Tafelberg Gemeente Reeks oor die Modelgebed no 6
'n Christen is iemand wat verlang na 'n heilige lewe
Skrif: Matteus 6: 12-13
Die meeste christene is redelik versigtig vir die woord “heiligheid”. Min gelowiges sal sommer handopsteek en sê: “ja, ék is heilig/’n heilige”. Dit is a.g.v. ‘n misverstand oor wat die begrip “heilig” in werklikheid beteken. Die Bybel is daaroor uitgesproke dat álle ware gelowiges werklik heilig is. Kyk maar net na die aanspreekvorm waarmee die skrywers van heelwat NT briewe die gemeentelede aanspreek – telkens word hulle as “heiliges” aangespreek. Dit laat ons frons, want ons dink aan al ons tekortkominge & inherente sondigheid en dan diskwalifiseer ons onsself. “Hoe kan die Here my as heilig aansien, terwyl ek eintlik so onheilig is?” – dink ons. Of ons dink: “dalk was die gelowiges in die NT-gemeentes ‘n trappie hoër as óns vandag. ‘n Bietjie meer volmaak.” Tóg was die gelowiges in die Korintiese gemeente (byvoorbeeld)in ‘n baie chaotiese toestand, maar die Gees spreek hulle nogtans as “heiliges” aan in 1 Kor 1:2. Hoe moet ‘n mens dit verstaan?
Die griekse woord “hagios” beteken nie “volmaak” nie, maar wel “opsygesit” – “eenkant geplaas”. Dit is wat “heilig” beteken. “Opsygesit vir ‘n doel”. Dit is waarom God self die Heilige is – want Hy bestaan heeltemal afgesonder van alle sonde/onreg/onreinheid. Die rede waarom alle gelowiges ook in beginsel heilig is (en “heiliges” genoem word), is omdat God die Vader hulle sien as “geklee in Christus”. Jésus het immers ons heiligheid vír ons/in ons plek geword (1 Kor 1:30). ‘n Verloste mens is letterlik geklee met/ingesluit by Christus. ‘n Christen is m.a.w. heilig vanuit die hoek waaruit God self na hom/haar kyk. Net soos wat Jesus alle gelowiges op die kruis versoen het met God, het Hy hulle ook op die kruis geheilig – opsygesit. Volgens Hebr 10:10 is die gelowige eens en vir altyd vir God afgesonder (geheilig) deur die offer wat Jesus gebring het. En tóg word die reeds-geheiligde mens opgeroep om heilig te WORD in die daaglikse lewe (1 Petrus 1:16). Ons word opgeroep om te wórd wat ons in beginsel reeds ís! Dit wat ons reeds ís, kan ons nie verloor nie. Dis rotsvas in Christus. En nou, op grond daarvan, word ons opgeroep om dit prakties te wórd.
Dit bring ons by die kwessie van voortgaande sondebelydenis & sondevergifnis in ‘n gelowige se daaglikse lewe. Want, waar word die proses van heiligmaking prakties sigbaar? In die konkrete daaglikse oorwinning oor sonde. Dit is ‘n saak wat ons sukkel om te verstaan. Want indien ek ‘n volmaak-versoende mens is – deur Jesus se bloed – waarom is sondebelydenis verder nodig? Ek is mos verseker van die ewige lewe, waarom nog verder bemoei word met sondeskuld? Dit is mos ‘n mosie van wantroue in die Here se vaste belofte dat ek Sy kind is.
Sonde in ‘n kind van die Here se lewe veroorsaak nie dat hy/sy sy saligheid verloor nie, MAAR dit is ook nie iets onbenulligs voor die Here nie. Dit bedroef werklik die Here en verwek Sy toorn/misnoë. Dit vertroebel die gelowige se lewe met die Here.
Die volmaakte versoening wat die Here bewerk het deur Sy bloed kan nooit tot niet gemaak word deur ons sondes nie. Die verbond wat Hy met ons kom oprig het kan nie vernietig word nie. Hy het immers aan ons gesweer dat Sy belofte waar is. (Hebr 6: 17). Maar, dit minimaliseer nie die erns van ons sondes nie. JUIS omdat Hy al Sy rykdom in ons skoot kom gee het, stem ons sonde Hom tot soveel hartseer. JUIS omdat Hy van die begin af so digby ons kom staan het, is dit vir Hom so onaanvaarbaar wanneer ons eiesinnig en ongehoorsaam is. Dit vertroebel ons verhouding met Hom. Dit verbreek nie die verhouding nie, maar vertroebel dit. En, soos in enige verhouding, word die vertroebeling verwyder deur berou, belydenis & vergifnis. Dit sien ‘n mens so duidelik by die “verlore seun”. Hy was altyd in sy pa se huis. Hy het van kleins af gedeel in al sy pa se rykdomme. Sy pa het hom van die begin af verkies. Maar, die seun het drooggemaak. Dit het beslis hulle verhouding heel erg vertroebel, maar nie verbreek nie! Met sy terugkeer het hy nie na sy pa gaan soek nie. Sy pa het reeds vir hom gewag. Sy erkenning en belydenis van sy skuld was ook noodsaaklik vir herstel. Al was hy steeds sy pa se kind, was sondebelydenis steeds nodig. Van die pa se kant was daar ook egte vergifnis en daar word selfs feesgevier.
