No 1 Paaskonferensie 2010
Tema: Die vrou met die fles
Skrif: Matteus 26: 1-13, Johannes 12: 1-8
U onthou op watter manier die Here Sy volk uit Egipte uitgelei het o.l.v. Moses. Dit was d.m.v. die 10de plaag. Die 10de plaag het behels dat – o.g.v. God se woord – alle eersgeborenes in alle huise op ‘n sekere moment sou sterf behalwe díé huise waar ‘n lammetjie vooraf geslag is en die bloed buite aan die deurkosyn geverf is (Eks 12). Die bloed aan die deurkosyn sou vir die doodsengel die teken wees dat ‘n offerdier in die plek van die eersgeborene gesterf het en dan sou die engel by die huis verbygaan (“pass over”) en die eersgeborene nie sterf nie. Die oorgrote meerderheid huise in Egipte het natuurlik die Here se woord verontagsaam en in baie duisende huise was daar ‘n sterfte. Dit het soveel pandemonium veroorsaak dat die Farao die Israeliete laat trek het. En sederdien het die volk jaarliks die Pasgafees/Paasfees gevier en elke keer ‘n lam geslag. Die 10de plaag was ‘n vooruitwysing na die komende Here Jesus wat die uiteindelike Lam van God sou wees wat in die plek van sondaars sterf. Wie op Sy vergote bloed vertrou, sal nie in die oordeel omkom nie. Soos by die eerste Pasga, sal die oorgrote meerderheid mense wél omkom omdat hulle die kruisevangelie verontagsaam het. In die tyd toe Jesus op aarde was, het die Jode dus steeds jaarliks die Paasfees gevier en dit was God se bedoeling dat Jesus – as díé Paaslam – presies op die Paasfees moes sterf. Terwyl die paaslammetjies oral geslag word, sterf Jesus op Golgota en vervul Hy die Joodse paasfees in Homself. Dit is waarom Hy in vers 2 vir Sy dissipels sê: “Oor 2 dae is dit die paasfees, dán word die Seun van die Mens oorgelewer om gekruisig te word.” En dit terwyl die Joodse priesterhoofde en familiehoofde dit wou vermy om Hom op die fees dood te maak (v 5). Hierdie mense is egter besig om (onwetekende en teen hulle sin) God se raadsplan uit te voer en nie hulle eie planne nie. Hulle besef dit egter nie, want ‘n onsigbare hand bestuur hulle. Al die jare wou hulle vir Jesus doodmaak, maar hulle kon dit nie regkry nie omdat dit nie God se tyd was nie. Nou, tydens híérdie spesifieke paasfees, was dit die tyd. Nie ná die fees – soos hulle beplan het nie – maar tydens die fees (op die Vrydag) soos God dit beplan het! En só het gebeur. Dit bly ’n wonder om te sien op watter wyse die Heilige Gees die Bybelskrywers gelei het om te skryf wat hulle geskryf het. Kyk byvoorbeeld in watter konteks plaas Matteus die verhaal van die vrou-met-die-olie: net ná die owerstes & Judas se goddelose planne téén Jesus. Waarom? Om vir ons die kontras te wys tussen die owerpriesters/Judas/én-die-dissipels EN hierdie vrou se bediening. Só sien ons hoe radikaal hierdie vrou bots met die ander – wat betref haar insig van wie Jesus werklik is. Dit is eers wanneer ons iets van hierdie botsing verstaan, wat ons werklik verstaan wat hierdie vrou regtig gedoen het en wat die oliesalwing werklik beteken. In die ganse beskrywing van Jesus se lydensweg, sien ons op net een plek wat dit regtig beteken om ’n volgeling van Jesus te wees: ons sien dit by hierdie vrou. Ons sien dit nie by Kajafas/owerpriesters/Jode/Judas/dissipels/Petrus nie. Maar wel by hierdie vrou. Kyk maar net na die Joodse leiers en dissipels: Onsekerhede/ angste/ chaos/ konkel-agter-die-skerms/ vol bose idees/ stompsinnig/ geheimsinnig/ bang vir wat mense sal sê/ bang vir die skare….. Daarteenoor die vrou-met-die-fles: Lewe in die lig/ totale vryheid/ steek niks weg nie/ vrees nie mense se opinies nie/ bedien Jesus voluit met liefde/ kyk nie links of regs nie/ staan teenoor die duisternis — en by dit alles moet ons onthou dat – in daardie tyd – vrouens nie só in mans se teenwoordigheid mag gekom het nie. Van ál hierdie mense – verstaan hierdie vrou iets van wie Jesus regtig is en wat Hy kom doen het. Sy plaas ’n baie, baie skerp fokus op JESUS SELF. Dit is die opvallende: Die fokus val nie op haarself nie. Dus: Wanneer ’n mens na haar kyk en oor haar praat, moet jy ten diepste vir JESUS sien. Kom ons kyk vir ’n oomblik hoe hierdie vrou in kontras staan met Judas (Joh 12). Judas was die eerste persoon wat ’n kritiese opmerking oor die vrou gemaak het: “Waarom hierdie verkwisting?”