PAASKONFERENSIE 2013 DEEL 2
Tema: Krag van die Nuwe Verbond
Skrif: Hebreërs 10: 1-18
In Hebreërs 8-9 maak die Heilige Gees dit duidelik dat die Ou Verbond met groot frustrasie gepaard gegaan het. Ou Verbond is nie dieselfde as Ou Testament nie. Ons moet ‘n duidelike onderskeid tref.
Ou Testament: Die ganse tydperk voor Christus se menswording wat etlike duisende jare behels het. In hierdie hele tydperk was God se verhouding met Sy volk beheers deur die beloftes van die Abrahamverbond. Die Abrahamverbond was die infrastruktuur van Israel (en mense van ander nasies wat hierby wou inskakel) se verhouding met God.
Dit het behels dat God Hom aan die mense verbind het d.m.v die belofte van die komende Messias-verlosser. Elke mens wat op daardie belofte vertrou het, was ‘n verloste gelowige. Dit was hierdie verbond wat later oorgegaan het in die Nuwe Verbond met Christus se koms en die uitstorting van die Heilige Gees. ‘n Mens sou byna kon sê dat die Nuwe Verbond eintlik toe reeds die grondslag van die OT gelowiges se geestelike lewe was – dit was net nog in beloftevorm, nog nie vervul nie.
Die OT gelowiges was op presies dieselfde manier gered as NT gelowiges naamlik deur insluiting by die belofte van Christus se verlossingswerk. In hulle geval die belofte wat nog vervul moes word en in ons geval die vervulde belofte. Dit is gewoon nie waar dat die OT mense die Wet & tempelrituele moes onderhou om in God se goeie boekies te kom nie en dat NT mense deur genade alleen gered word nie. God se genade in Christus is die basis van beide OT en NT.
Nou watse ding was die Ou Verbond dan?
Ou Verbond: Dit LATER gekom, 430 jaar ná Abraham (Gal 3:17) en slegs TOTDAT die beloofde Saad gebore is (v 19). Die inhoud vd Ou Verbond was: Die Wet (10 gebooie plus al die ander honderde gebooie wat deur bemiddeling van Moses gegee is) asook die jaarlikse feeste en die tempel met al sy rituele – selfs die spesiale kleredragte van die priesters.
Die doel hiervan was om die Israelitiese samelewing in al sy fasette te reël: polities, ekonomies, kultureel, juridies ens. Die Wet was ‘n uitbeelding van die karakter & wese van God waarin die mense hulleself as beelddraers van Hom moes herken. Maar die Wet het ook vir die mense gewys hoe ver hulle te kort skiet en hoe nodig hulle die belofte van die komende Verlosser het om op te vertrou en aan vas te klem.
In die tempel, die offers, die feeste, die rituele en kleredragte was die verlossing wat die komende Verlosser nog sou bewerkstellig, konkreet afgebeeld. Hulle moes daarin ‘n konkrete prentjie kry van die verlossing, maar die Wet moes hulle wys hoe nodig hulle die verlossing (wat afgebeeld was) het.
Die Wet kon egter slegs die probleem aanwys, maar dit nie oplos nie. Die Wet het die spinnerak gewys, maar kon nie die spinnekop doodmaak nie. In die offerrituele, die bloedvloeiing, moes hulle egter sien wát die spinnekop sal doodmaak – die beloofde bloed vd beloofde komende Verlosser. Deur dít te glo, was hulle as God se kinders geag en het hulle as Sy kinders geleef volgens Sy Wet.
U sien dus: Die OT-periode was nie die tyd van die Wet nie. Die OT as boek is ook nie die boek van die Wet nie. Die OT-periode was die tyd van die genadige belofte & geloof in die belofte. Maar die Wet en tempelrituele het later bygekom met ‘n spesifieke doel, naamlik om vir die mense te wys hoe nodig hulle die belofte vd komende verlossing het en om vir hulle konkrete uitbeeldings/videos te gee van wat die werk van die komende Verlosser sal behels. Hulle kon dit voor hulle oë sien. Hulle kon byvoorbeeld sien hoe word ‘n dier in hulle plek op die altaar geslag (diere-offers = Ou Verbond). Dit moes geloofsvertroue by hulle wakkermaak – geloof in die groot Belofte van die toekomstige Verlosser.
Die Ou Testamentiese periode met sy ingeboude Ou Verbond kon egter nie ad infinitum op hierdie manier voortgaan nie. Dit was ‘n tydelike fase met baie gebreke & swakhede omdat die vervulling van alles in Christus nog nie plaasgevind het nie. Dit is wat Hebreërs 8-9 vir ons wys – hoe desperaat nodig dit was dat die Ou Verbond moes verval en dat die Abrahamverbond (wat nog al die pad die basiese infrastruktuur van Israel se geloof was) oorgaan in die Nuwe Verbond.
