PINKSTER 2013 DEEL 2
Tema: Ingesluit
Skrif: 2 Korintiërs 5: 14-21
Ons almal ken die idee wat byna oral verkondig word dat alle ongelowiges buite Christus is, verlore is in sonde, ver verwyderd van God en op pad na ‘n ewige onherroeplike hel TOTDAT so ‘n mens op ‘n sekere dag ‘n sekere soort gebed met ‘n spesifieke inhoud bid wat iets klink soos: “Here Jesus ek nooi U in my hart in.”
Elke dominee/pastoor/kerk het sy/haar eie variasie van wat die inhoud van dié gebed moet wees, maar dit kom in essensie daarop neer dat jy die deur van jou hart vir Jesus moet oopmaak sodat Hy ingestap kan kom.
Dan, op daardie oomblik, kom Jesus klik-klak-klik-klak ingestap in jou “hart” in. Skielik is jy dan van daardie moment af nie meer verlore nie en is jy Sy kind. Die woorde van daardie gebedjie werk byna soos ‘n towerformule wat die Here Jesus se hart sag maak teenoor jou en Hom laat inkom in jou lewe. Hy was al die jare buite – dán kom Hy in. Hy het al die jare net daarvoor gewag dat jy daardie towerformule moet sê. Toe Hy op die kruis as jou plaasvervanger vir jou gesterf het, het Hy jou nie definitief ingesluit nie, nee Hy het net die moontlikheid geskep dat jy dalk ingesluit kan word, MITS jy die towerformule bid, dán word jou redding ‘n werklikheid en kom Hy onmiddelik ingestap.
As ‘n mens op hierdie manier na die verlossingsboodskap kyk, moet jy noodgedwonge tot die gevolgtrekking kom dat alle mense wat nog nie daardie towerformule gesê het nie, buite Christus is. Nie een van hulle is ingesluit by Christus se dood en opstanding nie. Hulle is totaal uitgesluit.
Dus: sommige mense is by Christus se verlossing ingesluit en sommige is uitgesluit. Die manier om oor te skuif van uitgesluit na ingesluit is die towerformule wat jy moet bid en so opreg moontlik moet bedoel. As jy dit nie baie ernstig berouvol & opreg bedoel nie, reageer die Here dalk nie en ord Sy hart nie sag nie. Jy moet dit met mag en mening bid. En jy moet sorg dat jy jou hele lewe lank by daardie bedoeling blý. Anders….
U kan hoor dat hierdie benadering die potensiaal het om ‘n mens wanhopig te maak.
Wanneer jy byvoorbeeld met ‘n ateïs te doen kry, het jy geen hoopgewende goeie nuus waarmee jy hom/haar kan benader nie. Al wat jy het, is ‘n dreigement en ‘n voorwaarde: “Hoor hier, as jy nie betyds tot besinning kom, jou nonsens los en die towerformule bid nie, sal jy in die hel eindig. Pasop!!”
Hierdie benadering klink totaal anders as die manier waarop die Apostel Paulus in Athene die rou heidene – wat afgodsdienaars was – benader het. Ons lees daarvan in Handelinge 17:28.
Hoor hoe benader die Apostel hierdie rou heidene: “Hy is nie ver van enigeen van julle nie. Tewens julle lewe alreeds deur Hom, julle beweeg deur Hom en julle bestaan deur Hom. Julle is Sy kroos, Sy nageslag. Julle is wel totaal onkundig oor wie Hy is, maar dit kom maak ek nou aan julle bekend. Nou moet julle julle denke oor Hom verander en na Hom toe omdraai. Want Hy gaan julle oordeel volgens hoe Hy julle reggestel het in Christus. En as bewys dat Hy julle reggestel het, het Hy vir Christus uit die dood opgewek – dis die kwitansie.”
Sien u hoe benader die Apostel die rou heidene? Hy benader hulle as mense wat ingesluit is, nie uitgesluit nie. Daar is iets oor hulle waar, wat hulle glad nie weet nie, waaroor hulle totaal onkundig is, maar die Apostel kom verkondig dit aan hulle (maak dit aan hulle bekend) – om gegló/vertrou te word! Omdat hulle nie die waarheid oor hulleself weet/verstaan/glo nie, lewe hulle uit ‘n leuen (die enigste alternatief) en gevolglik lewe hulle prakties soos mense wat uitgesluit is! As jy na so iemand kyk dan lyk hy/sy uitgesluit.
