TAFELBERG GEMEENTE PINKSTER 2014: NO 2 – 'n BETEKENISVOLLE LEWE
Romeine 1:1
‘n Lewe wat sin & betekenis het. Dors ú hart ook daarna?
Is dit nie absoluut só dat die meeste van ons omtrent ons hele lewe spandeer net om uit te vind wát ons lewe betekenisvol maak nie?
Eintlik kan ‘n mens glad nie werklik léwe indien jy nie ervaar dat jou lewe betekenisvol & sinvol is nie. Ja, jou hart kan nog klop en jy kan fisies 100% wees, maar dit beteken nog nie dat jy léwe nie! Nie voordat jy nie by die diepe sin & betekenis van jou lewe uitgekom het nie.
En ons kom nie daarby uit nie omdat ons om die bos gelei word om te dink dit gaan oor WIE ons is terwyl dit eintlik gaan oor WIE S’N ons is!
Wat sou u sê van iemand wat:
dikwels onskuldiglik in die tronk sit
dikwels geslaan en aan die dood blootgestel is
vyf maal 39 katshoue gekry het
met klippe gegooi is
drie keer skipbreuk gely en
dae en nagte op die oop see spandeer het
dikwels in gevare – veral vir bendegeweld is
oorwerk is
slapeloosheid trotseer
honger en dors en sonder kos is
koud en sonder klere is
en boonop worstel met ‘n fisiese doring in die vlees
amper soos ‘n engel van satan wat hom met vuiste slaan
en daarby ook arm & gebrekkig is
min besittings het
en moeilikhede van alle kante het. ..
Sou u sê dat só iemand ‘n sinvolle en betekenisvolle lewe het?
‘n Mens se hele wese wil NEE sê, nie waar nie?
En tog is dit niemand anders nie as die Apostel Paulus se ervaring wat ek so pas beskryf het ( 2 Kor 6, 11).
Dié Apostel wat Romeine 1:1 geskryf het. Dié man wat ekstreme sin & betekenis in sy lewe beleef het – soos dit juis uit Rom 1:1 blyk.
Maar hoe kon dit dan? Hoe kan jou lewe vol betekenis wees as jou omstandighede oor die algemeen sleg is? Of jy nie kon bereik wat jy wou bereik nie? Of jou banksaldo veel te wense oorlaat? Of jy nie dít kry wat jy dink jou gelukkig sal maak nie? Of jy worstel met ‘n minderwaardigheidsgevoel en jy deur mense verkleineer is en in die grond getrap is. Of dalk onregverdiglik beskuldig en aangekla en beskinder word? Of dalk jouself verwyt oor verkeerde keuses. Of verwerp en seergemaak voel. Hoe kán jy dan sin & betekenis in jou lewe hê? KAN DIT ENIGSINS?
Wel, indien ‘n betekenisvolle lewe afhanklik sou wees van WIE/wat jy is, kan dit seker nie. Maar, indien dit gaan oor WIE S’N jy is, kan/sal dit.
Dit was tewens juis Paulus se groot lewensgeheim soos dit in die heel eerste sinnetjie van die Romeinebrief vir ons duidelik word.
Wat ‘n rykdom is opgesluit in daardie eerste vers! Kyk mooi daarna en u sal sien: Dit gaan nie oor wie Paulus is nie, maar wie s’n hy is. Dit gaan nie oor wat hy alles doen/gedoen het nie, maar oor wat AAN hom gedoen is.
Dit kan ‘n absolute hemelse rewolusie in u & my lewe veroorsaak indien ons die sleutel tot ‘n betekenisvolle/sinvolle lewe snap. En dit staan in 3 woordjies in v.1: “Dienskneg”, “geroep” en “afgesonder”. Dienaar van Jesus Christus, geroep om ‘n apostel te wees en afgesonder vir die evangelieboodskap alleen.
A. DIENAAR van Jesus Christus >> Kyk, Paulus is óf geheel en al nie lekker in sy boonste verdieping nie óf hy is absoluut 100% lekker in sy boonste verdieping! Iemand wat dít sê, wat hy hier sê, is óf van sy verstand af óf dit is ‘n absolute ware werklikheid.
Waarom? Want wát Paulus in effek hier sê, is dat ‘n man, wat omtrent 25 jaar tevore in Jerusalem soos ‘n misdadiger aan ‘n kruis opgehang is, nou sý (wat Paulus is se) lewe beheer en dat hy aan hierdie man behoort en dat hierdie man hom gekoop het. Hy sê dus dat hierdie man, wat 3 dekades tevore gedood is, glad nie dood is nie, maar dat Hy lewe en dat Hy sy meester is.