/ “Salf kon verkoop gewees het”/” Geld kon vir die armes gegee gewees het.” Dit is ook verstommend om te sien dat ál die dissipels met Judas saamgepraat het. Álmal sê: “Ja, wat ‘n verkwisting!” Ons moet onthou dat, vlgs Mark 14:5 die waarde vd olie byna ‘n volle jaar se loon was! Tog klink dit asof Judas die ware dissipel is. Hy is so vol omgee. Só geestelik. Klink of hý vir Jesus in Sy opstandingskrag ken. Tog gaan dit eintlik oor sy eie beursie. Hy verstaan hoegenaamd nie. Hy verstaan nie dat oorvloedige géé uit liefde en ’n verhouding in die volheid van die Gees niks met verkwisting te make het nie. Tog verstaan die vrou dit. Judas se ekonomiese beleid het behels dat hy gee wat hy moet. Hy gee nie minder as wat sy plig is nie. Hy gee ook nie meer as wat sy plig is nie. Koue krampagtige plig. Die vrou tree dalk nie in die oë van mense korrek op nie, maar wel in die oë van God. U sien: ’n brandende hart en liefdesoorgawe is nie altyd wetties korrek nie. Maar Judas se manier van die Here dien was uit plig. Die Here was in sý diens om aan sý verwagtings te voldoen. Dit was die keuse wat Adam van die begin af gemaak het: Die Here moet in die mens se diens kom. Hy is die mens se gebruiksartikel. Ons is bereid om 100% godsdienstig te wees – solank dit net beteken dat die kroon op óns kop is! Hierdie gif loop in ons almal se bloedstroom – nie net in Judas s’n nie. Dit is die gif waarvan Jesus ons kom red het. Hy het ons van ons verkeerde godsdienstigheid kom verlos sodat God weer Gód kan wees in ons lewe EN ons as mense weer ons regmatige plek as kínd kan inneem. Dít is die nuwe lewe wat Jesus gebring het. Nie ‘n nuwe godsdiens nie, maar nuwe LEWE. Dit is die tweede keer dat hierdie Maria gekritiseer word. Die eerste keer was toe Jesus by haar en haar suster Martha aan huis was en sy by Jesus se voete gesit het terwyl Martha tee maak en Martha haar berispe omdat sy nie vir haar help nie. Die eintlike aanklag: “Waarom oordryf jy jou godsdiens? Elke ding het sy tyd. Waarom by Jesus se voete sit terwyl daar werk in die kombuis is?” Elke keer word Maria gekritiseer omdat sy ‘n brandende hart vir Jesus het. Ook in die onderhawige geval van die oliesalwing. ‘n Mens wie se hart brandende vir die lewende God is, sal altyd ‘n mate van teenstand kry. 2 Tim 3:12. Dit kan selfs ‘n eensame pad word. Min, min mense verstaan jou. Mense wat ‘n koue, kille, wettiese godsdienstigheid bedryf, verstaan nie iemand wie se hart deur Jesus aan die brand gesteek is nie. Hoe kosbaar is Jesus se woorde aan Judas en die dissipels: “Los haar – onthou: vir My het julle nie altyd by julle nie, alhoewel die armes altyd daar sal wees.” Met ander woorde: “Doen NOU/VANDAG wat jy kan. Moenie uitstel nie. Koop die tyd uit. Môre kom dalk nooit.” Dit is ‘n kenmerk van iemand wat ‘n volgeling van Christus is: Lewe vandág met die Here. Jesus bedoel nie dat sorg aan die armes tweede viool moet speel nie. Hy bedoel dat aanbidding teenoor Hóm, hoër prioriteit geniet as enige ander bediening. En nou die salwing self. Heilige grond. ‘n Mens sien by hierdie vrou dít wat in ‘n mens se lewe gebeur wanneer die Here met Sy genadige redding jou lewe in besit geneem het. Sy bedien die Here met haar kosbaarste. Breek die fles in stukkies. Stort die volle kosbare inhoud op die Heiland uit. Volgens Matteus salf sy Jesus se kop, maar Johannes sê dat sy ook Sy voete gesalf het. Gee haarself heeltemal weg. Eintlik demonstreer Maria dat sy enigste een is wat regtig verstaan WIE die Meester is. Hy is werklik die Gesalfde (Messias/Christus) van God. Die dood kan Hom nie vashou nie. Dit is asof nie een van die ander werklik kon sien wie Jesus is nie. Selfs ook nie Petrus nie. Maar, hier midde-in die stryd – waar Jesus op die punt staan om verwerp te word deur almal – kom hierdie vrou en demonstreer vir hulle hoe Jesus besig is om gebreek te word soos die fles olie gebreek is. Hoe Hy Homself uitgiet tot die laaste druppel. Hoe Hy vrywilliglik Sy eer en heerlikheid prysgee sodat Sy lieflike geur uiteindelik oral versprei. Eintlik kom God die Vader sélf – deur hierdie vrou (skynbaar die enigste een wat verstaan) – om Sy Seun te troos – die aanraking van liefde. Wat beteken dit om ‘n volgeling van Jesus te wees – nadat Hy jou Syne gemaak het? a) Om die fles te breek en b) die kosbaarste op Hom uit te stort. In die praktyk beteken dit om sensitief te wees vir die Here – om ingestel te wees op Hom. Om ‘n hart vir Hom te hê. Maar, hoe is so iets moontlik indien ‘n mens hard is en vol bly van jouself? Sien ‘n mens nie hoe Maria juis haar kosbaarste op Jesus uitstort nie? Selfs wanneer sy Hom afdroog met haar hare. 1 Kor 11:15 sê ‘n vrou se heerlikheid is in haar hare. Maria gee dus háár eer en heerlikheid prys en fokus op Jesus alleen. Die een of ander tyd kom alle gelowiges voor hierdie toets te staan: Is EK vir jou meer werd as enigiets in jou lewe?