Waarom is daar hierdie verskillende benaderings in die kerk?
Alles gaan oor die vraag wie die Here Jesus Christus regtig is.
Die oomblik wanneer jy verstaan wie Hy is, verstaan jy waar die menslike ras met God staan – of hulle dit weet of nie weet nie en of hulle dit glo of nie glo nie.
Kom ons kyk wie Jesus Christus regtig is:
Christus is die “laaste (finale) Adam” (1 Kor 15:45). Dit beteken: Net soos die lot van die hele menslike ras in een man – eerste Adam – beliggaam was, só is die nuwe bestemming van die menslike ras nou in ‘n ander Man – Christus Jesus – beliggaam.
Die hele menslike ras was by Adam-en-sy-oortreding ingesluit. Dit het tot almal se val en veroordeling gelei.
Maar God se genade triomfeer oor die oordeel (Jak 2:13).
Daarom het Christus gekom en is Hy die laaste Adam in wie se enkele daad van gehoorsaamheid dieselfde “almal” wat by Adam tot veroordeling ingesluit was, nou ingesluit is tot vryspraak en lewe (Rom 5:18).
Wanneer ‘n mens hierdie beginsel verstaan, verstaan jy meteens wat die boodskap van die hele Nuwe Testament is. Dit val vir jou oop soos ‘n boek.
Dit gaan nie in die NT oor towerformules wat mense moet bid sodat Jesus iewers van buite af in hulle harte ingestap kan kom nie.
Dit gaan oor ‘n ontdekking van wat God al klaar (in Christus) met die menslike ras gedoen het. Dit gaan oor die bekendmaking van ‘n omhelsing waarin God tot elke mens staan.
En wanneer die ontdekking hiervan gemaak is, gaan dit oor persoonlike geloofsvertroue in/op daardie omhelsing (Hand 16:31> Glo OP die Here Jesus). En dít lei gevolglik tot die belewenis van lewensvernuwing, omkeer tot God en ‘n verhouding met God.
Sien u hoe maak alles skielik sin?
Johannes 3:35 > Die Vader het ALLE DINGE (dus ook alle mense) in Christus se hand gegee. Kolossense 1:17 > In Christus bestaan alle dinge. Johannes 12:32 > As ek van die aarde verhoog is sal ek ALMAL na my toe trek. Kolossense 1:20 > God het in Christus ALLE DINGE met Homself versoen.
Kan u die insluiting sien? Daar is ‘n onbeskryflike Liefde wat die mens binne-in en mét sy sonde en goddeloosheid ontmoet het en opgetel het. En dit is verlede tyd: dis afgehandel. Hy dwaal nie vir dekades lank iewers buite rond en wag om deur “koning mens” ingenooi te word nie! Goddank daarvoor! Dis nie “koning mens” wat God se hart sagmaak nie!
Dis asof Christus sê: “Gee vir my ál die oortredinge van álle mense in een bondel en gee vir my al die moontlike redes waarom ek elke mens moet verdoem, dan sal ek hulle álmal regstel met God!”
God het ons nié gegee wat ons verdien het nie, maar wat ons werd was. Ons is van onskatbare waarde vir Hom – soos die verlore penning en skaap in Luk 15. ‘n Verlore geldstuk doen niks om gevind te word nie. Dit wórd gevind. Die enigste hoop wat ‘n verlore skapie het om gevind te word is die waarde wat hy vir die herder het en dat die herder hóm kom vind. Selfs al is die geldstuk of skaap verlore, behoort hulle nog steeds. Julle daarom is hulle verlore – omdat hulle behoort. En hulle word gevind omdat hulle soveel waarde het!
Verstaan u dat die Here Jesus se kruisdood nie net ‘n moontlikheid geskep het dat mense met God reggestel kán word míts hulle met ‘n sekere graad van opregtheid en berou ‘n sekere soort gebed (wat op ‘n sekere manier bewoord is) bid nie. Nee, iets het werklik alreeds in Sy kruisdood met die menslike ras gebeur! Hy het nie net vír die mense gesterf nie. Die mense het saam met Hom gesterf!