Sien u? Stel uself voor iemand moet vandag so iets beweer… “Koos van Dyk het 25jr gelede in die Kaap ‘n galgdood gesterf en daarmee het hy my gekoop en nou behoort ek aan hom, want jy sien hy is nie dood nie, hy leef al die pad”! So iemand sal gesertifiseer & in ‘n Inrigting gesit word!!
Presies so in Paulus se geval. ‘n Mens kan net só iets sê indien jy óf kêns is óf indien dit die waarheid is! En Paulus is absoluut oortuig dat hy nie kêns is nie, want hierdie Jesus het kom ingryp in sy lewe! Hy het hom met Sy lewensbloed gekoop en daarom besit Hy hom en daarom beheer Hy hom. Daarom is hy Jesus se DIENAAR. Dit is die grootste sin van sy lewe.
Vir die Korintiërs sê die einste Paulus: “Julle behoort glad nie aan julleself nie. En julle kan daarom nie met julle liggame maak soos julle wil nie, want julle is met ‘n prys gekoop. Julle moet HOM nou verheerlik in julle lewens”.
Sien u? Dienaar van iemand wees beteken om gekoop te wees en daarom besit te word en ook beheers te word.
Wanneer ‘n mens iets gaan koop, dan IS daardie “iets” joune die oomblik wanneer jy die geld oorhandig! In die ou tyd het mense slawe/dienaars op hierdie manier gekoop. Die oomblik wanneer jy die koopsom oorhandig, IS die slaaf joune – selfs al is hy nog nie daarvan bewus nie! Die kooptransaksie handel die saak af.
Die Apostel Paulus is absoluut oortuig dat hy Christus s’n geword het die moment toe Christus hom (wat Paulus is) gekoop het op die kruis. Paulus se reaksie daarop maak hom nie meer/minder gekoop nie!
B. GEROEP >> Hy is nie alleen gekoop en word besit en beheers nie, maar hy is ook GEROEP. Let op die passiewe werkwoord. Geroep.
Op Damaskuspad het dit met Paulus gebeur. Terwyl hy niks met die Here te doen wou gehad het nie en hý allermins na die Here geroep het. Maar hy is letterlik vanuit die hémel uitverkies. Uit vrye guns. Terwýl hy God se vyand was en besig was om die gemeente van Christus uit te roei. Hy is nie geroep nadat hy ‘n nuwe blaadjie omgeslaan het en nadat hy ‘n klompie van sy booshede afgesweer het nie. Hy is geroep terwyl hy op sy heel slegste was.
Dít gee ‘n onbeskryflike lewenslange gevoel van rykdom & volheid: Om te weet: Hy het my geroep. Nie as ‘n antwoord op mý geroep nie, maar net uit Sy genade en Sy inisiatief alleen. En daarom sal Hy mos nooit weer die roeping terugtrek nie. Ja, ek is direk uit die hemele en uit die hart van die lewende God geroep. Sjoe, wat maak aardse dit-of-dat nou eintlik verder saak?
En tog het Paulus agtergekom dat hy ook nie eintlik eers op Damaskuspad geroep is nie, maar dat Christus Jesus op ‘n misterieuse wyse reeds in die lewe was voor Damaskuspad! Hy sê dit in Galas 1:15 > “Dit het die Vader behaag om my te roep en Sy Seun IN MY bekend te maak” (Grieks = en emoi). Terwyl hy nog moord aangeblaas het, was Christus reeds in hom, maar op Damaskuspad het God dit (Christus in hom) aan hom bekendgemaak! En van toe af, het hy geweet dat hy GEROEP is. Dit het soveel sin en betekenis aan sy lewe gegee – om te weet dat hy geroep is!
3 AFGESONDER >> Afgesonder/opsy-gesit vir die evangelieboodskap. ‘n Ander woord vir “opsy gesit” is “geheilig”. Weer eens ‘n daad wat God alleen verrig. Dit is álles uit Hom: gekoop/besit/beheers/geroep/opsy-gesit.
Daarom is Paulus die Here se dienaar. Al ly hy honger en al is al sy geld op, is hy steeds Sy dienaar. Al word hy verontreg en beskinder, al kom die moeilikhede, al bestuur hy nooit in sy leeftyd ‘n nuwe motor nie, al slaan die siektes toe en sy vriende verlaat hom – niks kan iets verander aan sy hemelse status nie. Hy blý dienaar van Christus Jesus omdat hy gekoop is/ besit word/ beheers word/ geroep is en afgesonder is vanuit die hemel – uit vrye guns alleen. Nie die mense of omstandighede of die duiwel/demone of hel kan hom daarvan losruk nie. Selfs al moet hy op ‘n brandstapel uitgebrand word, is sy lewe vol sin en betekenis.