Dit is nie ‘n kwessie van dat die Here woedend kwaad is en sit en wonder óf Hy moet vergewe of nie. Die volle vergifnis van ál ons sondes is op Golgota afgehandel. Vergifnis is nie ‘n kwessie van “of dalk” nie. Dis reeds afgehandel op die kruis. En telkens wanneer ons na die Here kom, opereer daardie afgehandelde kruisvergifnis weer & weer in ons lewe. Die blokkasie is nie by God wat huiwerig is om te vergewe nie – so asof Hy sit en wik en weeg nie. Hy hét op Golgota reeds die vrede herstel. Die blokkasie is by óns wat nie omgee of ons verhouding met die Here vertroebel is nie. Of ons water die erns van sonde af – asof dit niks is nie. Ons besef nie dat dit rebellie/opstand teen die Allerhoogste is nie & dat dit ‘n gruwel is & dat dit Jesus se lewe gekos het nie & dat dit ondankbaarheid is & bevuiling & verslawing & vervreemding & verwydering & verwoesting & dood is nie. Óf ons vorm self die blokkasie omdat ons leef in wanverhoudings & bitterheid teenoor ons medemens. Dit is waarom die Here sê: “vergeef ons ons skulde soos ons ook vergewe diegene wat teen ons oortree het.” Dit klink byna asof God se vergifnis afhanklik is van ons vergifnis aan ons medemens. Dit is natuurlik nie waar nie. Die hele Bybel getuig die teendeel, naamlik dat God uit Sy eie vrye guns vergewe en nie o.g.v. wat ons doen nie. Tog stel die Here dit so geweldig sterk omdat Hy wil hê dit moet tot ons deurdring dat ons self soms dwars in die pad staan van die stroom van Sy genade – deurdat ons voortploeter in ons verharding teenoor ons medemens wat ons leed aangedoen het. Ons gee ons medemens tronkstraf. En ons weier om die tronksel se sleutel te neem en dit te gaan oopsluit vir ander – soos die Here vir óns oopgesluit het toe Hy Sy lewe gegee het.
Ons redeneer net mooi verkeerdom. Ons sê: “omdat die Here in/met Jesus se kruisdood AL my sondes vergewe het – ook my toekomstige sondes – kan niks Sy stroom van lewende water verhinder in my lewe nie! Ek kan maar sondig en dit onbelyd laat. Dit ís mos vergewe! Ek kan maar toelaat dat my verhouding met die Here vertroebel. Ek kan maar bitterheid teenoor ander mense koester. Niks kan my tog van my saligheid beroof nie.”
Niks is verder van die waarheid nie. Omdat ons reeds geheilig is op die kruis – en niks dit tot niet kan maak nie – moet ons die heiligheid van lewe najaag. Ons moet erns maak met sonde & sondebelydenis. Ons moet wakkerlê oor troebelrigheid in ons verhouding met Hom en ons moet ons medemens onvoorwaardelik vergewe. Selfs mense wat al dood is, kan ons maar vergewe. Ons moet dikwels ook onsself vergewe. En soms selfs vir God! En ons moenie wag vir die regte emosies & gevoelens nie. Ons moet vergewe met ‘n wilsdaad in gehoorsaamheid aan God en omdat Hy óns vergewe het deur Jesus se kruisdood. Watter mens – wat werklik besef: ek moes radikaal hel toe gegaan het vir ewig, maar God was my barmhartig en Hy het my sonder verdienste op die kruis gered – sal nie bereid wees om sommer gou-gou die medemens vry te spreek nie?
En wat sal die gevolg wees? ‘n Feestelike lewe soos die verlore seun ervaar het. Die Here lig die las/belastheid van ons af (Ps 38:4-6). Hy bedek ons sonde (Ps 85:2). Hy vee dit weg (Jes 43:25). Hy werp dit in die dieptes van die see (Miga 7:19). Hy kies doelbewus om dit totaal te vergeet en dink nie weer daaraan nie (Jer 31:34). Daarom is alle veroordeling weg (Rom 8:1). Want Hy verwyder dit so ver as oos en wes van mekaar is (Ps 103:12). Hy werp al ons sondes letterlik agter Hom waar Sy oë nie kan sien nie (Jes 38:17). Ja, Hy hou geen beskuldiging teen ons nie (Hand 7:60). Dit is soos ‘n rekening wat gekanselleer is (Kolos 2:13). Dis soos ‘n reinigende waterbad (Eseg 36:25). U sien die Here gebruik nie net een woord om hierdie vergifnis te beskryf nie, maar vele woorde – omdat dit so wonderlik is en – omdat die sonde so ‘n ernstige saak is.
