PAASKONFERENSIE 2013 DEEL 4
Tema: Kwitansie van onskuld
Skrif: Romeine 4:25
Romeine 4:25 lui in die NAV: “Christus is vanweë ons oortredings oorgelewer en Hy is opgewek sodat ons vrygespreek kan word.”
Romeine 4:25 lui in die Grieks: “Christus is vanweë ons oortredings oorgelewer en Hy is vanweë ons vryspraak opgewek.”
Met ander woorde: Ons oortredinge het daartoe gelei dat Jesus oorgelewer & gekruisig is. Sy kruisiging het daartoe gelei dat ons vrygespreek is. Ons vryspraak het daartoe gelei dat Hy uit die dood opgewek is!
…………………………..
Toe die Here Jesus sterf, is die ganse mensdom ingesluit in ‘n totaal nuwe verwysingsraamwerk. Want Sy opstanding was/is die kwitansie/waarborg van die mens se onskuld voor God. Om daardie onskuld te verstaan, ontsluit vir ons ‘n nuwe lewe. Dit verander die manier hoe jy lewe, hoe jy alles sien en hoe jy glo.
Die destydse tuin van Eden was ‘n plek van onskuld/skuldeloosheid. Die eerste mense het geleef sonder enige bewussyn van afstand en verwydering van God. God het nie vir hulle op ‘n afstand beloer en bekyk nie.
Totdat sonde ingekom het. Skielik het die mens begin funksioneer vanuit ‘n skuldgevoel en ‘n knaende sondebewustheid en verwydering en afstand. Dít het toe die nuwe verwysingsraamwerk van die mensheid geword.
Op Golgota het God daardie korrupte verwysingsraamwerk binnegedring en die mens se onskuld herstel. Totdat jy dít verstaan, sal jy jouself altyd sien as ‘n produk van Adam se sonde en nie as die produk van die oorwinning van Christus se werk nie.
Dit is die enigste twee opsies vir ‘n mens se lewe. Óf jy sien jouself as ‘n produk van die skade wat die sondeval veroorsaak het óf jy sien jouself as die produk van die perfekte werk wat Jesus verrig het. Die implikasies is onbeskryflik verreikend – na beide kante toe.
Ons is outomaties en van nature daartoe geneig om onsself te sien as armsalige mense wat sleg beskadig is en wat verbeter moet word. Alle mensgemaakte godsdiens neem sondebewustheid as vertrekpunt. Die mens is beskadig en moet iets doen om te verbeter.
1 Kor 15:17 > Omdat Christus uit die dood opgestaan het, is julle nie meer in julle sondes nie en is alles die moeite werd.
Christus is uit die dood opgewek OP DIE BASIS VAN Sy dood op die kruis, waar God se oordeel oor die sonde van elke mens plaasgevind het en waar die mens wettiglik juridies onskuldig en sonder blaam verklaar is.
Indien die mensheid nie totaal skuldeloos gemaak is in die dood van Christus nie, het God nie ‘n wettige basis gehad om Christus uit die dood op te wek nie! Sy opstanding uit die dood was die kwitansie van ons onfeilbare onskuld. Sy opstanding was/is die bewys dat ons werklik onskuldig verklaar is deur Sy kruisdood.
Só werk die volgorde dus: 1) Christus sterf 2) ons word daarby ingesluit 3) Hy word die skuldige 4) ons word die onskuldiges. Daar het ‘n groot omruiling plaasgevind. En dán word die waarborg daarvan uitgereik: Sy opstanding uit die dood!
Die vraag is of ons onsself sien binne die konteks van onskuld? Of sien ons onsself as mense wat stryd het met so baie goed, opgemors deur die sondeval en in ‘n vals en opstaan stryd, sukkelende om onsself te verbeter sodat ons dalk eendag die plek kan bereik waar ons vir God aanvaarbaar sal wees?