Later in die Romeinebrief skryf hy so kragtig: “As God iemand eenmaal geroep het en hom Sy gawes gegee het, trek Hy dit nooit weer terug nie.” (11:29). Dít is LEWE met hoofletters!
En wánneer het die Here hom opsygesit/afgesonder? Aan die Galasiërs sê hy wanneer dit gebeur het (Gal 1:15): “voor my geboorte reeds.” O ja, hy weet baie goed dat die Here hom eers op die Damaskuspad die uitklophou gegee het. Maar, sou hy terugkyk op sy lewenspad, sien hy dat alles skarnier aan God se genadige uitverkiesing en Sy genadige verbond, waar seuntjies op 8 dae oud reeds besny is en God se sigbare handtekening ontvang het dát hulle deur Hom ingesluit is.
Is dit nie ‘n goddelike romanse nie? Dat Hy na mensies van 8 dae oud kom en Hom aan hulle verbind en sê: “Ek het jou vir My opsygesit en jou geroep en gekoop – daarom is jy Myne! En hier my handtekening dat dit so is!” Ja, nog voordat die mensie énigiets sélf kan doen om God te beïndruk, maar net weerloos daar lê as agt dae oue baba, is dit net God wat praat & doen by die besnydenis.
Omdat jy voor jou geboorte reeds opsygesit is, kan/mag jy besny/gedoop word by jou geboorte! Dit is diepsinning, maar tog maklik verstaanbaar. Omdat jou sondes op die kruis reeds vernietig is, kan/mag jy by jou geboorte reeds die verseëling daarvan ontvang. Later in jou lewe ontdek jy dit net en glo God daarvoor en lewe ‘n betekenisvolle lewe! Nooit is dit die kwaliteite van jou toewyding wat jou lewe sinvol maak nie, maar altyd die kwaliteit van die Here se werk.
Die water van die doop verseker my van ‘n wassing met bloed wat plaasgevind het nog voordat ek mens was. En daarom kan ek my hele lewe lank daarop bou. Dis ‘n stuk vastigheid wat Iemand anders geskep het – nie ek nie.
Paulus sê: “Ek besef dat ek voor my geboorte reeds opsygesit is! En hoe verwyt ek myself dat ek dit vir jare lank nie wou glo nie en my eie pad geloop het en kwaad gedoen het en soveel tyd verspeel het en honderde draaie geloop het opsoek na sin & betekenis in my lewe! Hoe berou dit my tog!!”
Dit is waarom ú gedoop is toe u ‘n baba was. U het nie daar u naam gekry nie. Dit is ook nie ‘n goeie Afrikaner/NG tradisie nie. Dit was God self wat Hom aan u gaan vasknoop het toe u weerloos, hopeloos en sonder verdienste was – en vir u verseker het: “Jy is opsygesit”! Want HY is altyd eerste op die toneel, nie die mens nie! En onthou Rom 11:29: Hy trek dit nie terug nie. Dit is Hy wat met ‘n sigbare teken vir u op u naam (intiem persoonlik) gesê het: “Ek het jou gekoop op Golgota, jy is daarom Myne, ek roep jou en sit jou vir My opsy. Jy gaan daarom ‘n sinvolle en betekenisvolle lewe hê. Want dit gaan nie oor wie jy eendag sal wees nie, maar Wie s’n jy is. Dit gaan nie oor wat jy sal besit en hoeveel prestasies jy behaal nie. Dit gaan oor Wie s’n jy is!”
Dalk is u nog op ‘n fase waar u dit nie van harte glo nie. En halstarrig is. En koppig. En verhard. En u loop u eie pad – al ís u ‘n kerklidmaat. Dalk stoei en sweet u om sin & betekenis in u lewe te vind. En u het al BAIE afdraaipaaie geneem. Tog weet u vanaand: dit werk nie. Dis hopeloos. En u besef: die evangelieboodskap wat u nou hoor is die reine waarheid. Paulus was toe al die tyd nie van lotjie getik nie! Die Man van Nasaret, wat in Jerusalem gekruisig is, het uit die dood opgestaan en Sy dood was die betaling van die vólle koopsom. U is gekoop. Hy besit u. En deur Sy Woord roep hy u om 100% aan Hom gehoorsaam te word – uit pure dankbaarheid.
Moenie wag vir ‘n ligstraal uit die hemel voordat u weet dat u geroep is nie. Luister na die Woord uit die hemel. Dit is die Woord wat u nou hoor en logies rasioneel verstaan.
Kom ons raak net vir ‘n oomblik stil en dan dink ons ‘n bietjie na oor die volgende: Dink net wat ‘n reuse verskil in ú daaglikse lewe sal inkom indien u op die punt kan kom om, ten spyte van wie u is, te begin leef vanuit die sekerheid Wie s’n u is. Dink net aan die verskil!