TAFELBERG GEMEENTE PAASBOODSKAP 2014
Skrif: Romeine 4:25
Jare gelede was daar ‘n arend wat vir 10jr in Pretoria se dieretuin in gevangenskap was. Op ‘n dag besluit die owerhede om die voël by Bourke’s Luck vry te laat.
Gedurende daardie 10jr in gevangenskap kon absoluut niks wat gedoen word, daardie arend se innerlike oorspronklike ontwerp as AREND bevredig nie. Al word die hok 10maal groter gemaak, al word hy vet gevoer. Slegs een enkele ding kon dit wat die arend volgens sy oorspronklike ontwerp was, versadig: hy moes vrygelaat word.
Maar, toe hy uiteindelik vrygelaat word en die houtkrat word oopgemaak – toe sit die arend net daar – met dowwe oë. Die arend se “mindset” is nog steeds vasgebind binne die dieretuin se hok waar hy vir 10jr gesit het. Hy is vir so lank gebreinspoel. Sy self-identiteit was nou gedefinieër deur die grense van sy hok. Niks wat die mense daardie dag probeer doen het, kon die voël laat wegvlieg nie.
En toe gebeur dit: ‘n Ander arend se geroep word gehoor. En daardie klank, maak die AREND binne-in die gevange arend wakker. En hy vlieg weg in vryheid!
U sien, iets het sónder sy toestemming met daardie arend gebeur. Hy het nie nodig gehad om vir vryheid te pleit of te smeek of te beraadslaag nie. Die owerhede het ‘n besluit geneem. Hy was vry. Maar sy “mindset” was nie vry nie. Dit was nog vasgevang in die hok in Pretoria se dieretuin.
Daar is iets wat WAAR is van ELKE mens op aarde: Die oomblik toe Jesus Christus uit die dood opgestaan het, IS die hok van gevangenskap ontsluit en die mens vrygelaat om in sy/haar oorspronklike ontwerp as mens te gaan leef. Maar die mens se “mindset” is steeds vasgevang in die leuen van die grense van ‘n hok. Totdat jy op ‘n dag die Here se stem hoor – deur Sy Woord en Gees! Dan is dit asof dit wat jy oorspronklik bedoel was om te wees binne-in jou ontwaak en jy eenvoudig uitstap in ‘n nuwe lewe! Jy ontdek jou vryheid!
Romeine 4:25 lui in die NAV: “Christus is vanweë ons oortredings oorgelewer en Hy is opgewek sodat ons vrygespreek kan word.”
Romeine 4:25 lui in die Grieks: “Christus is vanweë ons oortredings oorgelewer en Hy is vanweë ons vryspraak opgewek.”
Met ander woorde: Ons oortredinge het daartoe gelei dat Jesus oorgelewer & gekruisig is. Sy kruisiging het daartoe gelei dat ons vrygespreek is. Ons vryspraak het daartoe gelei dat Hy uit die dood opgewek is!
Hy is uit die dood opgewek OMDAT ons deur Sy dood vrygespreek IS! Die FEIT dat ons vrygespreek IS is die basis op grond waarvan Hy uit die dood opgestaan het.
Toe die Here Jesus sterf, is die ganse mensdom ingesluit in ‘n totaal nuwe verwysingsraamwerk. Want Sy opstanding was/is die kwitansie/waarborg van die mens se onskuld voor God.
Om daardie onskuld te verstaan, ontsluit vir ons ‘n totaal nuwe lewe. Dit verander die manier hoe jy lewe, hoe jy alles sien en hoe jy glo.
Die destydse tuin van Eden was ‘n plek waar die mens onskuldig/blaamloos gestaan het voor God. Die eerste mense het geleef sonder enige bewussyn van afstand en verwydering van God. God het nie vir hulle op ‘n afstand beloer en bekyk nie.
Totdat sonde ingekom het. Skielik het die mens begin om binne gevangenskap, binne ‘n hok te funksioneer. Die mens het sy oorspronklike ontwerp verloor en begin om te funksioneer vanuit ‘n skuldgevoel en ‘n knaende sondebewustheid en gevoel van tekortskiet. Dít het toe die nuwe verwysingsraamwerk van die mensheid geword. Die verknegting van gevangenskap – soos ‘n arend in ‘n hok. Dit het die mens se self-identiteit verander. Dit was die dood self.
