TAFELBERG GEMEENTENoodhulp vir twyfel (Noodhulpreeks no. 2)
Hervormingsfees
1 Johannes 5: 6-13
Dit is 20 Junie 1505. Êrens in Duitsland haas ‘n jongman hom om by sy bestemming, die dorpie Erfurt, te kom. Hy het alle rede om te loop so wat hy kan, want donker onweerswolke is besig om saam te pak. Gou-gou is die lug toegetrek met pikswart wolke. ‘n Hewige donderstorm breek los. Weerligstrale deurklief die inkswart hemel. ‘n Verlammende vrees oorweldig hom. Wat sal gebeur as hy nou moet sterf? Hy kan God nie ontmoet nie. Daarvoor is hy veels te sondig. Meteens is daar ‘n verblindende weerligstraal wat naby hom in die grond vasslaan, gevolg deur ‘n geweldige donderslag. In sy doodsangs skreeu hy: “Help my, heilige Anna! Ek belowe ek sal ‘n monnik word.” (Anna is een van die Rooms-Katolieke heiliges wat – volgens Roomse oortuiging – ook in gebed aangeroep mag word).
Wie was hierdie man? Maarten Luther, ‘n jong student in die regte. ‘n Paar dae ná die voorval, gaan sluit hy hom by ‘n Rooms-Katolieke klooster aan en word ’n monnik. Maar, waarom doen hy dit? Hy dink dat hy met sy toewyding & selfverloëning sy saak met God kan regmaak en vrede vind. Maar, hoe meer hy probeer het, hoe meer was hy bewus van sy diepe onheiligheid. Hy het jare van innerlike stryd en soeke beleef. Op ’n stadium het hy oor sy twyfel & onsekerheid gaan bieg by die hoof van die kloosterorde, Von Staupitz. Von Staupitz het geantwoord: “Maarten, jou selfkastyding sal nie die deur van die hemel vir jou oopmaak nie. Waarom martel jy jouself? Sien op die kruis. Sien op Christus se wonde. Hy het die straf gedra wat vir ons vrede bring.” Toe Luther vir Von Staupitz vertel van die groot skrik wat oor hom gekom het tydens die donderstorm, het Von Staupitz geantwoord: “My seun, dit is die duiwel wat skrik aanjaag. Christus verskrik nie. Hy troos. Sien op Sy wonde en vergote bloed.”
En toe, op ‘n goeie dag (winter van 1512) – deur die lees van die Romeinebrief – kom Luther tot die wonderbaarlike ontdekking dat die mens nie voor God geregverdig word deur die werke nie, maar deur die geloofsontdekking dat God jou uit vrye genade ingesluit het by Jesus Christus se dood & opstanding – terwýl jy nog Sy vyand was – en dat Hý só jou saak met Hom reggemaak het. En, dit het uiteindelik die groot tema geword van die Groot Reformasie: Slégs die verdienste van Christus red die rebelse skurk van ’n mens van die toorn van God. En hierdie redding word met verwondering deur die geloof ontvang. Dit is hierdie herontdekking van die Blye Boodskap wat jaarliks op die laaste Sondag van Oktober – in talle Protestantse kerke gevier word.
Hierdie ontdekking het Luther se hele lewe omgekeer en het uiteindelik gelei tot die kerkhervorming en die finale breuk met Rome. Op 31 Oktober 1517 het hy ’n papier met 95 stellings téén die Roomse Kerk se wanpraktyke teen die deur van Wittenberg se kerkgebou vasgespyker. Saam met hom en ná hom was daar ook talle ánder kerkhervormers werksaam. Manne soos Phillipus Melancthon, Martin Bucer (Straatsburg), Ulrich Zwingli (Zürich – Switserland), Heinrich Bullinger (Zwingli se opvolger), Johannes Calvyn (Genéve), Theodor Beza (Calvyn se opvolger), John Knox (Skotland). Die gereformeerde vleuel van die Reformasie, waarin óns veronderstel is om te staan, gryp in die besonder terug op Johannes Calvyn.
