Tafelberg Gemeente Reeks oor die Modelgebed no 3
'n Christen is iemand wat begeer dat God se koninkryk kom
Skrif: Matteus 6:10, 25-34
Ons het gesien dat die ONSE VADER-gebed byna soos ‘n ID-boekie funksioneer: dit wys vir ons watter 6 kenmerke ‘n kind vd Here se lewe kenmerk. In hierdie reeks probeer ons een preek aan elke kenmerk wy. Reeds gesien: ‘n Gelowige is iemand wat God die Vader ás “hemelse Vader” leer ken het en – tweedens – ‘n begeerte het dat die Here Sy Naam (d.i. Homself) in sy/haar lewe sal heilig. Vandag die 3de bladsy van die ID-boekie – die 3de kenmerk van ‘n gelowige is dat hy/sy die innerlike dors het dat God se koninkryk sal kom. Let daarop dat al 3 hierdie kenmerke absoluut lewensvreemd is vir die nie-wedergebore ongelowige mens wie se hele lewe ten diepste slegs om hom/haarself draai. Wanneer hierdie kenmerke in ‘n mens se lewe na vore kom, is dit regtig téén die menslike sondige natuur. Dit kom van Bó – dit word bonatuurlik deur die Gees geskep en instandgehou. ‘n Gelowige is werklik ‘n nuwe skepsel (2 Kor 5:17) – innerlik in ‘n hemelse greep! Beslis iets om oor mateloos opgewonde te wees! O, die opwinding: my hele lewe staan in die teken van die greep wat die Here op my het! Is dit nie ‘n avontuur nie?
Wat presies is hierdie “koninkryk” waarna my hart honger? Die “koninkryk vd Here” is al so ‘n holruggeryde woord dat ons maklik die wonderlike daarvan misloop. Eintlik beteken dit dat daar regtig ‘n soewereine Koning is wat besig is om heerskappy uit te oefen – kom wat wil! Wáár oefen Hy heerskappy uit? Oor Sy kinders se lewens – oor Sy kerk. Hoe oefen Hy dit uit? Deur Sy genade. Sy genade heers/regeer Sy mense se lewens (Rom 5:21). Dit is wat met die “uitbreiding” van die koninkryk bedoel word: dat meer en meer uitverkorenes vanuit alle nasies by die kerk gevoeg sal word en die Here leer ken.
Van watse soort Koning praat ons? a) Vol heerlikheid (Ps 24), b) majesteit (Ps 93), c) baie groot (Ps 95), d) vul hemel & aarde (Jer 23:24), e) ewig (Ps 10), f) heers in groot krag – Efes 1:22 – álles is aan Christus onderworpe gestel. Dit boesem groot vertroue by ‘n mens in, nie waar nie? U weet, wanneer ‘n mens kyk na die aarde en hoe geweldig die nasies – en veral dié nasies wat nog onbereik is met die evangelie – is, word jou moed klein om te dink dat miljoene van hulle onder die Here se genadeheerskappy sal kan kom. Jy bid daarvoor, maar twyfel of dit ooit moontlik is. Maar, wanneer jy besef WIE hierdie Koning is, besef jy Hý is in staat. Sagaria 4:6 – “nie deur krag of geweld nie, maar deur My Gees, sê die Here.” Dit is waarom ons ons met hart en siel moet/kan inwerp by wêreldsending sodat soveel moontlik mense bereik kan word met die evangelie. Maar ons hou nie ons oog op die verharde ménse nie – dan sal ons moedeloos word nog voordat ons begin. Ons kyk na die Koning – daarom het ons energie/moed/visie!
Maar laat ons dit prakties stel. Wat van ‘n persoonlike vraag? “Wát is die ware honger & dors van ú hart?” Anders gestel: sê nou maar net die Here sou vannag in ‘n droom aan u verskyn en sê: “vra nét wat jy wil hê en Ek sal dit gee.” Die antwoord daarop sal openbaar wát ‘n mens se diepste dors is. Jou hartsdors. Dit behoort 100% te verskil van dít wat die ongelowige mens se lewe dryf. Jesus sê in Mat 6 die ongelowige mens dors & honger na aardse skatte, kos & klere, maar die gelowiges dors na die koninkryk van God – die dinge wat Hóm na aan die hart lê. Só sê die Heiland met Sy eie mond.
Dit is nie ‘n verregaande voorbeeld wat ek aan u voorhou nie. Die Here hét eenmaal aan iemand verskyn en gesê: “vra net wat jy begeer…” Ons lees dit in 1 Konings 3. Dit was aan Salomo wat Hy verskyn het. En toe gebeur die wonder: Salomo gaan by álles verby. Hy gaan by geld verby. En hy gaan by gerief/besittings/mooi vroulike toevoegings tot sy harem/nuwe motor/beter blyplek/ander omstandighede verby … en hy vra één ding: “Here skenk aan my gehoorsaamheid aan U en wysheid hoe om oor U volk te regeer.” Sien u die bonatuurlike innerlike greep van die Heilige Gees? Toe die Here vir Salomo ‘n getekende blanko tjek gee, vul Salomo daarop in dít wat die HERE na aan die hart lê. En – in reaksie daarop – sê die Here aan hom: “Ek sal jou nou ook al die dinge gee wat jy nie gevra het nie. Ek sien Ek kan jou vertrou.” Presies dit wat Jesus in Matteus 6 sê: “Soek die koninkryk éérste en al die ander dinge sal gegee word, want die Vader weet…”
Het u ook al gewonder wat dit beteken om “allereers die koninkryk te soek.” Moet jy teologie studeer en ‘n predikant of sendeling wees? Nee, dit gaan oor die gerigtheid van jou hart. Jou hartsdors gerig in die regte rigting, naamlik dit wat Hóm na aan die hart lê, daar waar Sy heerskappy sentreer. Ek ken ‘n persoon wat homself eenmaal in sy kantoor toegesluit het en daar gaan bid het. Hy het letterlik sy hartsdors gaan “afbid”. Hy het tot die Here geroep oor die dinge wat hy régtig begeer. Dinge soos: persoonlike heiligheid, wandel met God, sy kinders se geestelike welstand, ‘n geestelike deurbraak/ontwaking in die plek waar hy woon en werk. Toe hy klaar was, het hy meteens besef: “Dis mos die koninkryk wat ek besig is om eerste te soek! Dis so goed of die Here aan my vra – soos vir Salomo – ‘wat moet ek vir jou gee?’” U sien? Hy het ontdek: díé dinge/die hartsdors waaroor hy gebid het, is sy wesenlike antwoord op die Here se vraag.
