TAFELBERG GEMEENTE PINKSTER 2014: NO 1 – DIE POSITIEWE AANGESIG VAN GOD
Eksodus 33:7 – 34:7
Dit word vertel dat die destydse derde VSA president Thomas Jefferson en ’n groep mense een maal te perd op pad was iewers heen. Hulle kom toe by ’n rivier en ontdek dat die brug weggespoel het. Elkeen het met sy/haar perd deur die rivier geworstel. Daar het ook vreemdelinge by die groep aangesluit – toeriste. Een van hulle was bang en vra die president om hom te help. Nadat hulle veilig was, vra iemand vir die toeris: Hoe kon jy die president vra om jou te help? Dit is mos oneerbiedig.” Die man antwoord verbaas: “O, gids, ek het nie eens geweet dis die president nie. Maar, ek het hom gevra omdat sy gesig so gestraal het. Sy gesig het my sommer die vrymoedigheid gegee om hom te vra. Hy het so ’n JA-GESIG.”
Watse soort aangesig het God – soos ú oor Hom dink? Wanneer u aan Hom dink terwyl Hy vir u kyk – watse soort uitdrukking is op Sy gesig? Het Hy ’n JA-gesig of ’n NEE-gesig? JA op u node/behoeftes/lewe? JA vir jou as individu/mens?
Dwarsdeur die Bybel nooi die Here ons uit om Sy aangesig te soek. 1 Kron 16:11 > Soek jou hulp en beskerming by die Here. Soek gedurig Sy aangesig. Numeri 6:25 > Hy sal Sy aangesig oor jou laat skyn en aan jou vrede gee. Psalm 67:1 > O, mag Hy Sy aangesig by ons laat skyn.
Die Bybel beskryf die hemel as die ervaring om God van aangesig tot aangesig te sien. Die apostel sê in 1 Kor 13:12: Tans sien ons nog net ’n raaiselagtige beeld soos in ’n dowwe spieël, maar dán sal ons alles sien soos dit werklik is. So word dit dan beskryf in Open 22:4: “Hulle sal Hom sien.. en Sy Naam sal op hulle voorkoppe wees”.
Wat sê God se aangesig vir ú?
Ons groot moeilikheid is dat ons so maklik ’n karikatuurprentjie van God in ons kop het. Ons sien ’n ánder gesig van God as wat die Bybel vir ons oopmaak. Ons sien in God se aangesig Iemand wat lief is om mense uit te vang in hul swak oomblikke/ Iemand wat nie kan glimlag wanneer ons droogmaak nie/ Iemand wat sê: Jy sal betaal daarvoor/ Iemand wat nie verstaan dat kinders hulleself kan bemors nie/ ’n Pretbederwer/ Oor die algemeen negatief/ ’n Ou Man wat nie in pas is met die moderne tyd nie/ ’n Absolute Regter wat 100% perfektheid verwag/ ‘n Knorrige oubaas iewers in ‘n bitter hoë, veraf hemel met ‘n enorme afstand tussen ons….
Baie keer hang dit af hoe ’n mens jouself sien. Dan sien jy vir God ook só. Jy projekteer jou eie selfbeeld op God. Ons loop met bepaalde gesindhede en ’n gevoel oor onsself – en dan dink ons God is ook só. Eng / bitter / negatief / kort van draad / hou nie van onsself nie…
Aan die ander kant is dit óók waar dat die manier hoe u & ek dink God se aangesig lyk, weer bepalend is vir hoe ons elke dag lewe. Indien jy na God se aangesig kyk en ’n God sien wat net die absolute perfekte verwag & gereed staan met straf/ altyd frons/ altyd negatief oordeel – dan sal jou lewe ook só wees & jy sal dit op ander mense projekteer. Ander mense sal altyd onder jou kritiese oog deurloop. Jy sal altyd verwag om te hoor: Jy is onderdeur. Jy het dit nie gemaak nie. Jy sal altyd loop met die gevoel van: Ek doen nooit genoeg nie. Ek is nooit goed genoeg nie. God is nooit regtig tevrede nie. Ek bid teen die plafon vas. Ek leef onder die sambreel van: skuldgevoel/ veroordeling/ angstigheid. En, ek is baie sensitief vir dit wat mense van my sê/dink. Ek soek die goedkeuring van mense, want ek sien God as Iemand wat nooit tevrede is nie.