E Kenyon: “Alle mislukkings in ons geestelike lewe kan terugherlei word tot skuld en sondebewustheid. Dit vernietig geloof en veroorsaak minderwaardigheid, ‘n gevoel van ontoereikendheid en skaam-wees vir God. Dit beroof jou van vrede en ‘n gebedslewe terwyl jy jouself met ander mense vergelyk en die skuldgevoel net groter laat word. Die oplossing is nie diep berou en bekering nie. Nie verdriet en urelange gebed nie. Nie vas en goeie werke nie. Nie dissipline of stryd teen slegte gewoontes nie. Niks hiervan kan die hart van sondebewustheid bevry nie. Die oplossing is ‘n ontdekking wat jy moet maak. Jy moet ‘n totaal ander verwysingsraamwerk ontdek – waarby jy alreeds ingesluit is, maar dit nie weet nie. ‘n Aankondiging is alreeds oor jou lewe gemaak, naamlik dat jy onskuldig en perfek verklaar is. Jou vertrekpunt is dan nie meer hoe beskadig jy is en hoe jy moet verbeter nie, maar jou vertrekpunt word jou insluiting in Christus en vandaaruit wórd jy…”
Dit was die probleem met die OT diere-offers. Dit kon nie die sondebewustheid, die stryd en die wroeging wegneem nie. Dit kon nie die gewete genees nie. Sonde was bedek maar nie verwyder nie. Daarom moes die offers aanhoudend herhaal word. Die gelowige het geweet dat sy sonde bedek is, maar dat dit steeds dáár is! Skuldgevoel het gebly. Dit alles staan in Hebreërs 9.
Maar dan kom Hebr 10:14 met die onbeskryflike verrassing: “EEN offer het net een maal eens en vir altyd almal perfek gemaak.” Één offer het die sonde-vertrekpunt/sonde-verwysingsraamwerk vernietig sodat ons voor Hom kan staan met ‘n volkome onskuld. Daarom is daar geen offers vir sonde meer nodig nie. God het alle afstand & verwydering in die wortel vernietig.
Al hierdie dinge geld nie vir jou nádat jy eers tot bekering gekom het nie! Dit GELD vir jou en wanneer jy dit ontdek en omhels, wórd jy bekeerd!
Wanneer ‘n mens dit hoor is jou natuurlike reaksie om te voel: “Dit klink so wonderlik, maar hierdie prediker ken nie vir mý nie. Ek verkies liewer ‘n prediker wat praat oor my swakhede en my sondetoestand en my kan aanmoedig om te verbeter en vir my kan wys wat ek moet doen om te verbeter… Só ‘n prediker en kerk wil ek hê!!”
Dít is níé die Evangelie nie! Dit is nié die boodskap vd Nuwe Verbond nie. Die Evangelie is dat elke mens in een enkele moment regverdig & onskuldig verklaar is en wettiglik ge-herposisioneer is!! Geregtigheid en onskuld is God se liefdesgeskenk aan die mensheid. Hy het die gevoel van verkeerd-wees, nie-goed-genoeg-wees, vernietig. Met één eens-en-vir-altyd offer het Hy u geherposisioneer sodat u onmiddelik kan begin om anders oor uself te dink. U denke oor Hom & oor uself kan onmiddelik verander. Denke-verandering = bekering (metanoia = verandering van denke). Hy het u verkeerd-tigheid met ge-reg-tigheid vervang.
Wanneer ‘n mens jou insluiting in Christus ontdek, sal jy anders oor jouself begin dink. Andersins verskil jy niks van enige ander godsdienstige mens op aarde nie. Die Christelike geloof is níé maar net nóg ‘n manier van selfverbetering nie. Nooit. Die Christelike Geloof is gebaseer op ‘n openbaring (bekendmaking) van wat Christus volmaak gedoen het en hoe elke mens daarby ingesluit is. Johannes 14:20 > “Julle gaan die ontdekking maak dat Ek in die Vader is en dat julle in My is en dat Ek in julle is.”
Op Goeie Vrydag – toe Jesus gekruisig is – was duisende paaslammers pas deur die priesters geïnspekteer en geslag. In die OT moes die offerdier na die priester gebring word vir inspeksie om te kyk of daar enige gebrek is. Die offer moes perfek wees.