Nou die groot vraag: Hoe & waaruit kry ‘n gelowige telkens vergifnis van sonde? Hoe kan ons dit seker weet? Hoe graag sal ons nie ‘n duidelik hoorbare stem wil hoor wat dit sê nie? Of dalk iets voel & ervaar? Wel, daar is ‘n duidelike stem wat ons hierdie versekering kom gee: Die Here se onwankelbare belofte. Dit hoor ons in die Woord en dit word sigbaar bekragtig deur die doop & nagmaal. Ek kry dus die versekering in die lewende prediking. Ons stel ons NIE onder die prediking net om “padkos vir die week” te ontvang nie, maar om weer en weer besprenkel te word met die bloed van Christus. Sal die prediking/erediens nie weer die erns van ons lewens word nie? Dit is immers die hartklop van die gelowige se daaglikse lewe met die Here: om uit die krag van ware VERGIFNIS te leef.
Natuurlik sal jy dan te make kry met die aanslae van die bose in sy felheid! Dat dit soms voel of allerlei onsigbare magte op jou rug ry. Drie doodsvyande wat saamspan: satan, die wêreld, ou natuur. Daagliks lewe die gelowige (wat heiligheid najaag) binne hierdie komplot. Onmoontlik om dit te ontvlug. Een magtige doel: om die gelowige te beroof van die Woord en hom/haar dood te maak. Satan is ‘n mensemoordenaar (Joh 8:44). Maar die dood staan nie voorop nie (soos hoek & aas). Voorop staan versoekinge, aantreklikhede, die mooie… (Jak 1: 14-15). Die 3 doodsvyande spesialiseer in begeerlikhede & selfgesentreerdheid. Versoekings t.o.v materialisme, seksualiteit, roem en eersug staan elke dag voorop in lewe. Vanweë die oorblyfsels van sonde & die aanvalle van die 3 doodsvyande, kan geen gelowige in die genade volhard uit eie krag nie!! Al is die persoon hoe volwasse en sterk. Enige gelowige het die potensiaal om grof ineen te tuimel. Wie nie werklik doelbewus daagliks uit die geloof lewe nie, kán deur die 3 doodsvyande uitoorlê word. Voorbeelde in die Skrif is legio.
Hierdie stryd is normaal. Die gebed “lei ons nie in versoeking” is nie dieselfde as “lei ons nie in stryd nie.” Versoekings kan ons ontkom (en ons mag daarvoor bid) maar nie stryd nie. Ons mag egter bid om die Here se bewaring. Ons het ‘n definitiewe verantwoordelikheid: Waak en bid. Wees waaksaam vir omstandighede, dit waarmee jy jou besig hou. VLUG as dit moet! Daar is slegs een manier om buite bereik van die doodsvyande te bly: DEUR GEDURIG ONS KRAG BUITE ONSSELF TE BLY SOEK. Ons gaan nie net eenmaal na Christus nie.
Die groot vraag is egter of ons dit glo? Wonder ons nie maar of ons ‘n verlore stryd stry nie? Is die doodsvyande nie tóg maar die wenspan nie? Kyk na die geweld van die media? Dit lyk na ‘n onoorwinlike vesting. Wil en kan die Here regtig ons gebed beantwoord? Ons grootste versoeking: Ons glo so swaar dat die Here ‘n werklikheid is en dat Hy ‘n genadige God vir my is en dat Hy mý kan vergewe en dat Hy iemand soos ek liefhet. Ons sukkel om te glo dat Hy ons die uitkoms wil en kan gee. Ons glo so swaar dat die belofte van die Evangelie regtig vir ons bedoel is. Selfs al is hierdie beloftes aan ons persoonlik toegesê by ons doop. Daarom bid ons ook nie baie nie. Ons probeer buite om die evangelie staande bly. Ons grootste stryd is nie teen die doodsvyande nie, maar teen ons eie ongeloof in die Here se goedheid.
Mag die Here vanoggend se Skrifuitleg gebruik om ons te versterk en te bemoedig in die najaag van ‘n heilige lewenswandel – deur daagliks erns te maak met sondebelydenis & sondevergifnis asook die oorwinning in die stryd teen versoekings en die bose.