Op Golgota het God daardie verwysingsraamwerk binnegedring en die mens se onskuld onherroeplik finaal herstel. Hy het die mens se oorspronklike ontwerp losgekoop en aan die mens teruggegee.
Totdat jy dít verstaan, sal jy jouself altyd sien as ‘n produk van Adam se sonde en nie as die produk van die oorwinning van Christus se werk nie.
Dit is die enigste twee opsies vir ‘n mens se lewe.
Óf jy sien jouself as ‘n produk van die skade/dood/verknegting wat die sondeval veroorsaak het en waarby jy ingesluit was óf jy sien jouself as die produk van die perfekte werk wat Jesus verrig het en waarby jy ingesluit is.
Die implikasies is onbeskryflik verreikend.
Ons is outomaties daartoe geneig om onsself te sien as armsalige mense wat sleg beskadig is en wat verbeter moet word. Alle menslike godsdiens neem sondebewustheid/ellende as vertrekpunt. Die mens is beskadig en moet iets doen om te verbeter.
1 Kor 15:17 > Omdat Christus uit die dood opgestaan het, is julle nie meer in julle sondes nie en is alles die moeite werd.
Christus is uit die dood opgewek OP DIE BASIS VAN Sy dood op die kruis, waar God se oordeel oor die sonde van elke mens plaasgevind het en waar die mens wettiglik onskuldig verklaar is.
Indien die mensheid nie totaal verlos is in die dood van Christus nie, het God nie ‘n wettige basis gehad om Christus uit die dood op te wek nie! Sy opstanding uit die dood was die kwitansie van ons onfeilbare onskuld. Dit was/is die bewys dat ons werklik onskuldig verklaar is deur Sy kruisdood.
Só werk die volgorde: 1) Christus sterf 2) ons word daarby ingesluit 3) Hy word die skuldige 4) ons word die onskuldiges. En dán word die waarborg/ die swart-op-wit bewys daarvan (ons onskuld) uitgereik: Sy opstanding uit die dood!
Die vraag is of ons onsself sien binne die konteks van onskuld? Of sien ons onsself as mense wat stryd het met so baie goed, opgemors deur die sondeval, sukkelende om onsself te verbeter sodat ons dalk moontlik eendag die plek kan bereik waar ons vir God aanvaarbaar sal wees?
E Kenyon: “Alle mislukkings in ons geestelike lewe kan terugherlei word tot skuld en sondebewustheid. Dit vernietig geloof en veroorsaak minderwaardigheid, ‘n gevoel van ontoereikendheid en skaam-wees vir God. Die oplossing is nie diep berou en bekering nie. Nie verdriet en urelange gebed nie. Nie vas en goeie werke nie. Nie dissipline of stryd teen slegte gewoontes nie. Niks hiervan kan die mens se hart van sondebewustheid bevry nie. Die oplossing is ‘n ontdekking wat jy moet maak. Jy moet ‘n totaal ander verwysingsraamwerk ontdek – waarby jy alreeds ingesluit is. ‘n Aankondiging is alreeds oor jou lewe gemaak, naamlik dat jy onskuldig en perfek verklaar is. Jou vertrekpunt is dan nie meer hoe beskadig jy is en hoe jy moet verbeter nie, maar jou vertrekpunt word jou insluiting in Christus en vandaaruit wórd jy…”
Dit was die probleem met die OT diere-offers. Dit kon nie die sondebewustheid, die stryd en die wroeging wegneem nie. Dit kon nie die gewete genees nie. Sonde was bedek, maar nie verwyder nie. Daarom moes die offers aanhoudend herhaal word. Die gelowige het geweet dat sy sonde bedek is, maar dat dit steeds dáár is! Skuldgevoel het gebly. Dit alles staan in Hebreërs 9.
Maar dan kom Hebr 10:14 met die onbeskryflike verrassing: “EEN offer het net een maal eens en vir altyd almal perfek gemaak.” Één offer het die sonde-vertrekpunt/sonde-verwysingsraamwerk vernietig sodat ons voor Hom kan staan met ‘n volkome onskuld. Daarom is daar geen offers vir sonde meer nodig nie. God het alle definisies van afstand & verwydering in die wortel vernietig.
Ons wil so graag predikers hoor wat praat oor ons swakhede en ons sondetoestand en ons kan aanmoedig om te verbeter en vir ons kan wys wat ons moet doen om te verbeter…”
Dít is níé die Evangelie nie! Dit is nié die boodskap vd Nuwe Verbond nie. Die Evangelie is dat elke mens in een enkele moment regverdig & onskuldig verklaar is en wettiglik ge-herposisioneer is!! EEN DAAD VAN GEREGTIGHEID het die mens herstel (Rom 5:18).
