TAFELBERG GEMEENTE

Noodhulp vir neerslagtigheid
Psalm 142

Ons leef in ‘n tyd van soveel vooruitgang. Dink aan die elektronika. In jou huis, by jou rekenaar, doen jy jou banksake. Deur die internet is jy – binne sekondes – gekoppel aan die ganse wêreld. Die vooruitgang van die mens is verbysterend. Tóg gaan dit nie werklik beter met die mens sélf nie. Ons tyd, is die tyd van die meeste psigiese probleme. Ook in die Here se gemeente. Die mees algemene probleem: neerslagtigheid. Ook kinders van die Here word nie oorgeslaan nie. Hierdie psigiese toestande bring ook geloofsprobleme mee. Mense ervaar: Kan nie bid nie, kan nie glo nie, het geen uitsig en hoop, voel eensaam binne die kerk. Dawid bring hierdie gevoel onder woorde wanneer hy van homself sê (vers 4 – Hebreeus + OAV) : “my gees het in my versmag“. Uitputtende moedeloosheid. Maar Dawid ken tegelyk ook die bemoediging: “maar die Here ken my pad” (Hebreeus + OAV).

Wat was dan Dawid se situasie?? Ps 142:1 vermeld dat hy hierdie Psalm geskryf het “toe hy in die spelonk was”. Nou waar/wanneer was hy in ‘n spelonk? Ons lees van twee sulke geleenthede in 1 Samuel 22 en 24. 1 Sam. 22: Nadat die Here hom bevry het uit die land vd Filistyne het hy na die spelonk van Adullam gevlug. 1 Sam. 24 : Toe Saul op sy hakke was om hom dood te maak, het hy gevlug na die grot van Engedi. Hy sit agter in die grot en Saul kom in en besef dit nie. Hy kon vir Saul doodgemaak het, maar hy wou nie.

Nou wánneer het hy Ps 142 geskryf? Dit lyk of dit was toe hy in Adullam was. Dáár was hy heeltemal alleen. Dit is waarvan Ps 142 praat : eensaamheid. Dit is die dieptepunt. “Ek kyk na reg en links, maar daar is niemand, niemand vra na my nie” (vers 5). Onthou die pad wat hy geloop het. Hy moes heeltyd vlug voor Saul. Hy kon nie by Samuel gaan vertoef nie. Hy moes van Jonathan afskeid neem. Hy vlug na die vyand se kamp toe (Filistyne). Hulle herken hom en wou hom doodmaak. Toe moes hy weer vlug. Op die ou einde: Alleen in die spelonk. Hierdie neerslagtigheid doen hom glad nie goed nie. Sy gees versmag in hom. Hy word lusteloos. ‘n Mens se geestestoestand tas ook jou liggaam aan. Psigosomaties. Liggaam voel ook siek. Energie laag.

Wat Dawid hier beleef, noem ons in 2006 “depressiwiteit”. Twee soorte : VAN BINNE, VAN BUITE. Van Binne: Gewoonlik die gevolg van ‘n chemiese wanbalans. Van buite: Reageer op goed wat in jou lewe gebeur. Jou eksterne omstandighede. ‘n Pynlike situasie wat skielik opduik. Probleme wat sloer om opgelos te word. Krisiservarings. ‘n Kerkraadslid in ‘n vorige gemeente het in totale depressie verval as gevolg van die kyk van elke aand se TV Nuus! In Dawid se geval was dit ook só ‘n reaktiewe depressie.

Die belangrike is: Dit val werklike egte gelowiges te beurt. ‘n Christen ontvlug nie hierdie dinge nie. Ons is & bly geweldig broos – dun soos papier. Al is jy driekwart engel Gabriël: Jy is van papier gemaak: nie net fisies nie, ook emosioneel en innerlik. Die nuwe lewe in Jesus Christus maak nie van u en my ‘n sekere soort supermens nie. En ons praat nie maklik met ander mense daaroor nie: óf te skaam óf te vroom. Maartin Luther: Het baie gely onder neerslagtigheid. Johannes Calvyn: Dikwels moedeloos as gevolg van ‘n kompleksiteit van siektetoestande. Nogtans het hy voortgegaan om byna elke dag van die week te preek of lesings te gee. VRAAG: Sal ons nie in die jaar 2006 ekstra maklike prooi wees nie?? Ek is geen siener wat die toekoms lees nie. Ek het net ‘n gevoel dat, soos die tye voortgaan, ons ekstra waaksaam moet wees.

‘n Mens moet egter nie die Evangelie (blye boodskap) in hierdie hele gedeelte miskyk nie. “Wanneer my gees in my versmag, KEN U MY PAD”. Dawid sê nie: “Wanneer ek moedeloos/neerslagtig is, hou ek tog darem nog aan die Here vas”, nie!! Dit is wat ons so dikwels sê en dink, nie waar nie?! “Ek sit in hierdie diepe gat, maar goddank ek kan darem nog aan die Here vashou!” Dit is nie die Evangelie nie. Want, ‘n mens wat neerslagtig is, vind dit juis so moeilik om aan iets vas te hou! Niks maak sin nie. Daar is geen lig nie. Daar is geen kragte nie. Die laaste ding wat so ‘n persoon moet hoor is : “Jong, hou net aan die Here vas.”

