Geskryf deur THEUNIS
Geskryf deur THEUNIS, JOHANNES CLOETE tjcloete@absamail.co.za
ONMOONTLIK OM GOD TE VERWAR!
Wie is daar wat nie een of ander tyd ’n onderwyser gehad het , waar jy nie lus was vir die les, dan ’n vraag gevra het wat die onderwyser se belangstelling was en dan is die les vergete?
Ai, so baie het so ’n onderwyser gehad wat daarvan gehou het om te praat oor sy/ haar belangstelling. Jy vra net oor die rugby of blomme of hulle stokperdjie en dan kan jy maar ontspan in die klas – geen les of toets nie.
So baie mense probeer dieselfde met die Here. Hulle wil die Here verwar en so Hom wegtrek van dit wat vir Hom belangrik is.
Hy leer die mens dat hulle moet bekeer van hulle sonde anders gaan hulle in die ewige hel – verdoemenis beland. Dit is dan wanneer die vrae kom om God te verwar:- Waar het sonde begin? Waar kom God vandaan? Het iemand al God gesien? Hoekom wil die Here ons red? Dit is mos nie ons skuld dat ons in sonde gebore is nie? Is God dan nie ’n God van liefde nie en daarom sal Hy nie toelaat dat iemand hel toe gaan nie! Waar is die hel? Bestaan die duiwel ooit? Is daar ’n hemel? Is daar ooit lewe na die dood? Waar gaan ons heen na die dood? Is die Bybel ooit waar? Is die Bybel nie maar net saamgestel om mense bang te maak nie? So gaan die vrae aan en aan en aan…… Besig om God te verwar en op ’n dwaalspoor te bring.
God het gesê : Bekeer van jou sonde anders sal jy in die hel sterf!! Moenie God probeer verwar. God ken jou en jou hart! God ken al jou “tricks”!
HEBR. 4:13 “En daar is geen skepsel onsigbaar voor Hom nie, maar alles is oop en bloot voor die oë van Hom met wie ons te doen het. “
GEBED
Here, hoeveel keer het ek my nie al skuldig gemaak om U op ’n dwaalspoor te bring toe U met my gepraat het nie? Vergewe my Here? Ek stel my tot gehoorsaamheid van God. AMEN