Geregtigheid en onskuld is God se liefdesgeskenk aan die mensheid. Hy het die gevoel van verkeerd-wees, nie-goed-genoeg-wees-nie, vernietig. Met één eens-en-vir-altyd offer het Hy u geherposisioneer sodat u onmiddelik kan begin om anders oor uself te dink. Onmiddelik! Nog voordat die erediens verby is! U denke oor Hom & oor uself kan onmiddelik verander. Die houtkrat is klaar oop! Denke-verandering = bekering (metanoia = verandering van denke). Toe die arend die ander arend se roepstem hoor, toe metanoia hy (verander denke) en vlieg uit! God het u verkeerd-tigheid met ge-reg-tigheid vervang.
Wanneer ‘n mens jou insluiting in Christus ontdek, sal jy anders oor jouself begin dink. Andersins verskil jy niks van enige ander godsdienstige mens op aarde nie. Die Christelike geloof is níé maar net nóg ‘n manier van selfverbetering nie. Nooit. Die Christelike Geloof is gebaseer op ‘n openbaring (bekendmaking) van wat Christus volmaak gedoen het en hoe elke mens daarby ingesluit is. Johannes 14:20 > “Julle gaan die ontdekking maak dat Ek in die Vader is en dat julle in My is en dat Ek in julle is.”
Op Goeie Vrydag – toe Jesus gekruisig is – was duisende paaslammers pas deur die priesters geïnspekteer en geslag. In die OT moes die offerdier na die priester gebring word vir inspeksie om te kyk of daar enige gebrek is. Die offer moes perfek wees.
Terwyl hierdie proses aan die gang was, is Jesus ook geïnspekteer en ondervra en deur Pilatus onskuldig verklaar. Drie maal verklaar Pilatus: “Ek vind in Hom geen skuld nie.” Daardie oomblik word Hy die perfekte Lam wat die sonde van die wêreld wégneem.
Die priesters het nooit die sondaarmense wat die offerdiere vir inspeksie bring, ondervra nie. Die priester se fokus was nie op die sondaarmens nie. Sy fokus was op die offerdier. Nooit het die priester vir die mens gevra: “Wat was jou sonde?” nie. Die priester was slegs besorg oor die volmaaktheid van die lam. Op grond van die lam se perfeksie, kon die offer gebring word.
Toe Christus op die kruis sê: “Dis is volbring” toe is ú regverdig verklaar. Want sien hoe het Gód Christus se offer geëvalueer. Op grond van die perfeksie van daardie offer, is Christus uit die dood opgewek. Dís hoe God Sy offer geëvalueer het. En Hy het elke mens in die opstandingslewe ingesluit sodat ons kon instap in ‘n nuwe manier van lewe.
Die werklike glorie van die opstanding is nie geleë in die geweldige krag wat daar geopenbaar was nie, maar in die onskuld wat die mensheid nou voor God besit, want dit was hierdie onskuld wat tot die opstanding gelei het. Die opstanding is die kwitansie van hierdie onskuld.
Romeine 4:25 in Grieks > Christus is opgewek OP GROND VAN ons regverdigmaking. Grieks: dia tên dikaioosin hêmoon”. Hy is opgewek vanweë/as gevolg van/deur ons reg-wees (wat ons deur Sy dood verkry het).
Ons sondes het Sy dood tot gevolg gehad. Ons regverdigmaking het Sy opstanding tot gevolg gehad. Sy opstanding was die kwitansie van jou verlossing. Sy opstanding maak jou onskuld bekend. Indien ek en jy nog steeds skuldig was ná Jesus se dood, sou Sy opstanding nie moontlik wees nie en ook nie relevant nie.
Klink dit te goed om waar te wees?
Wel, dit ís waar en dit ís goed. Jý is onskuldig verklaar in God se oë. Jesus se opstanding bevestig dit. Glo dit (omhels dit) en begin onmiddelik léwe.
Die moment toe die arend die stem van die ander arend hoor, het hy besef hy is vry – die oorspronklike arend-wees het binne-in hom ontwaak. En hy het gevlieg.
Hoor die Here Jesus se stem en ontdek u oorspronklike ontwerp!