PINKSTER 2013 DEEL 3
Tema: Afstand uitgewis
Skrif: Kolossense 1:27
Ons is geneig om afstand/distansie te meet in terme van die hoeveelheid energie wat ons nodig het om die afstand te oorbrug. Ons sal byvoorbeeld sê: “Johannesburg is so 14uur se ry van die Kaap af” of “die Paarl is net so ‘n halfuur se ry van die Kaap af”. Ons druk afstand uit in terme van wat dit van ons vra om dit te oorbrug.
Soms vermoed ons dat daar ‘n tamaai afstand/verwydering tussen ons en God is en dan dink ons onmiddelik aan hoeveel dit van ons sal eis om daardie verwydering uit te wis. Dit is ons eerste gedagte. Dis so menslik.
Ons dink ons moet die Here se teenwoordigheid/nabyheid in ons lewe op die een of ander manier werd wees of verdien. Ons voel ons moet Hom waardig wees. En om onsself waardig te kry, moet ons ons sokkies opgetrek kry. So hoog moontlik. Hoër as vorige kere.
Die gevolg hiervan is dat ons die nabyheid en teenwoordigheid van God in ons lewe soek in die een of ander emosie of gevoel.
Wanneer ons na ons mening die afstand tussen ons en die Here uitgewis het deur middel van sondebelydenisse/opregte voornemens/oorgawes/ernstiger-toewyding-as-ooit-tevore/goeie werke/meer-intense-gebed/vas-en-gebed ens. EN daar is goeie aangename emosies teenwoordig, dan glo ons Hy is naby. Of wanneer ons in gebed ons emosies uitgestort het aan Sy voete en lekker gehuil het, dan voel ons sommer hoe naby Hy is.
U sien? Alles gaan maar altyd weer vir ons oor die energie wat ons moet insit om die afstand (wat na ons gevoel tussen ons en die Here bestaan) te oorbrug en die verwydering uit te wis.
As ons gesondig het, voel ons Hy draai Sy rug op ons en kyk anderpad. Dan voel ons ons moet ekstra bid en so opreg moontlik om vergifnis vra om Hom so ver te kry om om te draai en weer vir ons te kyk. En as ons voel die frons sit nog tussen Sy oë, dan voel ons ons moet meer intens om vergifnis vra. Of ons moet beloftes aan Hom maak dat ons nie weer daardie sonde sal doen nie. Ons dink dat – as ons minstens met Hom ‘n ooreenkoms kan maak dat ons nie weer sal sondig nie – dán sal Hy vriendelik word. En só gaan ons aan tót die “regte” gevoel/emosie kom… en dán is die afstand uitgewis. So dink ons en so redeneer ons.
In teenstelling met hierdie babelse verwarring sê die Apostel Paulus in Kolos 1:27 net eenvoudig: die geheimenis van die Christelike lewe is dit: Christus is IN JULLE. Bedoelende nie fisies binne-in ons liggaam nie, maar nog nader as dit: binne-in ons lewe. Daar is absoluut geen verwydering, geen afstand, geen tydsvertraging nie – nooit nie. Dít is die essensie van die Christelike lewe. As Hy IN jou is, hoe ver kan Hy dan wees?
Die twee groot leuens waarop alle valse godsdiens en mensgemaakte filosofie en misleiding werk is 1) die illusie van afstand/verwydering en 2) die illusie van tydsvertraging/tydsverloop. Alle vals godsdiens teer op hierdie twee illusies. Daar is afstand tussen mens en God en as gevolg van die afstand is daar ‘n tydsvertraging in jou verhouding met Hom. Dit kos maar baie vas en bid voordat Hy hoor – soos die Baälpriesters wat dag en nag geroep en geskreeu het – maar Baäl bly doof (1 Kon 18).
