C J Langenhoven het geskryf

“Ek wonder, Vroutjie,” sê ek, hardop mymerend, “of daar mense op Venus woon.”

 

“Venus ?” vra sy, ingedagte.

 

“Ja, Vroutjie. Op daardie heerlike aandster. Hy moet ’n bekoorlike wêreld wees. Hy’s so te sê net so groot soos die aarde, en byna ’n derde nader aan die son.”

 

“Dis hier al warm genoeg,” sê Vroutjie ondigterlik.

 

“Ja, Vroutjie, maar Venus het sy beskerming. Hy is met ewigdurende dikke wolke bedek. Daarom kan die sterrekykers nie uitmaak of daar aanduidings van die werke van inwoners is, soos kanale en stede nie.”

 

“Waaroor maak jy jou tog oor sulke dinge moeg, Ouman ? Is daar nie na jou sin genoeg mense hier op die aarde nie ?”

 

“Genoeg nie, Vroutjie ? Hier is te veel. Oorvloediglik en oorbodiglik oorgenoeg.”

 

“Nou ja ?”

 

“Nou ja. Te veel en te naby. As ek wis dat daar op die ander wêrelde mense woon, sou ek hulle baie liefhê. Hulle versondig my nie. Daarom sê die gebod dat ’n mens jou naaste moet liefhê. Vir díe wat op ’n afstand is, was daar geen gebod nodig nie . . . Buiten wat ’n mens se vrou en kinders betref,” val dit my betyds by om by te voeg.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00