Geskryf deur THEUNIS

Geskryf deur THEUNIS, JOHANNES CLOETE  tjcloete@absamail.co.za

 

OORWELDIGENDE VOORREGTE!

 

Daar was eendag ’n jongman wat gedroom het om na Amerika te gaan. Hierdie jongman het al sy geld gespaar, hard gewerk en selfs meer werk gedoen, om al die geld bymekaar te maak om ’n kaartjie te koop op ’n skip bestemd vir Amerika.

 

Die dag het aangebreek dat hy genoeg geld gehad het en dadelik het hy gegaan en die kaartjie gaan koop. Sy gedagtes was net by die rykdomme van Amerika.  Die skip het dan ook die volgende dag vertrek en hierdie jongman, met sy klein tassie en ’n klein hoeveelheid kos in ’n kombers toegedraai het aan boord gegaan.  Die eerste paar dae is gou verby op die skip, maar ook sy kos wat hy bymekaar gemaak het byna klaar. Hy het gedink, dat as hy net kan uithou tot in Amerika, dan sal dit beter gaan met al die rykdomme wat Amerika belowe.

 

Dit is dan dieselfde aand dat hy homself gemaklik maak op die dek , met sy kombers, om te gaan slaap, dat een van die werkers hom vind. Die werker het hom dadelik beskuldig dat hy ’n verstekeling aan boord is. Na baie verdediging het hy vir die werker sy kaartjie getoon. Dadelik het die werker verskoning gevra maar ook waarom hy op die dek slaap as hy dan ’n kajuit het. Die jongman het nie geweet dat die kajuit by die prys ingesluit was nie. Die werker het hom dadelik begelei na sy kajuit en soos hulle deur die skip stap moes dit kom dat hulle by die eetsaal verby gaan. Die heerlikste kosse was uitgestal en die jongman het daarna gestaar. Die werker deel hom mee dat ete in vyftien minute se tyd bedien sal word en dat ook dit by die kaartjie ingesluit is en hy maar kan kom aansit.

 

So baie keer verstaan ons, dat ons gered is, ja, en ons sien vreeslik uit na die hemel , maar ons is ignorerend aan dit wat God vir ons wil gee – tussen redding en die hemel. Ons faal om alles te verkry wat God vir ons gereed gemaak het, byvoorbeeld , neem jy God op Sy Woord vir al die beloftes wat Hy vir jou gee?  

 

2 KOR. 1:20 “Want hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom is hulle ja en in Hom amen, tot heerlikheid van God deur ons.”

 

GEBED

 

My Vader, open my oë dat ek die beloftes en al die ander aspekte wat U vir my wil gee en doen sal raaksien? Dankie dat U alles voorsien het en dat ek daarin kan deel! AMEN

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00