Daarteenoor is die Persoon van Christus Jesus = GEEN verwydering/afstand. In Sy Persoon het Hy alle afstand vernietig. Deur Sy kruisbloed het Hy alle afstand vernietig. Sy Naam is Immanuel = God met ons. Die groot voordeel van Sy hemelvaart is dat Hy daarná die mens kon kom verras met Sy intens intieme inwonende teenwoordigheid in die mens se menswees in stede van in Sy eie liggaam. Sy kinders is nou die Jerusalem/Sionsberg waar Hy woon. Die ganse volheid van God woon in Hom in liggaamlike gestalte (Kolos 2:9). God kan nie nader aan jou kom as wat Hy gekom het deur Jesus se menswording en Sy hemelvaart en die uitstorting van die Heilige Gees nie. Hy is nader aan jou as jou volgende gedagte/jou asem/jou lewe. Daarom sê 1 Joh 5:20: “God het gegee dat ons weet dat ons IN Jesus Christus is”. Hy woon binne-in Sy eie eiendom waarvoor Hy met Sy bloed betaal het. Sy tempel (1 Kor 6). Jy is die pêrel wat Hy gekoop het met alles wat Hy gehad het. As ‘n mens alles wat jy het gebruik om iets te koop, dan word daardie “iets” alles wat jy het! Jy is al wat Hy het. Hy is vír jou.
Al afstand wat daar kan wees is die afstand geleë in ons onkunde aangaande die waarheid. Onkunde oor die waarheid EN staatmaak op emosies/ervaring is die enigste twee faktore wat gelowiges kan laat dink dat daar afstand/verwydering tussen hulle en die Here is.
Die oomblik wanneer ons dit alles hoor dink ons by onsself: Hóé kan Christus in my wees as my lewe lyk soos dit lyk? U sien ons wil altyd die waarheid oor ons lewe definieër in terme van ons eie ondervinding in stede van om dit te definieër deur die Woord van Sy Waarheid. Asof ons hoogste outoriteit ons ervarings is en nie die Woord nie.
‘n Mens hoor nooit by die Apostel Paulus dat hy van homself iets sê soos: “hoe kan Christus in my wees as my lewe lyk soos dit lyk nie.” En ons weet hoe hy gesukkel het in sy persoonlike lewe. Ons weet dat hy homself as die grootste van sondaars gesien het (1 Tim 1:15) en dat hy dikwels goed gedoen het wat hy haat (Rom 7:15). Tóg sê hy van homself in Galasiërs 2: 19-20 “Ek is saam met Christus gekruisig en nou is dit nie meer ek wat lewe nie maar Christus in my…” Paulus sê: “Toe Jesus gekruisig is, is ek ingesluit (saam met) by Sy dood. Dit het alle afstand uitgewis. Dít is die waarheid oor my en nie al die goed wat ek sien wat nog in my lewe verkeerd is nie”.
Dit gaan nie meer oor die historiese Christus wat in Jerusalem rondbeweeg het nie. Dit gaan oor die Here IN ons. Geen krieseltjie afstand meer nie. Dis die kern-hartklop van die Christelike lewe. Hy het Sy “mind opgemaak” oor u. Jesus is nie nader aan die Vader as wat ú is nie. Presies dieselfde nabyheid. Dieselfde totale afwesigheid aan verwydering.
Hoeveel verwydering is daar tussen Christus en Sy Vader? Antwoord: Niks. Hoeveel verwydering is daar tussen u en die Vader? Antwoord: Niks. Hoe op deeske aarde is so iets moontlik? Antwoord: Deur Christus.
Wát kan afstand skep? Wat kan my uit Sy teenwoordigheid hou? Wat kan my verwyder van Hom? Sonde? Sekerlik tog sonde.
Nee. Toe Adam gesondig het was dit nie God wat gaan wegkruip het en Adam wat na Hom geroep het nie! Dit was net mooi andersom! Sonde kan nie die Here van jou wegkeer nie. Wanneer Jesaja 59:2 sê “julle sondes het skeiding tussen julle en die Here gebring” dan sê vers 16 “Sy eie arm het dit uitgewis”.
Wat kan dan afstand skep? Eensaamheid, verlatenheid? Rampe en teëspoed? Jou werkgewer? Jou ouers? Slegte gewoontes? Ongeloof? Onvermoë om te bid? As jy vir 3 of 4 dae nie Bybel gelees het nie, voel jy jy moet ekstra vroomheid insit om naby aan die Here te kom? Daars nou afstand – ek moet energie insit.
Romeine 8: 35-39 > Wat sal dit neem om distansie te bring tussen jou en die liefde van God in Christus Jesus? Die grootste ramp wat jou kan tref, die grootste teleurstelling wat oor jou pad kan kom, het nie die krag of vermoë om afstand te bring en jou van Sy teenwoordigheid te beroof nie. Sy liefde het jou bó enige aanslag of bedreiging geplaas.