Nee, lees mooi wat Dawid sê : “Wanneer my gees in my versmag, KEN U MY PAD”. DIT is die Evangelie. Dat die Here van Sy kant af getrou is. Dat Hy MY vashou terwyl my arms nie kan vashou nie. Wanneer ek nie kan bid nie en nie weet wat om te bid nie. Wat doen die Here dan? Teleurgesteld? Staan Hy met die rottang gereed? En ‘n frons op Sy gesig? Nee, Lees Romeine 8:26. Die Gees van God hoor die sugte van die skepping. Die Gees hoor die sugte van God se uitverkorenes. Hy kom hulle swakheid te hulp en Hy pleit met onuitspreeklike sugte. Ons woordelose sugte word Sy onuitspreeklike versugtinge.

Die Evangelie is NIE dat die moedelose mens homself moet regruk en opstaan en bid en roep en glo en probeer nie. ‘n Neerslagtige gemoed kan dit juis nie doen nie. Die Evangelie is dat die HERE so ‘n mens se pad ken. Dat die Here nie ophou werk nie. Wanneer Dawid sê dat die Here sy pad KEN, dan bedoel hy nie daarmee dat die Here maar net daarvan KENNISNEEM nie. Iets soos: “O, ja, ek sien Dawid sit in die spelonk en hy is eensaam”, nie. Nee, “KEN” in die Bybel dui op intieme kennis. Dit beteken dat die Here heel digby kom. Hy is daadwerklik betrokke. Hy voel Hom aan sy uitverkore kneg verbonde. DIT is die hoop wat ‘n neerslagtige mens weer moed gee. Om die ontdekking te maak WIE GOD IS. Nie om toegegooi te word met 500 moets en moenies nie. Nie om toegegooi te word met ‘n REGRUKterapie wat jou later soos ‘n meedoënlose meester tot nóg groter moedeloosheid dryf nie. Maar die ontdekking :: Wie die Here in jou situasie is. Dat Hy jou pad ken. Dat Hy werksaam is sónder ‘n teleurgestelde uitdrukking op Sy gelaat. Dit is wat uitstraal uit Ps 142. ‘n Mens moet tog nie Ps 142 lees en jou blindstaar teen Dawid se klaaglied nie. ‘n Mens moet die Evangelie (Goeie Nuus) daarin raaksien en raaklees.

U weet ‘n neerslagtige mens het geen perspektief op die toekoms nie. Alles lyk donker vorentoe. Maar ágter die donker, werk die Here. Gaan lees gerus 1 Samuel 22. Terwyl Dawid daar in die spelonk van Adullam gesit het : Wat gebeur toe? Sy familie kom daar aan sodat sy eensaamheid verlig word. Van oral in die land kom daar skielik mense – wat ook bang was vir Saul – en wat ook moedeloos was, om by Dawid hul heil te soek. Byna soos ‘n klomp skape wat by Dawid weiding soek. Nou wat gebeur hier? Is dit toeval? Of het die Here dalk die mense gestuur?

Maar die Here stuur nie net ménse na Dawid nie, Hy stuur ook Sy Woord na Dawid. HOE? Deur ‘n PROFEET wat by hom aankom met die naam GAD. Deur ‘n profeet kom die Woord van die Here na Dawid toe. Gad sou ook uiteindelik lewenslank by Dawid bly. U sien: Vir Dawid was alles donker. Geen perspektief. Maar die Here ken sy pad. Die Here weet dat Dawid koning sou word en dat die MESSIAS (Christus) uit hom gebore sou word. Dus – of Dawid dit kon voel of nie. Of hy dit kon ervaar of nie. Of hy dit kon raaksien of nie. Die Here was dáár werksaam sonder om hom te verwyt e onafhanklik van Dawid se gevoel.

Daar mag waarskynlik iemand wees wat dit alles hoor en sê : “Wel, dit KLINK alles baie mooi, maar ek merk byna niks daarvan in my eie lewe nie. Ek kan nie iets raaksien van die Here se goeie bedoeling met my lewe nie. My probleme duur al so lank, my hoop is min. Ek is diep bekommerd oor die dinge wat in SA aangaan. Wat gaan word? Dalk word ek of my kinders nog die prooi van die geweld in SA”.

Dit kan natuurlik wees dat hierdie soort taal, die taal van die ongeloof kan wees – ‘n mens wat ver van die Here leef. Maar dit kan óók die taal wees van ‘n egte geloof wat verlang na die belewenis van die Here se betrokkenheid en nabyheid. Ondersoek maar uself. Indien u nie kan raaksien dat die Here u pad ken nie, ondersoek uself. Is u seker dat u nie vasgevang sit in ‘n stuk blinde ongeloof nie? OF: Leef u dalk so slordig dat dit lyk en voel asof die Here heel ver weg staan.

OF: (en dit was by Dawid die geval): Soek u hart wel die Here met sterke verlange? Moet dan nie moedeloos word nie. Weet dat die Here u pad ken. Gebruik die genademiddele wat Hy tot u beskikking gestel het. Vra na die Here se plan met u lewe, gaan om met die Woord, bid om die Heilige Gees, verontagsaam nie die samekomste van die gemeente nie, neem deel aan die sakramente met geloofsverwagting. U sal weldra agterkom dat die Here baie deeglik betrokke is in u lewe. Toe Elia onder die besembos gesit het en wens om te kan sterf, het die Here hom daar ontmoet: nie met ‘n frons nie, maar met ‘n nuwe opdrag in Sy diens. Daarom sê Johannes 1:9: “Hy wat elke mens VERLIG het na die wêreld gekom.” Geen wonder dat Miga verklaar: “Al sit ek in die donker, die Here is my lig” (Mig 7:8).

Dr. Chris Saayman

NG Kerk Tafelberg, Buitenkantstraat 39, Kaapstad

Tel. 021-551 6704

Sel. 083 232 1817

Epos. saay@isales.co.za

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00