Ons gelese Skrifgedeelte bring vir ons ’n uiters wonderlike boodskap. Indien u fyn daarna luister, kan dit vir u nuwe wêrelde oopmaak – veral wanneer u GOD reg begin sien – soos Hy Homself in die Bybel vir ons oopmaak. Wie is Hy regtig? Hoe lyk Sy aangesig? Wat sê Hy van Homself? Hoe breek die Woord dit vir ons oop?
In Eksodus 33 sien ons die volk Israel in die Sinaïwoestyn. Moses het in sy eie tent gewoon – ’n entjie weg van die mense. ’n Tent van ontmoeting. Dáár het God met Moses gepraat: Van aangesig tot aangesig. Soos ’n man met sy vriend praat.
Maar Moses is nie tevrede nie. Hy vra nóg meer, sê vers 18. “Wys my U heerlikheid.” Dit wys vir ons hoe begeerlik God is. Hoe meer jy Hom ken, hoe meer wil jy van Hom hê. Dis soos wat jy seewater drink: Hoe meer jy drink hoe dorser word jy.
Wat verwag ’n mens nou – wat sal God nou vir Moses wys? Hoe lyk Sy gesig? Hoe lyk Sy heerlikheid? Moses wil juis dit sien, maar wat gaan God nou vir Moses wys?
Natuurlik is dit onmoontlik dat Moses direk in God se gesig kon kyk. Dit kan nie/ mag nie. Hy sou sterf. Moses vra: Wys my U heerlikheid. Maar, prsies wat sal Hy nou wys – om Sy heerlikheid te wys? Sal Hy dalk Sy onbeskryflike mag & almag vertoon? Of dalk Sy spierwit skoonheid en prag? Of dalk Sy soewereiniteit? Of Sy majesteit? Of Sy geregtigheid? Of Sy heiligheid en reinheid? Of Sy skeppingsmag & krag?
Wat antwoord God vir Moses? (vers 19). Ek sal jou My GOEDHEID wys. My voortreflikheid wat uitmond in My genade & ontferming! My absolute GOEDHEID!
Van AL Sy eienskappe & kenmerke & dade, haal die Here net EEN uit en sê: SO LYK EK. SO LYK MY HEERLIKHEID. SO LYK MY AANGESIG. Jy sien dit in My goedheid. Dit is wat die Here van Homself sê – hoe Sy aangesig lyk. Dit wat Hom so mooi maak – wat Hom so begeerlik maak – is Sy onverdiende ontferming en guns en goedheid.
Ag, as ’n mens maar net dink hoe treurig die volk Israel was!! Hulle het uit en uit niks van die Here verdien nie. Maar, ontferming/goedheid/guns beteken: Om aan iemand juis te gee wat hy NIE verdien nie. Hy verdien die dood, jy gee hom die lewe. Hy verdien oordeel, jy gee vryspraak. Hy verdien haat, jy gee liefde. Hy verdien ’n klap, jy gee ’n soen. Onverdiende guns. Ontferming.
Die betekenis van die Hebreeuse woord vir “ontferming” sien ’n mens in die Engels: Compassion. Medelye. Spesiale diep liefde. Die keuse wat ’n hoër persoon vir ’n laer persoon maak. Die keuse wat die Here vir my maak, al is daar absoluut niks in mý te vinde wat my enigsins aantreklik maak nie. Ja, ons dink mos: ons onaantrelikheid sal God afstoot soos dit onsself afstoot. Hoe bitterlik verkeerd is ons tog in ons misrabele denke oor God!