Kan u uit hierdie Skrifte sien dat dit nie gaan oor wat ons doen om nader aan God te kom nie? Dit gaan oor ons insig in die Waarheid soos die Skrif dit vir ons oopmaak.
Dalk moet ons leer om doelbewus ontslae te raak van enige soort gedagte, gebed, lied, gesprek wat die indruk kan skep dat daar afstand en verwydering is.
‘n Mens kan ‘n sekere tipe geestelike taal praat wat onbewustelik afstand/verwydering kommunikeer. Byvoorbeeld: “Laat ons tot die Here nader…” Of: “Laat ons nou in die Here se teenwoordigheid kom.”
Ook uitdrukkings soos: “God is in die hemel” of “Here kom asseblief” of “Here ons wag op U” of “U alleen is heilig”.
Of wat van die lied: “Nader my God by U…”
Dalk moet ons doelbewus ‘n taalgebruik en woordeskat aanleer wat meer akkuraat Sy teenwoordigheid en Sy in-wees reflekteer.
‘n Mens se hele mindset verander wanneer jy kan sê: “Vader U is hier met my in hierdie oomblik” – ten spyte van hoe jy voel en ten spyte van hoeveel jy drooggemaak het en hoeveel skuldgevoelens jy het.
Dan sal dit ook nie so moeilik wees om te verstaan wat Hy sê nie. Gehoorsaamheid is niks anders nie as om onder die invloed te bly van wat jy hoor. Ongehoorsaamheid = om nie te hoor nie. Die enigste ding wat ons aan die Here behoort te gee is ons aandag. Hy wil net ons oor hê. Luister net akkuraat en hou op om leuens oor jouself te glo.
Die volk Israel het in die woestyn omgekom omdat hulle ‘n leuen oor hulleself geglo het: “ons is soos springkane teenoor hierdie reuse.”
Niks is so bevrydend soos wanneer jy die waarheid oor jouself ontdek nie. Jou totale onskuld & vergifnis. Die nabyheid van God drie-enig. Sy inwoning. Immanuel: God-by-ons.
Niks maak ‘n mens so vry soos wanneer jy jou onskuld in Jesus Christus ontdek nie. Niks anders het die krag om prostitute, moordenaars, swendelaars, skurke en bedrieërs so vinnig en so deeglik te bevry as wanneer hulle die waarheid van hulle onskuld kan ontdek nie. Die absolute onskuld van die menslike ras voor ‘n lewende God op grond van Christus se plaasvervangende kruisdood, is die kragtigste boodskap in die heelal. En die opstanding van Jesus Christus uit die dood is die swart-op-wit kwitansie/bewys van die mens se vryspraak en onskuld.
Dink net hoe anders sou Adolf Hitler en Saddam Hoesein se lewens verloop het as hulle hulle onskuld in Christus se bloed kon ontdek het. 2 Kor 5:19 > God reken die wêreld se oortredinge nie toe nie. Nie Hitler s’n nie, nie Saddam s’n nie en ook nie joune nie.
Maar u sien: indien ‘n mens nie jou ontstaan van Bo ontdek nie, sal jou enigste verwysingspunt jou ontstaan uit jou aardse moeder se skoot wees. En dan glo jy eintlik ‘n leuen aangaande jouself. En jy lééf volgens daardie leuen – dikwels met rampspoedige gevolge.
Dis wat Jesus vir Nikodemus gesê het (Joh 3). “Nikodemus, die mens het sy oorsprong van Bo, nie van sy moeder se skoot nie. Jy moet jou éíntlike oorsprong ontdek. Dit het niks met jou aardse moeder te doen nie. Jou eintlike oorsprong het voor die skepping in die Vader se hart ontstaan en Ek, Jesus, het gekom om daardie oorspronklike ontwerp van jou lewe te verlos/herstel. Jy is ingesluit by my opstanding uit die dood en dit is jou nuwe geboorte (1 Petr 1:3). Maar as jou oë nie daarvoor oopgaan nie, gaan jou enigste verwysingspunt vir jou menswees jou oorsprong uit jou moeder se skoot bly. En dan is jy armsalig.” (Joh 3).
Hoe lieflik is die Naam van ons Here Jesus Christus – Immanuel: God by ons. Alle verwydering is uitgewis.