probleem was nie hulle onsedelikheid, vloektaal en leuens nie. Hulle probleem was dat hulle onkundig was oor wat met hulle op die kruis gebeur het toe Jesus daar AS HULLE gesterf het. Dat hulle ingesluit was by Hom. Dat hulle oue mens gesterf het.

 

En omdat hulle blind was vir hulle nuwe identiteit, het hulle volgens hulle ou identiteit geleef.

 

Alles is reg, al is alles verkeerd.

 

Maar, moenie vir een oomblik dink dit is ‘n soetsappige sagmaakboodskappie nie.

 

Dit is lewensveranderende dinamietkrag – groter as die krag wat kernreaktors aandryf.

 

Die krag wat ‘n gelowige se lewensgedrag verander, is wanneer die geloofsontdekking gemaak word: Al is ek onherroeplik verkeerd en al kla my gewete my aan dat ek ‘n sak wurms is (soos Luther van homself gesê het), wéét ek dat God my nie veroordeel vir wat ek is nie en dat Hy my nie verwerp vir wat ek doen nie – danksy Christus se lyding, dood en opstanding waarop ek vertrou. Alles is reg in die kern van my lewe – juis wanneer dit voel of alles verkeerd is.

 

Dit is die veronderstelling waarmee God altyd met ons werk: Dat ons 100% reg is, wanneer ons weet daar is baie met ons verkeerd.

 

Dit is hierdie kragtige ontdekking wat ‘n mens bevry van die las van mislukking en ons verander om die mens te word wat God wil hê ons moet wees. Dit is wat bekering in die ware sin van woord beteken. Jou denke oor God en oor jouself word verander deur die ontdekking van Sy Waarheid. Jy word innerlik verander en nuut.

 

Neem Paulus se eie persoonlike getuienis as voorbeeld:  

 

In Filippense 3 gee die apostel Paulus sy getuienis van hoe hy tot geloof gekom het. Hy lê belydenis van geloof af – voor die hele gemeente van Filippi (per brief).

 

Maar dit klink heel anders as die getuienisse wat ons soms hoor. ’n Mens hoor soms hoe mense getuig dat hulle omgedraai het van ’n verkeerde manier v lewe ná ’n regte manier v lewe. Maar dit is nie die soort ommeswaai waarvan Paulus getuig nie. Hý het omgeswaai van een manier van reg wees/leef na ‘n ANDER manier van reg wees/leef .

 

Daar was nooit ’n tyd in Paulus se lewe wat hy nie reg geleef het nie. Vanaf kinderjare: passie om toegewyd aan God te lewe. Altyd probeer om opreg & vroom te wees. Trouens: So was ál die Joodse Fariseërs. Nie verkeerde/slegte lewens. Paulus verklaar eerlik dat hy ONBERISPELIK volgens die Wet geleef het.

 

Net een yslike probleem: Hy het gedink hy moet homself iets maak wat hy nog nie is nie, deur middel van hierdie onberispelike toewyding aan die Here. Hy was onder die indruk dat hy nog nie reg & heilig is nie en dat hy dit-en-dat moes doen om hom daar te kry!

 

Dit is die groot leuen van religie: EK IS NIE .. daarom moet ek dit-en-dat doen om dit te word wat ek nog nie is nie!

 

Dit was die oer-leuen waarmee Adam gevang was. God het van Adam God se beeld & gelykenis gemaak. Dit was wie hy was. Maar die slang sê vir Adam: “Jy is nie soos God nie. Eet ‘n bietjie van daardie Boom van Kennis van goed en kwaad sodat jy so kan word”.

 

Die Boom van Kennis van goed en kwaad = die stelsel van selfdoen om dit te word wat God my alreeds gemaak het! Dit is hartklop van alle religieuse leuens wat mense gevange hou.

 

God het jou reeds reg & heilig gemaak deur jou by Jesus se dood in te sluit, maar jou waarneming sê vir jou hoe verkeerd jy nog is en dan eet & eet & eet jy van die Boom van kennis van goed en kwaad om dit te probeer word wat jy alreeds is!

