“Oefen die seun volgens die eis van sy weg; dan sal hy, ook as hy oud word, daarvan nie afwyk nie”. (Spreuke 22: 6)
“Oefen die seun volgens die eis van sy weg; dan sal hy, ook as hy oud word, daarvan nie afwyk nie”. (Spreuke 22: 6)
Geestelike opvoeding in die huis is ’n belegging wat gemaak word deur ouers in die hoop dat hulle kinders eendag, wanneer hulle die huis verlaat, sal voortgaan om die Here te dien. Dit is nie net ’n belegging in die lewens van ons geliefdes en gesin nie, maar ook in die toekoms en voortbestaan van die Christelike godsdiens en is ‘n bousteen van ons gemeenskap en land. Daar is ’n duidelike verbintenis tussen die kwaliteit van die geestelike lewe van ons geliefdes en kinders en die geestelike opvoeding en voorbeeld wat hulle tuis ontvang het.
Ons kinders gaan deur verskillende stadiums en bevind hulle in verskeie drukgroepe by die skool en onder hulle maats. Sommige word saamgesleur en verval selfs in sondige praktyke. Nie een huis is daarvan gevrywaar nie. Ander verlaat weer die huis in opstand teen die geestelike opvoeding van hulle ouers of die verpligting om kerk en Sondagskool by te woon. Sommige verdra dit geduldig, maar sodra hulle die huis verlaat, breek hulle heeltemal weg van enige geestelike opvoeding of blootstelling daaraan. Die verhaal van die verlore seun in Lukas 15 is ’n pragtige voorbeeld van ’n jongman wat weggebreek het van sy vaderhuis. Hy het al sy aardse besittings en geld saam met sy vriende in sonde deurgebring. Toe hy alles uitgegee en niks oorgehou het nie, het hy onthou van sy vader se liefde en teruggekeer na hom.
‘n Moeder wat bid
Die geestelike invloed van ouers is nie altyd so duidelik sigbaar nie, maar is dikwels die voorbeeld van ouers wat die kinders daarvan weerhou om in erge sondige praktyke te verval. Die beeld van ’n moeder op haar knieë wat besig is om vir ons te bid, word deur die Heilige Gees gebruik om ons te beskerm en te weerhou van verkeerde dade.
Charles Spurgeon, die Prins van Predikers en leraar van die bekende Metropolitan Tabernakel in London, vertel hoedat hy per geleentheid gehoor het hoedat sy moeder vir hom bid. Sy het gebid:
“Here, U weet dat as hierdie gebede nie beantwoord word en Charles hom nie bekeer nie, sal hulle teen hom getuig in die Oordeelsdag.”
Die gebed van sy moeder het hom so aangegryp dat dit hom daarvan weerhou het om te volhard in sonde. Hy het opgemerk:
“Die blote gedagte dat my moeder se gebede teen my sou getuig in die Oordeelsdag het my hart met angs vervul.”
‘n Vader se voorbeeld
Jonathan Edwards word beskou as een van Amerika se grootste geestelike leiers en het veral bekend geword vir sy boeke en leiding tydens die geestelike ontwaking van 1740 in Massachusetts. Alhoewel sy boeke vandag nog gelees word, is dit sy geestelike erflating tuis, wat mense se lewens aangeraak en verander het. Jonathan het het elke dag voor ontbyt en na aandete saam met sy gesin gelees uit die Woord en vir hulle gebid. Sy huwelik met Sarah en voorbeeld het teen die jaar 1900 reeds die volgende nagelaat:
-13 Kollege Professors
-65 Professors
-100 Prokureurs
-30 Regters
-66 Mediese Doktors
-80 Staatsamptenare waarvan 3 senators was, burgermeesters, goeverneurs, vise-president ens
-100 sendelinge
-Dien op sendingorganisasies en skryf meer as 135 boeke
‘n Toekomstige Erflating
Ek en my gesin het eenkeer na ’n film, Pay it forward, gekyk. Dit vertel die verhaal van ’n seuntjie wat ’n besonderse skoolprojek gehad het. Hy het met verskeie liefdesdade goed gedoen aan andere in die geloof en vertroue dat hierdie dade in die toekoms vrugte in hulle lewens sou afwerp en help om hulle te seen of te verander.
Ons liefde vir God en die praktiese uitleef daarvan in ons huise is dus ’n belegging wat ons maak vir die toekoms. Dit mag dalk nie onmiddellik sigbaar wees of resultate wys nie, maar wees verseker dat die Woord van die Here nie leeg sal terugkeer nie. Glo Hom, hoe vas aan Sy beloftes en hou aan om te bele in die toekoms van jou gesin en ons land.