Terwyl hierdie proses aan die gang was, is Jesus ook geïnspekteer en ondervra en deur Pilatus onskuldig verklaar. Drie maal verklaar Pilatus: “Ek vind in Hom geen skuld nie.” Daardie oomblik word Hy die perfekte Lam wat die sonde van die wêreld wégneem.
Die priesters het nooit die sondaarmense wat die offerdiere vir inspeksie bring, ondervra nie. Die priester se fokus was nie op die sondaarmens nie. Sy fokus was op die offerdier. Nooit het die priester vir die mens gevra: “Wat was jou sonde?” nie. Die priester was slegs besorg oor die volmaaktheid van die lam. Op grond van die lam se perfeksie, kon die offer gebring word.
Toe Christus op die kruis sê: “Dit is volbring” toe is ú regverdig verklaar. Want sien hoe het Gód Christus se offer geëvalueer. Op grond van die perfeksie van daardie offer, is Christus uit die dood opgewek. Dís hoe God Sy offer geëvalueer het. En Hy het elke mens in die opstandingslewe ingesluit sodat ons kon instap in ‘n nuwe manier van lewe. Wanneer u dit as waarheid omhels, wórd u ‘n bekeerde mens.
Die werklike glorie van die opstanding is nie geleë in die geweldige krag wat daar geopenbaar was nie, maar in die onskuld wat die mensheid nou voor God besit, want dit was hierdie onskuld wat tot die opstanding gelei het. Die opstanding is die kwitansie van hierdie onskuld.
Romeine 4:25 in Grieks > Christus is opgewek OP GROND VAN ons regverdigmaking. Grieks: dia tên dikaioosin hêmoon”. Hy is opgewek vanweë/as gevolg van/deur ons reg-wees (wat ons deur Sy dood verkry het).
Ons sondes het Sy dood tot gevolg gehad. Ons regverdigmaking (reggestel-wees) het Sy opstanding tot gevolg gehad. Sy opstanding was die kwitansie van jou verlossing. Sy opstanding maak jou onskuld bekend. Indien ek en jy nog steeds skuldig was ná Jesus se dood, sou Sy opstanding nie moontlik wees nie en ook nie relevant nie.
Klink dit te goed om waar te wees? Wel, dit ís waar en dit ís bitter goed. Jý is onskuldig verklaar in God se oë. Jesus se opstanding bevestig dit. Glo dit (omhels dit) en begin onmiddelik léwe.
Waarom is dit so belangrik om onskuldig verklaar te wees?
1 Jou onskuld herposisioneer jou identiteit. As jy jouself op ‘n sekere manier sien, sal jy op ‘n sekere manier leef. Wat jy glo jou identiteit is, gaan dit wat jy doen, vooraf. As jy jouself as ‘n terug-op-die-brug opgemorsde tipe mens sien, sal jy só leef. As jy jou identiteit op die Waarheid bou en jouself as ‘n verloste, gerestoureerde, geherposisioneerde, geregverdigde onskuldigverklaarde mens sien, sal dit jou hele lewe verander.
2 Jou onskuld stabiliseer intimiteit met God > Vier drinkglasies: Swart glasie verteenwoordig die Vader, wit glasie verteenwoordig Jesus, pers glasie verteenwoordig die Heilige Gees, pienk glasie verteenwoordig my/jou.
Johannes 14:10,16,20: “Ek is in die Vader (demonstreer: sit wit glasie in die swarte), die Vader is in my (sit swart glasie in witte), Heilige Gees is in julle (sit pers glasie in pienke), julle is in my (sit pers/pienk in wit/swart), ek is in julle (sit wit/swart in pers/pienk).
Juan Carlos Ortis: “Wanneer God na jou lewe kom, kom Hy nie net kuier nie, maar Hy kom met al Sy bagasie.” Hy kom om te woon. Dis nie ‘n kwessie van dat ek moet probeer om beter te word om ‘n posisie van aanvaarbaarheid te verkry sodat ek Sy aandag kan trek nie. Nee. Hy is nader aan jou as wat jou eie lewe aan jou is.