PAASKONFERENSIE 2013 GOEIE VRYDAG

Tema: Die betekenis van die kruis

 

Skrif: Hebreërs 1: 1-3

 

Waarom?

Waarom moes die Here Jesus Christus sterf? Waarom was dit nodig? Waarom móés dit gebeur? Hoe moet ons verstaan wat werklik in daardie donkerste uur in die geskiedenis van die mensdom gebeur het?

 

Aan die een kant voel ‘n mens lus om niks te sê nie, net maar te swyg voor só ‘n grootse gebeure.

 

Aan die ander kant kán jy nie stil bly nie, want miljoene mense is geestelik verblind deur hulle onkunde. Jy móét vertel wat dit beteken. Jy mág nie swyg nie.

 

‘n Mens kan die antwoord op die vraag wat die kruisdood van Christus beteken, in drie trefwoorde vind – al drie te vinde in Hebreërs 1: 1-3:

 

Die eerste woord is TRINITEIT/ DRIE-EENHEID: Om te verstaan waarom Jesus Christus op die kruis gesterf het, moet ons teruggaan na die tyd vóór die begin van tyd/skepping en moet ons sien wie God-drieënig (die Triniteit) regtig is – Sy wese/karakter/hart. Want die Man wat gesterf het, is die ewebeeld van God, die Een deur Wie alles geskep is, uit wie God se heerlikheid straal (Hebr 1:3).

 

Dan sien ons dat daar nooit ‘n tyd was wat God óóit ‘n tipe abstrakte, koue, gesiglose, groot, “stainless steel” antiseptiese, kliniese, onbeweeglike wese iewers in die veraf heelal was nie. Nooit was Hy ‘n veraf onvoorspelbare regter van wie ons nie weet hoe hy oor ons voel nie. Iemand wie se arm ons gedraai moet kry, want sê nou maar net hy is téén ons…. Ja, dit is die god wat ons in ons verbeelding het, maar in werklikheid bestaan hy glad nie.

 

Nee, daar was nooit ‘n tyd wat Hy nie Vader/Seun/HG was nie.

 

Op die bladsye van die NT sien ons ‘n dinamiese, warm, liefdevolle, vreugdevolle verhouding wat onderling tussen Vader/Seun/HG binne-in die Drie-eenheid uitgeleef word.

 

Hy is uit en uit ‘n verhoudingswese. Hy is glad nie selfgesentreerd nie. Binne-in die heilige Sirkel van die Triniteit is daar brandende liefde, gee-ende liefde, bymekaarwees, oorvloedige blydskap, kreatiwiteit, ondenkbare goedheid, musiek, fees, oorvloedige lewe. Binne daardie Sirkel is daar geen spoor van eensaamheid/angs/neerslagtigheid/stress nie.

 

Hierdie oorvloedige, ryke, heerlike onderlinge en gesamentlike lewe van die Vader/Seun/HG vír/met mekáár, is die moederskoot waaruit die kosmos gebore is en waaruit die menslike ras gebore is. Dit is die groot rede waarom die mens geskep is. Want die Drie-enige God het iemand gesoek wat kon deel in die oorvloedige lewe wat binne die heilige Sirkel bestaan! Vandaar die daarstel van die mens en die planeet waarop die mens moes lewe.

 

Dis die eerste woord wat verduidelik waarom Jesus gesterf het: TRINITEIT. Jesus se sterwe het iets te doen met die feit dat die mens moet deel in die oorvloedige lewe wat binne-in die Drie-eenheid heers.

 

Die tweede woord is HEMELVAART/OPVAART:

 

Christus het gaan sit aan die regterhand van die Majesteit (Hebr 1:3).

 

Op hierdie oomblik is daar ‘n werklike Man/mens binne-in die Sirkel van die Triniteit! Op hierdie oomblik is daar ‘n Mens binne-in die heilige Sirkel, binne-in die direkte lewe en gemeenskap van die Vader/Gees. Christus het as werklike ware Méns daarheen vertrek met Sy hemelvaart en Hy is nou nog daar!

 

En dit is óns menswees wat Hy daar verteenwoordig! Jóú menswees word verteenwoordig binne-in die Triniteit. Sy menswees is ‘n plaasvervangende menswees – Hy het ons plek kom neem. Stefanus het nie ‘n engel of ‘n gees of ‘n spook gesien toe hy – terwyl die klippe op hom reën – die Here Jesus by die Vader gesien het nie (Hand 7:56). Dit was die mensgeworde Christus self – wat in die Drie-eenheid sit!

