Pilatus spyker 'n bordjie op die kruis
Pilatus spyker ‘n bordjie op die kruis – bokant ons Here Jesus se kop – vas met ‘n naam/titel wat hy die Here Jesus gee: “Jesus van Nasaret, die Koning vd Jode.” In 3 tale: Grieks, Hebreeus, Latyn.
Die vraag is: Waarom sou die Apostel Johannes hierdie insident in Joh 19:19 aanteken? Dit lyk asof Johannes hier maar net ‘n stukkie geskiedkundige inligting deurgee. Dalk ‘n terloopse opmerking. Tog nie. Wanneer ons van naderby kyk, sien ons ‘n geweldige boodskap.
Kyk byvoorbeeld net na die groot kontras: Bó ons Here Jesus se kop staan daar op die bordjie: KONING. Maar wie hang onder die bordjie? ‘n Bebloede, magtelose, sterwende man. Is dít die koning? Geen regdenkende mens kan so iets verstaan nie. ‘n Koning sit immers op ‘n troon, dra ‘n kroon, word gerespekteer, dra deftige klere, oefen mag uit. Wáármee het ons nou hier te make? Watter menslike oog sal óóit in staat wees om in hierdie Koning ‘n kóning se heerlikheid te sien? Maar dít is nou juis die wonderwerk wat die krag van die Evangelieboodskap in ‘n mens kom losmaak – dat jy die glorie & heerlikheid van die Here Jesus Christus IN Sy diepe vernedering kan sien. Mag die Gees ons oë salf om dit te kan sien.
Wat wou Pilatus doen met hierdie titel wat hy op die bordjie geskryf het? Onthou hy was ‘n Romein. Hy wou met die Jode spot. Hy soek só ‘n tipe opskrif bo Jesus se kop dat die Jode daardeur belaglik kan vertoon. “Watse soort patetiese volkie is julle dat julle Koning só lyk? Kyk, Hy kom uit die veragtelike ou Nasaret en hang totaal magteloos aan ‘n kruis soos ‘n misdadiger. Julle is ‘n vrot spul. Kyk hoe magteloos is julle koning!”
En dit het getref, want die Jode wás in elk geval baie teleurgesteld in die Here Jesus. Hulle het immers ‘n Verlosser verwag wat die septer sou swaai en die juk van die Romeinse regering afskud en hulle bevry. Nou sê Pilatus: “Julle het mos ‘n koning verwag wat julle sal bevry van ons Romeine: Wel, hier’s hy. Ha, ha, ha!!”
U sien: In/deur Pilatus se bordjie, lag Rome Jerusalem uit. Die antichris tart die verbondsvolk vd lewende God. Soos Goliat die Here se gemeente uitgetart het totdat Dawid hom in die Here se Naam gegryp het. Pilatus kón immers in Jesus geen koning sien nie. Hy was tog geestelik totaal blind. Soos die een misdadiger langs Jesus. En soos die hele kaboedel van ons – van nature. Stokblind. Al wat Pilatus kan doen is om die spot te dryf met Israel se verwagting en met God se beloftes.
In Pilatus sien ons die begin van ALLE spot met die evangelieboodskap – deur die eeue. Kyk na daardie bordjie en u sien die begin van ALLE regeerders/owerhede/ateïste/filosofieë/denke/argumente wat in ongeloof teen die Waarheid van die Evangelieboodskap monster. Ja, selfs die kinders by die skool wat onverskillig teenoor die Here Jesus staan, het ook húlle beginpunt by Pilatus en sy bordjie.
Nou skuif die toneel aan. Nadat Pilatus die bordjie laat vaskap het, kom daar nog mense op die toneel aangestap: Jode/owerpriesters.
Diep geestelike (en tog geestelik stokblinde) kerkleiers. Hulle voel die steek van Pilatus heel goed aan die lyf. Hulle besef dat Pilatus hulle in die hart getrap het. “Jesus van Nasaret, koning van die Jode.” Wat ‘n groot belediging vir die Joodse nasie. Hulle kon hierdie man, Jesus, immers nie voor hulle oë verdra nie. Hulle het hulle geërg aan hierdie Man wat so ‘n sagte figuur was, wat vir die prostitute & tollenaars ‘n toevlug was, wat die verminktes en sondaars rondom Hom versamel het. Hier hang Hy nou: Magteloos – en Hy kan homself nie eens verlos nie. En nou: bokant Sý kop die titel wat almal kan lees: KONING. Nee, dit vergal hulle. Die hele vreugde van die dag word sommer bitter wanneer hulle teen dié bordjie moet vaskyk. Daarom vra hulle vir Pilatus: “verander die opskrif en sê liewer: Hy het gesê : “Ek is die koning..” Hou óns net buite asseblief. Moenie sê Hy IS die Koning nie.”