Nou wil ek hierdie gebeure uit die 16e eeu toepas op ’n manier wat u dalk nie sou verwag nie: Wil u nie in u eie stryd met/teen twyfel, iets by Luther en die ander hervormers leer nie? Kan ú nie dalk op ’n manier uself herken in Luther se worstelinge nie? In besonder: Die worsteling met twyfel & onsekerheid. Dalk nie kronies nie, maar wel van tyd tot tyd? Miskien veral in hierdie tyd, waar die jaar na sy einde spoed en die jaareinde bekend is vir die innerlike stress wat dit by mense kan meebring.
Die bloedwarm passievolle hartklop van die Reformasie was dít: Absolute, voldonge SEKERHEID. Sekerheid wie God is. Sekerheid van die gesag van die Woord. Sekerheid van elke letter in die Bybel. Sekerheid van Christus en Sy verlossingswerk. Sekerheid van eie persoonlike vergifnis & redding. Dít is wat Luther ontdek het. Dít is wat elkeen van ons vandag steeds mag besit. Sal dit nie wonderlik wees indien – juis op hierdie dag waar ons die rykdom van die Reformasie vier – elkeen van ons díé SEKERHEID deelagtig kan word wat die reformatore so goed geken het nie!
Die vraag is: HOE? Hoe kry ’n mens dit? Is dit ’n soort innerlike GEVOEL wat ’n mens moet hê. Wel, indien dit van innerlike GEVOEL moes afhang, sou Maarten Luther dit nooit kon vind nie. Nie hý, met sy woeste persoonlikheid en erge depressie nie. Maar Luther het juis ontdek dat hierdie sekerheid BUITE HOMSELF lê in iets wat méér vas is as wat hyself innerlik is.
’n Mens kry sekerheid deur vir jouself duidelikheid oor DRIE VRAE te kry. 1) Sal/kan God ooit jok en my om die bos lei? 2) Is die Bybel se woorde regtig Gód se Woord aan mý? 3) Wát beloof Hy aan my in Sy Woord?
Die vuurgloed van die ontdekking wat die reformatore gemaak het was: NEE! Die Here God sal my NOOIT bedrieg nie. Ek kan Sy woorde sonder meer GLO. En: JA! Elke woord in die Bybel is werklik Sý Woord aan my. En daarby: Dit wat Hy aan mý persoonlik belowe, is dat Hy ook aan mý die ewige lewe in/deur Jesus Christus gegee HET terwýl ek Sy vyand is en Hom haat. My voldonge sekerheid is: Sy woorde. Ek mag dit aanvaar! Net maar aanvaar. En dit draai alles in my lewe onderstebo. Nou wil ek Hom nie meer haat nie. Ek wil nie meer met my rug na Hom loop toe – ek draai 180 grade óm in bekering. Ek wil nie meer my eie paadjie stap nie. Ek wil volgens Sy gebooie lewe. ’n Liefdegloed word in my aan die brand gesteek. Wat ek voorheen liefgehad het, haat ek nou. Wat ek voorheen gehaat het, het ek nou lief. Die Gees van God doen dit alles.
Verstaan u waarom was (onder andere) díé Skrifgedeelte wat ons vanoggend gelees het, ’n lied in Maarten Luther se hart? Kyk net hoe skitter die Blye Boodskap in hierdie gedeelte. Die Heilige Gees sê deur Johannes (v 9): “Ons glo so maklik wat ménse sê. Indien iemand vir jou belowe hy kom op ’n sekere tyd kuier, wag jy vir hom. Indien die kalender sê dat dit vandag 29 Oktober 2006 is, glo ons dit sonder meer. Terwyl dit net mensewoorde is. Indien ons ménse se getuienis so maklik glo, hoeveel te méér kan/mag ons nie GOD se getuienis/belofte glo nie?!”