Al is u dalk nie ‘n predikant/sendeling/geestelike werker nie, is die vraag: wat domineer u & my gebede en gedagtes? Wat is ons hartsdors? Is dit sake soos persoonlike heiligheid/ wandel met God/ geestelike deurbrake in ons families/buurt/stad/gemeente? Dalk die miljoene mense wat sonder God en sonder hoop in duisternis leef – dat hulle bereik sal word met die Blye Boodskap?
Ons Here Jesus het op die berg vir die mense gesê.. (lees weer v 25)…
Ons dink dit raak ons nie, want ons hét tog mos die basiese goed soos kos/klere/blyplek. En tóg lê ons in die nag wakker. Ons lê wakker oor die sorge van die lewe – dié dinge wat ons gedagtes en gebede oorheers – oor dit wat ons nie het/besit nie. Oor ons kinders/kleinkinders se wel & weë. Oor skinderstories. Oor spoke uit ons verlede wat ons jaag of sondes wat nie begrawe wil kom nie. Oor die toekoms en dinge wat nie wil regkom nie. Kan u sien hoedat ons ons soms bekommer oor presies dieselfde dinge as waaroor die ongelowiges besorgd is? Hierdie wakkerlê verteer ons kragte en ons verspil broodnodige energie. Dit is die dorings wat die saad verstik – volgens die gelykenis van die Saaier.
Jesus se woorde sal nooit verouder nie: “moenie julle bekommer oor die lewe nie. Ontspan! Daar val nie een mossie buite die Vader se sorg nie. En nog meer: Ék het die kruis na Golgota gedra en dáár gely & gesterf om die angel uit alle kommer te verwyder. Glo in God. Glo ook in My. Die diere en die voëls swoeg en sweet nie… en tog sorg die Here vir hulle. Júlle is tog baie meer werd as hulle. Beywer julle daarom allereers vir die koninkryk. Laat dit julle gedagtes & gebede oorheers. Laat dít die dors van julle harte wees.”
Kan u sien dat die begeerte na die koms van die koninkryk te make het met die rigting waarheen ons harte dors & honger en wat ons innerlike oorheers. Waar die Heilige Gees ‘n mens se lewe oorwin, begin die hart al hoe meer dors na die heerskappy van God. En tog weet ons so goed dat dit totaal onmoontlik vir enige een van ons is om ons hartsdors met koninkryksinhoude te vul. Nie die sterkste keuses kan dit vermag nie. Dit kos letterlik ‘n bonatuurlike werk van Bo – van die Gees. En hoe doen die Gees dit? Hy laat jou jou skrikwekkende onheiligheid sien in die lig van God se heiligheid. En dan laat Hy dit vir jou oopgaan dat jy absoluut TOTAAL verlos IS op Golgota toe Jesus jou dood plaasvervangend gesterf het. En dan bring Hy jou tot rus in die bloed van die kruis.
Dit is 1949. Dit is die noorde van Skotland – op die eiland Lewis – deel van die Hebrides eilandegroep. In ‘n piepklein huisie in die dorpie Barvas, woon twee bejaarde susters: Christine & Peggy Smith. Christine is 82 en krom van die artritis. Peggy is 84 en stokblind. Dit is vir hulle onmoontlik om na die eredienste te kan gaan. Maar, gaandeweg kom lê die Heilige Gees ‘n ontsettende belastheid/innerlike dors in hulle harte om te begin bid vir ‘n geestelike ontwaking. Hulle begin om onophoudelik daarvoor te bid. Hulle bid die hartsdors terug na God toe. Hulle bid vir die mense van Barvas op die naam. Hulle maak met mekaar ‘n ooreenkoms: “ons sal die Here geen rus gee tótdat Hy ons verhoor nie.” Die gevolg hiervan was een van die magtigste geestelike ontwakings in die afgelope 2000 jaar kerkgeskiedenis. Toe Duncan Campbell op die eiland Lewis in die dorpie Barvas begin preek, het die Here magtiglik begin werk en die totale samelewing (nie net die kerk) in die noorde van Skotland letterlik op sy kop gedraai.
Maar dit het begin by twee bejaarde dames wie se hartsdors gerig was op dít wat op God se hart was – Sy koninkryk. Alles die vrug van die Gees se magtige werk. Indien die Here aan Christine & Peggy Smith sou verskyn en sê: “Vra net wat julle wil hê…” sou Peggy nie vra om siende te kon word en Christine sou nie vra om van haar artritis bevry te word nie. Hulle sou vra vir ‘n geestelike ontwaking sodat God se uitverkorenes gered kan word. Is dit nie wat op die 3de bladsy van die Onse-Vader-ID-boekie staan nie? Die 3de kenmerk van ‘n gelowige in Christus Jesus is dat hy/sy die koms van die koninkryk begeer.
Die Here skenk as ‘n vrye gawe aan elkeen wat hierdie woord gehoor het, hierdie innerlike hartsdors.