Wat was dan die swakhede van die Ou Verbond (nie Ou Testament)? Eerstens het die mense verkeerdelik begin dink dat hulle verlossing geleë is in gehoorsaamheid aan die Wet en die onderhouding van die tempelrituele en offers.
Die gevolg was groot frustrasie en konflik: Het jy gevoel dat jy goed genoeg gehoorsaam was, het jy eiegeregtig & trots gevoel.
Besef jy jy het drooggemaak, het jy selfveroordelend & verdoem gevoel.
Omdat die mense verkeerdelik gedink het dat hulle in God se guns kon kom deur wetsonderhouding, was hulle godsdiens net uiterlik. Daar was nie ‘n diep blywende effek in die hart en lewe nie.
‘n Verdere probleem met die Ou Verbond was dat die aanbidders altyd ‘n voortdurende bewussyn van sonde behou het. Hulle gewete kon nooit finaal gereinig word nie. ‘n Konstante gevoel & besef van gebrek en minderwaardigheid.
Wanneer ‘n man byvoorbeeld sy lammetjie na die priester gebring het om geoffer te word, was hy dalk vir die oomblik verlig en het geweet hy is vergewe, maar dit was gou iets van die verlede en het hy geweet: Ek gaan weer hierdie sonde doen, ek gaan weer opmors en dan sal daar wéér ‘n lam nodig wees. Die sondebewussyn het gebly.
Die blote herhaling van die offers was ‘n bewys dat dit net ‘n tydelike sisteem was – wat eintlik gefaal het.
Die sukses van die Nuwe Verbond en die eenmalige offer van Christus was dat dit nooit weer herhaal word nie en dat dit sondebeheptheid (aanhoudende sondebewustheid) vernietig het.
Tog is dit interessant hoe óns (wat veronderstel is om in die Nuwe Verbond te lewe) die OT rituele van die aanhoudende herhalende bring van diere-offers net gaan vervang het met ons praktyk van voortdurende sondebelydenisse. Asof die offer van Jesus nie eenmalig eens en vir altyd met sonde gehandel het nie! Ons is dikwels nog net so sondebewus, voortdurend struikelende oor dieselfde ding oor en oor met aanhoudende berou en belydenisse presies net soos die mense onder die Ou Verbond.
Sondebelydenis in die Nuwe Verbond beteken nié om aanhoudend ad infinitum vir God te gaan vertel wat jy verkeerd gedoen het en wat jou sondes is nie.
Die Griekse woord “homologéoo” beteken “om dieselfde woord te spreek”. Dit beteken om dieselfde woord oor sonde te sê as wat God daaroor sê. Dit beteken nie om oor en oor in ‘n sondebewustheid vir God jou sondes bekend te maak nie.
Dit beteken wel om vir jou sondes van jou God te vertel. Om vir sonde te vertel wat God met die sonde gedoen het. Om die Waarheid uit te spreek oor hoe suksesvol God met die sonde gehandel het. In Hebr 10:17 staan daar dat Hy glad nie meer aan sonde dink nie. Hy het dit uit Sy geheue verwyder. Só suksesvol het Hy daarmee gehandel. As iets nie in die gedagte van God bestaan nie, dan bestaan dit glad nie meer nie! Hebreërs 10:10 > Deur die één offer IS die mens eens en vir altyd heilig gemaak. Vers 14> PERFEK gemaak. Hy het Sy finale woord oor sonde gespreek en dit is die einde van die saak.
Ons dink ons boodskap aan die wêreldse mense moet wees dat hulle met sonde moet stop. Maar het dit al ooit gewerk? Het dit al ooit daartoe gelei dát sonde minder geword het? Selfs al hamer ons die mense met God se oordele en die angste van die helse vuur. God het Sý finale woord oor sonde gespreek: Hy het één maal en eens en vir altyd daarmee gehandel.
Onder die Ou Verbond het die mense geworstel met ‘n konstante gevoel van patetiese minderwaardigheid. Die Nuwe Verbond is die vervulling van die Abrahambelofte. Die saad van Abraham was al die tyd nie die miljoene Israeliete nie, dit was net één saad, naamlik Christus Jesus. God het in Christus Jesus ‘n menslike “partner” gevind wat geen bewussyn van sonde het nie en op Wie se hart die wet geskryf is. Met Hóm het God Sy verbond opgerig sonder enige moontlikheid van mislukking. In die Persoon van Christus – wat ten volle God is en ten volle mens is – het God ‘n volmaakte verbond gesluit. As God, eis Jesus perfekte gehoorsaamheid. As mens, vervul Jesus die gehoorsaamheid. En dit doen Hy as ONS plaasvervanger en verteenwoordiger. Hy het óns menswees binnegekom en saam met ons beleef wat ons beleef. God het déél van ons menswees geword. Die lewe wat ons in Christus ontvang het, is presies die lewe waarvoor ons oorspronklik – voor die skepping reeds – ontwerp is naamlik ‘n lewe wat deel in die lewe wat binne die Drie-eenheid geleef word. Efes 1:4 > Voor die skepping reeds bestem om heilig en sonder blaam te wees. Daarom het Christus deel gehad in ons stryde, konflikte. Hy het selfs kom deel in ons twyfel. “My God My God waarom het U my verlaat”?? Waar Hy uit Psalm 22 aanhaal.