Hoor net hoe som die Apostel dit op in 2 Kor 5:14 > “As Een vir almal gesterf het, dan hét almal gesterf.” Kan u die insluiting sien?
Sy kruisdood het die lewens van die menslike ras tot ‘n konklusie gebring. Daarom is die Evangelieboodskap nie ‘n kondisie (voorwaarde) nie, maar ‘n konklusie (die gevolgtrekking is klaar gemaak)! Daarom mag ons ook nie die Evangelieboodskap aan mense as ‘n voorwaarde verkondig nie. Ons moet aan mense die konklusie bekend maak! Ons moet aan mense bekendmaak hoe God reeds elke mens se lewe tot ‘n konklusie gebring het in Christus. Sover dit Hóm aangaan, is die saak afgehandel.
Verstaan u waarom Galas 4:4-5 sê dat Jesus “in die volheid van die tyd” gekom het. Dit beteken dat niks wat in die tyd/toekoms ná Sy koms gebeur enigiets kan byvoeg tot of verander aan wat in Sy koms absoluut afgehandel is nie! Geen toekomstige oordeel kan ooit weer iets anders sê as die oordeel wat klaar in Sy koms gemaak is nie. Uit God se oogpunt gesien is die mens se toekoms gekonkludeer!
Dit is waarom die Apostel in 2 Kor 5:16 sê dat hy na geen mens meer kyk volgens die vlees nie. Dit beteken hy kyk nie meer na enige mens volgens wat daardie mens in sy sondige doen en late is nie. Hy kyk nie meer na enige mens volgens wat daardie mens kragtens sy menslike
geboorte/afkoms/familie/nasionaliteit/kultuur/geite/gewoontes/
woorde/dade is nie. Hy sê as hy na ‘n mens kyk, dan kyk hy met nuwe oë na daardie mens. Hy kyk na daardie mens vanuit God se oogpunt: as iemand wat ingesluit is by Christus se kruisdood, iemand wat ‘n nuwe skepsel geword het in Christus se opstanding. Hy kan nie meer enigiemand buitekant Christus se omhelsing sien nie. Al wat hy sien is die sukses wat Christus behaal het! Want Jesus was die LAASTE ADAM – die laaste mens wat voor God skuldig en veroordeeld gestaan het. En Jesus is die EERSGEBORENE (Kolos 1: 15,18) – van ‘n nuwe mensheid wat blaamloos voor God staan.
Begryp u waarom sê Paulus in 2 Kor 5:14> AANGESIEN ek tot die insig gekom het dat wat Christus vir almal gedoen het, almal insluit – dryf Sy liefde my nou na die mense toe.
Die woord AANGESIEN (gevolgtrekking) > Paulus het tot ‘n konklusie gekom. Paulus se liefde vir mense en sy sendingpassie is die resultaat van ‘n konklusie: almal is ingesluit – daarom dryf Sy liefde my om dit aan hulle te gaan bekend maak.
Wat vir Paulus in sy sendingywer aangedryf het, was nie die toekomstige oordeel en die vooruitsig van die hel nie. Dit was nie skuld en skuldgevoel wat hom aangedryf het nie! As dít ‘n mens na mense toe dryf, dan sal jy aan hulle die god verkondig wat buite rondstaan en wag om op menslike towerformules te reageer. Dan gaan jy nie na mense toe met ‘n magtige konklusie nie, maar met kondisies (voorwaardes). Dan gaan jy om mense (saam met die duiwel: Open 12:12) aan te kla en te laat skuldig voel sodat hulle by God verlossing kan bekom in ruil vir ‘n towergebed of ‘n kwaliteit besluit of ‘n onherroeplike oorgawe. Dan gaan jy vir mense sê: “Jy kán ingesluit word, mits jy…”
Maar dit trek ‘n streep deur 1 Kor 1:30 > “Aan God is dit te danke dat ons in Christus ingesluit is.” Dit is die konklusie: Jy is IN! En dit was God se werk!
