Geskryf deur THEUNIS
Geskryf deur THEUNIS, JOHANNES CLOETE tjcloete@absamail.co.za
OMSKEPPING IN ’N HYSBAK
In die dae voordat mense self hysbakke kon werk, was daar ’n hysbakoperatrise werksaam by ’n groot universiteit in Japan.
Vir haar was daar niks meer vervelig as om heeldag ’n hysbak te werk nie. Sy was altyd in ’n slegte bui en het altyd gemor as iemand ’n gesprek met haar wou aanknoop.
Op ’n dag het sy skielik besef sy kan vir die studente iets beteken. Sy kan die lewe vir hulle positief voorstel , MAAR dan sal sy eers haar eie houding teenoor die lewe moet regstel.
Die volgende dag het sy met ’n glimlag begin! Dit was ongelooflik moeilik maar sy het vasgebyt. Sy was vasberade om enigiemand op te beur wat haar pad in die hysbak kruis! Elke dag het sy volhard met haar nuwe gesindheid.
Die jare het gekom en gegaan en meer en meer mense het haar om advies genader. Haar opgewekte houding en optimistiese lewensuitkyk het veel vir talle mense beteken. Sy het later bekend gestaan as “Die Oplosser van Probleme!”
’n Paar duisend mense het haar begrafnis bygewoon en haar gewildheid het sy te danke dat sy haar houding teenoor die lewe verander het.
(Geneem uit Japan Mission)
1 Thess. 5:15 “Sorg dat niemand ‘n ander kwaad vir kwaad vergeld nie; maar jaag altyd ná wat goed is, teenoor mekaar sowel as teenoor almal.”
Hoe is jou houding en gesindheid in die lewe? Met watter motiewe doen en sê jy dinge? Het jy die gesindheid van:- “Jy breek my karretjie en ek breek dan joune?” Jou houding bepaal jou dade ten goede of slegte! Moenie vasgevang word in die lewensuitkyk van die wêreld nie – bot, onvriendelik, hoogmoedig , trots, liefdeloos, geen of oppervlakkige vrede , geen goedheid , selfgesentreerd , ens.
Verander jou houding en gesindheid en betoon ‘n glimlag en vriendelikheid teenoor ALMAL!
GEBED
Here help my om U vriendelikheid en gesindheid ten alle tye te betoon aan almal? Dankie dat EK vandag die keuse kan maak – ten spyte van hoe ek nou voel – om elkeen wat my pad kruis met vriendelikheid en ‘n glimlag te hanteer.
Here vorm my na U beeld EN dat almal rondom my U in my sal kan ervaar?
AMEN.