 

Wat kan meer asemrowend wees as die realiteit dat die Drie-enige God die lewe wat onderling tussen die Vader/Seun/Gees heers, OOPGEMAAK het, sodat dit nou ‘n Mens binne-in daardie Sirkel insluit! En die Mens wat daar teenwoordig is, verteenwoordig die mensdom binne-in die heilige Sirkel!! Hy verteenwoordig ú binne-in die Sirkel – met u doodgewone menswees van elke dag! Hy is die enigste waarheid aangaande u.

 

Dit alles het nie plaasgevind omdat daar ‘n sondeval was nie – ‘n soort Plan B (noodplan) omdat die sondeval plaasgevind het nie. Nee, volgens Efes 1:5 was ons aanneming tot Sy kinders in/deur Christus, voor die skepping reeds God se droomplan!

 

1 Die menswording van Jesus,

 

2 die ewige blywende mens-wees van Jesus,

 

3 die hemelvaart van Hom as Mens,

 

4 die menswees van Christus in die Drie-eenheid,

 

5 óns wat deur Sy dáárwees ook binne-in daardie Sirkel ingeneem is –

 

DIT ALLES was God se droom voor die skepping reeds.

 

Dat Christus – deur middel van Sy hemelvaart – vir óns in die lewe vd Drie-eenheid moes insluit, was God se visie voor die skepping reeds.

 

Dit was nie Sy noodplan toe die sondeval plaasvind nie!

 

Daar is net één Plan A van voor die skepping af. Gaan kyk maar na daardie astronomiese 2 Tim 1: 8-9 > “Hy het ons verlos volgens Sy eie besluit en genade wat Hy aan ons in Christus gegee het van alle ewigheid af.”

 

Sien u hoe werk die hart van God?

 

1 Eerste is daar die Triniteit, die oorvloedige selflose op-die-ander-een-gefokusde lewe tussen die Vader/Seun/HG.

 

2 Dan volg die verstommende droom in God se hart dat óns tot Sy kinders aangeneem sal wees deur middel van die hemelvaart van die mensgeworde Seun v God.

 

3 En dan, binne híérdie konteks volg die skepping van alles, wat die verhoog is waarop die drama van die Triniteit en ons aanneming in Christus sal afspeel.

 

4 En binne híérdie konteks verskyn Adam dan eers op die toneel.

 

5 En dán kom die sondeval eers!

 

Maar kan u sien hoe – voor die skepping reeds – ons aanneming en die bewerking van ons aanneming in/deur die hemelvaart van die Mens, Christus – soos ‘n magtige banier oor die hemele gespan is.

 

Voordat tyd bestaan het, was daar ‘n besluit geneem dat mense van vlees en bloed ‘n plek binne-in die trinitariese lewe sal hê deur Jesus Christus. Voordat tyd bestaan het, het God besluit dat die énigste manier waarop Hy God wil wees, sal VIR MENSE en AS ‘N MENS wees! Daarom is Adam gevormeer volgens die beeld en gelykenis van die Mens wat Christus sou wees. Jesus het nie 2000jr gelede ‘n mens SOOS ONS geword nie. Óns is voor die skepping reeds geknip op SY patroon van menswees!!

 

Wat ons dus van die kruisdood vd Here Jesus moet sê is dat dit inpas binne die groter verbysterende plan van die Drie-enige God om óns in te sluit binne die lewe van die Vader/Seun/HG. Jesus moes die Middelaar wees. Die Een in wie niks minder nie as die Trinitariese lewe verenig word met mens-wees nie! IN die Persoon Jesus Christus, is ons mens-wees VERENIG met die lewe wat tussen die Vader/Seun/Gees heers !!

 

Jesus se koms na die aarde en Sy kruisdood is die lewende bewys van die Vader se absolute toewyding aan Sy droomplan om ons as kinders aan te neem. Dis hierdie passie van die Vader wat Christus na die kruis dryf, want dit het nooit in die Vader se gedagte gekom om ons te verstoot nie. Hy kan nie die woord “verstoot” spel nie.

 

Dit is die tweede sleutelwoord om die kruis te verstaan: HEMELVAART

 

Die derde woord is SONDE – Hy het die reiniging van ons sondes bewerk (v 3) – die diepe geestelike siekte en smet wat die menslike ras vanaf die tyd van Adam se ongeloof binnegekom het.

 

Daardeur het gebrokenheid, duisternis, vervreemding diep wortel geskiet in die mens se bestaan. Eensaamheid, vrees, isolasie, verlies, skuld, hartseer, frustrasie, jaloesie, moord, woede, bitterheid, depressie, verwerping en veroordeling het deel geword van die daaglikse lewe van elke mens en verhoudings binnegedring en verwoes.

 

Wat was die Drie-enige God se reaksie op hierdie ramp?

 

Die respons van die Vader/Seun/HG kan met een woord saamgevat word: NEE!!!!

 

En in daardie NEE ego Sy ewige JA vír ons.

