Skriflesing: Rut 2: 1-10, 20, 3: 1-13, 4: 1-8, 14, 17
Titel: Ons Losser het ons bloedverwant geword

Met my voorbereiding, het dit my weer eens opgeval hoe wonderlik die Bybel is. Eenvoudig asemrowend aanmekaar gesit! Neem maar RUT as voorbeeld. ‘n Klein nietige boekie iewers in die OT weggesteek. Oënskynlik lyk dit soos net maar ‘n stukkie mooi geskiedenis. Wel, natuurlik is dit volledig betroubare geskiedenis. Maar, dit is ook veel meer as geskiedenis. Meer as ‘n blote toevallige verhaaltjie. Die reddingsplan in die komende Verlosser, wat God die Vader al in die paradys, na die sondeval, aan Adam belowe het, is besig om hier wonderbaarlik te ontvou.

‘n Mens sien dit byvoorbeeld daarin dat die beloofde Messias, Jesus Christus, uit Rut gebore sou word. Uit haar seuntjie Obed, sou Dawid gebore word. En ons Here Jesus is uit Dawid gebore. So is die Here dus besig om Sy oerbelofte waar te maak.

Maar, moenie miskyk hoedat Rut self opgeneem word in die kerk vd Here nie. Onthou, Sy was ‘n Moabiet. En die Moabiete mag glad nie lidmaat geword het van die Here se OT – kerk nie (Deut 23:3). UITGESLUIT!! Maar, hier sien ‘n mens die Here se onuitputlike genade in aksie. Die Wet sluit vir Rut uit, maar ‘n Losser kom om haar wettiglik los te koop. BOAS. Indien Boas nie vir Rut kom vind het nie, sou die Wet haar totaal uitgesluit het uit die koninkryk. Maar, Boas – in die hoedanigheid van ‘n Losser- het hom oor haar ontferm.

Hier sien ons DIT wat uiteindelik met Pinksterdag ‘n volle werklikheid sou word. Dat die Here vir Hom ‘n kerk versamel uit ALLE nasies. Uit alle mense wat bereid is om uit Sy genade alleen te lewe. Deur die geloof. Om te lewe uit Jesus Christus se dood & opstanding alleen. Maar let op: Uit ALLE NASIES.

Die WET het ons almal uitgesluit uit die koninkryk, omdat ons oortreders van die Wet is. Maar, Jesus het ons kom loskoop van die Wet (Gal 3:13). Soos Boas vir Rut losgekoop het van die Wet wat haar uitgesluit het uit God se volk en kerk. Kan u sien hoe verkondig die boek Rut ten diepste vir CHRISTUS. Sonder om ooit Sy Naam te noem, soos die hele OT tewens ook doen.

Ek wil egter u aandag veral vestig op die OT-figuur van die LOSSER (“verlosser”) wat ons hier teëkom. In hierdie geval BOAS. Die hele idee van ‘n “losser” was deur die Here aan Sy OT- volk gegee sodat die fisiese grond, die land Palestina, in die volk Israel se besit sou kon bly. Dit was geweldig belangrik dat hulle die fisiese LAND moes behou. Want, dit is op hierdie konkrete grond/ in hierdie land waar die Messias gebore sou moes word. Daarom mag die grond nie uit die hande van die Israeliete wegval nie. Hoe maklik kon ‘n familie hul grond verloor het as gevolg van armoede of deur droogtes.

MAAR deur die beginsel van ‘n LOSSER, het die Here voorsiening gemaak dat ‘n Israelitiese familie nie die grond verloor nie. Die LOSSER was ‘n vermoënde bloedverwant wat die grond kon koop en aan die familie teruggee. Sou ‘n Israeliet dreig om sy grond te verloor, moes ‘n Losser kom om hom te red/help/los/verlos deur sy grond terug te koop. Indien daar ‘n weduwee was, met geen seun nie, moes die Losser boonop met die weduwee trou en die grond sodoende behou.

Hierdie hele “losser-beginsel” is die skarnier waaraan die verhaal van Rut anker. Op ‘n stadium, in die tyd van die Rigters, was daar ‘n geweldige droogte in die streek Juda. ‘n Israelitiese man & vrou en 2 seuns het weggetrek na die land Moab, waar daar water was. Elimeleg, Naomi, Maglon, Giljon. In Moab sterf Elimeleg en Maglon en Giljon trou met 2 Moabietiese meisies Rut en Orpa. Nie lank nie, of Maglon en Giljon sterf ook. Naomi bly agter met haar 2 skoondogters.