U sien die Here Jesus is nie ‘n derde party wat kom bemiddel het tussen ‘n woedende kwaai God en ‘n patetiese mensdom nie. Hy het nie as ‘n derde party tussenbeide gekom om vrede te bewerkstellig nie. Nee, IN SY PERSOON het God en mens ontmoet! Sy eie Persoon is die bemiddeling. In Sy eie Persoon is Hy die eenheid tussen God en mens. Hy staan nie in die gaping en hoop iemand gebruik Hom om oor te kom tot by God nie. Nee, in Homself is Hy die versoening tussen God en mensdom.
Op die kruis het Christus – as ons verteenwoordiger – die gevalle mensdom se “mindset” op Homself geneem. Die twyfel vd mensdom op Homself geneem. As mens, in die plek van die mens, roep Hy die uitroepe wat die mens roep. Hy betree die mensdom se hel en Hy openbaar dat God nooit die mens verlaat het nie. Hy slaan tent op binne-in die diepste hel van die mens se bestaan. Hy los nie ons probleem op vanaf ‘n afstand nie. God die Vader staan nie op ‘n afstand met ‘n woedende gesig en kyk hoe Jesus die probleem oplos nie. Nee, kyk na 2 Kor 5:19 waar daar staan dat GOD in Christus die wêreld met Homself versoen het. Hy doen dit deur tot reg binne-in die hart van die probleem in te dring. Hy los die probleem van dood op deur vir die dood te sê: “Kom tref mý. Selfs al dood jy my, sal ek weer opstaan.”
Sien u die krag van die Nuwe Verbond? Hy los ons kern-probleem op deur in ons menswees in te kom en ons te omhels met al ons weersprekinge en al. Efes 4:10 > Hy het opgevaar om alle dinge te vul. Dit maak nie saak in watter helse beproewing iemand vasgevang is nie. Ons hoef nie so iemand éérs uit die put uit te haal om hom dán aan God voor te stel nie. Ons stel hom voor aan die God wat met hom binne-in sy hel is. Hy ken ons nie op ‘n afstand nie.
Die oomblik wanneer my oë oopgaan vir die tent wat die Drie-enige God binne-in my helse stryd kom opslaan het en dat Hy saam met my daar in is, kan my hel in hemel verander sonder dat ek uit my probleem situasie hoef te ontsnap.
Madam Guyon was een keer in ‘n ondergrondse kerker gegooi – waar sy uiteindelik ook gesterf het. Terwyl sy daar was, het sy ‘n gedig geskryf waarin sy onder andere iets soos die volgende gesê het: “Hulle wat my in hierdie kerker gegooi het weet nie dat daar Een is wat deur klipmure kom nie. Die mure van hierdie kerker het vir my dierbaar geword.
Was dit nie die geheim van Paulus se tevredenheid nie? Ten spyte van watter omstandighede ookal. Sy gevangenskap was ‘n plek van tevredenheid en blydskap. Terwyl hy die doodsvonnis kon ontvang, het hy die geheim van tevredenheid geken. Terwyl hy nie geld gehad het nie – eintlik níks gehad het nie – sê hy: Ek maak ander ryk! (2 Kor 6:10). Hy het ‘n vertroue gehad in die rykdom wat God in sy lewe gedeponeer het. Te midde van honger en gebrek kan jy iemand anders ryk maak méér as wat jy jou in jou wildste verbeelding kan voorstel.
Werklike armoede is ‘n innerlike bewussyn van gebrek. Jy kan miljoene in die bank hê en tog in jou innerlike mens bewus wees van ‘n tekort. Dan is jy in werklikheid arm.
Die mees standhoudende rykdom is die innerlike besef van hoe kompleet/volledig jy in Christus is (Kolos 2:10). Dan kan jy in ‘n ondergrondse kerker sit en steeds die oorweldigende rykdom van die God van die heelal beleef. Hý wat jou so ontsettend kosbaar ag. In Sy oë is jy kosbaarder as wat die hemel vir Hom kosbaar is. Dit is waarom hy die hemel verlaat het om jou menswees binne te kom en om die hemel te bring tot waar jy is en die hemel te vestig reg binne-in die hel van jou bestaan.
Wat ‘n krag is die Nuwe Verbond nie!