”JA!”, sê Johannes, “God self getuig iets. En Hy doen dit deur Sy Gees, wat die Waarheid is. En Hy doen dit deur Jesus se doop en kruisdood. Jesus se doop getuig daarvan. Sy kruisdood getuig daarvan. Sy Gees getuig daarvan. Wáárvan? Wat is die één ding wat Hy op elke bladsy van die Bybel oor en oor en oor beloof? Dat Hy ook aan mý, wat díé woorde hoor, die ewige lewe gegee HET (nie WIL gee of SAL gee nie) – terwyl ek Sy bittere vyand is”. En wat moet ék doen? Ek moet Hom nie tot leuenaar maak nie. Ek moet Sy getuienis aanvaar. En wat gebeur dan? Dan besit ek in my hart die getuienis (v 10). Sý getuienis getuig dan in my hart. Sý sekerheid is dan IN my. Dit is wat dit beteken om “die Seun te hê” (v 12). Wanneer het ’n mens die Seun? Wanneer jy ophou om God tot leuenaar te maak en Sy getuienis omhels. En kyk weer die sekerheid (v 12): “Wie die Seun HET, HET die ewige lewe. Wie NIE die Seun het nie, het NIE die ewige lewe nie.” So eenvoudig soos dit! Die hele wêreldbevolking val in slégs TWEE groepe uiteen: Die wat die Seun het en die wat Hom nie het nie. Die wat God tot leunaar maak en die wat daarmee opgehou het.
Sien u wat is dit wat die heeltyd sentraal staan? God se getuienis. Dit is hierdie getuienis wat in die Bybelbladsye geskryf staan. Daarom sê Johannes in vers 13: Hierdie brief skrywe ek aan julle, sodat julle kan WEET dat julle die ewige lewe HET. Met ander woorde: sekerheid! Sekerheid wat waarvandaan kom? Uit dit wat GESKRYF is! Daaruit sien u wát die noodhulp is wat op twyfel toegepas moet word. Ons moet uitkom by dit wat GESKRYF is – God se getuienis. Ons moet wegkyk van onsself (eie innerlike) af en God se getuienis omhels. Maar, ons moet tot ’n definitiewe punt kom met hierdie saak. VANDAG is die dag! NOU wanneer ons Sy stem hoor. VANDAG moet ons ons hoof buig en bid en sê: “Here, alles het nou vir my oopgegaan. U getuienis sluit mos vir mý ook in. En dit IS die waarheid. Waarom sal ek ’n oomblik langer sit en wonder. Ek glo U getuienis! Ek het nie sekerheid omdat ek glo nie, maar omdat U sê!” Luther het by só ’n oomblik gekom. Calvyn ook. En die Gees oortuig ook nou vir ú!
Ons probleem is: Ons sit dekades lank in eredienste en hoor dit alles, maar HOOR dit nooit werklik nie. Dit gaan nooit vir ons OOP nie. En daarby word ons met soveel wolhaarstories om die bos gelei. Hoeveel van ons het grootgeword met die wolhaarstorie dat Jesus nie in ’n vuil hartjie kan woon nie. En daarom diskwalifiseer ons die heeltyd onsself vir God se belofte. En ons dink: “Ag, as die dag tog maar kan aanbreek dat my hart tog net skoon genoeg kan kom dat ek dit oor my hart kan kry om Jesus in my hart te nooi.” En dit terwyl daar nêrens in die ganse Bybel staan dat Jesus in harte ingenooi moet word nie! Dit is wolhaarstories wat mense eindeloos verwar en mislei. Wat wél op elke bladsy staan, is dat God se getuienis van harte aangeneem mag word. Watse getuienis? Dat Hy aan ú die ewige lewe gegee HET. En dié lewe, is deur Sy Seun.
Noodhulp vir twyfel? Maak soos Luther. Wend u tot die Here se geskrewe beloftes. U mag dit glo. Dit is die waarheid.
Dr. Chris Saayman
Tafelberg Gemeente, Buitenkantstraat 39, Kaapstad
021- 551 6704
saay@isales.co.za