U sien: hier sien ‘n mens die mensdom se reaksies op die kruis – deur alle eeue. Pilatus & die Jode se reaksies: Nie-Jood en Jood. Die spot en ergernis. Die nie-Jood: ‘n gekruisigde kan geen rol speel in die wêreld nie. Die Jood: ‘n gekruisigde kan geen rol speel in die Koninkryk van die hemel nie. Kortom: ‘n Gekruisigde kán geen KONING wees nie. Punt.
Hierin sien ons wat in ons almal as mens is – wat diep in ons harte vasgemessel is. Die selfhandhawing. Ongelooflike stuk hardheid & geestelike blindheid. Dikwels met ernstige godsdiens toegepleister – soos by die Jode. ‘n Stuk blindheid om nie te kan sien wat in der waarheid aan die kruis gebeur nie, want dit lyk soos die ene dwaasheid. ‘n Diepe onvermoë om God se wysheid daarin te kan sien.
‘n Koning wat onder Sy volk inbuig om hulle te kan red. Buig tot die dood toe. Dit gaan teen die gryn van enige menslike logika. Maar juis daarom is dit die heilige waarheid en die ewige evangelie.
En nou die krag van die hele gedeelte: Wat antwoord Pilatus? “Wat ek geskryf het, het ek geskryf.” M.a.w. EK VERANDER NIKS aan wat ek geskryf het nie. Vir ewig sal dít Jesus se titel bly: Hy IS die Koning. In 3 tale geproklameer. Pilatus bly onversetlik by sy spot.
Maar, juis daarin sien ons die soewereine hand van God werksaam, want dit is eintlik HY wat nie wil hê dat hierdie titel verander moet word nie! Dit was al die tyd HY wat vir Pilatus so beweeg het om daardie bordjie te skryf. Waarom? Omdat dit die waarheid is! Hy IS die Koning. Juis deur hierdie titel, het Pilatus al die tyd (onwetende & teen sy eie bedoeling in) die glorie & heerlikheid van Jesus laat sien binne in Sy vernedering. Die soewereine hand van God het vir Pilatus met die grootste gemak bestier. Dit was al die tyd die soewereine God wat aan die werk was. Hý het met Sy goddelike vinger vir Pilatus beweeg. Die lewende God triomfeer oor Pilatus en die Jode alhoewel hulle daarvan (on)salig onbewus is. Hierdie stramme ongelowige heidense Pilatus word ewe skielik God se profeet. Want hy het die waarheid neergeskryf! Dit is inderdaad so: aan hierdie bespotlike kruis hang die Koning wat Homself tot die vloek van die dood verneder om Sy skape te red. Dit is inderdaad die volle waarheid.
Pilatus word eintlik die eerste wêreldsendeling, want hy skryf die boodskap in 3 tale: Grieks, Hebreeus en Latyn. Die hele destydse wêreld kon dit dus verstaan.
LATYN: Die owerhede & kerkvorste. GRIEKS: Die gesofistikeerde kultuur mense. HEBREEUS: Die verbondsvolk. Almal kan dit verstaan. Die hele wêreld kon in hul eie taal verneem dat Jesus die Koning ís. Die koning wat diep gebuig het en diep verneder is en die volle toorn van God oor sonde gedra het. Wat krag gehad het in swakheid. Wie se kruis ‘n kroon geword het. Dis byna asof die talepratery – wat met die uitstorting van die Gees op Pinksterdag plaasgevind het – hier vooruitgeloop word. Want die doel van dáárdie tale was mos dat die Boodskap van Jesus vir alle nasies & tale verstaanbaar moes word. En, hier gebeur dit eintlik alreeds.
Salig is die mens se oog wat dieper kan kyk as om slegs die magtelose Man aan die kruis te sien – en wat in die vernederende bordjie bo-aan Jesus se kop, Sy heerlikheid kan sien. Wat kan sien dat Hy waarlik KONING is. Wie dit nie kan sien nie, is dalk populêr by wêreldse mense, maar ‘n dwaas voor God. Wie dit kan sien is miskien ‘n dwaas by wêreldse mense, maar populêr by God.
En belangrik: Wie besef dat Hy die Koning is, sal gewillig raak om ten volle aan Hom oor te gee. Dink net: Híérdie Koning – wat die volle beheer oor jou lewe eis – was bereid om Sy lewe vir jou af te lê. Daarom is Sy beheer oor jou lewe nie hard nie, maar genadig. Sal ‘n mens dan nie oorgewillig wees om aan só Iemand te onderwerp nie?