Hoofstuk 34 borduur verder voort op die vraag hoe die Here se goedheid lyk. VERS 6: Stadig om kwaad te word. Geduldig. Gee baie geleenthede. VERS 6: Oorvloedig in liefde – soos reën wat val & val & val. VERS 7: Sy liefde is vir duisende. Nie beperk slegs tot ’n piepklein groepie nie. Sluit baie mense in.
VERS 7: Sy goedheid is egter nie soetsappig & sentimenteel nie. Dit is ’n ontferming wat regverdig is en wat die kwaad haat. Dit haat nie die mens nie, dit haat die kwaad. Net soos ‘n dokter die dodelike bakterie haat, maar nie die mens wat die kiem dra nie. ‘n Dokter is toornig op dit wat die mens wil doodmaak – hy val die kiem aan, nie die mens nie! Net so val God se toorn die sonde aan. Maar dit staan nie teenoor Sy goedheid nie. Dis juis omdat Hy so goed is!
Maar, juis hierdie aspek van die Here se goedheid – naamlik Sy toorn – is uiteindelik só volmaak vervul in Jesus se kruisdood, waar Jesus sélf onder die vernietiging van die sonde inbuig sodat God se ontferming kan seëvier. God se heiligheid kanselleer nie Sy goedheid nie. Jesus se bloed het tussen-in gekom sodat Sy goedheid seëvier.
Daarom: Indien u & ek vir God as Vader ken in die Here Jesus Christus, sien ons nie ’n frons nie. Dit is net nie Hý nie. Sy ganse wese is positief. Dit is hoe ’n gelowige Hom persoonlik mag beleef.
Hoe ken jy & ek God se aangesig? Watter soort uitdrukking beleef u op Sy aangesig in u persoonlike lewe met Hom? Dalk agterdogtige oë? Wantrouige oë? Oë wat nie jou motiewe vertrou nie? Wat nie jou ekskusse vertrou nie? Oë wat weet dat jy môre wéér sal droogmaak? Teleurgestelde oë? Teleurgesteld omdat jy al 1000X oor dieselfde ding gestruikel het? Gefrustreerd? Hatig? Glimlag Hy ooit? Voel jy altyd minderwaardig voor Hom? Voel u dat u nooit goed genoeg sal wees om ook Sy Gees in u lewe te hê nie?
God se Woord bevry ons vanaand om God se aangesig te sien SOOS HY REGTIG IS en nie verder te gaan met ’n karikatuurprentjie in ons kop nie.
Dit sal ons hele lewe meer positief maak. Dit sal ons uitkyk op die lewe verander.
Wat dink u: Hoe anders kon Paulus & Silas lofliedere sing binne-in die tronk waar hulle onskuldiglik gesit het? (Hand 16). Daar is slegs één antwoord: Hulle het God se aangesig geken. Sy ware gesig. Sy gesig wat ’n traan op die wang het wanneer jy huil. Wat pyn wys wanneer jy seer het. Wat glimlag terwyl jy die lewe geniet. Wat simpatie en begrip het wanneer jy vir die 1000ste keer drooggemaak het. Wat bemoedig met krag op jou op te help.
Weet u: Die krag van hierdie blye boodskap verander ons. Ons verander nie onsself nie. Die krag van die Blye Boodskap verander ons. Die Heilige Gees doen dit – deur die Woord. Dit veroorsaak dat jy anders is as ander mense (Eks 33:16). God se aangesig wat by jou is, maak jou ánders. Moses se gesig het telkens geblink – sonder dat hy dit self besef het (Eks 34:29). Waarom? Want hy het God se aangesig geken. Jy kan nie God se ware gesig ken en dieselfde mens bly en op jou ou paaie voortstrompel nie. Sy positiewe gesig maak van jou ’n ánder mens.
Eerstens kry ons dus ons visie op God reg. En dan volg die lewensverandering vanself.