 

God is vír ons – daarom is Hy absoluut radikaal ewiglik passievol gekant téén enigiets wat ons kan vernietig of skade berokken. Sy vurige gedetermineerde teenkanting/verset/opposisie teen die sondeval is Sy ewige NEE juis omdat Hy vir ons JA sê!

 

Dit is terloops ook hoe ons iets soos die toorn van God moet verstaan. Sy toorn is nie die teenpool van Sy liefde nie. Dit is ‘n kwaliteit van Sy liefde. Sy toorn is Sy liefde in teenkanting teen alles wat Sy droomplan vir ons bedreig en wil vernietig!

 

Dis juis omdat die Drie-enige ‘n ewige JA oor die menslike ras uitgespreek het, ‘n ewige JA vir oorvloedige lewe, vreugde, liefde in/vir ons – dat Hy die sonde tegemoetgaan met ‘n onverbiddelike NEE!! “NEE, ek het julle nie geskape om in duisternis te sterf nie!!”

 

Dit is waarom God se droom van Christus se hemelvaart en ons aanneming deur Sy hemelvaart nou skielik deurspek raak van pyn, trane en dood. Die pad tot by Christus se hemelvaart en ons aanneming is nou geplavei met pyn, lyding en dood.

 

Want hóé kom jy & ek van die val van Adam tot by die regterhand van die Vader? Antwoord: deur die dood. Die sondeval moet ongedaan gemaak word. Die gevalle Adamiese ras moet omgebuig word terug na God se droom toe. Gebroke vervreemde perverte menslike bestaan moet radikaal besny word en herskep word en getransformeer word en teruggebuig word na die Vader toe.

 

Waarom het Jesus Christus aan die kruis gesterf?

 

Omdat die Vader botweg weier om ons te verstoot. Omdat Hy voor die Skepping ‘n droom/visie gehad het wat Hy nie sal loslaat nie.

 

Jesus sterf omdat die enigste manier waardeur ons vanaf Adam se val tot binne-in die lewe van die Drie-eenheid kan kom, was deur die kruisiging van die hele Adamiese bestaan. Hy gaan na die kruis om die Sondeval ongedaan te maak en om die Adamiese ras na Sy Vader toe te draai. Hy sterf om vervreemding en afstand te vernietig ten einde Sy Vader se droom van ons aanneming deur Sy hemelvaart te verwesenlik.

 

Die prys van hierdie sending was 33 jaar van vuur en beproewing, 33 jaar van versoekings en 33 jaar van luide geroep en trane.

 

In die kruisdood van ons Here Jesus het die dinamiese innerlike lewe van die Vader/Seun/Gees sy pad oopgebreek dwarsdeur menslike sonde, vervreemding & ontaarding. Die Seun van God het letterlik binne-in Adam se gevalle wêreld ingekom, maar self nie daarin geval nie. Vir 33 jaar lank het Hy oomblik na oomblik deurgeveg en stap vir stap die gevalle Adamiese bestaan teruggebuig na God toe. Sy hele lewe was ‘n kruis (Calvyn).

 

Die gebeure in Getsemane waar Hy op Sy aangesig lê in pyn & stryd en met ‘n oorweldigende las – dit alles is ‘n venster op die hele lewe van die Here. Vanaf die oomblik van Sy geboorte het Hy begin om die prys vir ons vryheid te betaal soos wat Hy dieper en dieper in ons vervreemding ingedring het. Op die kruis het Hy kontak gemaak met die Tuin van Eden en kontak gemaak met Adam & Eva waar hulle beangs vir God wegkruip. Hy het kontak gemaak met die oorspronklike sonde en leuen en duisternis. Toe Jesus aan die kruis hang het die Vader/Seun/Gees letterlik kom tent opslaan binne-in ons diepste hel. Hy het homself gedoop in die water van Adam se val. Hy het die vestings van duisternis binnegedring en oorwin.

 

Die Vader se onverbiddelike NEE op die sonde kom op die Here Jesus neer en ons hoor hoe roep Hy JA – dit is volbring! En toe Hy sterf, toe sterf Adam se (en ons) val saam met Hom.

 

Dit was die donkerste van alle oomblikke in die geskiedenis van die kosmos.

 

En tog ook nie. Want die duisternis wat die mensdom binnegekom het en die mensdom verwoes het, het op daardie oomblik toe Christus sterf met die Lig van die trinitariese lewe van die Vader/Seun/HGees ontmoet. Hoe kon die duisternis wen? Net soos duisternis vlug wanneer ons ‘n ligskakelaar aanskakel en die lig die duisternis verdryf, net so kon die duisternis nie staande bly teen die lig van die lewe van die Drie-enige God nie.

 

Daarom word daardie Vrydag nie Swart Vrydag genoem nie, maar Goeie Vrydag.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00