Ná ‘n tyd het dit egter weer begin om in Juda te reën. Naomi wil teruggaan na haar wettige grond. Orpa sien nie kans om saam te gaan nie, maar Rut wel. In haar hart het die Heilige Gees geloof laat ontvlam. Geloof in die enigste en ware Here. Die God van Israel.

Maar, daar was ‘n yslike probleem. Hoe gaan Naomi haar grond behou? Sy sou haar grond verloor indien daar nie ‘n wettige Losser gevind kan word wat die grond kan koop nie. En boonop met Rut trou. Hulle was absoluut afhanklik van ‘n goedgunstige se hulp van buite af. Hoe laag moes hulle moed wees, toe Naomi se naaste bloedverwant nie kans sien om as hulle Losser op te tree nie. Maar, BOAS het op die toneel verskyn. Hy was die volgende wettige Losser op die lys. En, hy was bereid om as Losser op te tree. Wat ‘n blye uitkoms!!

Die OT Lossers moes aan VYF vereistes voldoen om Losser te kon wees. Sou dit wees dat hulle aan slegs een van díé vyf nie voldoen nie, kon hulle nie as Losser optree nie. Boas moes aan elkeen van hierdie 5 vereistes voldoen.

1.Hy moes werklik gewillig wees om sy eie posisie & eer prys te gee > Moes liefhê.

2.Hy moes in staat wees om te los >> Vermoënd wees.

3.Moes self vry wees.

4.Moes die lossingsprys betaal.

5.Moes ‘n bloedverwant van die betrokkenes wees.

Boas het aan al 5 vereistes voldoen. (Noem hulle weer). Maar, nou moet ons raaksien dat die OT-Losser ‘n heenwysing was na die Verlosser wat sou kom : ons Here Jesus. Soos die hele OT ‘n heenwysing is na Hom. Maar, kyk nou hoe wys óók die Losser van die OT-tyd na Jesus die Christus.

Ook Jesus moes aan daardie 5 vereistes voldoen – waaraan ‘n OT- Losser moes voldoen – om volkome Verlosser te wees: (herhaal dit)

1.Het Homself gewillig getoon. Hy het vrywilliglik mens geword in Betlehem. Daardeur bewys Hy Sy liefde vir Sy uitverkorenes. Skrifte sê Hy het ons liefgehad tot die einde toe.

2.Hy was in staat. Hy is immers self ook God. Niemand anders kon die boekrol neem nie (Openb 5).

3.Hy was self vry. Vry van sonde. Hy het nie self ‘n verlosser nodig gehad nie.

4.Hy het die volle losprys betaal. As Middelaar. 1 Tim 2:5, 1 Kor 15:3.

5.Hy het ons bloedverwant geword. Hebr. 2:17. Deur Sy menswording op Kersdag in Betlehem. Ons volle bloedverwant.

Dit wat met Kersfees gebeur het, haak in by hierdie VYFDE voorwaarde waaraan ‘n Losser moes voldoen. Met Kersfees het Jesus ons bloedverwant geword. Hy is as ware MENS gebore. Sien u tot in watter detail vervul Christus die OT-profesieë?

Naomi het ‘n bloedverwant gehad. Op Kersdag het óns ‘n bloedverwant gekry wat as wettige Losser vir ons kon loskoop. Hebreers 2: 14-15.

Verstaan u waarom MOES Kersdag plaasvind? Geen toevallige mooi geskiedenis. Alles volgens ‘n briljante super intelligente PLAN. Pas presies inmekaar soos legkaart. Tot in die fynste detail moes Jesus aan elke deel vd OT beantwoord. Presies vervul. Selfs al 5 vereistes van OT- Losser. Ook bloedverwant. Op Kersdag vervul.

Waarom dit alles? Sodat ons absolute onwrikbare sekerheid kan hê dát ons perfek verlos is. Deur die geloof in Sy onfeilbare Woord alleen. Want deurdat Hy ons bloedverwant geword het uit die maagd Maria, het Hy óns skuld met Sy onskuld bedek. Onthou: Die Vader het ú ingesluit by Jesus se geboorte. Só het Hy u saak met Homself wonderbaarlik reggemaak. U MOET dit in die geloof ontdek en daaruit lewe.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00