Geskryf deur THEUNIS
Geskryf deur THEUNIS, JOHANNES CLOETE tjcloete@absamail.co.za
ONBEMANDE STALLETJIES BEROOF
In ʼn wêreld waar eerlikheid en betroubaarheid al hoe minder voorkom, is dit verstommend om te sien hoeveel onbemande groentestalletjies nog in die groot stede van Japan aangetref word. Volgens ʼn opname is daar omtrent 4 700 onbemande plaasstalletjies wat regoor Japan groente verkoop. Die eienaars van hierdie stalletjies word egter toenemend ingedoen deur klante, wat óf te min óf geen geld agtergelaat nie.
“ʼn Middeljarige vrou klim uit haar motor en vat ʼn plastiese sak met Sjinese suurlemoene by ʼn stalletjie,” vertel ʼn gereelde klant. “Toe ek haar nader om ʼn geselsie aan te knoop, vertrek sy vinnig sonder om te betaal vir dit wat sy gevat het.”
“Ek gaan dikwels na ʼn stalletjie naby my huis om vars groente te koop,” sê Kawahara, ʼn 67-jarige huisvrou. “Ek voel gemaklik om daar te koop omdat ek weet wie die groente produseer.”
As Miyakawa, die eienaar van die stalletjie aan die einde van die dag sy geld tel, ontdek hy dikwels dat hy beroof is. “Dit is maar soos dit gaan. Ek het opgegee om die geld te probeer opspoor,” sê Miyakawa.
Yamada, ʼn ander onbemande stalletjie-eienaar sê dat hy al ʼn briefie in sy geldkassie gekry het waarop iemand geskryf het: “Ek kon nie nou die dag die volle bedrag betaal toe ek groente gekoop het nie, dus betaal ek vandag ekstra.”
“Ek het al voorheen soortgelyke briewe ontvang,” sê die 84-jarige Yamada, “Japannese mense is nie so sleg nie!” Hy glo nog in die eerlikheid van sy klante.
Bron: Yomiuri Nuus 2008-04-15
Van wie leer mense om goed vas te lê? Satan is van nature ʼn skelm en roof jou van alles wat hy kan.
Moenie vir sy praatjies val nie — glo in Jesus wat hom oorwin het.
’n Dief kom net steel en slag en uitroei;
Ek het gekom
sodat hulle die lewe kan hê,
en dit in oorvloed
(Joh 10:10, NV).
Satan steel lewens. Jesus Christus koop hulle terug…met sy eie kosbare bloed!
OORGENEEM VANAF JAPANSENDING