O ja, jy kan poog om jouself uit te sluit. Al sê 2 Kor 13:8 dat ons niks teen die waarheid kan doen nie. Nogtans kan jy probeer om jouself uit te sluit. Soos die oudste broer in die gelykenis van Lukas 15 wat bý sy vader was, wat so naby was, wat die fees kon sien, die musiek hoor, die kos ruik – maar nie ingeskakel het nie. Hy het homself uitgesluit. Dit was nie die vader wat hom uitgesluit het nie. Hy het homself in die hel gedompel. Hy het die hel se ellende oor homself gebring. Hy was afgesny al was hy bý sy vader. Maar hy het homself afgesny! Dit is waarom Openb 14:10 sê dat ongelowiges in die teenwoordigheid van die Lam gepynig sal word. Hulle word nie gepynig in ‘n aparte ver-weg plek nie. Hulle pyniging is dat hulle (net soos die oudste broer) in die teenwoordigheid van Christus is, maar nie deel aan Hom wil hê nie! Selfopgelegde pyniging!
Soms hoor ons hoe mense sê dat die lyding/rampe/ellende in die wêreld die gevolg is van die oordeel van ‘n wraaksugtige God wat kwaad is omdat die mense nie volgens Sy standaarde leef nie.
Die waarheid is: God het kláár in Christus se opstanding Sy finale oordeel gevel. In Joh 5:22 sê die Vader: “Ek oordeel niemand nie. Ek het alle oordeel aan die Seun oorgegee.” Maar in Joh 12:47 sê die Seun: “Ek het nie gekom om te oordeel nie, maar te red.” Hy het in al ons skandes, skuld, struikelblokke en kontradiksies ingekom en dit verower. Hy het binne in ons hel ingekom en alle boosheid in Homself geabsorbeer. Hy het al die goed van ons verlede saam met ons deurgegaan en dit tot ‘n finale konklusie gebring. Die ou dinge hét verbygegaan (2 Kor 5:17) KYK alles het nuut geword. KYK na die nuwe, nie na die oue nie!
Daarom hoef ons nie so diep in te delf in ons verlede en al ons sondes en alles wat mense aan ons gedoen het en ons kinderjare en ons familiegeskiedenis nie. Hoe ver wil ons daar indelf om tot die konklusie te kom dat ons in Adam se gemors ingesluit is? God het so deeglik met alles gehandel. Moenie so diep in die duisternis delf nie. Die antwoord vir duisternis is nie in duisternis te vinde nie. Die antwoord vir duisternis is LIG! God het al klaar ons duisternis uit Sy geheue verwyder (Hebr 10:17). Ja Hy verstaan dit baie goed, maar Hy het dit reeds gekonkludeer. Die nuwe het gekom! Ons moet daarop fokus.
Beskou jouself as iemand wat ingesluit is by Christus se dood en wat só deeglik saam met Hom gesterf het dat jy nie verder een enkele minuut hoef te mors aan ‘n herinnering van iets in jou verlede wat jou gebonde kan hou aan enigiets minder as God se volle nuwe lewe nie.
Met dit alles gesê, beteken dit nié dat ‘n mens nie ‘n gebed kan bid om uitdrukking te gee aan jou geloofsvertroue in die ontdekking van die evangelieboodskap wat jy gemaak het nie. Dit wat in jou binneste gebeur mag jy natuurlik in ‘n gebed uitdruk. As ons met die hart glo en met die mond bely, sê Romeine 10. Maar dit is nie om vir die Here toestemming te gee of Sy hart sal te maak so asof jy as mens op die troon sit nie. Dit is vertroue in wat jy ontdek het Hý al klaar gedoen het..
Hier is so ‘n gebed:
Vader ek weet dat U my liefgehad het voor die skepping reeds en dat U my tóé al geken en gekies het. Here Jesus ek glo dat U in my plek op die kruis gesterf en my sodoende reggestel het. Ek glo dat U bloed my van alle sondeskuld gereinig het. Ek glo dat U uit die dood opgestaan het en dat U lewe. U is my Here en Verlosser vir ewig. Op grond van U afgehandelde werk op die kruis ís ek U geliefde kind. Dankie dat ek in U die ewige lewe het. Vervul my met vrede en blydskap. Amen.