 

Dis presies waar Paulus was voordat sy oë oopgegaan het!

 

Hy het gedink sy toewyding sal maak dat God van hom hou. God sal vir hom glimlag omdat hy so toegewyd was.

 

Totdat hy die ontdekking gemaak het wat sy lewe heeltemal omgekeer het. Hy het ontdek dat – al hét hy reg gelewe – die MANIER waarop hy reg gelewe het, verkeerd was. Watter MANIER? “Doen om te word”. Al hét hy “reg” gelewe, was PAULUS al die pad in die middelpunt en daarom het hy eintlik hopeloos verkeerd gelewe al het dit gelyk asof hy reg lewe!

 

En toe ontdek Paulus ’n nuwe manier van reg lewe/reg wees met God: Om te AANVAAR dat Gód alles gedoen het. Om te aanvaar dat God hom (Paulus) EEN GEMAAK het met Jesus Christus. Om te RUS in die eenheid met Jesus wat God al klaar bewerkstellig het. Hy het begin glo dat hy reg & heilig is – deur Jesus wat AS Paulus gesterf en opgestaan het.

 

Paulus getuig daarvan in soveel woorde in Filippense 3. Hy sê hy VERWERP nou die manier hoe hy van kleins af probeer reg lewe het. Dit is waardeloos. Want daar het skille van sy oë afgeval. Hy het ontdek dat God hom EEN GEMAAK HET MET JESUS voordat hy nog sy toestemming kon gee. Hy het ontdek dat hy 100% VRYGESPREEK is omdat God hom een gemaak het met Jesus. En DIT gló hy nou. Een met die krag van Sý opstanding. Een met Sý lyding. Een met Hom in Sý dood. Nou lewe hy reg, deur DIT te glo. Hy sê: Dit is reeds myne, daarom maak ek dit myne. Ek maak dit myne omdat Hy my reeds Syne gemaak het!

 

Geloof is om te AANVAAR dat God my heeltemal reg gemaak het/ regmaak/ sal regmaak omdat Hy my EEN gemaak het met Jesus se geboorte/lewe/onskuldige lyding/verhoor voor Pilatus/sterwe/begrafnis/opstanding. Ek is reg/ Ek leef reg OMDAT ek vasgebind/ingebind is in Christus. Gód het my aan Hom vasgebind. Ek is reg, want ek is vasgebind – en God het die vasbindwerk gedoen! Ons sou dit die “Boom vd Lewe” kon noem!

 

Die Boom vd Lewe = God het jou met Homself reggemaak TERWYL jy absoluut verkeerd was. Hoe? Hy het dit gedoen deur jou (mét jou verkeerdheid en al) in te reken by alles wat Jesus AS JY gedoen het.

 

Op talle plekke in die NT, waar die Blye Boodskap beskryf word van hóé God die mense met Homself reggemaak het, word dit oor en oor beskryf as “dit wat met Christus gebeur het. 

 

Byvoorbeeld: ROMEINE 1: 1-6 >> Die essensie van die Blye Boodskap handel oor: Die Seun v God, Sy geboorte uit Dawid, Sy opstanding, Sy bekleding met mag. 1 KORINTIERS 15: 1-11 >> Die essensie van die Blye Boodskap handel oor: Jesus se sterwe, Jesus se begrafnis, Jesus se opwekking, Jesus wat aan baie verskyn het. HANDELINGE 2 : 22-36 >> Die essensie van die Blye Boodskap handel oor: Jesus is uitgelewer aan Pilatus, gekruisig, gesterf, in smarte van dood, opgestaan uit dood, verhoog aan Regterhand v God, het Heilige Gees gegee, opgevaar.

 

Deurdat God mense inreken híérby, maak Hy hulle reg. En daarom is hulle reg.

 

En dit wórd nie waar wanneer jy dit glo nie. Dit is dit waar, daarom mag jy dit glo! En indien jy dit in die geloof aanvaar, sal dit lei tot onherroeplike bekering en lewensverandering.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00